Butter vol skelm humor

  • 0

Butter

Regisseur: Jim Field Smith

Rolverdeling: Jennifer Garner, Yara Shahidi, Ty Burrell, Olivia Wilde, Alicia Silverstone, Rob Corddry, Hugh Jackman, Ashley Greene

Dié fliek, oor ’n botterkerfkompetisie, het nie opwindend geklink nie, tot ’n vriendin dit sterk aanbeveel het. Wat ’n plesierige manier om die fliekjaar te begin! Dis ’n heerlike komedie vol skelm humor.

Laura en Bob (Jennifer Garner en Ty Burrell) is die spreekwoordelike koninklike egpaar van ’n dorpie in Iowa – melkwêreld. Vir vyftien jaar nou al is Bob die wenner van die jaarlikse botterkerfkompetisie, en op die louere daarvan leef Laura haar ambisie as voorste dame van die dorp uit. Toe Bob gevra word om terug te staan sodat iemand anders ’n slag ’n kans kan kry, is die (botter)vet in die vuur: Laura besluit sý sal aan die kompetisie deelneem en sorg dat sy wen. Haar belangrikste teenstander is die elfjarige Destiny (Yara Shahidi), ’n weeskind wat van een stel pleegouers na die volgende aangegee word en wat steeds glo haar ma sal haar kom haal. Dat Destiny swart is, veroorsaak natuurlik ’n opskudding in kleindorpse Iowa.

Wat volg, is ’n tong-in-die-kies-spottery met mense se swakhede, kleinlikhede en vooroordele, alles gesien deur Destiny se oë. Die tipiese Amerikaanse “rednecks” word bygekom, maar strykdeur op ’n goedige manier, en die draaiboek wemel van binnepret-oomblikke, veral die slot.

’n Kyk na die klomp goeie akteurs in die rolverdeling gee al ’n aanduiding van die gehalte, maar die fliek behoort onteenseglik aan Jennifer Garner (sy is ook een van die vervaardigers). Verder kan ’n mens maar die filmloopbaan van die pragtige Yara Shahidi dophou; hopelik kry ons haar gou weer op die grootskerm te sien.   

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top