
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Die speletjie
Skrywer: Celeste Slabber-Loriston
Uitgewer: Naledi
ISBN: 978-1-0672345-8-4
Die spel van persepsie
Jy glo jy het jouself uitgesorteer en dat jy weet hoe die wêreld werk. Die speletjie begin presies met hierdie vraag van sekerheid deur dit stadig af te breek totdat daar niks oorbly om aan vas te hou nie.
Celeste Slabber-Loriston plaas die leser onmiddellik binne Talia se bewussyn. Sy stel haarself voor met die selfvertroue van iemand wat gewoond is daaraan om raakgesien te word: slim, talentvol, voor op haar ouderdom. Alles in haar lewe bevestig hierdie beeld. Haar familie, haar skool en prestasies. Dit vorm ’n wêreld waarin dinge sin maak en waar moeite gewoonlik beloon word.
Die toer na Huis Fabergé voel aanvanklik soos nog ’n bevestiging van daardie orde. ’n Beloning vir harde werk. ’n Nuwe ruimte waarin sy weer kan uitblink. Maar die atmosfeer van die huis begin onmiddellik te kantel. Die besonderhede is onskuldig: ’n deur wat nie oopgemaak mag word nie, ’n standbeeld wat jou dophou en ’n gasvrou wie se vriendelikheid iets wegsteek. Die spanning lê in hierdie opstapeling van onverklaarde dinge. Elke toneel skuif die grond effens onder Talia se voete.
Die verhaal is veral besonder, omdat dit so na en vas aan Talia se perspektief bly. Die leser ervaar alles deur haar interpretasie, aannames en onsekerheid wanneer dinge nie meer sin maak nie. Die feit dat sy slim is maak dinge nie enigsins makliker nie. Sy kan feite onthou en patrone herken, maar die ervaring self glip deur haar vermoë. Dit dwing haar in ’n nuwe soort bewussyn in wat nie meer net op kennis staat maak nie.
Die verhouding tussen Talia en Nzingha bring balans en energie in die teks. Nzingha beweeg met ’n diepgewortelde selfversekerdheid. Die vriendskap tussen hulle voel herkenbaar, juis omdat dit nie gepoleer is nie. Daar is lojaliteit, frustrasie en oomblikke van werklike afhanklikheid. Wanneer die spanning begin toeneem, word hierdie verhouding ’n ankerpunt tussen die twee meisies.
Die bykarakters verdien ook aandag. Ouma Hattie leef deur haar kuns, haar chaos, haar intensiewe blik op die wêreld. Ou-Pappa bring orde. Hierdie kontras bou ’n agtergrond waarbinne Talia gevorm word. Die besonderhede waarmee hulle geskets word, die reuk van verf, die ritme van spykers rangskik, gee die verhaal tasbaarheid.
Die simboliek van kuns en musiek galop deur die verhaal. Dit verskyn as ’n manier om dinge te kan verstaan. Talia se fluit, die skilderye, die Fabergé-eiers, elke element dra ’n gevoel van betekenis. Soos die verhaal ontvou, begin hierdie elemente gesels. Dit bou na ’n klimaks waarin ’n oplossing uit iets meer genuanseerd kom: ’n vorm van luister, aanvoeling en iets wat nie volkome beheer kan word nie.
Kort sinne en vinnige toneelwisseling skep ’n gevoel van aanhoudende beweging. Daar is min plek om asem te skep, en dit werk fenomeneel. Die leser word saamgetrek in Talia se ervaring, van nuuskierigheid na onsekerheid, van onsekerheid na werklike vrees.
Die Suid-Afrikaanse konteks voel natuurlik geïntegreer. Verskillende tale en kulture bestaan langs mekaar sonder dat dit verduidelik hoef te word. Dit vorm deel van die wêreld soos dit ervaar word deur die karakters.
Teen die einde van die verhaal verander die aanvanklike vraag in iets meer persoonliks. Dit bly nie meer net by Talia nie. Die leser sit met dieselfde ongemaklike bewustheid dat identiteit nie ’n vaste gegewe is nie, maar iets wat onder druk vorm aanneem. Die laaste tonele dra ’n gevoel van insig.
Talia, ’n jong meisie wat gedink het sy ken haarself, wat deur iets onbekends gedwing is om anders te kyk, keer nie meer terug op dieselfde manier nie. Die speletjie eindig dus nie waar dit begin het nie. Dit eindig op ’n plek waar identiteit nie vasgelê kan word nie, waar dit eerder iets is wat onder druk verander, verskuif en soms heeltemal ontglip.
Lees ook:
Gesogte ATKV-Woordveertjies vir uitblinkers: hier is 2019 se wenners


