Charles Malan gesels met Joan-Mari Barendse oor haar artikel in LitNet Akademies

  • 0

Charles Malan gesels met Joan-Mari Barendse oor haar artikel “Eietydse ridders: ’n Vergelyking tussen Die mugu (1959) deur Etienne Leroux en Die avonture van Pieter Francken (2005) deur Jaco Fouché”.

Joan-Mari, eers geluk met jou boeiende artikel met die indrukwekkende navorsing wat dit onderlê. Vir my is dit veral om twee redes belangrik: as ’n bydrae tot die skaars vergelykende studies in Afrikaans met die ondersteunende teorie, en dan omdat ek as jong dosent jare gelede deur die eweneens in Afrikaans afgeskeepte ridderroman gefassineer is en daaroor gedoseer en geskryf het. Wat het jou aangespoor om omvangryke navorsing daaroor te onderneem?

Die artikel is ’n uitgebreide weergawe van een van die hoofstukke van my MA-verhandeling. Ek het nog altyd geweet dat ek ’n studie wil doen oor die werk van Etienne Leroux, maar wat skryf ’n mens oor iets waaroor daar al soveel geskryf is? Die oplossing het gekom in die vorm van ’n vergelykende studie van Leroux se Die eerste siklus en Die avonture van Pieter Francken deur Fouché.

In Pieter Francken kan die ridderroman as interteks nie geïgnoreer word nie, en na aanleiding van Leroux se uitbeelding van Colet as tragiese held en Gysbrecht as onwaarskynlike ridder was dit vanselfsprekend dat ek ’n hoofstuk daaraan moes wy. Hierdie hoofstuk het vir my een van die interessantstes geword, veral as gevolg van die wisselwerking tussen die “edele” ridders, Gysbrecht en Pieter, en die “swart” ridders, die eendsterte en bendelede. Ek het besluit om vir die doeleindes van die artikel slegs met Die mugu en Pieter Francken te werk, omdat Gysbrecht en Pieter as karakters vir my die naaste aan mekaar lê.

Jy het dus dadelik tereg in die vergelykende benadering die moontlikheid gesien om "meer" oor Leroux te skryf, met die fokus op die interteks van die ridderroman. Die wit ridder op die wit perd teenoor die bose swart ridder sal seker nooit as simbole uit die kollektiewe Jungiaanse onbewuste verdwyn  nie. Maar voordat ons verder oor die edele ridders praat, eers iets meer oor die teoretiese vertrekpunte wat jou aangetrek het.

Ek het ook in ’n stadium ná honderde bladsye begin wonder wat ek nog oor Leroux kan skryf, maar juis die oneindige moontlikhede van die komparatisme, gekoppel aan nuwe teoretiese insigte, maak my dadelik lus om, soos jy, verder oor mitebouers soos Leroux en Fouché te skryf. Hoe lees mens vandag veral Leroux, maar op ’n ander vlak Fouché, in die lig van die sielsat post-postmodernisme, dekonstruksie (wit/swart ridder, goed/sleg), die opheffing van "die" geskiedenis (natuurlik Foucault), die Lacaniaanse siening van die magtige, onvervulde begeerte na die edele "damsel in distress", en wat meer. Iéts oorleef, weet ons, maar wat? "Die mite is dood, lank lewe die mite"? Het jy in jou studie by veral bepaalde teoretiese insigte gebaat?

Dalk beantwoord ek nou nie jou vraag nie, maar in my geploeg deur al die teorieë het dit my opgeval hoe al die “posts” binne die konteks van Afrika nog meer gekompliseerd raak en begin mens nogal wonder oor die relevansie van die Westerse mites in ons huidige konteks. Fouché vind ’n skakel, maar ek sal wat wou gee om te weet waarmee Leroux vandag vorendag sou gekom het.

Jou antwoord bring weer die belangrike skakel na kontekstuele resepsie na vore. Wat maak ’n nie-Westerse leser van die "onsterflike" riddermite? Watter soort skakel vind Fouché?

Fouché skep die karakter van Pieter Francken wat met vooropgestelde idees van wie is die held en wie is die skurk die ruimte van Koningsdal betree. Dorothea wys dan vir Francken op die ingewikkelde verhouding tussen die bendelede en die gemeenskap en skielik vervaag die grense tussen goed en boos. Daar word verder gewys op Francken se onkunde, en sy rol as held in die gemeenskap van Koningsdal word ook bevraagteken. Hierdeur herskryf Fouché die tradisionele ridderverhaal binne ’n nuwe konteks.

Ek sê nie dat Francken volkome insig kry in die situasie van die mense in Koningsdal nie, maar die besef dat jy jou mites soms moet aanpas, is seker genoeg.  
 
Terug na die oorspronklike Westerse konteks, want oor Afrika kan ons bloot bespiegel. Dink jy dat die ridderverhale as ’n soort meesternarratief soos die Bybelverhale in die populêre mitiese bewussyn bly voortleef? Iets soos die avonture van prins Valiant het nie slegs ’n lewe van hul eie in voortgesette strokiesprente nie, maar tans steeds ook op die silwerdoek.

Mense hou van ’n storie wat hulle ken, en die vervaardigers van hierdie tipe films weet dat daar maar in almal ’n diep-verborge (dalk is dit nie eers so diep nie) hunkering na ’n gelukkige einde is. Ek dink nie dit sal ooit verdwyn nie, en daar is natuurlik niks fout daarmee nie. Films soos Shrek (ten minste die eerste een) gee ook weer ’n vars perspektief.

Ek wyk nou bietjie af van die vraag, maar kyk na ’n karakter soos Eartha, wat teruggryp na die verhaal van Jacques de Lalaing om sin in haar onsekere, gewelddadige lewe te skep.
 
Shrek is ’n perfekte voorbeeld van ’n eietydse aanpassing van die onsterflike ridderromantiek en -mite. Eintlik nóg interessanter omdat die wit ridder hier ’n massiewe ogre word. Eintlik onaantreklik soos die boggelrug van Nortre Dame. Hoe voel jy daaroor dat die bose en onaantreklike as die keersy van die goeie en skone by Leroux en Fouché op sy eie fassineer?

By Fouché en Leroux gaan dit eerder vir my oor die ridder in die vorm van die alledaagse, vaal mannetjies soos Gysbrecht en Pieter. Hulle is nie sterk of aantreklik (of aanvanklik dapper) nie, net gewoon. 

Natuurlik hou albei skrywers hulle besig met ontluistering, debunking van die held tot ’n gewone outjie, eintlik die dood van die mite - lank lewe die mite. Maar ek wil jou vra oor jou persoonlike gevolgtrekking as leser, nie wat mens met aanhalings kan "bewys" nie. Daar is sommige lesers wat sou kon voel die twee romans eindig op ’n soort eksistensialisties-nihilistiese toon. Laat ons onthou Die mugu is uit die na-oorlogse eksistensialisme van die jare vyftig gebore. Is daar hoegenaamd niks “heroïes” in die twee hoofkarakters se pogings om ten spyte van die stroping van illusies met hulle lewenstryd voort te gaan nie? Wat van albei se poging om “die goeie” vir iemand anders te doen, al is dit tevergeefs? Vir albei sou die kreet uiteindelik kon opklink: Viva! Is die kernboodskap in albei romans inderdaad dat idealisme en die strewe van die klein mannetjie totaal sinloos is? 
      
Die feit dat hulle net gewone mense is, maak hulle heldedade eintlik meer heroïes. ’n Mens verwag nie van ’n karakter soos Francken om sy gemaklike lewe agter te laat of van die vaal Gysbrecht om die “GO, MAN, GO!”-trui aan te trek nie, maar dan verras hulle ons almal. Beide karakters ondergaan ’n mate van persoonlike oorwinning.

Die "boodskap" is dat jy nie ’n Jacques de Lalaing hoef te wees om ’n impak te maak nie (al is dit net om tydelik weg te breek van jou alledaagse bestaan). Dit is die universele verlange na die goeie en na bevryding wat vir die karakters die hoop gee om voort te gaan met hulle reis. Dit sluit weer aan by die idee dat die ridderverhaal nooit uitgedien sal raak nie.   

Die doel van jou studie was natuurlik glad nie om aan Leroux en Fouché se relatiewe literêre status en dus hulle kanonisering aandag te gee nie, hoewel jy dit nogtans met verwysing na resepsie ter sprake bring. Mens bly dus nuuskierig oor jou eie vergelykende siening van die twee se posisie in die kanon. As jy uit jou nugter wetenskaplike ivoortoring sou klim, dink jy Fouché is van so ’n kaliber dat hy besig is om Leroux se "mantel" oor te neem? Chris Pelser het byvoorbeeld met sy Don de Ridder ook die ridderroete op Leroux en die magtige Cervantes se spoor gevolg. Waarom is hy "minder" vergelykbaar as Fouché?

Nie geweet ek is in die toring nie ... Leroux kan beskou word as een van die skrywers wat vernuwing gebring het in die Afrikaanse prosa en dit sal onregverdig wees om Fouché as opvolger te probeer kroon. Hy volg nie bloot vir Leroux na nie, maar het definitief sy eie stem. Wat my na Fouché aangetrek het, is die toeganklikheid van sy werk en sy droë sin vir humor. Die avonture van Pieter Francken en Twee Dae in Mei het my lekker laat lag, maar ek was teleurgesteld in Ed van Inligtingstelsels. Hopelik sal hy my weer kan beïndruk in die toekoms (ek het nog nie die nuwe boek gelees nie).

’n Mens sou seker Don de Ridder hierby kon betrek, maar dit het nie tot my gespreek soos Fouché se werk nie. 

Ek het darem nie bedoel jy is ’n ivoortoring-tipe nie! Jy het juis waardering vir toeganklikheid. Ek en jy is egter so akademies-wetenskaplik betrokke dat ons outomaties in die toring is. Wat nie beteken dat ons nie aan ’n niewetenskaplike kanonisering kan deelneem nie. Jou blote keuse van die twee tekste, waarmee ek saamstem, dra tot kanonisering by! (Ek sou darem terloops eerder Cervantes of Rabelais in die geselskap van Leroux verkies het!) Ek het ook waardering vir Fouché, wat bepaald nie ’n naskrywer is nie. Ek verstout my egter om te beweer dat daar sonder Die mugu kwalik Die avonture van Pieter Francken sou kon gewees het. Daar is eenvoudig te veel ooreenkomste. Wat dink jy?

’n Mens kan dit seker oor enige skrywer en wat hulle beïnvloed sê – êrens moet jy ’n idee kry en dit dan jou eie maak. In ’n onderhoud met Jaco Jacobs in Insig sê Fouché dat hy “nie weet of daar regtig so ’n Leroux-invloed is nie”, maar noem tog Die mugu as sy gunstelingboek van Leroux. Dalk het dit die saadjie geplant, wie weet.

Oor "oorspronklikheid" sal ons altyd slegs kan bespiegel, en dit is dan wanneer uitsprake deur "die mens agter die boek", soos hier, soms bygetrek word, ’n strategie wat eens taboe was. Jy doen tereg heelwat moeite om die kontekstuele situasie rondom die verskyning van die romans te skets: apartheid en eendsterte teenoor ’n eietydse bendekultuur. Hoe voel jy oor literatuursosiologiese benaderings om meer van hierdie faktore van produksie en resepsie te belig?

In my volle tesis het ek nogal ’n bietjie gekyk na die stand van die uitgewersbedryf in die onderskeie tye waarin Leroux en Fouché skryf. Soos jy reeds noem, speel die sosiopolitiese kontekste van die tye waarin die twee skryf, ’n groot rol in my studie. Skrywers skryf tog binne ’n sekere konteks en dit moet nie geïgnoreer word nie. Ek dink dit is Wellek wat gesê het dat mens in die literêre studie nie besig is met politieke wetenskap of sosiologie nie. Natuurlik moet die fokus nooit te ver van die teks beweeg nie, maar dit bestaan tog nie in isolasie nie.  

Wellek het tot op sy oudag verbete probeer skerm vir die volkome outonomie van die teks; dit was vir my heroïes en tog ook half tragies toe ek juis by ’n komparatiewe kongres oorsee na een van die waardige oubaas se laaste uitsprake daaroor geluister het. Hy het ’n staande toejuiging gekry, hoewel byna geen kongresgangers met hom saamgestem het nie. Viva die mugu! Gelukkig is die tyd van eng begrensing in die literatuurstudie verby. Jou vergelykende artikel met soveel kontekstuele elemente toon hoeveel boeiender ons vakgebied met behulp van steeds ontwikkelende teorie en insigte geword het. Mag ons soos met die steeds lewende riddermite aanhou om nuwe grense te verken, tydens nuwe avonture.

Kan ek ter afsluiting vra waarmee jy in voorgesette studie besig is?
 
Ek los vir eers die ridders van ouds agter en het so pas begin met my PhD oor toekomsromans in Afrikaans ná 2000. Ek bevind my tans in die totale verwoesting en die einde van die wêreld van die distopiese en apokaliptiese roman en hoop ek kom lewend aan die anderkant uit!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top