Wenners van die nasionale skryfwedstryd van Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) bekend

  • 1

Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) se jaarlikse nasionale skryfwedstryd, vanjaar weer geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat en gedeeltelik geadministreer deur die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN), het weer vanjaar kort onder 1 000 inskrywings opgelewer. Dit is die tweede meeste sedert die ontstaan van die wedstryd in 1979, met inskrywings uit alle provinsies van Suid-Afrika, lande elders in Afrika en oorsee! Volgens Corlietha Swart, voorsitter van die BSV, getuig die uitslae vanjaar van ’n stryd van gedugte oudwenners, met ’n paar splinternuwe “buiteperde”. Dit is vanjaar  ook opvallend dat die reeds-gepubliseerdes in die Ope-afdeling en veral die Junior-skole-afdeling getalsgewys ’n sterk groeikurwe op die grafiek vertoon – ’n bewys dat jongmense graag kreatief skryf in Afrikaans en die poel van gepubliseerdes algaande groei. Die BSV kan met trots terugkyk na ’n hele lys gerekende en bekroonde skrywers wie se sluimerende skryftalent aanvanklik deur die BSV-skryfwedstryd uitgewys en in baie gevalle daarna met ’n slypskool ontwikkel is – Fanie Viljoen, Jaco Jacobs, Cariena Diedericks, Piet Steyn, Japie Bogaards, Sonja Loots – en twee van die meer onlangse gevalle,  Ruan Fourie, wat in 2016 eerste was in die Ope: Poësie-afdeling, die slypskool by Joan Hambidge deurloop en pas in 2017 gedebuteer het, en in 2016 die gereelde BSV-wenner, Hilda Smits (van Nashville, VSA), wat toe as digter by Protea Boekhuis gedebuteer en haar bundel by die BSV in NALN kom bekendstel het. Ons weet ook van twee van ons gereelde prosawenners wat binnekort debuteer. Alle eer aan die vier onafhanklike en kundige beoordelaars wat jaarliks met anonieme beoordeling een na die ander skrywer met potensiaal om te debuteer, uit honderde BSV-inskrywings oormerk.

Corlietha Swart en al die inskrywings wat ontvang is

Altesaam R18 000 se pryse is vanjaar deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat uitgeloof en vyf BSV-wisseltrofeë vir skole was op die spel. Hoërskool DF Malan het vanjaar ’n  kategoriewisseltrofeë, asook die prys vir die skool met die meeste inskrywings, ingepalm. ’n Leerder van Langenhoven Gimnasium het vanjaar die Prosatrofee vir Seniors (Skole) ingepalm, tesame met die Gerhard Beukes-wisseltrofee vir die skool van die algehele skolewenner. Die Skole: Poësie-wisseltrofee is verower deur ’n leerder van Hoërskool Noord-Kaap in Kimberley.

Al die bekroonde inskrywings, en ook die beoordelaarsverslae, sal in Inkvars 2017 gebundel word en op 26 Augustus 2017 uitgereik word wanneer die pryse op die BSV se jaarlikse Slypskool vir Ontluikende Skrywers, gedeeltelik geborg deur AfriForum, by die Noorderbloemsaal in Bloemfontein oorhandig word. Benewens die prysgeld en trofeë kan die skryfwedstrydwenners ’n dag lange slypskool onder leiding van die veelbekroonde Etienne van Heerden as deel van hul prys gratis bywoon.

Beskikbare plekke vir die publiek is alreeds besig om vinnig minder te word. Belangstellendes wat die dag lange slypskool teen R400 wil bywoon (BSV-lede betaal R250), of Inkvars 2017 teen R100 per eksemplaar wil bestel, kan Roline Brits (BSV-sekretaresse) by 079 280 7759  of  Corlietha Swart (voorsitter: BSV) by [email protected]  kontak.

Wenners van die BSV se Skrywers 2017 is:

Skole-afdeling (A):

Junior afdeling (gr 8 en 9)

1ste (R1 500) en trofee: Mila de Villiers, gr 9, Hoërskool DF Malan, Bellville

2de (R800): Karen Vergeest, gr 9, Hoërskool DF Malan, Bellville

3de (R500): Ila Alberts, gr 9, Hoërskool DF Malan, Bellville

Eervol vermeld: Dian Burger, gr 8, Hoërskool DF Malan, Bellville.       

Senior afdeling (gr 10–12)

1ste (R1 500) en trofee: Anna-Mart Schutte, gr 10, Langenhoven Gimnasium, Oudtshoorn

2de (R800): Brigitte Dempers, gr 11, Hoërskool DF Malan, Bellville

3de (R500): Femke Swanepoel, gr 11, Hoërskool DF Malan, Bellville

Eervol vermeld: Nico van der Westhuizen, gr 11, Hoërskool DF Malan, Bellville

Algehele skole-prosawenner

Anna-Mart Schutte, gr 10, Langenhoven Gimnasium, Oudtshoorn

Ope-afdeling D (Poësie, skole)

1ste (R1 500) en trofee: Carl Julius, gr 12, Hoërskool Noord-Kaap, Kimberley

2de (R800): Carla van Wyk, gr 11, La Rochelle Hoër Meisieskool, Paarl

3de (R500): Bernedette Botha, gr 12, Outeniqua Hoërskool, George

Eervol vermeld: Carl Julius, gr 12, Hoërskool Noord-Kaap, Kimberley

Ope-afdeling B (Nog nie voorheen teen vergoeding gepubliseer nie)

1ste (R1 500) en trofee: Maretha van der Westhuizen, George

2de (R900): Hannes Visser, Oudtshoorn       

3de (R500): Sidney Gilroy, Johannesburg

Eervol vermeld: Jan Venter, Langenhovenpark, Bloemfontein

Ope-afdeling C (Voorheen teen vergoeding gepubliseer)

1ste (R1 500) en trofee: Marianne Venter, Lynwoodrif, Pretoria

2de (R900): Jan Beyers, Dan Pienaar, Bloemfontein

Eervol vermeld: Louis Nell, Bainsvlei, Bloemfontein

Ope-afdeling D (Poësie)

1ste (R1 500) en trofee: Ernest Else, Rustenburg.

2de (R800): Elrien Scheepers, Pretoria

3de (R500): Leunis van Rooyen, Brixton

Trofeë

HAUM-Literêr-trofee vir skool van wenner in Junior afdeling: Hoërskool DF Malan, Bellville

Olivier-wisseltrofee vir skool van wenner in Senior afdeling: Langenhoven Gimnasium, Oudtshoorn

Gerhard Beukes-wisseltrofee vir skool van algehele skolewenner: Langenhoven Gimnasium, Oudtshoorn

Vrystaat-wisseltrofee vir skool met die meeste inskrywings (plus R1 000): Hoërskool DF Malan, Bellville

Poësie Skoletrofee vir skool van wenner in poësie: Hoërskool Noord-Kaap, Kimberley.

Wisseltrofeë vir die drie Ope-afdelings word ook aan individuele eerstepryswenners toegeken.

Baie geluk aan al die wenners!

Mediavrystelling: Corlietha Swart (voorsitter: BSV)

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top