Burgerskapsonderwys: Vyf vrae aan Hannes van der Walt

  • 0

Liné Loff gesels met Hannes van der Walt oor sy artikel wat onlangs in LitNet Akademies (Opvoedkunde) verskyn het.

Hallo Hannes. Baie geluk met die onlangse verskyning van jou artikel “Wat is burgerskapsonderwys veronderstel om ‘reg te maak’ of ‘te herstel’ en wat is die oogmerke van die vak?” in LitNet Akademies.

Baie dankie, Liné! Dit was nogal ’n interessante reis om die artikel die lig te laat sien. Daar was in daardie proses ook al insiggewende “gesprekke” met die twee keurders.

Sal jy asseblief in ’n neutedop verduidelik wat burgerskapsonderwys is en wat dié vak sou behels as dit in die skoolkurrikulum opgeneem sou word?

Dit is nie maklik om te verduidelik wat burgerskapsonderwys is en behels nie. Op sy heel eenvoudigste gestel, is dit ’n vakgebied waarin die leerders in die skool onderrig word om te verstaan wat presies hulle plek, rol en taak is in die samelewing is wanneer hulle eendag volwaardige lede daarvan is.

Die feit dat dit in Suid-Afrika en verskeie ander onderwysstelsels nog nie ’n selfstandige vak in die kurrikulum is nie, kan moontlik aan twee omstandighede gewyt word. Ten eerste is dit moontlik dat kurrikulumbeplanners nog nie heeltemal seker is wat presies met die vak bereik sal moet word nie, en ten tweede is die kurrikulum soos dit tans daar uitsien (die CAPS soos dit hier by ons in Suid-Afrika bekend staan), miskien na hulle oordeel alreeds te vol leerinhoude en daar nie nog ’n verdere skoolvak ingesluit kan of behoort te word nie.

Die insluiting daarvan in die kurrikulum sal baie afhang van die “filosofie” van die betrokke kurrikulumbeplanners. Dit wat tans reeds in die CAPS onder Lewensoriëntering en Lewensvaardighede opgeneem is en wat met burgerskapsonderwys te doen het, gee ’n mens egter ’n aanduiding van wat moontlik daarin opgeneem sou kon word. As burgerskapsonderwys egter ’n volledige en volwaardige skoolvak word, sou hierdie inhoude aansienlik uitgebrei moes word. Ek twyfel egter of dit wat tans met die leerders met hierdie inhoude bereik (behoort te) word, die instelling van ’n hele nuwe skoolvak regverdig.

Wat is die mees prominente voordele en gevare van burgerskapsonderwys?

Burgerskapsonderwys het baie voordele, waarvan die vernaamste is dat dit leerders voorberei vir hulle rol en taak as volwasse burgers van die samelewing, hulle land en die internasionale gemeenskap. Dit spreek feitlik vanself dat burgerskapsonderwys hierdie taak nie in sigself en in isolasie kan volvoer nie. Die kurrikuleerders sien die saak heeltemal reg as hulle dit beskou as deel van die lewensvaardighede en van die lewensoriëntering wat die leerders moet deurloop. Ook al die ander skoolvakke moet hulle deel doen om die jongmense vir hulle toekoms as volwaardige landsburgers voor te berei.

Dit is nodig dat die leerders moet leer en kennis neem van die burgerlike wêreld waarin hulle hulle bevind, en dat hulle moet verstaan dat hulle sekere pligte, regte en voorregte daarbinne het. Op hierdie manier leer die toekomstige burgers reeds van jongs af wat van hulle verwag gaan word as hulle eendag self mondige burgers van hulle eie samelewing, hulle provinsie, hulle land en selfs die wye wêreld is.

Die groot gevaar wat hierby dreig, is dat die samestellers van die kurrikulum, en selfs die onderwysers in die klaskamer, die nadruk op die verkeerde plekke kan lê of een aspek van burgerskap ten koste van ’n ander kan oorbeklemtoon. Die literatuur toon dat sommige kenners op die gebied die nadruk eensydig op die eie volk, nasie en land lê, en alle ander belange eenkant toe skuif. Daarteenoor is daar diegene wat die klem eensydig op die globale konteks lê. Dan is daar ook nog ander verskuilde “gevare”, soos dié wat te doen het met die neoliberale tendense van ons dag, of die teenoorgestelde daarvan, die neokonserwatiewe neigings, of ’n oordrewe dekolonialiseringsbenadering of selfs ’n anti-Westerse benadering, en so aan.

Hannes van der Walt

Is burgerskapsonderwys iets wat gestandaardiseer kan word? Sou dit voordelig wees as alle leerders regoor die wêreld dieselfde inhoud leer?

Nee, ek dink nie dat dit moontlik is nie. Omdat plaaslike en internasionale omstandighede ’n rol by kurrikulering speel, en omdat kurrikuleerders en onderwysbeplanners baie verskil wat betref hulle persoonlike en nasionale filosofieë, en veral ook wat betref hulle wetenskapsfilosofieë, sal daar bes moontlik nooit ’n punt bereik word waar almal saamstem oor wat presies met hierdie leerinhoude bereik moet word nie, en wat gevolglik die samestelling en inhoud van hierdie vakkurrikulum behoort te wees nie.

Vir my as opvoedkundige (wetenskaplike) is dit nogal opwindend om tot die gevolgtrekking te kom dat daar waarskynlik nooit tot volledige konsensus gekom sal word oor wat met hierdie leerinhoude bereik behoort te word of selfs wat die samestelling van die kurrikulum behoort te wees nie. Na my oordeel groei die wetenskap selde deur konsensus, maar wel deur dissensus. Ek dink hierdie konklusie sluit mooi aan by die interpretivisme-konstruktivisme as navorsingsbenadering – en daarmee moet ek hier eindig, want oor die voorlopigheid van wetenskaplike kennis en insig kan boekdele geskryf word.

Dink jy globalisering en die gebruik van tegnologie het tot gevolg dat mense minder bewus is van hul verantwoordelikhede as lands- en wêreldburgers, veral in individualistiese samelewings?

Die verbeterde kommunikasie- en vervoertegnologie het bepaald van die wêreld ’n heelwat kleiner plek gemaak. Daar is byvoorbeeld geen verskil tussen ’n WhatsApp-video-oproep Nederland of Suid-Korea toe en een van Pretoria na Johannesburg nie. Jy kan selfs die persoon met wie jy aan die ander kant van die wêreld praat, op die skermpie van jou selfoon sien. Die tegnologie het egter nie net voordele meegebring nie; daar is ook nadele aan verbonde. Kyk maar net hoe skoolkinders deesdae vasgenael sit voor die skermpies van hulle selfone, tablette en skootrekenaars. Die COVID-19-pandemie het die voordele van die sosiale media en elektroniese kommunikasie duidelik vir ons onderstreep.

Of hierdie nuwe tegnologie, insluitend die Vierde Nywerheidsrevolusie, mense ongevoelig en onbewus (gaan) maak vir hulle verantwoordelikhede as lands- en wêreldburgers, kan ek nie sê nie. Die tyd sal leer. Hoe dit moontlik verder sal ontplooi, kan ons deesdae al waarneem in die gedrag van sportlui. As jy net na die bewegings van rugbyspelers dwarsoor die wêreld kyk, dan sien jy ’n nuwe geslag van wêreldburgers aan die ontwikkel. Spelers wat in land A gebore is, gaan speel vir ’n tyd lank in land B, word naderhand vir die nasionale span van land B gekies, speel ’n paar jaar daar, en eindig dan sy of haar loopbaan by klubs in land C. Na hulle aftrede keer hulle weer terug na land A of B, of bly gewoon in land C aan. Dit blyk uit onderhoude met sulke spelers dat hulle nie meer slegs een nasionale lojaliteit of identiteit het nie, maar hulle vlerke gesprei het.

Ons merk egter ook ’n ander tendens, en dit is die neiging tot nasionale selfbeskerming. Voorbeelde hiervan is president Trump van die VSA wat die grens met Meksiko gesluit het, en wat nie meer immigrante uit sekere lande wil toelaat nie. Brexit is nog so ’n voorbeeld. Die grootskaalse grenssluitings weens COVID-19 is ook ’n (tydelike) voorbeeld van sodanige selfbeskerming.

Ten slotte: Die stereotiepe onderskeiding dat Westerlinge neig na individualisme en byvoorbeeld tradisionele Afrikane of Asiërs neig na die kommunale, is besig om te verdwyn. My waarneming is dat wanneer individue in sogenaamde kommunale gemeenskappe die geleentheid kry om ten volle deel te neem aan ’n vryemark-ekonomie en begin welaf raak, hulle dan meteen ook verwesters en na individualistiese sorg-vir-die self-en-vir die-eie neig. Daar lê natuurlik ’n hele aantal moreel-etiese voetangels op so ’n selfsugtige pad.

Is daar struikelblokke in die Suid-Afrikaanse konteks wat die implementering van burgerskapsonderwys in skole sou verhinder?

Ek het hier bo al so terloops hierna verwys. Die kanse is skraal dat dit in die afsienbare tyd tot ’n selfstandige vak verhef sal word, omdat die kurrikulum reeds te vol is en onderwysers nie deur al die leerinhoude kom nie. Daar is tekens dat die kurrikulum binnekort hersien sal word; miskien kry burgerskapsonderwys dan ’n meer prominente plek daarin. Maar burgerskapsonderwys word eintlik reeds in skole aangebied; die CAPS maak alreeds ruim voorsiening daarvoor, al is dit (nog nie) ’n selfstandige skoolvak nie.

Lees ook:

Wat is burgerskapsonderwys veronderstel om "reg te maak" of "te herstel" en wat is die oogmerke van die vak?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top