Byskoling vir 650 Afrikaansonderwysers by US tydens die 20ste simposium van die Letterkunde-ondersteuningskomitee (LOK)

  • 3

Andries Visagie (Foto: Naomi Bruwer)

Op 17 en 18 Februarie 2017 het ongeveer 650 Afrikaansonderwysers, meestal uit die Wes-Kaap, by die Universiteit Stellenbosch byeengekom vir die 20ste simposium van die Letterkunde-ondersteuningskomitee (LOK). LOK is ’n gesamentlike inisiatief van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, die Departemente Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Wes-Kaapland en die Universiteit Stellenbosch, asook die ATKV, en het 20 jaar gelede tot stand gekom toe die behoefte geïdentifiseer is om leerkragte jaarliks te help voorberei vir die voorgeskrewe tekste wat hulle op skool moet onderrig.

Op Vrydag 17 Februarie is die deelnemers deur Arnold Schoonwinkel, viserektor: Leer en Onderrig van US, welkom geheet, en hy het kortliks toeligting gegee oor US se nuwe taalbeleid en verwys na die uitdagings wat die studenteonluste in 2016 aan universiteite gestel het. Tydens die openingsgeleentheid het Andries Visagie ook namens die Departement Afrikaans en Nederlands van US die deelnemers almal welkom geheet, en ook Danny Titus van die ATKV, Izak de Vries (namens Douglas Green, een van die borge van die geleentheid) en Pumla Satyo van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het groeteboodskappe aan die LOK-gangers oorgedra.

By die openingsgeleentheid is erkenning gegee aan die groep visionêre mense wat oor baie jare heen die LOK-inisiatief gegrondves en uitgebou het. Hierdie LOK-pioniers is Beryl Botman, Richard Stanley, Gerald Davids, Venetia Cavernelis, Ronel Foster, Chris van der Merwe en Wium van Zyl. Namens die LOK-pioniers het Wium van Zyl van die Departement Afrikaans en Nederlands van UWK die Afrikaansonderwysers in die gehoor geprys vir hul toewyding aan hul taak en hulle as kultuurhelde bestempel. Die verrigtinge op 17 Februarie is op ’n luisterryke manier voortgesit met die inspirerende optrede van die kletsrymkunstenaar HemelBesem, wat onder meer die titellied van die film Noem my skollie uitgevoer het. Voordat die simposiumgangers verdaag het om ’n glas op 20ste bestaansjaar van LOK te lig, het Dowwe Dolla (Margit Meyer-Rödenbeck) eers ingespring en met talle kwinkslae die onderwysers ’n paar onkonvensionele wenke gegee oor hulle opvoedingstaak.

Op Saterdag 18 Februarie het sowat 20 aanbiedings in die Letteregebou van die Universiteit Stellenbosch plaasgevind oor aspekte wat vir leerkragte relevant is in hul opvoedingstaak. Daar is voorsiening gemaak vir onderwysers wat Afrikaans as huistaal onderrig, maar ook vir diegene wat Afrikaans as eerste en tweede addisionele tale onderrig. Uitstallers vanuit die uitgewersbedryf en ander instansies wat die onderrig van Afrikaans ter harte neem, het die wandelgange van die Letteregebou met kleurvolle uitstallings opgeluister.

Een van die spesiale gaste wat opgetree het, was die skrywer Fanie Viljoen wie se roman Onderwêreld as voorgeskrewe teks vir graad 12 (huistaal) in 2017 baie belangstelling gewek het. Na afloop van sy optrede moes Viljoen bontstaan om vir foto’s met waarderende onderwysers te poseer. Ook Derick van der Walt, skrywer van Lien se lankstaanskoene (graad 12, eerste addisionele taal), het interessant vertel hoe sy roman tot stand gekom het en hoe die sukses van hierdie boek hom ietwat onverwags op ’n loopbaan as skrywer geplaas het. Sy volgende boek, ’n roman vir volwassenes met die titel Stukkie, word tans afgerond.

Jadey Sass, wat onlangs met onderskeiding ’n MA-studie in Afrikaans en Nederlands by US voltooi het, het oor haar navorsing oor die gebruik van musiek vir leerders van Afrikaans as eerste addisionele taal ’n aanbieding gedoen. Sy het gewys op die waarde van Afrikaanse musiek om leerders aan woordeskat en uitspraak in ’n natuurlike konteks bloot te stel. Ook die ritme en intonasie van Afrikaanse woorde en sinne kan suksesvol met behulp van musiek aan niemoedertaalsprekers van Afrikaans tuisgebring word. Sy het die LOK-simposiumgangers aangeraai om eerder liedjies met eenvoudige melodieë te kies sodat die leerders op die taalinhoud kan fokus en nie byvoorbeeld deur ’n dawerende ritme afgelei word nie. Voorbeelde van suksesvolle liedjies wat oorweeg kan word, is “Skadu’s teen die muur” soos uitgevoer deur Van Coke Kartel, “Ek dink aan jou as dit reën” van Fokofpolisiekar, asook “Stille waters” en “O, so sentimenteel” van Laurika Rauch.

J Anthony het ’n groot groep belangstellendes wenke gegee oor die onderrig van gedigte vir graad 12 (eerste addisionele taal). Hy het Johann de Lange se gedig “Palimpses” en Marlise Joubert se “Boekmerk” as voorbeeldtekste gebruik en met sy helder uiteensetting die onderwysers se onverdeelde aandag gehad. Anthony het gewys op hoe Johann de Lange se “Palimpses” by uitnemendheid dankbare stof is vir die onderrig van kernaspekte van die poësie, waaronder die struktuur van die Italiaanse sonnet. Hy het ook sy toehoorders stap vir stap, met gepaste woordverklarings vir die leerders, geneem deur die poëtikale betekenis wat die gedig inhou. Die titel, wat verwys na ’n hergebruikte manuskrip of perkamentrol waarop die teks van die vroeër teks steeds sigbaar is, artikuleer mooi met die proses van bome wat in die natuur aanvanklik as ’t ware tekens teen die kreukellose lug skryf voordat hulle afgekap word vir papiervervaardiging waarop die digter vervolgens sy gedigte kan tik of skryf. Na afloop van sy lesing het Anthony vir die onderwysers sy aantekeninge beskikbaar gestel en daar was groot waardering vir hierdie ruimhartige gebaar.

Nie al die aanbiedings het uitsluitlik op voorgeskrewe materiaal gefokus nie. In haar aanbieding oor e-tegnologie in die Afrikaansklas het Betsie Klopper van die opvoedkundige uitgewery Pearson besonder onderhoudend gepraat oor tegnologie as hulpmiddel in die klaskamer. Sy het benadruk dat die blote aanwesigheid van ’n goeie handboek of enige ander tegnologiese hulpmiddel in die klaskamer nie noodwendig beteken dat die leerder ineens goed sal begin leer nie. Sy het voorgestel dat indien ’n onderwyser byvoorbeeld animasie in die klas vertoon, die leerders ter wille van groter betrokkenheid eers ’n aktiwiteit gegee word om hulle aandag op die inhoud van die animasie toe te spits. Hierdie gerigte hantering van tegnologiese hulpmiddels is ’n voorbeeld van hoe die onderwyser steeds die belangrikste rolspeler is om leer te laat plaasvind, met of sonder die hulp van tegnologie. Klopper se raad aan onderwysers is om as ’n begin tegnologiese hulpmiddels te benut waarmee hulle gemaklik is en om dan stelselmatig nuwe middele te verken vir integrasie by hulle onderrigpraktyk. Die waarmerk van suksesvolle tegnologiegebruik blyk naamlik wanneer dit roetine word en op ’n deursigtige manier naatloos by die onderrig geïntegreer word.

Ongetwyfeld was ’n hoogtepunt van die LOK-simposium die lesing van Louise Viljoen van die Departement Afrikaans en Nederlands van US oor die gedigte wat in 2017 vir graad 12 (huistaal) voorgeskryf is. Sy het haar lesing op “’n brief van hulle vakansie” deur Breyten Breytenbach en Ronelda S Kamfer se “oupa Thomas Daniel Granfield” toegespits. Hierdie gedigte vertoon tematies ’n goeie samehang, aangesien albei gaan oor familieverhoudings. Oor Kamfer se gedig het Viljoen nuttige kontekstuele inligting met die onderwysers gedeel. Sy het byvoorbeeld daarop gewys dat Kamfer in haar kinderjare vir ’n beduidende aantal jare by haar grootouers op Grabouw gewoon het en dat dit moontlik verklaar waarom die emosionaliteit in die gedig oor die dood van haar oupa so sterk gelaai is. Die reëls “ek wou huil vir wie hy was en vir wie hy kon wees/ ek wou huil oor die onregverdigheid” is moontlik ’n aanklag teen die sosiopolitieke omstandighede wat vir oupa Thomas Daniel Granfield die geleenthede om sy volle potensiaal te ontwikkel, ontsê het. Die betrokke gedig het in Kamfer se bundel grond/Santekraam (2011) verskyn, ’n bundel wat verder die onreg teen familielede van Kamfer belig wat op ’n gedwonge manier van hulle grond in die Overbergse kusdorp Skipskop verskuif is.

Aanbiedings van gehalte soos dié van Louise Viljoen het die geslaagdheid van die LOK-simposium van 2017 verseker. Dit is uiteraard ’n logistieke uitdaging om honderde deelnemers aan die simposium te akkommodeer sodat hulle die volle voordele van die byskolingsgeleentheid kan benut. Vir US, UWK, die WKOD en die ATKV was dit nietemin belangrik om gesamentlik hierdie belangrike opleidingsimposium te fasiliteer ten einde onderwysers en uiteindelik duisende leerders vir hulle studie in Afrikaans toe te rus.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    marina theron

    Is die lesings dalk elektronies beskikbaar? Ek het die bostaande gedeelte baie geniet en uiters leersaam gevind en sal graag die volledige aanbiedings wil leesl

    • Hallo Marina, LitNet gaan binnekort 'n paar van die lesings in videoformaat plaas. Dit sal dus moontlik wees om as 't ware gedeeltes van hierdie simposium "by te woon" al kon jy nie daar wees nie. Hou gerus ons skole-afdeling en die skoleseminaarafdeling dop vir nuwe inhoud wat voortdurend bygevoeg word. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

  • Avatar
    Adinda Vermaak

    Ja, die LOK-simposium is al jare lank een van die hoogtepunte van die jaar vir Afrikaansonderwysers van die Wes-Kaap. "Sien jou by die LOK!" is een van die laaste woorde wat matriekonderwysers mekaar mee groet na die nasiensessie van eindeksamen-antwoordstelle. 'n Groot dankie aan ons hoofman oor honderde, Chris Banda, vir sy organisasie en harde werk om elke jaar LOK 'n hoogtepunt van onderwysers se akademiese jaar te maak. En vanjaar se 20ste LOK was beslis 'n hoogtepunt.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top