Bruistablette vir die lewe deur Susan Coetzer: ’n resensie

  • 2

Bruistablette vir die lewe
Susan Coetzer
ISBN: 9780796320490
NB-Uitgewers

Bruistablette vir die lewe is Susan Coetzer, bekende aktrise, motiveringspreker en skrywer, se eerste publikasie by Lux Verbi. Soos die titel aandui, is die doel van dié lywige boek van 400+ bladsye om ’n bietjie skop in jou dag te sit. Die uiteensetting is in dakstukkieformaat, wat dit maklik leesbaar maak. Dit is ideaal vir ons hedendaagse dol skedules om ’n breek te kan vat en tyd in te ruim vir leesontspanning. Die geestelike dagstukkies se doel is om jou innerlik te versterk as mens en die toepassings daarom prakties en inspirerend van aard. Ieder en elk van ons gaan gebukkend onder teleurstellings, uitdagings en ontnugterings, en Susan gee leiding en inspirasie in dié praktiese dagboek. Soos sy ter inleiding opmerk: “Baie mense, ook gelowiges, sukkel om die pas vol te hou, om by te bly, om elke dag vol energie, blymoedig en bruisend te wees. Op my reis deur die lewe het ek egter ontdek ’n Berocca in ’n glasie water opgelos, is nie genoeg om al my uitdagings mee te trotseer nie, veral nie my uitdagings as gelowige nie. Ek het gevind ek het elke dag ’n doelgerigte en veel sterker innerlike bruistablet benodig om my gemoed te lig en my positief en staande te hou te midde van die werklikhede van elke dag.”

Met Bruistablette vir die lewe nooi die geliefde skrywer en motiveringspreker jou saam op ’n geselsreis om hoop te bied aan die moderne vrou en die uitdagings van die lewe. Dit is geskryf met humor, deernis en insig. Dit is inderdaad ’n aansporing om elke dag voluit te leef as gelowige, ongeag wat die lewe na jou kant toe gooi. As jy jou dag op die regte manier begin, jou fondasie stewig is en jou wortels op die regte plek, is dié vitamiengelaaide dagstukkies broodnodig om ’n huppel in jou stap te sit. Elke dagstukkie word voorafgegaan deur ’n Bybelvers wat Susan dan aanspreek en in die dagstukkie op uitwei. Die kort bladsy-aanbiedings word elke maal afgesluit met ’n gebed. Nie net lees dit maklik en kan mens daarmee identifiseer nie, dit is ook ’n baie oulike en nuttige geskenk wat elke gelowige sal verwelkom.

Susan Coetzer het die drama Praat van die duiwel geskryf wat in 1986 op Kampustoneel opgevoer is. Haar eerste publikasie is sketse in Sonneblomme en daisies en daarna in Nog sonneblomme en daisies, waar sy na alledaagse dinge kyk waaruit mens inspirasie kan put. Oros vir die siel is haar eerste roman en verskyn in 2007. Dit is ’n Christelike roman met die sentrale tema dat die Here ’n lewe van voorspoed en nie teenspoed nie vir ons wil hê. Ander skrywes sluit in All-Bran vir die siel, Tjoklits vir die siel, Lisa se dagboek, ’n Tas vol blues songs, Soetgoed vir die Siel, Custard vir die siel, Mamma het ’n breek nodig, Selma en Louise en Die Joernaal Bybel vir Vroue. As aktrise is Susan bekroon met vier Vita-toekennings  asook ’n Artes-toekenning vir haar rol in die televisiedrama Meester. Sy was voorheen getroud met die akteur Frank Opperman en ’n seun is uit dié huwelik gebore. Sy was ook getroud met die sanger en akteur Philip Moolman. Sy het die teaterrestaurant Die Blou Hond begin en vir ’n dekade bedryf. Sy is ook ’n ywerige skilder en gewilde motiveringspreker.

  • 2

Kommentaar

  • Sandra Fourie

    Ons geniet hierdie boek ontsettend baie! My pa kan nie meer lees nie en ek lees elke aand vir ons, hy kan nie wag om sy bruistablette elke aand te kry nie! Susan is ongelooflik goed en mens kan agterkom sy praat uit ondervinding en mens kan jou daarmee vereenselwig. Baie dankie Susan vir 'n PUIK boek! Kan nie wag vir die volgende een nie. Is die boek op CD dat my pa dit kan speel om te hoor?

  • Magdeleen Terblanselize

    Ek sal wat gee om jou nuutste dagstukboek te kry. "Smarties vir die siel" was van die beste boeke wat ek nog gelees het, en ek het op 'n hele paar plekke bitter lekker gelag. Ek kan dit regtig nie 'n derde keer lees nie, nou soek ek iets nuuts. Kan iemand my asb. help om nog een van Susan se boeke in die hande te kry?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top