Chaos by skole oor ANA’s

  • 0

jeanpaul650Die jaarlikse nasionale assesseringstoetse (ANA’s) by skole het vanjaar chaos in die onderwyssektor veroorsaak toe die vyf onderwysvakbonde hul lede opdrag gegee het om dit te boikot. Jean Oosthuizen het by die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se uitvoerende hoof, Paul Colditz, gaan aanklop om uit te vind waaroor die bohaai gaan en wat agter die kap van die byl sit.

Die vonke spat behoorlik oor die basieseonderwysminister, Angie Motshekga, se aandrang dat die jaarlikse nasionale assesseringstoetse (ANA’s) in Desember geskryf word. Waaroor gaan die bohaai eintlik?

Die toetse sou eintlik in September geskryf gewees het, maar kort voordat dit geskryf moes word, het die president van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), die grootste onderwysvakbond in die land, per sms aan sy lede opdrag gegee om die afneem en nasien van die toetse te boikot.

Dit het ʼn reeks gesprekke tussen die ministerie en die vakbonde tot gevolg gehad wat tot uitstel van die toetse gelei het, maar daarna het die Raad van Onderwysministers (ʼn raad van alle provinsiale LUR’e vir onderwys saam met die nasionale ministerie) besluit dat die toetse van 1 tot 4 Desember afgeneem moet word.

Die vakbonde beweer dat hierdie besluit nie in ooreenstemming is met die uitkoms van die gesprekke tussen hulle en die ministerie nie.

Talle argumente is geopper daarvoor, asook daarteen. Die katalisator vir die huidige openlike teenstand was, soos jy hier bo noem, toe Sadou ’n boikotaksie uitgeroep het. Waarom het die ander vakbonde nie ook onmiddellik hul teenstand teen die ANA’s hard en duidelik uitgespreek nie, en wat sit agter die kap van die byl?

Dit blyk dat daar uitstaande sake in die Raad vir Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (Ravo) is waaroor die partye wat deel is van daardie raad nie vordering maak nie. Ravo is die bedingingskamer vir arbeidsverhoudinge in die basieseonderwyssektor.

Volgens berigte was Sadou ontevrede omdat Ravo nie die sake afgehandel kry nie en hulle het die totaal onverwante ANA-proses gebruik om die Minister te probeer dwing om die uitstaande Ravo-kwessies te hanteer.

En toe verras Sadou almal met ʼn sms?

Die sms van Sadou se president was waarskynlik net so ʼn groot verrassing vir die ander vakbonde as wat dit vir die Minister was. Die stelsel was gereed om met die toetse voort te gaan. Tot op daardie stadium was daar nie sprake van openlike teenstand daarteen nie. Trouens, in Julie vanjaar het die Minister nog konsepbeleid oor die administrasie van die ANA’s vir algemene kommentaar gepubliseer en daar is wyd kommentaar daaroor ingewin. Dit is betekenisvol dat Sadou, volgens die Minister, nie kommentaar gelewer het nie.

Daar word gesê die aanvanklike bedoeling van die ANA’s was nooit om as ’n individuele toets vir elke leerling in gr 1 tot 9 te dien nie. ’n Sistemiese evalueringsmodel, wat die ANA se doel aanvanklik was, is om die stand en gehalte van onderrig op bepaalde punte in die onderwysstelsel – gr 3, 6 en 9 – te bepaal. Is dit korrek?

Dit is korrek dat die bedoeling was dat die ANA’s ʼn sistemiese evalueringsmodel, oftewel diagnostiese toets, moes wees. Die idee is oorgeneem van die Wes-Kaapse departement, wat daarmee begin het en ʼn redelike mate van sukses daarmee gehad het. Tans is die model eintlik nog in ʼn ontwikkelingsfase.

ʼn Paar probleme is reeds geïdentifiseer, benewens natuurlik die feit dat die leeruitkomste in geletterdheid en syfervaardigheid ʼn skok was. Die belangrikste probleem is dat soveel mense betrokke by die toetsing geen benul het van wat ʼn diagnostiese toets eintlik beteken en presies wat daarmee beoog word nie.

So byvoorbeeld het amptenary in meer as een provinsie opdrag aan skole gegee om drie weke voor die afneem van die toetse geen kurrikulumwerk te doen nie, maar die kinders net in taal en wiskunde af te rig met die oog op verbeterde prestasie in die toetse. Dit ontneem die toetse geheel en al hulle geloofwaardigheid en waarde.

Dit was ook nooit die bedoeling dat dit elke jaar deur elke kind afgelê moes word nie, maar met tussenposes van drie jaar – in gr 3, 6 en 9. Waarom nou elke jaar?

Soos ek reeds aangedui het, is die stelsel eintlik nog in ʼn ontwikkelingsfase. Die krisis in skoolonderwys is van so ʼn omvang dat ons nie eintlik kan bekostig om net elke drie jaar te toets nie. Die feit is ook dat die toetsing so verteenwoordigend as moontlik moet wees, sodat die vinger presies gelê kan word op die plekke waar die probleme is. Dis nogal moeilik om in te sien hoe veral laasgenoemde oogmerk bereik kan word as alle kinders nie die toets aflê nie.

Die standaard van die ANA’s verskil dramaties van jaar tot jaar. Is dit in die lig hiervan enigsins moontlik om enige vergelyking van jaar tot jaar te tref?

Die doel van diagnostiese toetsing behoort te wees om op verskillende tye verskillende uitkomste van die stelsel te toets en om aan die hand daarvan strategieë en planne te ontwikkel om probleme (en suksesse) oor die lang termyn volhoubaar te hanteer.

Die bedoeling behoort nie te wees om noodwendig van jaar tot jaar op gestandaardiseerde wyse vergelykings te tref nie. Dit sou weer eens die doel van diagnostiese toetsing verydel.

Daarom hoef die toetsing na my oordeel nie gestandaardiseer te word nie, tensy jy alleenlik daarop ingestel is om jaar na jaar vordering in bepaalde vakrigtings of vaardighede te meet. Maar dit is juis hierdie benadering wat waarskynlik daartoe sal lei dat kinders afgerig word sodat die minister en die publiek tevrede gestel kan word dat daar vordering is.

Maar is die vergelykbaarheid tussen verskillende jare dan nie absoluut noodsaaklik om afwykings en probleemgebiede tydig te identifiseer en die nodige remediërende maatreëls in werking te stel nie?

Nee, ek stem nie hiermee saam nie. Ons het al genoeg inligting oor die kwessies van geletterdheid en syfervaardigheid – die enigste twee sake wat tans getoets word – om te weet dat daar ernstige leemtes in hierdie verband is. Wat ons inderdaad op die oomblik nog nié het nie, is die volhoubare remediërende maatreëls om die probleme op die regte plekke, tye en wyses op te los.

Daar word selfs van kinders wat matig en selfs ernstig intellektueel gestremd is, verwag om die toetse af te lê. Hoe rasioneel is hierdie besluit en is dit nie uiters onbillik dat sulke skole dan as onderpresterend bestempel word nie?

Hierdie is een van die geldige punte van kritiek wat geopper word. Inderdaad irrasioneel!

Die bewering word gemaak dat skole op groot skaal kul weens vrees dat hulle swak gaan vaar. Is dit waar?

Kullery op groot skaal is inderdaad moontlik, maar dit is weer eens omdat mense die doel van diagnostiese toetsing nie verstaan nie. As die toetsing in goeie trou kan geskied, kan dit ʼn individuele onderwyser, skool en gemeenskap tot verbetering aanspoor.

Nou word dit misbruik om mense en skole af te kraak of te prys omdat hulle sleg of goed gevaar het. Die groot leemte van die huidige stelsel is dat dit geïmplementeer is sonder dat daar ʼn gemeenskaplike verstaan is van wat beoog (behoort te) word.

Ek moet byvoeg dat Fedsas ons bekommernis in hierdie verband met die nasionale departement gedeel het en dat ons daar ʼn oop deur en goeie begrip vir ons standpunt gevind het. Hopelik is een van die uitkomste van die huidige geskil ʼn verbeterde kommunikasiestrategie om te verseker dat die hele onderwysgemeenskap ʼn beter begrip het van waaroor diagnostiese toetsing eintlik behoort te gaan.

Beteken dit dat onderwysers by sulke skole toetse vooraf kan oopmaak en leerlinge bystaan met die beantwoording van vrae?

Inderdaad so. Dit is wat sal gebeur as diegene betrokke daarby nie ʼn gemeenskaplike verstaan het van wat beoog word nie.

Maar indien die bewerings van kullery waar is, is die fout seker nie met die toets nie, maar met die eerlikheid van onderwysers. Sou enige ander toets buiten die ANA’s nie maar ook aan dieselfde probleem onderworpe wees nie?

Absoluut korrek, maar dit gaan veel verder. Dis nie net die eerlikheid van die onderwysers wat ter sprake is nie, maar veral die druk wat op hulle geplaas word om te verbeter.

Soos ek reeds gesê het, word onderwysers aangesê om tot so lank as drie weke voor die toetsing net op taal- en syfervaardigheid te konsentreer en die gewone deurwerk van die kurrikulum te versaak.

Een provinsie hou tot selfs ʼn funksie om skole wat goed presteer het te beloon. Dit is gewoon laf. Nou word onderwysers en skole aangemoedig om te presteer sodat hulle net ʼn slag op die podium kan wees. Ander word afgekraak omdat hulle nie goed genoeg gevaar het nie. En dit is inderdaad so dat enige stelsel of toets sodanig misbruik sal word as die oogmerk daarvan nie behoorlik verstaan word nie of as die resultate daarvan misbruik word.

Waarom is daar soveel ongelukkigheid oor die Minister se aankondiging dat die toetse nou van 1 tot 4 Desember afgelê gaan word?

Die vakbonde is ongelukkig omdat hulle beweer dat die ministerie afgewyk het van die ooreenkoms wat met hulle bereik is. Of dit wel so is, kan ek nie sê nie, want as beheerliggaamorganisasie was ons nie by daardie samesprekings betrokke nie.

Vanuit ons oogpunt as beheerliggaamorganisasie is die keuse van die datums egter problematies omdat dit om verskeie redes ʼn baie moeilike tyd van die jaar is. Eindeksamens vir die doel van promosie is pas afgehandel en promosieskedules moet gefinaliseer word.

Die gevaar is ook dat almal hierdie toetse op hierdie tydstip van die jaar as ʼn grap sal afmaak, want dit tel nie vir doeleindes van promosie nie. Progressie en promosie is op hierdie tydstip van die jaar in almal se gedagtes – nie toetse om die sukses of mislukking van die stelsel te meet nie.

In hierdie geskil is ʼn belangrike saak versteek. Dit is kragtens die Wet op Nasionale Onderwysbeleid die prerogatief van die minister om onder andere beleid oor die evaluering en welsyn van die onderwysstelsel te bepaal. Dit het weinig te doen met die diensvoorwaardes van onderwysers en alhoewel daar origens van die minister verwag word om raad daaroor in te win, is sy nie verplig om met vakbonde of enigiemand anders daaroor te onderhandel nie. As die vakbonde of iemand anders stakings of boikotte hieroor onderneem, ondermyn hulle die minister se gesag op onwettige wyse.

Baie skoolbeheerliggame het hulle by die Minister en haar plan vir die jaarlikse ANA-toetse in Desember geskaar. Maar wat van daardie skole wat dit nie ondersteun nie? Kan hulle gedwing word om die toetse te skryf en wat gebeur as hulle dit nie doen nie?

Al die erkende beheerliggaamorganisasies en selfs die leerderorganisasie het hulle ten gunste van die beginsel van diagnostiese toetsing en die gesag van die minister kragtens die Wet op Nasionale Onderwysbeleid uitgespeek.

Dit was nie noodwendig steun vir die tydstip waarop die toetse afgeneem sou word of selfs die wyse waarop dit gedoen word nie. Daaroor bestaan daar nie eenstemmigheid nie. Die posisie is dat die saak tans in soveel chaos gedompel is dat vele skole waarskynlik nie aan die proses sal deelneem nie. Dit sal gewoon onprakties wees om enige gevolge daaraan te koppel.

Wat is die oplossing vir die hele probleem?

Die oplossing moet gesprek wees.

Dit moet verkieslik by wyse van ʼn konferensie geskied waartydens kundiges oor hierdie tipe diagnostiese toetsing se menings ingewin moet word; onderwysvakbonde geleentheid kry om hulle besware in die ope te lug, maar veral om met kundige voorstelle ter verbetering vorendag te kom; universiteite wat by onderwyseropleiding betrokke is, se stemme gehoor kan word; amptenare vertel word wat die doel van sodanige toetsing is; en ouers ook (deur middel van beheerliggaamorganisasies) inspraak kan lewer.

Daar moet met ʼn nuwe plan vorendag gekom word wat die steun van almal het en wat die goeie trou van almal betrokke by die onderwys van ons kinders sal monster. Politiekery wat nie die beste belang van kinders voorop stel nie, moet eens en vir altyd die nek ingeslaan word.

Sal een konferensie genoeg wees om die probleem op te los?

Nee, so ʼn konferensie sal gereeld opgevolg moet word om planne te bedink en te implementeer wat volhoubaar en suksesvol werk sal maak van die leemtes wat deur die toetsing uitgewys word. Dit is waarom die universiteite betrokke moet wees: hulle moet ook hoor waar die leemtes in opleiding is. Die opvolgaksies moet ook op kundigheid en volhoubaarheid gegrond wees.

Die sogenaamde “1+4-plan” om stappe te doen met betrekking tot die swak prestasie in wiskunde in graad 9 was ʼn fiasko wat die departement van basiese onderwys oor ʼn skoolvakansie bedink het en wat bloot op krisisbestuur gedui het. Boonop het dit nie by die kern van die probleem uitgekom nie.

En waar lê die kern van die probleem?

Die kern van die probleem begin by die aanvangsjare in skoolonderwys en manifesteer eers later wanneer die pas stywer word. Jy kan nie in graad 9 probeer regstel wat uit die staanspoor vanaf graad 1 reeds verkeerd begin loop het nie.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top