Brit blog soos Boerseun – ontmoet Alexander Ord

  • 1

Alexander Ord is ’n Engelssprekende Brit en hy bly in Engeland. Naomi Meyer het om ’n spesifieke rede in die blogwêreld van hom te hore gekom, hom opgespoor en hom ’n paar vrae gevra.

Hallo Alexander, en dankie vir die geleentheid tot gesprek. Ek sit hier en lees jou blog van ’n kant af. Lyk my jy leer al Afrikaans van 2006 af. Of hoe? Vertel asseblief vir mense wat nog nie jou blog gelees het nie, wie jy is en waarom dit so eienaardig is dat ek nou juis in Afrikaans met jou ’n onderhoud voer ...

Ek het in 1998 begin leer, net ’n paar maande nadat ek universiteit in Leeds verlaat het. ’n Kollega het gesê dat ek Afrikaans moes leer toe ek gesê het dat my pa Suid-Afrikaner is. Hy praat ’n bietjie Afrikaans en sê dis nie te moeilik nie, so gaan ek ’n boek kry en begin leer. My werk was baie vervelig en ek het baie min gehad om te doen, so het ek dikwels verdwyn en na die biblioteek toe gegaan om oor Afrikaans in die ensiklopedieë te lees. Dit was baie pret om iets nuuts te leer.

Toe, in 2006, stel ’n vriend voor dat ek ’n blog begin skryf oor my pogings om Afrikaans te leer. Ek lees nou my ou skrywes en dink my Afrikaans was verskriklik! Dis goed om te oefen en ek probeer om elke paar dae te skryf. Nou en dan los ander leerders kommentaars, so dis ’n goeie manier om hulle te vind, en om idees en raad te deel.

Ek sien Afrikaans as ’n ander vorm van kommunikasie, maar natuurlik is die geleenthede om in die buiteland te oefen meer beperk as met sommige ander tale.

Ek vind jou Afrikaans verbysterend goed – trouens, jy spel en klink op papier gemakliker en beter as wat die meeste Afrikaanse mense deesdae skryf. Ek vermoed jy het ’n aanvoeling vir tale. Is daar enige ander tale wat jy ook kan praat?

Ek praat seker ’n meer formele vorm van Afrikaans wat nader aan Standaardafrikaans is as dié wat die meeste mense as moedertaal praat. Ek probeer om noukeurig te wees, om die regte grammatika en woorde te leer, maar ek weet dat mense nie so praat nie. Ek hou ook van baie Engelse leenwoorde wat mense nou sê – daar’s ’n sekere sjarme oor om te iets sê sodat mense jou kan verstaan as jy nie die regte woord ken nie.

Dis anders om ’n vreemde taal te skryf en lees as om te praat, want dikwels sien mense nie dat jy ’n leerder is as jy skryf nie. As jy ’n vreemde taal leer, praat jy die ander taal met ’n groot invloed van jou eie moedertaal en die manier waarop ek Afrikaans praat is baie nader aan die manier waarop ek Engels praat.

As ek ’n taal wil leer, wil ek ’n standaardvorm leer sodat ek die regte spelling en grammatika leer. Ek wil nie slegs slang leer nie, ek wil dit goed praat. Dit pla my ’n bietjie as mense sê hoe hulle in die ander taal kan vloek en dan trots voel daarop - ek dink hoekom wil jy nie goed kan kommunikeer nie? En ook as ek lees, skryf ek ’n woordlys met nuwe woorde sodat ek my woordskat kan laat groei.

Ek lees Afrikaans aanlyn en op Twitter en Facebook, so vind ek interessante skrywes op Beeld, Burger, Rapport en Republikein en die ander Afrikaanse webblaaie wat ek volg. Eendag beplan ek om ’n Afrikaanse verhaal te skryf, maar as jy sien hoe lank ek neem om aan jou terug te skryf, twyfel ek dit gaan binnekort geskryf word.

Die ander ding wat ek die hele tyd gebruik, is die Afrikaans Wikipedia. Ek hou baie van Wikipedia en het ’n paar klein artikels geskryf. Ek wil meer skryf, maar verkies om te skryf oor onderwerpe wat nie aan Afrikaans of Suid-Afrika verwant is nie om die webblad te laat groei. Dis goed om te wys dat die Afrikaanse weergawes nie in hulleself gekeer het nie.

Ek het ook Duits en Sweeds in nagskool geleer maar het amper al my Sweeds vergeet. ’n Kennis van een Germaanse taal, soos Afrikaans, help beslis met om ander Germaanse tale te leer. Elke paar maande besluit ek om Spaans te leer maar dan doen ek baie min en verloor my belangstelling. Ek vind die idee van Esperanto baie interessant, maar ongelukkig nie genoeg om ’n ware poging te maak om te leer.

Karretjiemense buite Britstown in Noord-Kaap, Suid-Afrika. Junie 2008 (foto en byskrif: Alexander Ord)

Waarom volhou om ’n “ander” taal in die buiteland te praat? Voel jy nie soos ’n goudvissie in ’n klein poeletjie wat maklik toeslik nie? Is daar ander vars, nuwe water wat inkom? Ek bedoel maar net of daar ander Afrikaanse mense is met wie jy kan gesels, of blog jy eenvoudig met ysere selfdissipline voort hoewel almal rondom jou Engels praat?

Londen is vol mense wat ander tale praat, so dit voel nie vreemd om dit te praat nie. Ek stuur e-posse en teksboodskappe aan Suid-Afrikaanse vriende in Afrikaans, beide Afrikaans- en Engelstaliges, maar soos jy sou dink, word dit moeiliker om Afrikaans te praat as jy in die kroeg is. Ook praat ek Afrikaans nie so dikwels soos ek wil hê nie, so sukkel ek soms met die uitsprake en hoe snel almal praat. Ek moet eers opwarm en dan is alles goed.

Die ding wat ooglopend is, is dat Afrikaans nou aanlyn floreer. Daar’s baie mense wat dit leer en daar’s nuwe leerstof beskikbaar in boekwinkel te koop, wat wys dat mense belangstel. Ek ken vir mense in Amerika, Swede, Kanada, Rusland and Japan wat Afrikaans leer, uit die Learn Afrikaans-groep.

Een goeie blog is Tommy Roddy se "Verdant SF"-blog. Hy is Amerikaner in San Francisco wat ’n interessante Afrikaanse blog skryf. Daar’s ook baie ander leerders in die buiteland wat beter Afrikaans praat as wat ek praat, veral Alex Rawling, wat vroeër in die jaar in koerante was oor sy baie indrukwekkende kennis van Afrikaans. Dit blyk dat Afrikaans ’n populêre taal is vir leerders.


Uitsig van die Kaapse Skiereiland af oor Valsbaai, Suid-Afrika. Junie 2008 (foto en byskrif: Alexander Ord)

’n Bietjie naeltjie-beskouing: dit sal eintlik vreemd wees as ’n Brit met ’n Afrikaanse persoon ’n onderhoud voer omdat hy Engels leer praat het. Hier praat ons almal ook Engels, want ons moet! Ek wonder of dit ’n kolonialistiese nalatenskap is van julle magtige Ryk daar op die Koningin se eiland, of hoe dink jy? Vind jy dat mense in die algemeen verbaas is of positief reageer as hulle hoor jy leer Afrikaans?

As mense vra hoekom ek Afrikaans praat, sê ek net dat my pa ’n Suid-Afrikaner is. Dis waar, maar verklaar nie hoekom ek Afrikaans praat nie, maar soms is dit net makliker. As ek eintlik verduidelik hoekom en praat ’n bietjie daaroor, reageer mense op ’n positiewe manier en is ’n bietjie nuuskierig, veral as ek moet verduidelik ek is nie Suid-Afrikaner nie en probeer nie om te wees nie; ek wil net Afrikaans goed praat, want ek het besluit om die taal te leer. Byvoorbeeld verkies ek “voetbal” bo “rugby” – ek is ’n Arsenal fan – en probeer nie om te verafrikaans nie, maar in my ervaring is dit feitlik Engelssprekendes wat ’n bietjie deurmekaar of skepties is.

En soms wonder ek hoe anders alles sou gewees het as ek ’n ander taal gekies het.

En nog ’n tameletjie van ’n vraag: Wat dink jy van die politieke bagasie van die taal Afrikaans? Dis onafwendbaar, dit kán net nie anders nie – Afrikaans word deur baie mense gesien as tradisioneel ’n wit taal, geassosieer met apartheid. Dis ’n taal bevlek met skuld. Of dink jy Afrikaans kon al so ’n bietjie van hierdie sware dinge afskud? Hoeveel mense wat nie wit is nie en nie rassisties is en ou landsvlae rondswaai nie, ontmoet jy wat graag met jou Afrikaans praat?

Ja, dis die een onderwerp wat ons nie kan vermy nie. Een interessante artikel wat ek ’n paar jare gelede gelees het, was die Taaltoer op LitNet en ook hierdie een in Beeld verlede jaar. As buitelander en leerder is dit vir my ’n groot aanmoediging om te sien hoe verskillende mense in Suid-Afrika lief is vir die taal.

Toe ek laas in Suid-Afrika en Namibië in 2008 was, sien ek orals mense wat Afrikaans praat. Dit wys dat ek nie my tyd verspil nie. Hopelik sal mense Afrikaans minder en minder met daardie tydperk assosieer, maar aan die ander kant moet ons nie vergeet nie.

Die ding wat my ook baie interesseer is die nie-Afrikaners wat Afrikaans praat. Daar’s ’n persepsie dat die taal net die taal van blankes is en ek dink as Afrikaans sy beeld wil verander, moet dit al die verskillende gemeenskappe se sprekers insluit om te wys hoe dit is die lewende taal van miljoene. Soos Engels, het Afrikaans baie sprekers wat Afrikaans as tweede of derde taal praat wat belangrike bydraes maak.

As leerder stel mens voor tipiese Afrikaner kulturele aktiwiteite, soos boeremusiek, die beroemde - en spesifiek Afrikaner - sangers, digters, skrywers, geskiedenis ensovoorts. Hulle is belangrik en interessant, maar ek dink die fokus op hierdie tradisionele aspekte sou mense afskrik. Sonder al die ander groepe, dink ek Afrikaans sou dalk sukkel om ’n nuwe identiteit te vind.

Die tipe Afrikaanstalige kultuur waarvaan ek hou is dieselfde as die Engelstalige kultuur waaraan ek gewoond is. Bands soos Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel (ek het hulle op ’n paar kere in Londen sien speel), Kobus, Klopjag en ook Afrikaanse hip-hop, in die besonder Terror MC. Twee Afrikaner-vriende het ook onlangs Afrikaanse boeke gepubliseer wat ’n bietjie anders as die gewone tipe Afrikaanse boeke is – een is ’n wetenskapfiksieverhaal, die ander is ’n geïllustreerde kinderverhaal.

Hoeveel Afrikaanse mense loop jy raak en waar hoor jy die meeste Afrikaans in jou onmiddellike omgewing?

In ’n stad soos Londen kom en gaan mense die hele tyd, so gewoonlik skryf ek Afrikaans in e-posse en tekste met vriende. Ek het Engelstalige Suid-Afrikaanse vriende wat Afrikaans met my gebruik, maar jy kan nie altyd hê dat ander mense ’n verskillende taal met my wil praat nie. Ek skryf meestal aan vriende in Londen en oorsee, so gebruik ek dit daagliks.

Ek probeer elke geleentheid gebruik om Afrikaans te praat, maar soms wil ek net Engels praat, want dis my taal, dis makliker en dis ’n ander fantastiese taal.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top