BSV: Slypskool vir ontluikende skrywers

  • 0

Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse Slypskool vir Ontluikende Skrywers vind vanjaar op Saterdag, 24 Augustus 2013 in die Ouditorium van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) plaas.

Die welbekende filmresensent, verhaleredakteur, skrywer, akademikus en radiopersoonlikheid, Leon van Nierop, lei die daglange slypskool (geborg deur Afriforum). Hy is onder andere die skrywer van radio- en TV-reekse soos Ballade vir 'n Enkeling, Wolwedans in die Skemer, Stralerjakkers en Herberg vir 'n Vlugteling en is bekroon vir vele van sy 26 romans.

Temas in kreatiewe skryf waaraan hy aandag gaan gee, is die storie, karakters, konflik, versperrings, ekonomie, herskrywing, algemene skryfwenke en analise van eie skryfwerk. Die koste vir slypskoolgangers, wat nie BSV-lede is nie, is R250, terwyl lede (ook diegene wat op daardie dag by die BSV aansluit, 'n skamele R130 vir die dag betaal (ete en verversings ingesluit).

Tydens hierdie geleentheid word die wenners van die BSV se landswye skryfwedstryd, wat net onder 'n duisend inskrywings, selfs van oorsee gegenereer het, bekroon. Die kompetisie is geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van UV. Die publikasie, Inkvars (geborg deur die Stichting tot bevordering van Culturele Betrekkingen, Nederland/Zuid- Afrika), word dan ook bekendgestel, waarin al die weninskrywings van die verskillende kategorieë van die skryfwedstryd saam met die beoordelaarsverslae gebundel is as 'n nuttige hulpmiddel vir voornemende skrywers, of vir gebruik in stelwerkklasse in skole.

Die BSV borg graag jaarliks een slypskoolganger wat 'n aanleg vir kreatiewe skryf toon, maar nie die finansiële vermoë het om die slypskool by te woon nie. Indien u van so 'n persoon bewus is, stuur asb volle besonderhede van die kandidaat vir die 2013-beurs saam met 'n kort voorbeeld van sy/haar skryfwerk na bloemsv@gmail.com. Om u plek te reserveer vir die slypskool, skakel gerus ons sekretaresse/tesourier Lelani Fourie by 0733883377, of besoek ons webwerf by bloemsv.wordpress.com vir elektroniese inskrywingsvorms of bestellings vir Inkvars.

Net 'n beperkte aantal mense kan die slypskool bywoon en die beskikbare plekke vlieg behoorlik. Bespreek dadelik om teleurstelling te voorkom!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top