
“Buitestander” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Buitestander
Dat hulle sy gedig misken, dít kan hy nog verduur. Vyf likes. Twee van familie. Maar die strontgedig kry 56. 56. Sy gedig is nou nie Breyten of Van Wyk Louw nie, maar darem. Dit handel immers oor die diepste menslike saak denkbaar. Was dit die rym? Was dit té uitgesponne? Té emosioneel? Selfs die slot. Dit vat alles tog indringend saam. Dit bly ons lot. Almal moet dit erken. Verstaan hulle dit ooit? Maar dit is immers geen gedig met uiters verborge inhoud nie. Hulle kan dit verstaan. Of kan hulle?
Die strontgedig handel oor die hedendaagse gekerm.
Bewend in die aandlig
Hou ek jou vas
Want jy verlig my las
As ek jou soen en jy die gewig
wegvat en dit soos ’n sware plig
In die niet verdwyn
en kwyn
…
So karring dit voort.
’n Ambulans jaag met loeiende sirenes in die straat voor die aftreeoord verby. Sy foon begin lui. Mozart, die luitoon. Hy wil antwoord, maar sien dan dat dit spam is. Vee die oproep dood. Los my tog net uit! roep hy uit, maar niemand is naby hom om sy klaaglied aan te hoor nie. Die koppie koffie het koud geword en staan soos ’n laaste getuie in die getuiebank en wag op iemand om te reageer. So voel hy ook. Dit het ’n lang dag geword en alhoewel hy verseg om maar net te gaan lê, is daar dinge wat net té veel vir hom word. Daar is die herinneringe, maar ook dit vervaag. Die foto’s op die rakkie vergeel nou reeds, maar hy hou hulle steeds in sy hart. Dit is net asof daar reeds so ’n groot afstand van die verlede is, die mooi verlede.
Langsaam stap hy uit sy wooneenheid, sluit die deur en begin om in die straat vanaf die aftreeoord na die winkelsentrum te loop. Motors skiet verby. Moedeloos, maar driftig stap hy voort. By die winkel dink hy eers oor sy aankope. Versigtig oorweeg hy dit om ’n groot pak malvalekkers te koop, maar hy weet hy eet die hele pak voor die aand op en hy moet immers sy gewig dophou. Die trisgeliet het die vorige week hoog getoets, nie dat dit nou saak maak nie. Daar is ander dinge wat nou belangriker geword het.
Die senuweeagtige vrou met lang opgetooide swart hare en rooi maar gekoude naels by die kassier vra dringend vir iets en wag ongeduldig terwyl die kassier na agter stap. Alhoewel hy nog nie iets gekoop het nie, wag hy ’n oomblik by die toonbank en kyk wat gaan gebeur. Om een of ander rede wil hy nou sien wat die vrou aangevra het. Die kassier verskyn met ’n groot pak sigarette, plaas dit op die toonbank en lui dit vir die vrou op. Daar is nou die groot begeerte by hom om nader te loop, by die vrou te gaan staan en mooi te pleit dat sy nie die sigarette koop nie, en meer nog, dat sy ophou rook. Hy huiwer ’n oomblik. Sukkel dan self met sy gewig. Maar rook. Hy beweeg nader en wil net sy hand na haar uitsteek, maar bedink hom dan, draai om en stap omkyk-omkyk dieper in die winkel in. Die vrou stap met die pak sigarette onder haar arm uit die winkel uit, kyk ’n oomblik om en vang sy blik voordat hy agter die gangetjie in verdwyn. Nou wil hy net hier uitkom, klaar koop, huis toe gaan en rus, maar sal hy kan rus as al die dinge hom so pla. Maak dit per slot van sake saak? Wie steur hulle daaraan? Sy gedigte is immers sy manier om aan die werklikheid te ontsnap. Hy wil erkenning kry, daarom laai hy dit op Facebook, maar die mense waardeer dit nie. Die vervlakking het orals toegeneem, maar hy stry nog daarteen. Iemand luister tog net! Raak dit julle dan nie? Staan hy alleen?
Hy koop sap, ook nie goed vir hom nie, broodrolletjies en laevetmelk, oorweeg die malvalekkers, besluit daarteen en loop na die betaalpunt. Die kassier is heel vriendelik, maar hy voel afsydig teenoor haar en glimlag nie terug nie.
Hy betaal met sy Sambakaart en stap uit na buite. In die straat sukkel hy met die sak wat hy dra. Dit is nie swaar nie, maar lastig en hy sal dit dalk begin sleep as hy nie oppas nie.
’n Gesette vrou stap voor hom uit en loop oor die straat. Sy dra twee groot sakke na die taxistaanplek oorkant die straat en vir ’n enkele oomblik oorweeg hy dit om haar te help dra ten spyte van sy eie gesukkel met sy eie aankope. Nee wat. Sy het ook ’n groot handsak wat om haar skouers hang en sy worstel hygend om alles saam te hanteer.
Twee mans loop vinnig nader aan haar, druk haar na die kant en een haal iets uit sy sak uit. Druk dit teen die vrou se rug. Die pistoolloop skyn in die sonlig, maar hulle steur hulle nie daaraan toe hulle sien dat hy hulle dophou nie.
Moet hy ingryp, nader hardloop en keer en keer en keer? Hy gooi sy sak neer en probeer nader loop, maar swik en struikel oor die sak. Vasgevang sien hy hoe hulle die vrou se handsak en selfoon gryp en rustig begin wegloop asof niks gebeur het nie. Met alles wat rondom hom draai, voel hy verslae, want hy kon meer gedoen het, geskreeu het, die wagte by die winkel gedwing het om op te tree en die misdadigers trompop geloop het, maar hy het nie.
’n Motoris hou met skreeuende bande stil, spring uit en hardloop na die mans toe. Hy het ’n pistool in sy hand en skreeu wild op die twee mans wat nou vinniger begin loop terwyl hy die pistool in die lug swaai. ’n Skoot klink op. Die motoris val neer, maar rig skote in die mans se rigting. Alles word nou intens stil.
Hy vries.
Die mans hardloop weg, maar hou steeds die selfoon en handsak by hulle en verdwyn om die straathoek. Die motoris kom stadig regop en hou sy skouer vas waaruit die bloed loop. Daar is ’n verdwaasde uitdrukking op die motoris se gesig, so asof hy nie kan glo wat nou net gebeur het nie en hy kyk op na hom toe en kyk in sy oë in.
“Bel die ambulans!” roep iemand, terwyl die motoris neersak op sy knieë. Die vrou wat die swaar sakke laat val het in die aanval, kom nader gehardloop en druk met haar tjalie teen die bloeiende wond. Daar is trane in haar oë, asof sy hom wil troos oor die wond. ’n Wond wat hy vir haar opgedoen het en waarvoor sy nie kan vergoed nie.
Hy sukkel met sy foon om te help, maar dit val uit sy hand tot in die inkopiesak. Hy tas daarna, maar kry dit nie vasgevat nie. Vas hou hy die sak teen sy lyf. Dit is asof hy dit nie wil los nie.
Binne oomblikke ry motors met harde toeters en groot spoed verby asof alles normaal is. ’n Taxi wag nie langer nie en ry weg. Die vrou staan verdwaas by haar sakke.
Hoe het ons hiernatoe gekom? dink hy.
Iemand neem hom aan die hand. “Kom,” sê sy toe sy sien dat hy getraumatiseer is en sukkel om regop te bly staan. Bewend klou hy aan die inkopiesak asof dit waardevol is.
Dit is die vrou wat die pak sigarette aangekoop het en wat steeds die groot pak vashou. “Gaan huis toe, Oom. Hoor daar die ambulans kom al. Die sirene loei. Hoor daar. Die polisie sal ook nou kom. Ons kan niks doen nie.” Hy protesteer versigtig, maar sy gee nie ag op sy woorde nie, woorde wat hy vorm sonder om duidelike klanke te laat voortkom.
“Gaan gerus huis toe.” Haar stem bewe ook. Struikelend loop hy huis toe, met sy inkopiesak wat soms sleep in die gras. Die selfoon lê nog in die sak.
By sy eenheid gekom, sit hy sy sak neer, haal die selfoon uit, sit dit eenkant neer en skakel die rekenaar aan. Hy staar na die skerm. Maak Facebook oop. Geen nuwe likes nie. Verskeie vir die ander gedig. Sy gedig is die hele skerm vol.
Buitestander
Ek staan buite die gedrang van mense, soos ’n uitgestote dier.
Ek swenk in vergete drange weg soos seewier
in die golwe
en op ’n afstand is dit ek wat die lot van mense aanskou,
soos ’n jong vrou wat bloos
wanneer sy opmerk dat hulle nie na haar kyk nie
en sy enigsins alleen sal bly, alleen soos ek.
Die mense se angs is soos die drek
wat uitspat in die strate
en ek is alleen, verlate in rou
en al wat nou oor is, is die diepe berou.
Hy lees sy gedig oor en oor. Oorweeg verandering. Verloop dit logies genoeg? Is dit té persoonlik? Voordat hy enige veranderinge maak, verwyder hy dit van Facebook af. Hy hoor veraf ’n ambulans se sirene.
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

