Britse politikus meen mense is na die konsentrasiekampe gestuur vir "eie beskerming"

  • 7

Jacob Rees-Mogg (foto: YouTube)

Pieter de Villiers, soos gesien op Facebook:

Hierdie man, ’n bekende Britse politikus, beweer gister in ’n BBC-program dat die mense tydens die Boere-oorlog na konsentrasiekample geneem is vir hul "eie beskerming" en om kos te kry. Hulle mans, op die oorlogsfront, kon dan volgens hom nie vir hulle sorg nie.

Hy sê niks daarvan dat die mense teen hulle wil na die kampe geneem is, dat hulle plase en oeste op die lande doelbewus afgebrand is in ’n verskroeide aarde-beleid nie, dat hulle in die kampe min en vrot kos gevoer is nie en dat die mediese dienste verby beroerd was nie. Uiteraard sal hy ook nie ’n woord rep oor die eindeloos-ellendige verarming van die boere toe hulle na die oorlog ’n stuiwer of wat as vergoeding van die Britse Ryk gekry het nie.

Hy weet blykbaar nie van Emily Hobhouse. sy beroemde landgenoot nie, iemand wat as verraaier uitgekryt en verag is, nadat sy die wreedheid van die konsentrasiekampe van naderby ervaar en aan die kaak gestel het.

Dit is ironies verby dat die slagoffers in die konsentrasiekampe meestal van hongersnood, ondervoeding en ekstreme leeftoestande gesterf het in kampe waar hulle "gevoed" en "veilig" gehou is.

Dit is skandalig en afstootlik dat iemand so iets kan kwytraak - en dat hy dan nog applous van die gehoor ook kry.

Dit is ondenkbaar dat in die nuwe millennium iemand in hoë politieke kringe in een van die wêreld se voorste demokrasieë, op die manier aan een van die gruwelikste oorloë in die moderne tyd ’n netjiese, mooi gesig wil gee.

Ondenkbaar - want dit was ’n oorlog waarin 17 persent van die bevolking gesterf het, waarvan die verre meerderheid kinders onder tien jaar was. En dit was juis die konsentrasiekampe wat die moordwapen was.

’n Mens moet uiteraard dieper gaan kyk na die dryfveer agter die oorlog om die aakligheid van sy rasionalisering van die konsentrasiekampe te peil; die naakte gierigheid, magsvergryping en self-verryking van ’n oppermagtige koloniale bewind. Hand aan hand daarmee is die Britse koloniale mag gedryf deur ’n naakte rassisme wat inheemse bevolkings en politieke opponente as onderontwikkeld geminag het en patroniserend voorgehou het as minderes wat vir hul eie beswil deur die "beteres" geregeer, beskerm en dan"gevoed" moet word.

Dit is die soort meewarige, vernietigende rassisme teenoor die "ander", die "onopgevoedes", wat later in die apartheidstyd weer sou kop uitsteek en ons land ’n hou toegedien het waarvan ons, lyk my, vir geslagte lank nie gaan herstel nie.

En die man, die dwaas van ’n Rees-Mogg, laat my ook ’n bietjie dink dink aan daardie mense in ons eie land wat deesdae so gou is om ons eie verlede "goed te praat." Hulle meen nog, soos iemand onlangs hier rond skryf, dat al wat fout was, was die irriterende "klein" apartheidsdingetjies in ons geskiedenis. En dan wil hulle redeneer dat die verlede stukke beter was as die huidige gemors waarin ons land gedompel is deur korrupsie en gierigheid. Net soos Rees-Mogg wat met sy absurde revisionisme die konsentrasiekampe as mooi broodjie bak. Niks in die matelose korrupsie en ellende van die hede kan ’n goedpraat van apartheid regverdig nie. Ek lees in hierdie tyd weer Antjie Krog se Country of my Skull, ’n boek wat die skaamteloses moet lees as hulle wil weet wat werklik gebeur het. Die konsentrasiekampe is niks anders as een van die grootste skandvlekke in die geskiedenis van die Britse Ryk. Niks daarin kan verfraai word nie. Net soos rassisme.

Oorlog met sy doodslag en konsentrasiekampe is sleg, tot op die been. Nie net oor wat mense daardeur ly nie, maar ook oor die slegte gevoelloosheid wat dit weerspieël en oor geslagte heen bly skep.

Ons het nog nie werklik gepeil watter diepsinnige woord die eenvoudige "Geseënd is die vredemakers" was nie. En hoe radikaal dit was in ’n tyd toe oorlog as die groot dade van die dapperes verheerlik is nie. Eers wanneer ons die woord internaliseer en vrede jaag, sal verontwaardiging oor oorlog ’n lewenswyse word.

  • 7

Kommentaar

  • Hulle vertel ook nie hoeveel vrouens en kinders is dood van "blouvitrioel" en ysterhakkies wat in die vleis was nie. My grootouers was almal in daardie oorlog. Ek raak sommer warm onder die kraag.

  • Leer uit Foute van Verlede Vlakvark

    Lees beslis die werk van Robert Hughes: The Fatal Shore - Epic of Australia's founding oor die Engelse Upper-class Elite se ware motiewe met die "convict system".
    Netso, bestudeer die uitstekende werk van Marthinus van Bart se "Kaap van slawe" oor die Engelse se grootskaalse betrokkenheid in die slawe-bedryf, ook in Suid-Afrika.
    Netso, wat van al die Britse weeshuis- en verwaarloosde kinders wat na Kanada, Suid-Afrika en Australië uitgevoer is. Gaan vind uit wat was die Britte se ware motiewe en die impak van daardie besluite op daardie kinders.
    Netso, al gelees van die rede vir die Chinese opium-oorloë en die rede vir die Engelse se betrokkenheid?
    Op vele Engelse troepe se grafte is 'n metaal kruis geplant met die woorde daarop "Died for King and Empire". Jong Britse lewens opgeoffer. Waarvoor? Vir die English Upper-class Elite se magsbeheptheid en gierigheid. Wie kan die presiese dodetal en menselyding weens die dade van die British Empire kwantifiseer?
    Caveat! Welke volk of nasie het nie bloed aan sy hande nie? Welke volk of nasie is heiliger as heilig, hande wit soos melk?
    Laat ons en ons nageslagte almal leer uit die foute van die verlede om dit nooit weer te herhaal nie. Maar dan moet ons en ons kinders die geskiedenis uit innerlike oortuiging bestudeer.

  • Chris Marnewick SC

    Daar is mense wat so verregaande en dwars is dat mens hulle liewer moet ignoreer.

    'n Staaltjie uit die kampe: My tante Awie het 'n wakis uit Irene se kamp in haar voorhuis in Potgietersrus gehad waarin die kinders wat siek was destyds weggesteek is tydens inspeksies want "niemand wat in die hospitaaltent opgeneem is het weer lewendig uitgekom nie."

  • Matthys Strydom

    Dié man kan gerus Hélène Opperman Lewis se merkwaardige boek Apartheid, Britain's Bastard Child lees. Hy behoort dit te kan verstaan - dis in goeie Engels. Dit wil sê, as hy dit nie as gevolg van skaamte neersit voor hy klaar is nie.
    Dit beskryf duidelik die skade en pyn wat Engeland se inhaligheid oral oor die wêreld in sy kolonies veroorsaak het, hoe die Anglo-Boereoorlog op Suid-Afrika afgedwing is, maar ook hoe die vernedering van die Afrikaner deur die Britte gelei het tot die afskuwelike Apartheidsbeleid - iets waarvan ons nog vir geslagte lank die wrange vrugte sal moet eet.

  • Ek het 'n vriend gehad wat altyd die gesegde gebruik het wanneer iets aan die absurde/banale/verregaande gegrens het. Dit was ook toevallig in Ingels, "How ghastly to contemplate". Ek ken nie die man persoonlik nie, maar ek gaan my ook nie uitlaat oor sy obskure mening nie. Die eilandbewoners het mos maar altyd 'n oordrewe verwaandheidswaansin gehad. Geen wonder dat een of ander Ingelsman nadat hy gesê het, "The sun never sets on the British Empire" teruggekap is met "Because the Lord can't trust the Inglish in the dark" nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top