Casper Ace: "Ek wou 'n groter storie vertel"

  • 0

Die Kaapse musikant Casper Ace se debuutalbum is pas uitgereik. Hy beantwoord ’n paar vrae oor die uitdagings van die bedryf, sy passie vir oorspronklike musiek, en die lewe.

Goeiedag, Casper. Hoe's dinge?

Hi, Henry. Alles goed, dankie. Lekker om met jou te kan chat!

Casper_1grootweb
Foto: Gerhard Geldenhuys

Geluk met die vrystelling van jou debuutalbum, Saam. Dis natuurlik allermins maklik om ’n debuutalbum vry te stel deesdae – heelwat musikante verkies om ’n paar enkelsnitte aanlyn te sit en die reaksie te kyk, of eerder ’n debuut-EP te gooi. Jy het egter pens-en-pootjies ingespring en ’n volledige album met ’n stewige 12 snitte uitgereik. Hoe het jou proses van oorweging hierrondom verloop? Is daar ’n bepaalde strategie verbonde aan die album volledig uitreik, of hoe beskou jy – as ’n betreklik nuwe kunstenaar op die toneel – die saak?

Wat die album se uitreiking in sy geheel betref het ek van die begin af my werk beskou as kuns, eerder as ’n kommersiële produk. Ek wou ’n kunswerk skep. Die 12 liedjies saam vorm ’n narratief wat verlore sal gaan as dit opgebreek word. Wat nie te sê is dat die individuele liedjies nie op hulle eie kan staan nie – hulle kan. Maar daar is ’n groter prentjie wat ek graag wil aanbied en ek dink daar’s genoeg mense wat hierin belangstel. Die album kan ook op verskeie vlakke interpreteer word, wat die luisterervaring soveel beter maak.

Nou oor na die inhoud van dié heerlike album. Dis ’n uiteenlopende versameling snitte, met talle wat ook sterk staan as alleen- of enkelsnitte. Met die lirieke voel dit asof daar ’n goue draad loop van verstrengeling in ’n stadslewe, die frustrasie met ’n gejaag na geld en ’n smagting na ontsnapping en natuurskoon. Is dit ’n korrekte waarneming? Wou jy ’n deurlopende tema op die album hê, of hoe het jy die samestelling oorweeg in terme van hoe die snitte by mekaar inskakel? Veral as nuwe kunstenaar – wat is die belangrikste ding(e) wat jy wil hê mense moet ervaar met die eerste deurluister, en hoe het jy te werk gegaan om so ver moontlik te verseker dit is wat gebeur?

Jou waarneming is korrek. Ek wou die "goue draad" hê en die groter storie vertel. As mens die musiek luister wat op televisie en radio gespeel word, dan is die meeste daarvan eendimensioneel. In terme van lirieke kan dit nie regtig op meer vlakke interpreteer word nie, en in terme van musiekstyle klink omtrent alles dieselfde. Ek wou regtig ’n album skep wat multidimensioneel is en waar die verskillende aspekte van menswees, jou emosies en denke, en die verskeie invloede wat ons in hierde asemrowende land het … waar dit alles na vore kom. So, dit is amper ’n refleksie van die dinamiese samelewing waarin ons woon. Die hele idee van gemeenskap en "saam" dinge doen, jy weet, word ook gereflekteer in die lirieke en in die uiteenlopende musiekstyle wat op die album is. So, die titel – Saam – word op verskeie manier uitgebeeld in die lirieke en in die musiek.

Toe die album einde se kant toe staan, het ek ’n veteraan van die musiekhandel, Tim Honey, genader vir insette. Hy het die snitte op die album rangskik sodat die deurlopende narratief in die lirieke duidelik na vore kom, en ook gesorg dat die album lekker loop in terme van die musiek van begin tot einde. Dit het my opnuut laat besef hoe waardevol die ingeligte opinie en insette van ’n gerespekteerde buitestander is.

Ek sal baie graag wil hê dat mense aangenaam verras moet wees met die album. Dis ’n rockalbum met invloede van ander populêre musiekstyle. As "sokkie-rokkie-bokkie" jou ding is, dan gaan hierdie album jou moontlik ’n bietjie laat skrik, en dit mag selfs soos ’n "gateway drug" wees wat die deur oopmaak na dieper, meer betekenisvolle dinge ... Maar dit is beslis iets wat vir jou sal goed wees en wat jy moet verken; jy kan dit sien as deel van jou musikale opvoeding. So, kry dit! Aan die ander kant, as jy reeds gewoond is aan musiek wat dinge op meer as een vlak aansny, sal hierdie album hopelik vir jou verfrissend wees. Ek het dit doelbewus ook so gemaak dat my kinders daarna kan luister. Ek wil graag vir hulle iets gee wat anders is as die eendimensionele popmusiek wat hulle aan blootgestel word deur hulle peer-groepe en op televisie en die internet, en so aan. Dit is ’n album waarna jy saam met jou kinders kan luister. Jy kan ook maar jou kinders alleen los saam met die album, jy weet, sonder om te voel dat jy jou siel aan die duiwel verkoop het! Ek dink in daardie opsig is dit ’n gebalanseerde album om na te luister. Dis ’n rockalbum met genoeg populêre klanke dat die hele familie dit kan geniet.

Hoe ek te werk gegaan het om te verseker dat mense die album kan geniet is, eerstens, om met die beste musikante te werk wat ook almal wonderlike mense is! So, ek het nie met prima donnas gewerk nie. Ek het deurlopend ’n atmosfeer probeer skep waar die musikante binne ’n spesifieke raamwerk kon vry wees, kon skeppend wees en nie bang was om voorstelle te maak óf om hulle eie stempel af te druk op dit wat hulle doen nie. So, ons het ’n atmosfeer geskep van samewerking tussen almal wat betrokke was by die projek. Dit is hoe ons dit gedoen het.

Nou, hierdie mag ’n ongemaklike vraag wees ... Jy't ’n lied op die album genaamd "Draalnoot", met die refrein wat herhaal "Net ’n draalnoot/ vir ’n janfiskaal ..." Doodtoevallig het ek ook ’n roman met daai titel uitgegee. Is dit parallelle evolusie? Of wat van daai boek of die titel het jou laat besluit om dit in ’n lied te omskep?

Toe ek van jou roman hoor, het ek dadelik die sinopsis aanlyn gelees. Alles omtrent die boek, die titel, die karakters, die storielyn, was vir my geweldig vars en het my verbeelding aangegryp. Ek is ’n groot fan van Stieg Larsson se Millenium-trilogie en sy skryfstyl vind ek verfrissend. Toe ek die sinopsis van Draalnoot vir ’n janfiskaal lees, was ek baie bly dat iemand … dit het vir my gevoel asof iemand nou in Afrikaans iets gedoen het soos wat Stieg Larsson gedoen het. En ek het natuurlik dadelik gedink dit is ’n baie cool titel vir ’n harde rocksong! Ek het letterlik die volgende oggend wakker geword, reguit na my studio gestap, my elektriese kitaar opgetel en die opening riff van "Draalnoot" net so begin speel sonder om eers twee keer daaroor te dink. Die lirieke en die musiek het net gevloei en binne ’n halfuur het ek die demo opgeneem. Dit het net vanself gekom.

Ek dink "Draalnoot" as ’n titel het vir my die uitlaatklep gegee om ’n klomp van my onderliggende sieninge omtrent die wêreld te lig. In daardie konteks kon ek "Draalnoot vir ’n janfiskaal" gebruik as ’n metafoor vir wat ek in elk geval wou sê. Eers etlike maande later het ek die boek in die hande gekry en gelees. En, ja, dit was vir my net so verfrissend soos wat ek verwag het en ek kon die boek vir lank nie neersit nie. Ek moes uiteindelik weer aangaan met my lewe ... Ultimately, vir my, vir die lied "Draalnoot", is "Draalnoot vir ’n janfiskaal" ’n metafoor vir verbruikersdruk en die verstrengeling in materialisme en die selfvernietigende effek wat dit op die mens het. So, dis my interpretasie van jou titel. Well done en vreeslik baie dankie hiervoor, Henry! Dit het my ook weer eens laat besef hoe die kunste onderling mekaar beïnvloed. En ek voel dis baie belangrik. Doelbewus stel ek myself bloot aan verskeie kunsvorme – literatuur, teater, dans, kunsuitstallings, verskeie musiekstyle, optredes, konseptuele kuns … al hierdie dinge is dinge waarmee ek myself verryk en dit vryf af op jou eie kuns. Dit voed as’t ware die skeppingsproses, dit voed jou siel, sodat wanneer jy weer skeppend optree dat jy weer iets het om te gee. Ek voel dit is baie belangrik.

Dit was nou ’n lekker antwoord! Elk geval ... Dis interessant hoe talle van die snitte oor prettige arrangements beskik, al is die temas wat in die lirieke bespreek word, geensins lig of ligsinnig nie. ’n Goeie voorbeeld hiervan is "Dans": "Ek dans met die wolwe in die nag" is nie juis spookasemlirieke nie, maar die musiek is bykans “karnavalagtig” en jolig. Hoe het jy te werk gegaan om die arrangements vir die liedere uit te werk? Het jy dit reeds in jou kop wanneer jy ’n liedjie sit en skryf, of hoe werk dit?

Wat die tipe van wat hulle noem jukstaposisie betref, is dit iets wat jy oral in kuns kry. In lirieke en musiek dink ek maar aan Bob Dylan se "Hurricane" of Koos Kombuis se "Katie", ens. So, dis beslis iets wat jy as kunstenaar gebruik om ’n punt te maak, veral wanneer mense andersins nie sou kyk of luister nie. Daar is soveel soetsappige stront wat jy op die radio en televisie kry (as jy televisie kyk), jy weet, wat niksseggend is. Klanke wat lekker is en wat jou laat dans is belangrik, want jy wil ’n goeie tyd hê, almal wil dans en lekkerkry. Maar wanneer die onderwerp waaroor jy sing betekenisvol is en jy dit dan kontrasteer met ligte klanke, dan lig jy die sluier op iets dieper en dan kom jy agter daar is verskeie lae tot hierdie drieminuutliedjie wat jy kan verken. Jy kan aanhou om daarna te luister en dit hou aan om vir jou iets te sê, en iets te bring en iets te gee. Dit voed jou. Dis nie leeg nie. Dink maar aan ABBA se “Waterloo”. Die lirieke vertel die storie van iemand wat verloor, maar die musiek klink asof hulle iets wen. Dit hou dinge eg en maak dit terselfdertyd draaglik om met die verlies te deal. En mens vermy so die soetsappigheid.

Wanneer ek lirieke skryf, komponeer ek gewoonlik die musiek daarmee saam. Ek sit meestal met ’n kitaar wanneer ek skryf en pas die melodie, harmonie en ritme aan om die gevoel van die lirieke uit te bring, óf, wanneer die gevoel te sterk is, te temper. Soms werk dit andersom. Dan kom die musiek eerste en jy soek lirieke om die gevoel van die musiek te omskryf. Die arrangements, of verwerkings, is egter gewoonlik in saadvorm in die musiek teenwoordig. En as jy mooi luister na die kitaar, sal jy die horn arrangements, strings, fluitparte, selfs perkussie daar vind. Daar is al gesê dat die kitaar ’n klein orkes is! Die instrumentasie wat jy kies lig dus sekere aspekte van wat op die kitaar gebeur uit. So, die uitdaging is om te besluit watter instrumente gaan die song beter maak, en om dan die gedeeltes van die musiek te kies – hetsy melodie, harmonie of ritme – wat die beste by die instrumente wat jy tot jou beskikking het gaan pas. Ek hoor die instrumentasie of arrangements soms in my kop wanneer ek komponeer, maar soms moet jy eksperimenteer en dit eers op ’n klankverwerker toets en dit bearbei om te sien of dit gaan werk. Ander kere gebeur dit spontaan wanneer die band reeds speel en jy dan net die parte improviseer, of sing.

Gepraat van die arrangements: veral met al die blaasorkeswerk is dit sekerlik ’n uitdaging om al die elemente wat opgeneem is vir die snitte ook vir ’n live optrede daar te stel. Wat is die plan in hierdie opsig? Sal jy altyd soveel as moontlik band-lede en instrumente op die verhoog wil hê, of hoe sal dit "gewoonlik" werk? Wat is vir jou die ideaal in hierdie opsig, en hoe sal jy te werk gaan om daardie ideaal ’n realiteit te maak?

Persoonlik verkies ek die classic rock line-up van tromme, baskitaar, kitaar en keyboards, met minstens twee in die band wat sing – soos Queen, die Beatles, Led Zeppelin en Pink Floyd! Maar dis moeilik om ’n band bymekaar te hou en dis hoekom ek besluit het om ’n solo-loopbaan te maak. Dit gee my die vryheid om solo of met ’n band te speel. Ek sal graag gereeld met ’n blaasensemble en soliste wil optree, maar dis nie altyd prakties nie. Daar is egter ’n ander aspek hier ter sprake. Musiekmaak as loopbaan is nie vir sissies nie. Daar is net soveel betalende gigs en al die musikante in die land wil hulle hê! Ek het vir jare in bands gespeel en die pie, soos hulle sê, is klein. En daar is meer en meer sangers wat met backtracks speel. Dit raak al moeiliker vir musikante om ’n bestaan te maak en gehore ken nie meer die verskil tussen ’n goeie live band en ’n backing track nie. En liedjieskrywers werk deesdae in komitees, want dis wat geld maak.

Die aantal liedjieskrywers wat inspirasie uit hulle eie, somtyds moeilike, lewenservaring put en uit toewyding tot hulle kuns skryf, en ook self musiek maak en nie met backing tracks speel nie, kan ek op my hande tel. Musiekmaak as loopbaan is dus nie maklik nie. So, hoe groot die band gaan wees gaan afhang van die tipe geleentheid en die grootte van die venue waar ons speel en of ek hulle kan betaal. Ek verkies altyd om eerder saam met nog musikante op te tree – dis meer pret – maar met die uitsondering van die reggae-snit "Loer na die maan" kan die hele album Saam met net stem en kitaar uitgevoer word. Dit werk goed en intieme vertonings is deesdae baie gewild. ’n Trioformaat met tromme, bas en kitaar is maklik om te bestuur en sorg gewoonlik vir meer improvisasie om te vergoed vir die ander instrumente. Dis gewoonlik los-en-lekker en miskien meer gepas vir ’n informele venue waar mense eet en drink en jolig is. Met ’n groter orkes moet almal nader aan die voorafopgeneemde musiek bly, anders raak dit deurmekaar. Dit is dus meer gepas vir ’n stilsitkonsert of groot fees. Almal moet betaal word vir repetisies en optredes, so op die einde van die dag hang dit van die budget van die promotor af. Ek sal alles in my vermoë doen om die album te bemark en te versprei om dit ’n realiteit te maak om gereeld met ’n band te kan speel. Maar ek dink ons promotors, feesorganiseerders en borge van musiek het hier ’n baie belangrike rol om te speel om musiekmaak te bevorder. En om sangers met backing tracks op jou verhoog te sit bevorder nie musiekmaak nie! Dit bevorder karaoke en gee stand-up comedy ’n slegte naam. As jy wil sing, kry vir jou ’n band óf begeleier. As jy wil comedy doen, gaan na ’n comedy club. As jy ’n verhoog het, sit musikante daarop, en moet om hemelsnaam nie karaoke nie!

Die lied "Blou Planeet" het onmiskenbaar ’n omgewingsbewuste tema/boodskap daarin. Wat was die inspirasie vir die ontwikkeling van dié lied? Beskou jy jouself as ’n sosiaalbewuste kunstenaar, en dink jy daar is ’n gebrek aan kunstenaars of liedere wat maatskaplike of omgewingsbewuste boodskappe bevat? Wat dink jy is die geheime balans vir ’n lied wat werk bloot as ’n aangename luisterervaring, en dan ook een is met die onderliggende boodskap?

Ek het ’n berig gelees oor NASA se Kepler-missie wat ’n planeet ontdek het wat in die bewoonbare gebied van sy sonnestelsel is, nie te naby of te ver van sy sentrale son nie. Dit was die inspirasie vir “Blou Planeet”. Die koor was eers "Solank daar net water is, dan bly daar nog hoop", maar toe stel Elizabeth, my vrou, voor dat ek eerder "whiskey" sing, in stede van "water". Dit sal beter afgaan met die studente op Stellenbosch, waar ons nou weer woon, het sy gesê. Ek het dit vir ’n tydjie so gedoen en selfs so opgeneem, en mense het dit gevang. Maar toe ons sewejarige seuntjie, Lelan, in die kar op pad skool toe begin sing, "Solank daar net whiskey is, dan bly daar nog hoop", het ek besef ek moet "liefde" die tema van die lied maak!

Ja, ek beskou myself as ’n sosiaal- en omwegingsbewuste kunstenaar en mens. En ja, ek dink daar is ’n gebrek aan liedjies en kunstenaars wat sosiaal- en omgewingsbewus is. Die realiteit is dat die verbruikerskultuur wat deur veral Amerikaanse maatskappye bevorder word, baie mense isoleer teen bewuswording. Dit is ook wat met populêre kultuur en met musiek gebeur. Jy kan nie as kunstenaar net bewus wees van jou kunsvorm nie. Dan kry jy die sinnelose verskynsel wat lyk soos ’n slang wat sy eie stert eet, as jy dit grafies moet voorstel. Jy weet, mense wat om ’n kampvuur sit en ’n liedjie sing oor mense wat om ’n kampvuur sit en ’n liedjie sing oor … die “Pop wil eat itself”-verskynsel wat so algemeen is in populêre kultuur.

Dit is een van die belangrikste dinge wat kunstenaars in die 21ste eeu kan doen – om boodskappe van bewusmaking en bewuswording op ’n kreatiewe manier te kommunikeer. Naas godsdiens het kuns en musiek waarskynlik die grootste invloed op die gevoelslewe van die mens. So, mens moet die goeie boodskappe inwerk waar jy kan. Kuns en musiek is ’n baie belangrike drywer van menslike gedrag. Stel jouself voor dat jy vir ’n hele dag met geen kuns of musiek in aanraking kom nie – radio, TV, wagkamers, skole, fabrieke, restaurante, openbare vervoer, ens – dan besef jy hoe kuns en musiek en die boodskappe waarna ons kyk en luister as vanselfsprekend aanvaar word. Maar die probleem lê ook by die tussengangers – die mense wat die geld hanteer, smaak by verbruikers stimuleer en kunstenaars in staat stel om loopbane uit die kunste te maak. Hulle het ’n verantwoordelikheid ten opsigte van kurasie wat hulle oënskynlik versuim. En mense sal eet wat jy vir hulle voorlê as hulle honger is. So, die argument dat die internet alles gelyk maak en dat mense hulle eie besluite kan neem in terme van waarna hulle luister, is bog. Smaak word van kleintyd af gevorm en in stand gehou, of dit verweer. Ons het nuwe smaakmakers nodig vir die jeug en instandhouding nodig vir dié wat nog hulle goeie smaak besit!

Dis moeilik om te sê wat die geheime balans is vir ’n liedjie wat goed klink en ’n betekenisvolle boodskap het. Ek dink die gedagtes wat die lirieke en musiek by jou laat ontwaak of stimuleer, moet nie die genot van die luisterervaring oorskadu nie. So, die song moet eerstens goed klink en jou laat lekkerkry, en tweedens betekenis hê. Betekenis is nie altyd belangrik nie. Mens kan soms wegkom met net lekkerkryklanke, maar dit behoort die uitsondering te wees en nie die norm nie!

Die Afrikaanse musiektoneel is maar ’n onvoorspelbare dier ... As ’n nuwe kunstenaar wat vir jouself ’n plek daarop wil oopskop, wat is jou beskouing van die toneel soos hy nou staan? Wat is lekker, en wat suig? Hoe sal jy dit graag wil sien verander, en hoe beskou jy jou rol of jou plek daarop?

Daar is ongetwyfeld talent in die Afrikaanse musiekgemeenskap, maar dit voel vir my mense sukkel om die koring van die kaf te skei. Dit lyk ook vir my asof daar baie wanpersepsies bestaan oor wat goeie musiek is. Dit word versterk as ’n mens radio luister en televisie kyk. Ek dink die mense wat die speellyste saamstel en besluit wat op televisie verskyn, is moontlik onseker oor wat hulle veronderstel is om te doen, of miskien word daar druk op hulle geplaas deur mense wat meer geld as verstand of smaak het. Mense se smaak word dus negatief beïnvloed en ek wonder soms of baie van die besluite nie reeds deur rekenaaralgoritmes geneem word nie, soos in ’n nare wetenskapfiksieverhaal …

Ek dink ons het baie meer kreatiwiteit nodig onder ons kunstenaars en mense met beter smaak wat die besluite neem van watter musiek op radio en TV gespeel word. Daaglikse programme wat fokus op die verskillende genres in musiek op radio en TV sal baie help. En nie die huidige free-for-all nie. Die toneel is ryp vir iets groots om te gebeur, en om die nuwe stories te vertel het ons nuwe oorspronklike storievertellers nodig wat gehoor word. Hulle is moontlik reeds daar, maar ons sal dit nie eens weet tensy dit op radio en televisie is nie. Dis hoe groot die invloed van die adverteerders se geld is! Arno Carstens sing nou ook in Afrikaans, en ons almal weet wat die vorige keer gebeur het toe hy besluit het om in Engels te sing … So, ek hou duim vas hier kom goeie dinge!

Ek sien my rol as een van die storievertellers wat kan help om nuwe betekenisvolle stories, spesifiek stories wat verband hou met Suid-Afrika en die wêreld waarin ons almal graag wil woon, kan vertel. Stories waar menswaardigheid, regverdigheid, en respek vir mekaar en die natuur en eintlik alles wat lewe, deel is van die kultuur. Maar ook ware verhale, stories van pyn en smart. Daar is baie wat op ’n manier vertel word dat dit verteerbaar is. Die jukstaposisie van donker lirieke en ligte musiek, of andersom. En stories met uiteenlopende musikale style … meer flavours …

Casper_coverweb

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Casper Ace, vir so ver jy dit kan beheer?

Ek hoop om met die vrystel van hierdie album ’n paar goeie konneksies in die musiek- en vermaaklikheidsbedryf te maak. Volgende jaar gaan ’n sosiale jaar wees vir Casper Ace en ek wil soveel moontlik optree en CD’s verkoop. Ek gaan probeer om by elke fees en teaterkafee in die land te speel, met of sonder ’n band, sodat ek kan leer hoe die bedryf werk, met wie ek moet onderhandel, en wie saam met my die paadjie gaan stap. Dit is my missie tot die einde van volgende jaar. Dan wil ek ’n tweede album opneem – die konsep is reeds goed ontwikkel en die helfte van die liedjies is klaar geskryf – en dan wil ek die proses herhaal vir ’n jaar of twee. Ek is bereid om die nodige veranderinge te maak wanneer ek moet en om vas te byt en hard te werk. Teen jaar drie wil ek al gewoond wees aan die musiektoneel, en wil ek hê mense moet al begin gewoond raak om die naam Casper Ace op die feesprogram en teaterkafees se kalenders te sien. Teen jaar vyf wil ek ’n derde album opneem en my vlerke regtig sprei en in Nederland gaan optree en nuwe ervaringe buite Suid-Afrika gaan soek en terugbring huis toe. Ek hoop om teen daardie tyd al só deel van die musiektoneel te wees dat ek my ervaring kan aanwend om ’n positiewe verskil vir jonger kunstenaars te help maak. Ek sal dan ook hou daarvan om collaborations te doen met kunstenaars en musikante vanuit ander genres en selfs ander wêrelddele. Ek wil genoeg fans kry en genoeg albums verkoop dat ek ’n volhoubare loopbaan uit musiek kan maak. Wat oor nege of tien jaar gaan gebeur weet ek nie nou nie, maar as dinge goed gegaan het tot dan, dan begin ek seker maar weer van voor af met die proses, en doen dit hopelik die volgende keer selfs beter as die eerste keer!

Wat is die sin van die lewe?

Die sin van die lewe is om jouself te leer ken, jou individualiteit te ontwikkel en jouself te wees. (Tensy jy ’n bloeddorstige moordenaar, ’n gewetenlose pedofiel of ’n gevoellose psigopaat is – dan is die sin van die lewe om iemand anders te wees.) Iemand wat vreedsaam, liefdevol en onselfsugtig is, soos die Dalai Lama of Moeder Teresa!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top