Bruin identiteit: ’n tussenin bestaan?

  • 10

Die gehalte en verskeidenheid van boeke wat Suid-Afrikaanse uitgewers publiseer, verstom my telkemale. Ek geniet veral die niefiksie. So elke nou en dan verskyn daar ’n boek wat prikkel en vra vir reaksie.

Een so ’n boek is Henry Trotter se Cape Town: a place between. Dit word uitgegee deur Catalyst Press, wat in Suid-Afrika deur LAPA werk. Dis ’n klein boekie, skaars 140 bladsye lank. Alhoewel die titel verwys na Kaapstad, gaan die boek in essensie oor bruin mense, hul geskiedenis en hul huidige status in die land. Die skrywer is ’n wit Amerikaner wat grootliks vanuit ’n kultuurhistoriese perspektief skryf.

Trotter het sy beperkinge. Hy skryf as ’n outsider, en besef en erken ten minste dat hy nie binnekennis het nie. Tweedens gebruik hy voorbeelde van ’n paar bruin mense en ekstrapoleer van daar na die groter groep. As dit ’n formele navorsingsprojek was, sou die grootte van sy navorsingsgroep problematies wees. Derdens skryf hy asof bruin mense net in Kaapstad voorkom, en neem op die oog af nie die bruin mense in die res van die provinsie of die land in ag nie.

Wat hierdie boek interessant maak, is die wyse waarop hy die geskiedenis inspan om agtergrond in te kleur en lewe te gee.

Waarop ek wil reageer, is Trotter se argument dat bruin mense tussenin is: nie wit of swart nie, nie landelik of stedelik nie, nie dit of dat nie. Nie vis of vlees nie. Dis natuurlik deel van die problematiek met bruin identiteit. Bruin mense pas nie lekker in die boksies wat beskikbaar is nie. Jy moet wit wees, of swart. Enigiets anders veroorsaak verwarring.

Die afgelope paar jaar is daar ’n beweging om bruin mense meer bewus te maak van hul eie identiteit en agtergrond. Vir die eerste keer kon bruin mense leer van die Khoi, die San en al die vele ander groeperinge waaruit die Eerste Nasie van Suid-Afrika bestaan. Vir die eerste keer kon ons leer van stamme met koninklike wortels. Vir die eerste keer kon iets soos rieldans die hoofstroom as kuns binnedring. Vir die eerste keer kon Kaaps, een soort Afrikaans wat deur ’n sekere groep bruin mense gepraat word, as ’n volwaardige variant aanvaar word. Vir die eerste keer kon ons trots wees op ’n geskiedenis wat meer is as net oor dronk plaaswerkers wat steel en leeglê. Ons kan beskou word as meer as net die uitkoms van ’n studie wat bruin vroue as dom beskryf.

Daar is natuurlik veel meer op die spel as net beeldpoetsery. Die soeke na ’n eie positiewe identiteit lê aan die hart van die stryd om behoud van bruin mense as ’n volk met eiesoortige kultuur en gebruike. Dit is ’n bewuste poging om ’n eeue lange geskiedenis van onderdrukking en slawerny om te keer.

Ons het nodig om meer van ons agtergrond te leer. Ek wens dit kan deel wees van die kurrikulum van elke bruin kind se opvoeding. Ons kinders, en baie van ons grootmense, het nodig om te leer wat die diepere betekenis is agter ’n van wat eintlik ’n maand van die jaar is. Of ’n van wat eindig in -se of -sen.

Ons kan as volk vorentoe beweeg net as ons vrede maak met ons geskiedenis. En ons kan vrede maak met ons geskiedenis net as ons dit ken. “Ignorance is bliss” is nie ’n uitdrukking wat hier geldig is nie. As ’n volk spartel ons met die nagevolge van onderdrukking, slawerny, koloniale vergrype, die dopstelsel, stelselmatige toeknip van enige opvoedkundige geleenthede as deel van ’n staatstelsel wat ons maak glo het ons is minder. Minder intelligent. Minder kompetent. Minderwaardig.

Hoekom het daai gewraakte navorsingsprojek oor die intelligensie van bruin vroue soveel opspraak verwek? Dis nie die vraag nie. Die vraag is eerder hoedat dit moontlik is dat persone wat oor ten minste basiese intelligensie behoort te beskik, navorsing kan doen wat eintlik maar net ou rassistiese stereotipes onder die kamoeflering van wetenskap wil probeer legitimeer. In 2018. Dekades na demokrasie. Die vraag is eerder hoekom daai stereotipes nog steeds hardnekkig bly voortbestaan, ten spyte van alle getuienis van die teendeel.

Daar is ’n gevestigde belang, ook in die skrywerswêreld, om voorkeur te gee aan stories wat bruin mense as arm, sukkelend en agtergeblewe uitbeeld. As die karakters boonop sukkel met drank of dwelmverslawing, soveel te beter. Met elke sodanige storie wat geskryf word, word die stereotipe net verder versterk.

Dis waarom ek deesdae weier om sulke karakters te skryf. Ek weier om deel te wees van ’n georkestreerde poging om ’n hele groep mense minder te maak. ’n Groep waarvan ek deel is.

Die meeste bruin mense wat ek ken, my hele lewe lank, is nie deel van die stereotipe wat voorgehou word nie. Daar is bruin sportsterre, sangers, digters, skrywers, kunstenaars, akteurs, akademici, dokters, regsgeleerdes, finansiële kundiges en veel meer wie se stories ook vertel moet word.

Dis al manier waarop die stigma verbreek kan word. Dis al manier waarop die negatiewe narratief rondom bruin mense onderbreek kan word. Dis al manier hoedat ’n hele groep wat oor dieselfde kam geskeer word, op hul individuele briljantheid kan aanspraak maak.

Trotter se boek doen een belangrike ding: Dit vier die oorlewingsdrang en die kreatiwiteit van bruin mense. Hy sit egter die pot mis met betrekking tot een belangrike aspek. Ons is nie tussenin mense nie.

Ons is ’n volwaardige groep. Ons is genoeg. Ons is hier. En ons is trots op ons identiteit.

  • 10

Kommentaar

  • Avatar
    Vrydenker Vlakvark

    Kan iemand my van enige wetenskaplike bewyse (bo alle twyfel) voorsien welke groep Homo sapiens sapiens het eerste in Suid-Afrika kom woon? Waar is die bewyse (bo alle twyfel) dat die Khoihoi of San Suid-Afrika eerste bewoon het?

    Baie Suid-Afrikaners het ‘n stryd om hul identiteit te definieer. Is dit belangrik? En hoe kan mens besluit oor identiteit indien jy nie vertroud is met jou familiegeskiedenis nie?
    Is dit belangrik?

    Hoe gaan ons in die volgende lewe optree betreffende identiteite? Sal dit dan belangrik wees?

    Bettina, ek waardeer hierdie artikel. Hoeveel mense dink oor die sin en betekenis van hul lewensbestaan?

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Mense is mense. Bestaan daar 'n kollektiewe wit identiteit? Watter identiteit is organies? 100 % oortuigend? Elke politieke identiteit is kunsmatig. Ook Suid-Afrikanisme. Etniese identiteit is die gevolg van bevolkingsregistrasie en ander historiese faktore, veral rassisme. Die mens is te lief daarvoor om mekaar met 'n kwas te smeer.

  • Frederik Van Dyk
    Frederik Van Dyk

    “Dis waarom ek deesdae weier om sulke karakters te skryf. Ek weier om deel te wees van ’n georkestreerde poging om ’n hele groep mense minder te maak. ’n Groep waarvan ek deel is.“

    So belangrike stap dié. Dit is nodig om ‘n groter verskeidenheid potensiaal in bruin karakters los te skryf.

  • Avatar
    Vrydenker Vlakvark

    Barend, briljant gestel.

    Soort soek soort om hul kans op oorlewing te vergroot. Ook om die innerlike toenemende sondige gierigheid te voer.

    Wat is die nut van die soogdier Homo sapiens sapiens in elk geval hier op aarde? Sy grootste orgaan, sy vel, is binne en buite beset met menigde bakterië, virusse en ga-ga. Nou skok ek seker menigde lesers.

    Mooi naweek. Amen.

  • Het lank terug ‘n boek gelees met die titel Man in die middel, wat dieselfde kwessie bespreek. Miskien tyd geword om artikels te skryf waar geensins na ras verwys word nie.

  • Dis 'n swak skrywer wat hom-/haarself 'n blinde kol gee ipv uit die hele breedte van mensdom te put. StaSoft-literatuur met waskryt geskryf klink maar vervelig. Ek waardeer die outeurs wat met skalpel skryf en waar die boek die leser verpletter, maar die bul by die horings gepak is.

  • Avatar
    Spook Speurder

    Beste Bettina, jou skrywe is verblydend om verskeie redes, oa dat jy die belangrikheid van kwaliteit van identiteit lug gee. Ek vermoed liefde versuiwer en verskerp kennismaking namate die omroeper, as wetenskaplike kenner, hul bevooroordeling die deur wys.

    Ek het Trotter se boek nie gelees nie maar gebruik hy nie juis sy tuis ervaring, van anderskleuriges en wit teenoor/langsmekaar, om 'n derde gestalte, vreemd aan hom, uit te lig nie, en homself, as voorbeeld van menswees daarmee saam?

    Die dinamiek tussen self en groep is vebasend ryk, as sulks ook tussen een en 'n ander. Elkeen maak gebruik van en identifiseer met 'n groot verskeidenheid identiteite, van dinge, persone en groepe.

    Die Britse Ryk had 'n slegte gewoonte van mense in arbitrêre groepe verdeel en saamflans. Suid-Afrika is een van daai ongelukkige groepe maar dit laat toe vir nader ervaring van hoe moeilik dit is, op 'n wyer vlak, veral met die selfsuggedrewe inmenging van moderne politici daarby, om saam met ander mense te lewe.

    Die gedagte "ken jou vyand" is op jouself ook van toepassing, as deel van om jou te kan oorkom, buiten en tesame met jou liefhê, en dit tel nie net vir elke mens nie maar ook vir elke groep van gepaste aard. Ek voel familie lewe en moedertaal hieraan verwant. Dankie vir jou inspirasie.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    "Ek weier om deel te wees van ’n georkestreerde poging om ’n hele groep mense minder te maak. ’n Groep waarvan ek deel is." Hiermee breek Bettina 'n lansie vir bruinmense. Mense wat as individue en as groep gelykwaardig naas ander staan. Om jou te identifiseer met 'n groep mense, soos Bettina hier doen, maak jou nie noodwendig anti-iets nie en in staatsverband is jy steeds 'n Suid Afrikaner net soos die Xhosa, Zoeloe, Sotho en Afrikaner ....

    Natuurlik is daar verskille binne en tussen groepe net soos dit die geval is in enige ander plek ter wêreld. Daar is egter ook baie raakvlakke in-en tussen groepe. Baie daarvan positief maar ander weer, erg negatief. Die individu self besluit in die laaste instansie hoe hulle hulleself binne of buite groeps- of Staatsverband gaan, of wil uitleef. En, of dit met of sonder druk gepaard gaan. Dis hoe dit is. Daar is natuurlik ook diegene wat hulle met niks en niemand (wil) assosieer nie. Hulle sien hulleself net as mens en ja, ook hulle het die reg om hulle keuse dienooreenkomstig uit te oefen. Die uitdaging vir almal lê op die vlak van gedeelde waardes. Om te poog om daardie waardes op so 'n wyse uit te leef, dat dié wat verdeel, kan verminder en eventueel oorkom kan word.

    Verskeidenheid binne die eenheid is presies wat die woord "reënboognasie" impliseer. 'n Woord waarna (veral) politici graag verwys maar dan in die praktyk terroriseer met allerlei moedswillige optredes, diskriminerende praktyke en onverantwoordelike uitsprake. Die ryk kulturele verskeidenheid of dan "kollektiewe identiteit" van meerdere kultuur-groepe in ons land is juis iets wat die verbeelding van toeriste aangryp. Verf en skilderkuns waarmee hutte versier word, Zoeloe danse, kunswerke in die vorm van houtsnee-en kleipotwerke en Afrikaanse feeste is alles dinge wat uiting gee aan die skeppende kreawiteitsdrang van verskillende kulture en groepe, en wat SA uniek maak. En wanneer die land as land presteer soos tydens die onlangse Rugby Wêreldbeker, word dit gevier as burgers van die land.

    Bettina se identifisering met bruinmense in dié stuk heg waarde toe tot die groep en is van groter betekenis as ander se standpunte dat daar nie "etikette" om hul nekke geplaas moet word nie. 'n Bruinman het op 'n kol en met tipiese gevatheid gesê dat bruinmense soos 'n boks "assorted biscuits" is. Hulle mag bietjie anders wees en selfs onderling verskil maar hulle is meer as gemaklik met mekaar in daardie boks. As skrywer en leiersfiguur maak Bettina haar mense trots en identifiseer hulle graag met haar. Boonop inspireer sy ander, veral jonges, om ook die pen op te neem. En wie weet, dalk kom iemand na vore om Bettina se versugting vlerke te gee. Iemand wat die bul by die horings gaan pak om bruinmense meer van hulle agtergrond te leer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top