BSV-slypskool 2017 met Etienne van Heerden

  • 0

Etienne van Heerden is die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se slypskoolaanbieder in 2017!

Die veelbekroonde skrywer Etienne van Heerden lei vanjaar die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) se nasionale slypskool vir ontluikende skrywers wat op Saterdag 26 Augustus 2017 van 8:15 (registrasie) tot 15:00 plaasvind. Dit vind plaas in die saal van die Noorderbloem-aftree-oord, Metzstraat, Bloemfontein. Elke potensiële skrywer en digter sal oneindig daarby baat vind om meer te hoor van die fynere kunsies van kreatiewe skryfkuns by hierdie ervare en veelbekroonde skrywer (oa twee maal met die Hertzogprys), slypskoolaanbieder van uitvoergehalte, digter, akademikus in nagraadse kreatiewe skryfkuns, asook meesterbrein agter LitNet, een van die grootste digitale literêre webwerwe, in Afrikaans. Met die oog hierop is een van sy sessies se titel Publikasie: papier en pixel”. Hy neem ook onderwerpe soos “Om vreemd te maak: ruimte en tyd” en “Om nuuskierig te wees: karakter en storie” onder die loep.

Die prysuitdeling van teenwoordige wenners van die BSV se nasionale skryfwedstryd, Skrywers 2017, vanjaar weer met R18 000 geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat, vind aan die begin van die verrigtinge plaas. Vanjaar is die tweede meeste skryfwedstrydinskrywings sedert 1979 (kort onder ’n duisend) uit alle provinsies van Suid-Afrika en van oorsee ontvang. Dit bevestig net weer die statuur van hierdie tradisieryke wedstryd, wat al vele latere groot skrywers vroeg reeds ontdek het, as een van die grootste wedstryde van sy soort in die land. Hoërskool DF Malan in Bellville  het vanjaar weer die prys vir die skool met die meeste inskrywings ingepalm – ’n jarelange rekord wat moeilik deur ander skole geëwenaar gaan word. Die skryfwedstrydwenners, asook ’n Sesothosprekende beurshouer, wie se skryfwerk in Afrikaans belofte inhou, woon die slypskool gratis by.

Inkvars 2017 (met vanjaar se weninskrywings en beoordelaarsverslae) spog weer met ’n uitsonderlike Fanie Viljoen-voorblad na aanleiding van een van die gewildste onderwerpe, “Gee vir skoonma haar besem!”. Dié publikasie, geborg deur die Stichting tot Bevordering van Culturele Betrekkingen Nederland Zuid Afrika, word tydens die geleentheid bekend gestel as ’n nuttige hulpmiddel vir skrywers en stelwerkonderwysers en kos R100. Aangesien die fokus heeldag op skrywers en boeke val, bring die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) ’n gedeelte van hul Van Heerden-versameling op uitstalling na die slypskool. Protea Boekhuis verkoop ook heeldag boeke van die slypskoolaanbieder, asook ander literêre werke en bronne oor die skryfkuns.

Belangstellendes wat die slypskool (ete en verversings ingesluit) teen R400 wil bywoon, kan gerus vir Roline Brits (BSV-sekretaresse) kontak by 0792807759 of vir Corlietha Swart (BSV-voorsitter) by bloemsv@gmail.com. (BSV-lede betaal R250, ook as hul op slypskooldag as lid aansluit.) Die inskrywingsvorms is ook op die BSV-webwerf of op die  Facebookblad van die BSV beskikbaar. Kom kuier gerus saam – dis ’n lewensverrykende ervaring waar mense jaarliks terugkeer en nuwe vriende, alhoewel geografies  oor die land heen verspreid, na die BSV-slypskole terugkeer en gou ou (skrywers)vriende word.

Hier is die Slypskoolpamflet en inskrywingsvorm.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top