Brugbouers deur Rudi Buys: ’n lesersindruk

  • 16

Brugbouers: Die Reitz-video en die pad na versoening
Rudi Buys
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776091843

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Hoe ver het my gedagtes darem nie gedwaal toe ek die koerant oopmaak een Sondag en ’n lang uittreksel sien uit ’n nuwe boek nie – een oor die Reitz-video – om so baie redes …

Ek was daar. Dit was die jaar 2008. Ek was ’n 4de-jaar, besig met honneurs in geskiedenis. Die familie het gebel. “Is jy oukei? Ons sien op die nuus ...!”

Deesdae bel niemand meer as daar gewelddadige protes in jou dorp of stad is nie. Die joernaliste kom nie eens meer uit nie. Hulle stel sommer ’n oorsigtelike berig saam van al die proteste wat hulle op Twitter gesien het. Maar daardie jare was dit anders.

Terugskouend was die gebeure rondom die Reitz-kamerwonings se video eintlik nie so erg nie, as mens nou dink aan al die kampusproteste sedertdien, soos die #RhodesMustFall- en die #FeesMustFaal-veldtogte, maar in 2008 was dit beslis reusenuus.

Maar mens moenie hierdie boek op sy subtitel takseer nie. Eerder op die kriptiese buiteblad. Rudi Buys se boek gaan eintlik nie regtig oor die Reitz-video, die sogenaamde Reitz-4 nie. Glad nie. Die vier studente wat die gewraakte video gemaak het, se name word nie eens in hierdie boek gemeld nie. Daar is wel vier studente op die voorblad van die boek: twee wit en twee swart. Twee vroue en twee mans. En dis hulle storie wat die sentrale tema van die boek vorm. En hulle storie is ook ons storie. En dis die storie van hierdie boek. Dis die storie van vier jongmense wat worstel met hulle identiteit. Soos wat Suid-Afrika vandag nog worstel, en sal aanhou worstel, so was dit ook met die Kovsies. Is ons “Afrikaners” en “Zoeloes” ens? Of moet ons vergeet van sulke idees? Is ons almal maar net Suid-Afrikaners?

Dis eintlik ’n baie ou menslike storie, as mens nou mooi oor die saak gaan sit en dink. En glad nie beperk tot ons landjie hier aan die suidelikste punt van Afrika nie. Ons lees byvoorbeeld in die boek 1 Makkabeërs hoe koning Antiogus die stad Jerusalem oorgeneem het. Donkiejare terug nou. Daar het die vreemde Griekse regeerder toe die Israeliete onderwerp en volgens die antieke boeke was daar “baie Israeliete wat bereid was om by Antiogus se godsdiens in te val”.1 Daar was twis onder die volk Israel, tussen die behoudendes en die progressiewes. Dus, lank voordat Jesus gebore is, het die Israeliete onder mekaar getwis oor identiteit. Oor wat is ’n ware Israeliet. En so is identiteit. Dit is nie staties nie. Dit is gedurig besig om te verander. Daar is maar altyd konflik tussen behoudende mense en diegene wat verandering omhels. En so is dit ook met die vier studente op wie Buys fokus in sy boek. Hulle is jongmense wat hulle identiteite moes uitkerf.

En so is dit vandag nog met ons maar. Op 18 Julie 2018 was oudpresident Nelson Mandela 100 jaar gelede gebore. Dit was ’n groot dag van herdenking van Mandela se lewe. Mandela se werk as versoener word gedurig voorgehou as model. Maar daar vind ook al meer hersiening van Mandela se nalatenskap plaas. Daar is mense wat Mandela se nalatenskap bevraagteken en vra of Mandela nie te veel op versoening gefokus het en te min op geregtigheid nie.

Dit is juis een van die onderwerpe wat in Buys se boek na vore kom. Volgens Buys is ’n brugbouer nie noodwendig ’n vredemaker nie. Brugbouers is dikwels juis moeilikheidmakers. Want die Reitz-video het iets onthul van Kovsies en Suid-Afrika. Suid-Afrikaners het integrasie gesystap. Presies soos wat Swart Ekonomiese Bemagtiging met sogenaamde “fronting” gesystap word, so was integrasie op die Kovsiekampus gesystap. Die kampus het wel “transformeer” van oorwegend wit na oorwegend swart, maar afsonderlike koshuise het gebly. Afsonderlike klasse het ontwikkel op die basis van (so pynlik soos dit is om dit hier te noem) Afrikaans (en Engels). En die koshuistradisies van ontgroening het ook gebly. Maar iewers moes iets skiet gee.

Dit is lekker om Buys se interpretasie van al die drama te lees.

Teen die tyd dat Buys se termyn as studentedekaan aan die Universiteit van die Vrystaat begin het, was ek basies klaar met my studies daar. Dit was die tyd toe die Kovsies in Jonathan Jansen hulle “eerste swart” rektor gekry het, en ek was toe grootliks aangewese op die Afrikaanse koerante om op hoogte te bly van die Kovsies en al hulle dinge. Mens sien iets van die mens Buys in hierdie boek wat mens nie elders sou nie. In die koerant was Buys die slegte ou. Bronne wat deur die koerante aangehaal is, het Buys beskryf as “klein Jansen” en “Jansen se skoothondjie”.2 In 2014 het AfriForum verklaar hulle is bly dat Buys nie langer by die UV sal werk nie.3 Die koerante is egter uiteindelik gedwing om ’n “regstelling” te plaas oor hoe daar berig was oor die UV, maar die skade aan Buys se reputasie was reeds gedoen (bl 158).

In Brugbouers leer ’n mens egter ’n totaal ander sy van Buys ken as die Buys wat in die Afrikaanse koerante geskets is. Die Buys-familie se verbintenis met Beyers Naudé (1915–2004), en die impak van Naudé se lewe en denke op Buys, vorm ’n belangrike deel van die boek. Toe Buys aanvaar is as tentmakerpredikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, het hy die dag die toga van Beyers Naudé gedra. En die uiteindelike verandering van die koshuis JBM Herzog se naam na huis Beyers Naudé was vir Buys uiteindelik tog ’n bewys dat daar wel iets verander het op die Kovsiekampus, al het dit nie altyd so voorgekom nie.

’n Interessante tema in hierdie boek is die rol van die Christian Revival Church (CRC) op die kampus van die UV. Hoe verdelend is Suid-Afrika se kerke nog in 2018? Die teoloog Jaco Strydom skryf in sy boek Confessions oor kerkwees (Carpe Diem Media, Vanderbijlpark, 2018) dat die grootste skeiding van rasse in Suid-Afrika nog elke Sondag plaasvind, wanneer Christene hulle godsdiens beoefen. So was dit ook op die Kovsiekampus met studente wat geskei is in koshuise, in klaskamers en ook by die kerk. Die resultaat was wantroue en, uiteindelik, die Reitz-video. Die CRC het met ’n fokus op die identiteit van Christen-wees daarin geslaag om etnisiteit en nasionalisme onder die studente te onderdruk. Dit was inderdaad ook my eie ervaring met die CRC – hoewel ek nooit juis ingekoop het op hulle of enige ander godsdiens nie, het hulle beslis die grense tussen rasse kleiner gemaak.

Brugbouers is nie altyd vredemakers nie. Hulle is dikwels juis die mense wat moeilikheid moet maak. En verandering is nie ’n lynreguit proses nie. Dit is die sentrale argumente wat ek neem uit Rudi Buys se Brugbouers. Die boek is nie ’n geskiedenisboek oor die gebeure rondom die Reitz-video nie. Dit is eerder ’n boek wat probeer om die breë beginsels daar te stel van gemeenskappe wat verander. En verandering is iets wat nooit voltooi word nie. Dat daar konflik sal wees, is gegewe. Om vrede te maak is nie noodwendig altyd ’n oplossing vir die probleem nie. Dit kan die oplossing van die probleem dalk net uitstel. Verandering is ’n gegewe. Dit is nie iets wat die mens moet vrees nie. As ons nie verander nie, sal ons vergaan.

Eindnotas

1 Apokriewe Ou en Nuwe testament: Verlore boeke uit die Bybelse tyd, Jan van der Watt en Francois Tolme, Vereeniging, 2005. CUM boeke, bl 327.

2 H Retief, “’n ‘Rêrige aaklige jaar by Kovsies”, https://www.netwerk24.com/Stemme/n-Rerig-aaklige-jaar-by-Kovsies-20140920, 21 September 2014, afgelaai op 21 Julie 2018.

3 E Prinsloo, “Rudi Buys verlaat die Kovsies-‘preekstoel’”, https://afriforum.co.za/rudi-buys-verlaat-die-kovsies-preekstoel, sj, afgelaai op 21 Julie 2018.

  • 16

Kommentaar

  • Afrikaners (waarvan ongeveer 1,5 miljoen Boere is) van vandag; wat hulle onderwerp aan die nou vinnig-verdwynende dogma van humanisme (maar eintlik is die hoof beginsels daarvan so ani-humanisties van aard as om jou mond te laat oopval), verwronge en naïewe idealisme, globalisme en paradoksaal apatie teenoor minderheids- en groepsregte - let wel: wanneer die persone wat staatmaak daarop van 'n sekere etniese agtergrond blyk te wees - bevind hulle tans in 'n doolhof van verwarring en onsekerheid - die wêreld is besig om sy rug te draai op die verstikkende, self-kastydende en self-verwytende, sieldodende, valse en anti-heroïese dogma van sosiale demokrasie wat ook omskryf kan word as die vooropstelling van "appeasement", (en wat sosiaal-maatskaplike uitval betref die uiteindelike aanvalligheid teenoor patriargie, maskuliniteit en manlikheid wat nou begin kop uitsteek in die VSA) - en sy eweknie "post-modernisme" met vyandigheid teenoor die weste en die idee dat dit "die einde van geskiedenis" was; en terug te keer na behoudende beginsels soos die soewereiniteit van die nasiestaat, nasionalisme (alhoewel in die vorm van ekonomiese nasionalisme) en konserwatisme.

    Die idee is dat daar op skynheilige wyse wapens soos identiteitspolitiek, (maar terselfdertyd soek ons meer diversiteit!) diversiteit (lees uiteindelike getalle oorheersing en getalle oordondering en verwarring van blankes se lojaliteit teenoor hulle ras) , slagoffer-speel sindroom, vingerwysing, die propagering van self-haat en valse gewetenswroeginge te midde van buitensporige aanklagte van "white privilege" - (moet mens om verskoning vra vir jou Westerse kultuuragtergrond wat jou in staat stel om die beste te wees en vooruitstrewend?) - vergelding, skynheilige deugde-vertoning, ontkenning van basiese menslike feite werklikhede, gedrag en groepspatrone; op dweperige en subtiele wyse gebruik word as wapens in 'n anti-Westerse (anti-blanke) agenda waar oa meerderheidsoorheersing juigend en luidrugtig gepropageer word en persone op subtiele wyse oortuig word om op te tree in wat ooglopend as aggressiewe fascisme met 'n "liberale" jas getipeer kan word - en ons sien dit ook op SA staatskampusse.

    Die verkramptes is nie meer die konserwatiewes nie, maar die kwansuise "liberales" - wat geensins voldoen aan klassieke liberalisme nie - maar iets veel meer vreemd en sinister is wat die regte en waardes waarop hulle jare gelede luidrugtig op sou aangedring het; wil ontneem van die konserwatiewes. Trouens, geensins is die swart bevolking van SA liberaal nie, dit is 'n mite.

    Wat het dit met hierdie boek te doen? Min sal die stelling kan weerlê dat Afrikaners by verre konserwatief is (tog bevat die Engelse Wikipediablad omtrent ons mense 'n andersluidende en bedrieglike versinsel).

    Alles hierbo gesê is belangrik; want die vier manne se optrede was myns insiens niks meer as 'n minagtende verwerping van wat hulle regtens beskou het as gedwonge integrasie en onderdrukking van hul kultuurvryheid, en die uitoefening van hul misnoeë met wat hulle voorheen beskou het as 'n instansie wat hulle gesigspunte, werklikhede, en wêreldraamwerk verwerp het, asook hul reg tot assosiasie. (Natuurlik het die 4de Stand lojaal en getrou die video opgeblaas tot iets grotesk en nie die vergestalting van 'n normale, tradisioneel-konserwatiewe en gemoedelike verhouding tussen ouer swart vrouens en kwaadstekende - (alhoewel ietwat baie kinderlik-naïef) blanke mansstudente nie.

    Trouens die argument kan gemaak word dat die blaam loodreg op die skouers van die bestuur geplaas kan word in die aansporing van 'n situasie en vyandige omgewing in wat uiteindelik gelei het tot die UFS se verwerping van ons taal, geondersteun deur ruggraatlose akademici wat moes neerbuig voor die gepropagandeerde en gebreinspoelde meerderheid. Indien mens geneig was om in sameswerings te glo kan selfs gestel word dat dit miskien die doel was van die begin af.

    Afrikaners sal vinnig moet kies watter kant hulle staan, want die ruimte word min, en soos getoon hierbo gaan paaibeleide en kwasi-intellektuele, waarde-verwarrende en waarde-opofferende, kniebuigende retoriek nie die situasie help nie; maar eerder beginselvaste optrede soos die van Solidariteit.

    Daar is bemoedigende tekens dat die Afrikaner besig is om moeg te raak om geblinddoek rondgelei te word; en verwys die skrywer na 'n artikel (op Netwerk 24 nogal!!) "Die leuen van liberaal wees" waar dit vir die hoeveelste keer oa uiteengesit word dat ons nie om verskoning hoef te vra om in ons moedertaal tersiêre onderrig te ontvang soos dekades reeds die geval is nie, maar dat dit bloot 'n natuurlike verskynsel is - wat SO NATUURLIK is en so normaal is nieteenstaande dit glo tot klasseskeiding sou lei - dat die "founding fathers" v/d GW Artikel 29 ingesluit het in die grondwet nieteenstaande die besware omdat die reg fundamenteel spreek tot studente se menswees en kultuurlewe. (Maar hoe dan anders!)

    Die skynheiligheid van die linkses en "liberales" word vir die hoeveelste maal ten toon gestel deur die feit dat Afrikaanses (wat moet glo dat ons 'n diverse land is in teenstelling met die "majoritarianism" wat die meerderheid op ons wil afdwing) nie meer kan self identifiseer - soos wat swart studente en ander skynbaar doen wanneer hulle kies om in Engels onderrig te ontvang nie - maar gedwing moet word om in 'n omgewing, taal-omgewing en atmosfeer klas te loop wat hul nie optimaal laat funksioneer nie en onder die las en kwispelturighede van 'n meerderheid oorlaat.

    DIT, is wat DIE boek ons leer.

    #LiefAfrikaans

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Te groot woorde sorrie jong. Jy't my verloor. Ek verstaan nie predikantaans en tale verwant daaraan nie. Groete.

  • Barend, om dit kort(er) en bondig te stel: Dit wat voorheen Kovsies was, en ander staatsuniversiteite, het Afrikaans en die wat dit praat en gebruik die rug toegekeer as gevolg van die heersende verstikkende klimaat (die eienskappe waarna verwys is hierbo - kyk hoe gaan dit in die VSA-) op kampusse wêreldwyd.
    Dit word gevoed deur 'n warboel en deurmekaarspul van kompeterende onverdraagsame "ismes" en egalitarisme "gone wrong"; te wete dat die onus nie soseer op "voorheen benadeeldes" is om hulself uit die sloot te trek met eie vernuf en ambisie nie, maar dat dit kwansuis gedoen kan word deur vergelding, die verwagting dat Afrikaanses moet "appease", en hul lot aanvaar as kultureel-onderdruktes – waarvan die tema dik loop in die boek onder bespreking – en dat Afrikaners hul waardes moet vervreem, verraai of opoffer en andersoortige waardes teen hul wil aanvaar.
    Afrikaners (wat niks minder as ver-inheemse Afrikane is met hul eie kultuur en waardes) word NOU as't ware op skandalige wyse GEDWING om terug te keer na hul wortels (dus minder Afrikaan te word) en hul heil by die Nederlandse taalfamilie te soek (en Nederlands-veral dit wat in Vlaandere gebesig word) ten einde hul te verweer teen die aanslag teen hul taal – en dit is 'n skande van grootse omvang wat ons by 'n punt gebring het waar omdraai nie moontlik is nie – om die skande daarvan in mooi en soet woordjies te klee en die veragtelikheid daarvan op kwasi-intellektuele en rasionele wyse te probeer wegredeneer met boeke soos die onder bespreking gaan ons nêrens bring nie. Dankie.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Die universiteite en skole verengels ja. Dis maklik om 'n filosoof te wees en 'n teorie in 'n ivoortoring uit te dink. Dis 'n ander saak in die praktyk om dienste te kan lewer in 11 amptelike tale. Daar is absoluut geen manier waarop dit volhoubaar was nie. Selfs in my jare op varsity het die dosente gemor oor die dubbele werk wat die paralelmediumklasse hulle gegee het.

  • Avatar
    Johnnes Comestor

    Barend, parallel- of parallelle mediumklasse. Charles, jou gewaardeerde, gesonde standpunt geniet my volle ondersteuning.

  • Barend, hoe doen Pukke dit dan?
    Absoluut is dit volhoubaar, indien die wil daar is om op te staan vir jou beginsels en nie slaafs in te skryf tot die drieluik nwo-pakket v/d verstikkende diktatuur-van-die- liberalis, 'n neerbuigende houding jeens meertaligheid en die voordele daarvan, en globalistiese kultuur-verwarrende pasifisme nie. ('n Heel ongesonde brousel!)
    Jou opinie is dus Afrikaans moet die weg van Oksitaans volg? [Frédéric Mistral (wat in Oksitaans geskryf het) het in 1904 die Nobelprys vir sy gedigte ontvang wat in Oksitaans geskryf is – daarna is Oksitaans deur Frans verdring as intellektuele omgangs-, onderrig-, en akademiese taal; vandag skaars meer as 100 jaar later, is daar maar 'n skramse 100,000 tot 800,000 sprekers van wat eens 'n florerende en akademiese taal by uitstek was – die natuurlike gevolg wanneer 'n taal sy akademiese nuttigheid en vermoëns verloor]
    Is dit die toekoms wat ons geliefde taal Afrikaans toegewens word?
    Wil jy en andere wat soortgelyke opinies huldig ons nie maar help en opstaan en baklei vir iets wat die moeite werd is om voor te baklei nie – waarvoor talle soos Langenhoven, die Nienaber-broers en Jan Rabie basies hul LEWENS voor gegee het nie? Wil julle nie maar nie...?
    Dit is baie maklik om (onverleë lag ons maar mee) verskonings te maak indien die wil om op te staan vir beginsels nie daar is nie.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Ek dink Afrikaans sal hou in Orania. Die wit Afrikaanse mens se god is mos geld, en geld praat Engels.

    Groete!

  • Dit klink of jy baie verbitterd is, maar dit is nie 'n rede om teen jou taal en kultuur te agiteer en Afrikaners en hul taal op satiriese wyse te bespot en parodieer mbt oa Orania se opregte en eerbare strewes en bona fides nie.
    Ek kon die wêreld se redes gehad het om ontnugter te wees oor mede-Afrikaners (en veral mede-Afrikanerkinders) wat my in my jeugtyd in my armoede bespot, verneder en probeer verkleineer het en ek is bewus van Afrikaners se materialisme en geldmanie, dit maak my egter nie minder trots op my erfenis nie (daar's goud in ons geskiedenis – so se die kamtige holis, verander- bloot-jou -blik wanneer- die- Afrikaner- se- ellende- na- die- ABO- jou gewete- begin -rittel, en een- tree- kort- van- 'n -volksverraaier) die wonderwerk wat Afrikaans is; en MY mense MET AL HUL FOUTE, VOOROORDELE EN TEKORTKOMINGE nie. Ons is nie almal so nie! (bedorwe, hoogmoedige en liggelowige geldwolwe nie). Dankie.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Nee Charles. Gladnie verbitter nie. Wanneer tale politieke mag verloor, dan beland hulle onder druk. Dit is presies die rede hoekom ek na Orania verwys. In Orania het Afrikaans 'n toekoms omdat dit daar deur die dorpie se owerstes gepraat word.

    Die res van die mensdom sal jou vertel dat Engels is "die internasionale taal van besigheid en geleenthede", oftewel dis die taal van geld. En geld praat sommer baie harder as "kultuurskatte", daarom studeer hulle kinders in Engels.

    Ek herhaal, tale wat politieke mag verloor, kwyn uiteindelik. Afrikaans het self 'n sleutelrol gespeel in die uitwissing van die Khoi- en San-tale.

    Daar was geen manier waarop Suid-Afrika 11 tale in die praktyk almal sou beskerm en bevorder nie. Dit was 'n mooi gedagte maar een amptelike taal soos in Namibië sou veel sinnelose geredekawel gespaar het.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    As Paul Kruger self nie so gierige magsbehepte plunderaar was nie, dan kon die ABO ook verhoed gewees het. Maar almal wat hom gewaarsku het teen oorlog maak is bespot en as rugstekers uitgekryt.

  • Barend, kom ek leer jou 'n politieke les.
    Die moreel bankrot ANC het hul kaarte goed gespeel, en stof in die "patetiese" NP-onderhandelaars se oë geskop, deur aan te dring daarop dat daar kwansuis 11 amptelike tale moes wees.
    Daarmee het hulle (en dit was BEPLAN) die saadjie gesaai vir vandag se hopelose situasie deur mooitjies aan te dring daarop "in die gees van meertaligheid" en gesiene dat dit (volgens hulle ) onmoontlik sou wees om gestand te doen aan die belofte dat alle amptelike tale ontwikkel en gelyke geleentheid gegee moet word, dat Engels vir alle amptelike doeleindes die dominante taal moet wees. Dit is uiters sinies.
    MAAR HIER IS DIE LES: Die eertydse tweetalige beleid van beide Afrikaans en Engels het besonders goed gewerk, en MOES so voortgaan. Daar was selfs 'n bepaling in die interim grondwet dat Afrikaans as amptelike taal nie sou afstand doen van sy status nie en die se status nie mee weggedoen en negeer moes word nie. Maar agv gedwee onbetrokkenheid en sorgeloosheid van die NP se kant af , en deur subtiele manipulasie en afkeur van ons pragtige tongval deur die ANC, was die bepaling mooitjies NÊRENS te vind in die "wonderlike" finale weergawe nie!
    Afrikaans is nog LANK nie dood nie JUIS agv sy oorlewingsdrang, vitaliteit, pogings om sy amptelike hoedanigheid in akademiese kringe met privaat instansies uit te bou en te handhaaf, en danksy die wil van mense wat Die Taal waarskynlik liewer het as die lewe self!
    Danksy die en ander pogings sal Afrikaans NOOIT "kwyn" nie en daar word gerieflikheidshalwe vergeet dat Afrikaans volgens sekere kringe 'n kreoolse taal is en deel gemaak, aangeneem en gevorm is deur die einste Khoi- en San-sprekers (van hulle kry ons, ons "dubbele nie"). In die Howe en in ander amptelike hoedanighede soos bv dranklisensies word Afrikaans nog gebruik en gebesig, deur praktisyns soos ek wat WEIER om dit nie te gebruik nie en te vervang met Engels, en daar is duisende soos ek, nieteenstaande aanklagte dat ons dit kwansuis sou opoffer vir Mammon. In bv die Noord-Kaap blom Afrikaans en word dit aangevul en gesterk deur nuwe, versoenende en verrassende interaksies tussen die verskillende sprekers daarvan en "taal-samesyn". Dankie.

  • Barend; oorweeg asb die volgende in die moontlike her-evaluering van jou stelling dat Afrikaans "kwyn":
    1. “In 2004, was daar volgens die verkoopsyfers van Nielsen Bookdata, net 22% van die plaaslik-gepubliseerde boeke in Afrikaans geskryf, teenoor 77% in Engels. Teen 2015 is die bordjies verhang en het die Afrikaanse boeke in die Suid-Afrikaanse boekmark tot 45% gestyg teenoor Engelse boeke wat tot 53% afgeneem het. Binne hierdie gunstige mark vir Suid-Afrikaanse uitgewers, is die posisie van Afrikaanse uitgewers besonder rooskleurig en veral vir Afrikaanse fiksie is dit baie gesond.” Aldus Marga Stoffer van NB-Uitgewers.
    2. Irma Joubert se Mentje, kind van Pas-Opkamp beklee ‘n trotse 60ste plek op die algehele topverkoperslys. Dit sluit Afrikaanse en Engelse boeke in asook boeke wat oorsee uitgegee is.
    3. Op die lys van uitgewers wat die meeste eenhede in Suid-Afrika verkoop het (alle titels en oorsese boeke), beklee NB Uitgewers en LAPA onderskeidelik die vyfde en sesde plekke.
    4. Die wêreldwye regte vir die Engelse vertaling van Jaco Jacobs se jeugboek, 'n Goeie dag vir boomklim (LAPA), is aan ‘n onafhanklike uitgewery in Brittanje verkoop.
    5. Mentje, kind van Pas-Opkamp (LAPA) het in Nederland verskyn voordat dit in Suid-Afrika op die rakke was.
    6. Sacrificed, die vertaling van Offerlam (Chanette Paul en uitgegee deur LAPA) is in Suid-Afrika en in die VSA bekendgestel en Offerande (Chanette Paul) het in België verskyn.
    7. Tussen stasies (Irma Joubert en uitgegee deur LAPA) verskyn in Noorweë.
    8. Oorweeg laastens ook asb ons ellelange lys en geskiedenis van wêreldgehalte skrywers en literatuur in Afrikaans en die wêreldstatus van daardie boeke en die vertalings daarvan in veelvuldige tale EN DIE VOORTBOU DAAROP EN MOMENTUM DAARVAN, Afrikaans se massiewe teenwoordigheid op die WWN en dat Afrikaans gerugsteun en ondersteun word deur ons stamgenote in veral België. Oorweeg die pletora van vertaalwerk wat Daniel Hugo doen en die duidelik florerende dienooreenkomstige kulturele bande onderling tussen SA, België en Nederland agv Nederlands-Afrikaans; oorweeg die totale dominasie en lingua franca-status van Afrikaans in Namibië, en dat ons (met 'n klein bietjie moeite) ewe gemaklik omgaan met "Hollands" en eintlik in wese tweetalig in die verband is. Dus: danksy Nederlands, sal Afrikaans nooit "kwyn: nie! Oorweeg ook heel laastens Afrikaans.com, en die Afrikaanse Onderwys Netwerk(AON). Dankie!

  • Soos ek die strekking van jou argument betreffende President Kruger verstaan, insinueer jy dat Afrikaanses agv die ABO ontneem is van ongeveer 300 000 (volgens kenners se berekenings en skattings op die gebied) stemme.
    Dit mag wel so wees, maar indien noukeurig gelet word op Hermann Giliomee se magistrale "Die Afrikaners" sal daarop gelet word dat die blaam nie soseer by die Britte se volksmoord op Afrikaners te plaas is nie; maar op die toentertydse en noodlottige besluit van die VOC om nie Europese immigrasie aan te moedig nie.
    DIE FEIT VAN DIE SAAK IS: Afrikaans is BY VERRE die hoof moedertaal in die westelike gedeelte van Suid-Afrika en daar is geen aanduidings dat dit sal verander in die onmiddellike toekoms nie.
    Aangesien wit en bruin Afrikaners nou meer as ooit hul gedeelte skatte opdiep en bewaar AS AFRIKAANSES en verenig is in hul toekomsvisie vir 'n gedeelde en baie nouer toekoms, en mekaar gevind het; is die pogings van die ANC tot "divide and rule" doodgebore. Dankie.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Die Noord-Kaap het amper geen mense nie. Dis nou nie juis 'n magtige provinsie nie.

    Maar wat, as dit is soos jy sê dat alles vir Afrikaans hunky dory is, waaroor redeneer ons dan nou eintlik? Klink 'n glasie pienk sjampanje!

    Groete.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Jy moet my tog eendag vertel van hierdie verenigde front van wit en bruin. Is dit nou onder die DA wat hulle so verenig?

  • Ag, ons redeneer want dis lekker en konstruktief, en omdat ons passievol is oor ons taal:)

    Groete Barend.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top