Die Kaapse groep Cherry Vynil is al ’n hele paar jaar aktief, maar het nou onlangs eers hul debuutalbum – Busking Cape Town – vrygestel, en die album maak wyd golwe. Vickus Horne, voorman van Cherry Vynil, beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Vickus. Hoe's dinge?
Hi, dit gaan baie goed dankie. Dit is ’n voorreg om met julle te kan chat oor Cherry Vynil.

Foto: Karen Bergh
Eerstens, geluk met die onlangse vrystelling van Cherry Vynil se debuutalbum, Busking Cape Town. Die band is nou al ’n geruime tyd in die ronde (sedert 2008, volgens die Facebook-biografie), maar bring nou eers die debuutalbum uit. Waarom so lank gewag? Is dit ’n teken dat Cherry Vynil nou ’n meer voltydse rigting inslaan, of hoe beskou julle dit? Wat hoop julle om te bereik met die debuutvrystelling?
Die band kom vir seker al ’n lang pad, maar beslis nie sonder groeipyne en terugslae nie. Deursettingsvermoë om ons doel te verwesenlik was die sleutel tot die huidige sukses. Cherry Vynil het sedert 2008 ’n aansienlike gedaantewisseling ondergaan met nuwe lede, idees, vibes, gevoel ens. Ons het nou sodanig gestabiliseer dat dit vir ons moontlik was om ons eerste album te publiseer en ons musiek met die wêreld te deel. Ons wil met die album ons musiek aan soveel moontlik mense blootstel.
Die album is vol heerlike akoesties-melodiese rock en ’n paar baie sterk snitte. Dis natuurlik ’n moeilike genre om ’n mens in te begeef, siende dat so baie bands aktief is daarin en dit dalk moeiliker is om uit te staan. Hoe beskou jy hierdie uitdaging, en hoe gaan julle in Cherry Vynil te werk om seker te maak die band maak ’n impak en staan uit bo die res?
Ons moet die tipe musiek aanbied wat gehore entoesiasties aangryp, terwyl ons nog ons eie identiteit behou. Ons het ’n ondersteuningspan wat die bedryf ken en vir ons geleenthede skep om wyer blootstelling moontlik te maak. ’n Opregte dank aan Liny Kruger!
Die musiek op Busking Cape Town getuig van ’n besonderse musikale vermoë – die akkoordstrukture en melodieë is allermins eenvoudig, tog vloei dit doodgemaklik. Waar kom hierdie agtergrond en inslag vandaan in terme van hoe julle skryf en optree? Is dit ’n spesifieke doel voor oë, of hoe beskou jy dit? Hoe werk die skryfproses in die algemeen in Cherry Vynil, van daardie eerste akkoorde en woorde neergelê is tot ’n lied uiteindelik uitgevoer of opgeneem word?
Ek doen self die skryfwerk van die musiek. Dis vir my makliker om die lirieke te sing as ek dit self geskryf het.
Aangesien dit in my diepste wese gebore word en ek die musiek so voel, leef die song as’t ware binne my. Ek vat die gedagte na die band toe en saam kleur ons die res van die prent in. Daar is tog nie ’n reg of verkeerd nie; dinge is anders met elke lied. Van die songs word in ’n relatief kort tydperk geskryf en ander vat maande, selfs jare om die lig te sien. Ek is ’n groot aanhanger van bands soos Dave Matthews Band, Sting, Counting Crows en Coldplay. Al hierdie bands is “storytellers”. Ek dink ons almal in Cherry Vynil stel ons ten doel om daagliks te groei om tot beter musikante te ontwikkel. Ons wou nog nooit net ’n “gewone” of “gemiddelde” band wees nie.
Veral die snit "Rhythm" doen goed op die lugweë, maar daar is heelwat ander snitte op die album wat uitstaan as sterk enkelsnitte – ek vermoed byvoorbeeld ons sal nog heelwat van "Dreamers" hoor. Die samestelling van ’n debuutalbum is natuurlik nooit maklik nie - hoe het julle te werk gegaan om die balans en samestelling daar te kry in terme van soveel as moontlik sterk singles, of dan die "storie-vertel" wat dikwels die ideaal is met ’n langspeelalbum?
Met Busking Cape Town wou ons ’n Kaapse geur en gevoel skep met die musiek. Ons is nog ’n band wat uit Bellville kom en aangesien ’n hoë standaard gehandhaaf word, was die samestelling baie belangrik. Ons het heelwat songs na die tafel gebring en moes baie wik en weeg oor wat ons sou uitlaat. Die songs wat op die album is, is daar om hoop te gee en mense te inspireer. Ons vertrou dat dit die geval sal wees wanneer mense na die album luister.
Baie jong bands verkies die geleidelike digitale vrystelling van ’n rits singles eerder as ’n album – het julle dit ooit oorweeg, of wat is jou gevoel hieroor? Wat is die voordele en nadele van die verskillende benaderings, en sal Cherry Vynil dit moontlik anders wil benader in die toekoms?
Ek dink nie daar is ’n regte of verkeerde manier in die musiekbedryf nie. Geen perfekte kombinasie van hoe om dit te doen nie. Vir ons was dit ’n geval van ons het ’n geleentheid gehad om ’n vollengte-album op te neem en ons het die geleentheid met entoesiasme aangegryp. Dis altyd maklik om ’n single vry te stel van ’n album af as jy die album het en jy kan kies tussen ’n paar songs. Vir verkope is dit ook voordelig, aangesien mense die vol album kan koop en sodoende meer as een song kan hoor.
Heelwat van die songs se lirieke – soos in "Rhythm" en die titelsnit, "Busking Cape Town" – bevat baie plaaslike verwysings wat moontlik nie vir internasionale gehore veel sal beteken nie. Hoe belangrik is dit vir jou dat daardie plaaslike elemente behoue bly, of is dit nie noodwendig iets waaroor jy wonder of bekommerd is nie? Wat is Cherry Vynil se breër gedagtegang wat betref moontlike internasionale blootstelling, of is die toestand van die plaaslike toneel vir julle sterk genoeg? Wat is jou gevoel in die algemeen oor wat die plaaslike toneel bied en wat die beperkinge is?
Die wêreld het baie klein geword in die moderne era, met die sosiale media en die internet, so ek dink nie dat die internasionale gehore verlore sal raak met ons verwysings nie – almal is meer ingelig, veral oor Suid-Afrika. Ek dink aan ander Suid-Afrikaanse kunstenaars wat regoor die wêreld baie sukses behaal en dit maak my opgewonde oor die toekoms. Ons skryf ook in Engels, waarmee die groter publiek kan assosieer.
As gevolg van ons Kaapse oorsprong – waarop ons baie trots is – was dit vir ons maklik om ’n plaaslike element in ons songs te weerspieël. Ons is egter trots Suid-Afrikaans en beperk ons nie net tot die plaaslike gehore nie, maar ook nasionaal en internasionaal.
Ek dink die plaaslike mark het baie potensiaal, maar is van mening dat die publiek meer ondersteunend kan wees teenoor die local bands. Die musikante in die land werk baie hard, veral die onbekendes. Gee ons ’n regverdige kans en kom luister na eg Suid-Afrikaanse musiek.

Foto: Karen Bergh
Soos vroeër gemeld, is Cherry Vynil nou al ’n geruime tyd aktief as band en het julle al ’n magdom gigs agter die blad. Watter hoogtepunte staan vir jou uit as jy terugkyk daarna in terme van gehore, venues en vreemde gebeure? Enige voorvalle of plekke wat jy eerder sou wou vergeet?
Ons is so bevoorreg om te kan sê dat ons al die verhoog met talle talentvolle kunstenaars kon deel: Just Jinger, Freshly Ground, Prime Circle, Van Coke Kartel, Straatligkinders, om net ’n paar te noem. Elke keer as ons op ’n verhoog verskyn, is dit ’n hoogtepunt. Om te kan doen wat ons doen, is iets wat ’n mens moeilik in woorde kan uitdruk. Daar is so baie hoogtepunte wat ons kan uitsonder, maar eintlik te veel om hier te noem. Of dit ’n klein verhogie is in iemand se tuin waar daar net 40 mense kan inpas, of op een van Aardklop se groot verhoë voor duisende mense, dit is en bly alles een groot hoogtepunt. Aan die ander kant van die spektrum is daar tog ook toere waarvan ons sal wil vergeet, en elke band het sy voorvalle wat minder aangenaam is om oor te gesels.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Cherry Vynil, in so verre jy dit kan beheer?
Aangesien ons eerste single goed doen in die noorde, is ’n moontlike toer na die noorde van Suid-Afrika op die agenda. Ons sou graag in die toekoms by meer nasionale kunstefeeste wou optree.
’n Oorsese toer is ook iets wat die band sal wil “aftick” op ons “checklist” van “Things to do”.
Wat is die sin van die lewe?
Om elke dag met ’n positiewe gesindheid aan te gryp en ten volle te leef. Om liefde uit te dra aan almal wat jou pad kruis. As jy kan help, doen dit – môre kan dalk te laat wees. Ons gemiddelde leeftyd op hierdie aarde is tussen 65 en 85 jaar. Maak die meeste daarvan. Keep it Real, Carpe Diem.


