Bring terug die goeie ou dae

  • 2

Merlyn van der Rheede

Waar is die goeie ou dae waar jy die telefoon opgetel het om lang gesprekke met familie en vriende te hê om oor hul wel en wee uit te vind of om iemand met sy of haar verjaardag geluk te wens? Deesdae is telefoongesprekke, net om sommer te klets, 'n rare verskynsel, want alles moet blitsig gedoen word. Teksboodskappe, maar meer WhatsApp-boodskappe, is aan die orde van die dag. Woorde word tot die minimum beperk, want om emoji's te gebruik is net sóveel vinniger en makliker! Moet my nié verkeerd verstaan nie. Tegnologie is hier om te bly en dit maak ons lewe inderdaad makliker. Ek kan my nie voorstel hoe ek al my afsprake gaan nakom sonder programme soos Waze of Google maps wat ons male sonder tal na ons bestemmings lei nie.

Maar oorheers hierdie tegnologie nie ons lewens nie?

Die vierde industriële revolusie is op almal se lippe en ons predik aan ons jeug dat hulle gerat moet wees vir werksgeleenthede wat hierdie nuwe era gaan bied. Ons leef in 'n veranderende wêreld waar jy jou vaardighede voortdurend moet opgradeer om by te bly met al die hedendaagse tegnologie. Ons lees koerante op slimfone om op koers met nuusgebeure te bly; ons ontvang e-posse op ons Apple-horlosies; ons bevriend en gesels met onbekendes op sosiale media en volg vriende met mening om tred te hou met hul doen en late. Maar dan tog, met al die hipermoderne tegnologie, word belangrike e-posse, teks- en WhatsApp-boodskappe in die werksplek of sosiaal net geïgnoreer. Dit het byna ’n algemene tendens geword, en die verskoning is gewoonlik dat daar nie genoeg tyd in die dag is om alles gedaan te kry nie. Ek dink dat in hierdie hele tegnologiese proses iets van menswees verlore gegaan het. Wat het van etiket geword? Gee mense nie meer om hoe hulle optree nie? Is dit nie bloot goeie maniere om op boodskappe, van watter aard ook al, te reageer nie? Wat het van ons samelewing geword as hierdie soort gedrag heel aanvaarbaar is? Ek het 'n broertjie dood hieraan. Dit is 'n alledaagse taak om opvolgwerk te móét doen, van watter aard ook al.

Almal praat van die wetteloosheid en verval van ons pragtige land. Maar kyk bietjie om jou rond wie almal padreëls en wette verontagsaam. As jy jou selfoon gebruik terwyl jy bestuur, is dit in orde? Elke nuwe e-pos of teksboodskap moet nóú gelees word; dit kan nie wag nie, of jy bestuur of nie, maar tog is dit nie ‘n antwoord werd nie. Ons kan nie vinger wys na ander terwyl ons self skuldig is nie. Ons land is nie slegs in wetteloosheid gedompel nie, maar ook in ‘n emosionele verval van sy mense. Waar is die goeie ou dae, toe mense nog mense was?

Kom ons keer terug na die basiese – om kwaliteittyd met die familie en vriende te geniet en om altyd respek te betoon.

  • 2

Kommentaar

  • Marietjie Warrington
    Marietjie Warrington

    'n Heerlike brokkie waarheid Merlyn van der Rheede! Ekself verlang terug na die goeie ou dae ...

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Twitter is die heel ergste. Waar het jy al gesien mense praat so met mekaar? En wat word daarmee bereik?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top