Buitelug: ’n arts, sielkundige en pedagoog

  • 0

https://pixabay.com/photos/corn-field-corn-agriculture-green-5261035/

  1. Inleiding

In vele tonele van die gewilde kykNET-reeks Fraksie sit die hoofkarakter Schalk Smit (Edwin van der Walt) op ’n bankie in ’n Stellenbosse park. Voor en ná sy biegsessies aan die onderskeie karakters tuur hy uit oor ’n uitsig met bome – soms met, soms sonder ’n boek in die hand. Almal – selfs fiktiewe karakters – blyk vars lug, stilte en groenigheid nodig te hê. Volgens vele studies is stilte en groenigheid ’n moet vir die mens se gesondheid.

  1. Juffrou Natuur

Ginny en James Yurich, ouers van vyf kinders, het in 2013 die 1 000-uur-buite-uitdaging begin wat op die aanbevole vier tot ses uur buitelug wat kinders daagliks benodig, gebaseer is.  “Die doel is om tyd in die natuur met skermtyd te ewenaar. As kinders ’n gemiddeld van 1 200 ure voor skerms deurbring, kan hulle minstens ’n gedeelte daarvan aan ’n produktiewer en gesonder uitkoms spandeer.” Die Yurichs, wat in Michigan, Amerika woon, spandeer sedert 2013 jaarliks 1 000 uur in die buitelug. Die 1000hoursoutside-Facebookblad, wat gelyknamig aan hul webtuiste is, het reeds meer as 286 000 volgelinge.

Verlede jaar het Holly Crompton en haar twee seuns die sneeu van Regina, Kanada trotseer en kon hulle dié uitdaging suksesvol afmerk. “Op ’n plek waar mens kan kla dat dit óf te koud óf te warm is, het mens waardering wanneer die weer gematig is. Ek hoop dit maak dat my kinders al die seisoene sal waardeer,”  sê Crompton.

..........
Kinders kan baie by sonlig baat. Marie Willoughby beklemtoon dat buitespel kinders se leer en ontwikkeling bevoordeel.
............

Kinders kan baie by sonlig baat. Marie Willoughby beklemtoon dat buitespel kinders se leer en ontwikkeling bevoordeel. In haar artikel “Outdoor play matters: the benefits of outdoor play for young children (2014) skryf sy: “Dit (buitespel) is goed vir hul fisieke ontwikkeling, en terwyl hulle buite speel, leer hulle ook hoe om oor die weg met ander te kom en om hul gevoelens te beheer. Kinders neig ook om positiewer teenoor onderrig te wees wanneer hulle buite speel en is gewoonlik meer aktief, geïnteresseerd en betrokke en sien die sin in wat hulle doen.”

Die Green School wat in 2013 buite die Paarl in die Wes-Kaap geopen is, het ten doel om volhoubaarheid deur gemeenskap-geïntegreerde leer binne ’n natuurlike omgewing te onderrig. “Green School se benadering tot onderrig oor omgewings- en sosiale kwessies volg ’n goedgestruktureerde deurdagte strategie wat op David Sobel se boek Beyond Ecophobia gebaseer is. Dit is ’n omvattende plan wat nie op die negatiewe konsentreer nie, maar eerder ’n ware gevoel van verwondering en vreugde kweek, én ’n diepe verbintenis met die natuur bou,” aldus die skool se webtuiste.  

Sobel, opvoeder en skrywer, stel sewe beginsels voor om ’n natuurgebaseerde kurrikulum te assesseer: avontuur (soos hardloop, klim en ontdekking), verbeeldingsvlugte, die verkenning van allerlei diere, geografie (deur skattejag of deur paaie te skep), ’n ontspanningsplek waar kinders op hul eie kan asemskep, die skep en vernietiging van ’n selfgeskepte miniwêreld, jag en die insameling van inligting wat nuuskierigheid prikkel.

’n Omgewingsbewuste kurrikulum is nie net beperk tot duskant die Paarl nie, maar is ook vir tuisskoolleerders toeganklik. Julie Schultz, ’n tuisskoolma van agt kinders, het saam met Ginny Yurich Add the wonder, ’n natuurgebaseerde kurrikulum, geskep wat verskeie ouderdomme betrek, bekostigbaar is en geskep is “om (kinders se) aandag te hou deur fassinerende feite en interkonneksie, wat reeds deel van die wêreld is, met mekaar te versoen. Vryspel is die sleutel om die ontwikkeling van kinders te bevorder en ons moet vir hulle tyd gee sodat hulle kan floreer.”

  1. Die natuur as dokter

Toenemend duik bewyse op wat bevestig dat deur tyd in die natuur deur te bring, of selfs net om buite te sit of na ’n natuurtoneel te kyk, algemene gesondheidsvoordele inhou, soos Donald Rakow (2021), direkteur van die NatureRx@Cornell-program, glo. Trouens, die Universiteit van Cornell se gesondheidsorgafdeling skryf sedert 2018 voorskrifte aan studente uit om buitelug te kry.

Rakow, ’n medeskrywer van Nature Rx: improving college-student mental health (2019), sê tyd in die natuur is effektief om moderne kwale soos oorgewig, diabetes en depressie te verlig. "Om in die natuur te wees verhoog gelukkigheid en help mense om te herlaai. Dit verbeter mense se geestesgesondheid – veral wanneer iemand met depressie en angs worstel."

..........
Die natuur se genesende krag is al lank bekend. Die sosialewetenskappenavorser  Michelle Kondo het bevind dat tyd in die natuur reeds in die 1800’s voorgeskryf is aan kinders wat ondergewig was en om pasiënte met ragitis (die verswakking en versagting van bene weens ’n tekort aan vitamien D) en polio te behandel.
..............

Die natuur se genesende krag is al lank bekend. Die sosialewetenskappenavorser  Michelle Kondo het bevind dat tyd in die natuur reeds in die 1800’s voorgeskryf is aan kinders wat ondergewig was en om pasiënte met ragitis (die verswakking en versagting van bene weens ’n tekort aan vitamien D) en polio te behandel.

’n WebMD-artikel, “Benefits of getting outside”, lys die vele voordele van buite wees. Dit sluit ’n sterker immuunstelsel, sosiale interaksie en verhoogde vitamien D-vlakke in. Roger Ulrich, verbonde aan die sentrum vir gesondheidsisteme en ontwerp aan die Texas A&M Universiteit, het bevind dat die natuur pasiënte se liggame vinniger kan laat help herstel ná ’n operasie. Dit volg nadat hy bevind het dat pasiënte wie se hospitaalvensters op bome uitkyk, makliker herstel  as pasiënte wie se vensters na bakstene front. "Pasiënte wat die natuur kon sien, is vinniger ontslaan, het minder komplikasies gehad en het minder pynpille benodig as die ander wie se uitsig stene was.”

  1. Om beter te kan slaap

"Om genoeg daglig te kry is ewe belangrik as om lig saans te vermy,” sê Sean Cain, ’n sielkundige en slaapnavorser aan Monash University in Melbourne in Australië. Cain se studies, wat in Journal of Affective Disorders (2021) gepubliseer is, bewys hoe kunsmatige beligting slaap en sirkadiese ritmes beïnvloed. In sy jongste studie het hy en sy kollegas die effek van blootstelling aan buitelig op slaap en gemoed(skommelinge) ondersoek. Hiervolgens het deelnemers van die Verenigde Koninkryk gemiddeld sowat 2,5 ure buitelig daagliks gekry. Vroegoggendopstaners het ook meer tyd buite in die natuur spandeer as naguile.

’n Tekort aan natuurlike lig kan tot slaapprobleme lei wat tot depressie en algemene gemoedsteurnisse, van die grootste oorsake van ongeskiktheid wêreldwyd, lei. Om dinge te vererger, spandeer die meeste mense hul wakkertyd binnenshuis in kunsmatigeligtoestande. Blootstelling aan helder lig saans kan tot onderbroke slaap en ’n afname in melatonien, die hormoon wat slaap aanmoedig, lei. Cain se navorsing bewys ’n ekstra uur sonlig kan die moontlikheid van depressie of antidepressante wat voorgeskryf word, verminder. Ekstra sonlig kan ook tot groter lewensvreugde lei en twee ure sonlig per week sal volwassenes beslis gesonder en gelukkiger laat wees. “Om 15–20 minute in die son te wees, gee mense die kans om natuurlike vitamien D op te neem. In die winter moet mens ’n bietjie langer buite wees," sê Marie Willoughby in haar reeds genoemde artikel “Outdoor play matters”.

  1. Selfontdekking en stilte

“Stilte is die universele hawe, die uitkoms (vervolg) op alle saai gesprekke (besprekings) en alle stommiteite, 'n balsem vir elke ergernis of verdriet, so welkom soos vervulling (bevrediging) na elke teleurstelling,” het Henry Thoreau, ’n 18de-eeuse skrywer geskryf. Hy is ook aangehaal as dat hy gesê het: “Die natuur doen elke oomblik haar beste om ons te genees. Hoekom, want ’natuur’ is net 'n ander woord vir ’gesondheid’.”

In ooreenstemming  hiermee bied die Cornell Botaniese Tuin maandeliks ’n “Mindful” botaniese program vir volwassenes aan waartydens ’n personeellid sy kollegas begelei sodat hulle van naderby seisoenale veranderinge van die omgewing kan waardeer. “Hulle beleef hoe bome, plante, insekte en voëls verander. ’n Gepraat word ontmoedig en diepe observasie aangemoedig.”

Jeffrey Rindskopf skryf in “Open your ears – and your mind” stilte gee hom vrede. “Daar was soveel detail in die klank, soveel inligting wat die spasie gevul het. Ek het ervaar dat ek na die binnekant van God se klok luister wat meer ingewikkeld was as enigiets wat ons kan dink of droom. Om na hierdie wonderlike musiek te luister en om daardie intense intellek van die oerwoud te hoor, het my laat ontspan, want ek het geweet dat as ek sou sterf, ek na ’n hoër doel sal gaan, soveel so dat ek terug gelê en ontspan het.”

Geraas en plekke van stilte wat minder word, blyk ’n bedreiging vir die mensdom in te hou. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het reeds in 2011 die belangrikheid van natuurlike stilte en buitelug vir menslike gesondheid aangedui. Die bevindings sê kroniese blootstellings aan klankbesoedeling affekteer bloedbiochemie selfs erger as uitlaatgasse. Boonop lei klankbesoedeling ook tot die vrystelling van die spanningshormoon kortisol en die verlies van gesonde lewensjare onder Wes-Europeërs. In die artikel “The last great quiet places” (2020) beskryf die natuurfotograaf Pete McBride die stilte wat hy dikwels opsoek as ’n “kombers van kalmte wat omhul is met die note van die wind, flappende vlerke en krappende kloue” wat hom lank bybly.

Op Sound Tracker, ’n webtuiste, is beeld- en klankmateriaal van verskillende landskappe beskikbaar. Die stigter, Gordon Hempton, moedig besoekers aan om ’n mikrofoon en oorfone te gebruik om beter na die natuur en die intuïtiewe self te luister sodat die brein op die invoer kan fokus. Daarna word die oorfone verwyder en dan na klanke opgelet wat nie voorheen gehoor is nie. Hempton, ’n akoestiese ekoloog, sê dis nodig om op die oomblik te fokus en antisipasie te laat vaar. Hy moedig virtuele avonturiers aan om oor hul impak op inligtingvloei na te dink en of hulle moontlik tot ’n sinlose geraas bydra. “Jy vind jou plek, nie bo-op nie, maar in die lewende orkes deur soms net stil te wees.” Laastens moet mens let op hoe natuurgeluide jou laat voel.  “Om te voel is ’n taal en jy kan vlot in gesprekvoering en die interpretasie daarvan word deur slegs op gevoel staat te maak.”

Klankkansellerende toepassings word gewilder, maar volgens Hempton, wie se album Sound Tracker met ’n Emmy-toekenning beloon is, is slegs die natuur nodig om ons luistervermoë in die oorvol en bedrywige wêreld te  herwin, omdat ons aangeleer het om onbenullige klank uit te doof. “In die natuur wil jy dit nie doen nie; inteendeel, ons brein probeer juis die teenoorgestelde.” Hempton se musiek bied natuurlike vertroosting in kunsmatige omgewings aan.

Om na die natuur te luister verplaas ons van tyd of ten minste ons moderne dringendheid daarrondom en help ons om ’n aktiewe ingesteldheid vry van menslike intensies, insluitend ons eie, te kry. “Slegs dan kan dit wat ons hoor, ons waarlik verander,” soos Hempton tydens sy eerste solokampervaring in die Amasone besef het.

Ofskoon stilte vir hierdie kunstenaar as die “denktenk van die siel” beskou word, wys studies dat voëltjiesang menslike gesondheid positief stem. Navorsers het voëlgeluide deur versteekte luidsprekers in die platteland gespeel en bevind hoedat stappers se gesondheid binne sewe tot tien minute verbeter het.  “Die peilingsresultate wys dat die klanke en mense se persepsie van biodiversiteit ’n gesondheidsgevoel verhoog.”

Denkers soos Maxime Lagacé, stigter van die WisdomQuotes-webtuiste, beskou tyd in die natuur as onontbeerlik. “Deur die natuur te ontdek, ontdek jy jouself.”

  1. Op die spoor van “ikigai”, “earthing” en Shanin Yoke

Denver Mishima (2021) meen dis bykans onmoontlik om deur ’n berg vol bome te stap en nie daarna verfris te voel nie. “Daar is iets omtrent groenigheid wat die kop reinig en nuwe perspektief bring.” Ikigai is ’n Japannese term wat verwys na iets wat vir ’n persoon ’n bestaansin of rede om te leef gee, en die uitleef daarvan. Een van die tien ikigai-“reëls” is om tyd in die natuur te spandeer. Mishima skryf die natuur is op twee maniere aan ons ikigai verbind: Dit skep die gevoel van welstand en vernuwing, en is daarom vir ons selfontwikkeling belangrik. Net soos ons verhouding met mense aan ons ’n gevoel van gebondenheid gee, bied die natuur dit ook vir ons.

.........
Shinrin yoku (“woudbad”) is nog ’n Japannese konsep. Hiervolgens word die siel en liggaam beïnvloed wanneer dit aan die natuur blootgestel word en lei hierdie kontak tot ’n gevoel van welstand, kalmte en hernuwing. Hierdie konsep is so breedvoerig dat Qing Li, ’n kenner op die gebied van woudmedisyne en immunologie, selfs ’n boek, Forest bathing: how trees can help you find health and happiness, daaroor geskryf het.
...........

Shinrin yoku (“woudbad”) is nog ’n Japannese konsep. Hiervolgens word die siel en liggaam beïnvloed wanneer dit aan die natuur blootgestel word en lei hierdie kontak tot ’n gevoel van welstand, kalmte en hernuwing. Hierdie konsep is so breedvoerig dat Qing Li, ’n kenner op die gebied van woudmedisyne en immunologie, selfs ’n boek, Forest bathing: how trees can help you find health and happiness, daaroor geskryf het. “Jy hoef nie weke lank aan ’n staptoer te beplan om die natuur te geniet of om die voordele van ’n woudbad te ervaar nie. Jy kan dieselfde voordele kry deur in die parke in jou omgewing te stap. Fokus (net) jou aandag op die omgewing – die bome en die groen. Let op die onderlinge verbintenis (van die verskillende elemente) in die ekosisteem en verbeel jouself as deel van die universele konneksie.”

Li moedig mense aan om die vars lug van plante en bome in te adem, die helder kleure en soet reuke van blomme te geniet, boombas te voel en oor die stryd en veerkragtigheid van bome deur die jare na te dink. “Oordink jou eie struikelblokke aan die hand daarvan en die wysheid wat van bome verkry kan word.” Die boek The hidden life of trees deur Peter Wohlleben dui aan dat “pratende, wyse bome” nie so vergesog is nie. Wohlleben gee ’n interessante blik op die mistieke geheimenis van bome en hoedat bome met mekaar oor hul gevoelens en hul stryd om oorlewing in die vinnig veranderende wêreld kommunikeer.

Al kan die boodskappe van bome nie klinkklaar gehoor word nie, is die natuurterapie wel ’n werklikheid. Finland is vir die vyfde agtereenvolgende jaar as die land met die gelukkigste burgers aangewys. Frank Martela, ’n kenner in sielkunde, skryf dat ’n 2021-studie toon dat 87% van Finne die natuur belangrik ag omdat dit vir hulle gerusstelling, energie en ontspanning bied. Finse werknemers is op vier weke verlof in die somervakansie geregtig. Baie landsburgers gebruik hierdie tyd om na die platteland te reis en met minder luukshede soos elektrisiteit en lopende water klaar te kom. Omdat Finse stadsbeplanners die belangrikheid van die natuur besef, het vele stede, waaronder die hoofstad Helsinki, maklik bereikbare en toeganklike parke.

  1. Bring die natuur nader

Hoewel buite-aktiwiteite mense toelaat om die vele voordele van die natuur te geniet, hoef dit nie noodwendig hand aan hand met ’n vakansie of geselskap te gaan nie. Vele aktiwiteite kan buitenshuis en/of alleen gedoen word soos om in die buitelug dagboek te hou, te skryf, fiets te ry, die sonsopkoms of -ondergang te geniet, ’n toeris te voet in jou eie dorp of omgewing te wees of ’n visvanguitstappie of ’n staptoer aan te pak. Verder is (groente)tuin maak, joga, meditasie, fotografie, sterre kyk en buitesport ook opsies.

As iemand nie na buite kan gaan nie, kan die buitewêreld altyd na binne, in die vorm van potplante, gebring word. Die bioloog Edward O’Wilson het in 1984 die boek Biophilia geskryf wat daarop sinspeel dat om naby plante te wees, ’n mens gelukkiger en meer ontspanne maak omdat ’n mens se geneigdheid is om ’n verbintenis met die natuur te soek.

Eleanor Ratcliffe, ’n dosent in omgewingsielkunde aan die Universiteit van Surrey, sê binnenshuise potplante kan beslis iemand se gemoed verbeter. “Groenigheid in die huis kan iemand se ingesteldheid positief verander, veral in die winter wanneer Seisoengeaffekteerde Sindroom (Seasonal Affected Disorder, SAD) mense se gemoed beïnvloed.”

Die skrywers van Earthing: health implications of reconnecting the human body to the earth's surface electrons (2012) se navorsing wys op die positiewe en onderskatte uitwerking van fisiese aanraking met die aardoppervlak en meen die ontkoppeling tussen die mens se moderne leefstyl en kontak met die aarde is ’n groot bydraende faktor wat tot fisiologiese disfunksie en ongesteldheid lei. “Begronding (earthing of grounding) hou voordele in soos verbeterde slaap en verminderde pyn vanweë kaalvoet buite loop (waardeur die liggaam elektrone opneem) ... dis ’n eenvoudige en maklik bekombare globale modaliteit van noemenswaardige belangrikheid.”

Richard Louv, stigter van die New Nature-beweging, joernalis en skrywer, het in 2005 die term natuurgebreksindroom gevestig met die publikasie van sy boek Last child in the woods: saving our children from nature-deficit disorder. “Natuurgebreksindroom is nie ’n mediese toestand nie; dit is die omskrywing van die menslike prys vir die vervreemding van die natuur. Hierdie vervreemding rig skade aan kinders aan en vorm (toekomstige) volwassenes, gesinne en gemeenskappe.”

  1. Slot
..........
Ongeag waarna jou kop, hart of siel soek, sal jy, volgens John Muir (wat ook as Johannes van die Berge of die Vader van die Nasionale Parke bekendgestaan het) die antwoord waarskynlik in die natuur vind.
.............

Ongeag waarna jou kop, hart of siel soek, sal jy, volgens John Muir (wat ook as Johannes van die Berge of die Vader van die Nasionale Parke bekendgestaan het) die antwoord waarskynlik in die natuur vind. “Tydens elke stappie met die natuur ontvang iemand ver meer as wat hy soek.” Muir (1934–1914) was ’n invloedryke Skots-Amerikaanse natuurliefhebber, skrywer, omgewingsfilosoof, botanis, dierkundige, gletserkundige en ’n kampvegter vir die bewaring van die wildernis. ’n Uitnodiging uit Mashima se mond: "Ons is verbind tot die natuur. Jou liggaam en gees smag om met die natuur te konnekteer. Is dit nie tyd om daarna te luister nie?”

 

Bibliografie

1000 Hours Outside. s.j. https://www.1000hoursoutside.com/about-us  (24 Januarie 2023 geraadpleeg).

Add the Wonder. s.j. https://www.addthewonder.com (24 Januarie 2023 geraadpleeg).

AZ Quotes. S.j. https://www.azquotes.com/author/14637-Henry_David_Thoreau/tag/silence  (24 Januarie 2023 geraadpleeg).

blogs.cornell.edu. s.j. https://blogs.cornell.edu/hort/2020/07/22/rakow-recognized-for-nature-rx-efforts (24 Januarie 2023 geraadpleeg).

Burns, AC, Saxena, R, Vetter, C, Phillips, AJK, Lane, JM and Cain, SW. 2021. Time spent in outdoor light is associated with mood, sleep, and circadian rhythm-related outcomes: A cross-sectional and longitudinal study in over 400,000 UK Biobank participants. Journal of Affective Disorders, 295, ble 347–52. doi:10.1016/j.jad.2021.08.056.

Chevalier, G, Sinatra, ST, Oschman, JL, Sokal, K and Sokal, P 2012. Earthing: Health Implications of Reconnecting the Human Body to the Earth’s Surface Electrons. Journal of Environmental and Public Health, 2012, ble 1–8. doi:10.1155/2012/291541.

Copman, L. 2021. Nature Rx: the many benefits of time outdoors. Alumni, parents, and friends, Cornell University. https://alumni.cornell.edu/article/nature-rx-the-many-benefits-of-time-outdoors.

Cornell Universiteit. s.j. Mindful Botany Walk.  https://events.cornell.edu/event/mindful_botany_walk. (15 Januarie 2023 geraadpleeg).

Environment & Society Portal. 2014. Last child in the woods: saving our children from nature-deficit disorder. https://www.environmentandsociety.org/mml/last-child-woods-saving-our-children-nature-deficit-disorder.   

Green School South Africa. s.j. Thrive with purpose. https://greenschoolsa.co.za/. (24 Januarie 2023 geraadpleeg).

https://www.facebook.com/WebMD (2019). Slideshow: Health Benefits of Getting Outside. WebMD. https://www.webmd.com/balance/ss/slideshow-health-benefits-nature.   

Li, DQ. 2018. Forest Bathing: How Trees Can Help You Find Health and Happiness. Google Books. Penguin. https://books.google.co.za/books/about/Forest_Bathing.html?id=p3tXDwAAQBAJ&redir_esc=y.

Magazine, S en P McBride. s.j. Photographs From the Last Quiet Places on Earth.    Smithsonian Magazine. https://www.smithsonianmag.com/travel/photographs-last-quiet-places-180975765  

Maxime Lagacé. 2019. The best nature quotes (Here are 450 of the most ... wisdom quotes), Maxime Lagacé, 24 Mei 2019. wisdomquotes.com/nature-quotes/.  

Medrut, F. 18 John Muir Quotes to Deepen Your Connection with Nature. Goalcast. 2018. www.goalcast.com/18-john-muir-quotes.  

Mishima, D en D Mishima. 2021. Nature and Ikigai: Why You Need the Power of Nature to Enrich Your Life.  Ikigai Notes. https://ikigainotes.com/nature-and-ikigai-reconnect-with-nature-live-rich.

Muckrack.com. s.j. Artikels deur Jeff Rindskopf. https://muckrack.com/jrindskopf/articles   24 Januarie 2023 geraadpleeg.

Nasionale Geskidenis Museum. s.j. How listening to bird song can transform our mental health. https://www.nhm.ac.uk/discover/how-listening-to-bird-song-can-transform-our-mental-health.html. (24 Januarie 2023 geraadpleeg).

Pengrattana, K. 2023. 3 things Finnish never do Make Finland happiest country in the world. Scandasia. https://scandasia.com/3-things-finnish-never-do-make-finland-happiest-country-in-the-world.

Ratcliffe, E en Gatersleben, B en Sowden, PT en Korpela, KM. 2021. Understanding the Perceived Benefits of Nature for Creativity. The Journal of Creative Behavior. Understanding the Perceived Benefits of Nature for Creativity - Ratcliffe - 2022 - The Journal of Creative Behavior - Wiley Online Library.

Scope, N. 2019. Shinrin Yoku – Forest Bathing in Japan. Nihon Scope.   https://nihonscope.com/japanese-health/shinrin-yoku-forest-bathing.

Sobel, D. 2014. About Place-Based Education: Connecting Classrooms and Communities. https://www.davidsobelauthor.com/place-based-education.  

Sound Tracker. s.j. Amptelike webwerf: Gordon Hempton, The Sound Tracker®.      https://www.soundtracker.com

Begum, T. 2020. How Listening to Bird Song Can Transform Our Mental Health. www.nhm.ac.uk/discover/how-listening-to-bird-song-can-transform-our-mental-health.html.  

The Independent. 2020. Hearing birdsong boosts human well-being, study confirms. https://www.independent.co.uk/climate-change/news/birdsong-mental-health-wellbeing-study-b1774784.html .

Willoughby, M. 2014. Outdoor Play Matters: The Benefits of Outdoor Play for Young Children. knowledge.barnardos.ie/handle/20.500.13085/238.

Wilson, EO. 1984. Biophilia. Google Books. Harvard University Press.   https://books.google.co.za/books/about/BIOPHILIA.html?id=CrDqGKwMFAkC&redir_esc=y.  

Wohlleben, P. 2016. The hidden life of trees: what they feel, how they communicate: discoveries from a secret world. Vancouver: Greystone Books. 

Wêreld gesondheidsorganisasie. 2011. New evidence from WHO on health effects of traffic-related noise in Europe. https://www.who.int/europe/news/item/30-03-2011-new-evidence-from-who-on-health-effects-of-traffic-related-noise-in-europe.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top