Bring nasionale diensplig terug

  • 7

Ons land brand. Letterlik en figuurlik.

Die dorpie waar ek bly, Grabouw, is gereeld in die nuus vir protes wat handuit ruk en oorspoel na die nasionale paaie. Al meer begin buurdorpe soos Botrivier, Kleinmond en Sir Lowry’s-pas dieselfde roete volg. Te veel mense, nie genoeg infrastruktuur nie, en verbeeldinglose politieke leierskap is ʼn drukkokerresep waarvan enige anargis droom. Met ʼn nasionale verkiesing om die draai word die krane oopgedraai. Selfs Ace Magashula het tyd afgestaan uit sy besige skedule van joernaliste intimideer en op kamera geld uitdeel aan arm weduwees om te kom simpatiseer by ʼn ANC-lid wie se dogter die naweek oorlede is. Onder luide fanfare en voor kameras, natuurlik.

Intussen kom die winter nader, en huise is ongebou, paaie moet gelap word, rioolverwydering en watervoorsiening laat veel te wense oor, mediese voorraad word nie afgelewer nie, daar is nie genoeg medici om te voorsien in die bevolking se behoeftes nie, voedselproduksie is onder druk. Kindertjies kry tuberkulose, grootmense ontwikkel longaandoenings. Mense slaap buite omdat hulle geen heenkome het nie, en verkluim.

Die ander kant van die muntstuk is ʼn meer bevoorregte deel van die samelewing wat treur oor die Notre Dame-brand, maar wat te oorweldig voel om enigiets te doen wanneer die plakkerskamp hier by hulle deur vuur verswelg word.

Ons is besig om stadig maar seker ʼn kruispunt te nader, een waarvan daar geen terugkeer moontlik is nie. As dit reg bestuur word, kan daardie punt ons land se redding wees. Kyk maar net na Rwanda. 25 jaar na een van die grootste humanitêre krisisse wat Afrika ooit getref het, ʼn ware volksvernietiging vir dié wat die woord so ligtelik rondswaai, is Rwanda ʼn voorbeeld vir die res van Afrika. Die rede vir hul sukses is eenvoudig: Politieke wil om te herstel is groter as ʼn aptyt vir vernietiging en wraak.

Hier by ons ontbreek die politieke wil nog. Nou is dit juis nie die tyd vir diplomasie wat afbrekende magte probeer akkommodeer nie. Dis tyd vir beslissende leierskap en aktiewe samewerking deur die burgery.

Hoe? Ons moet almal saam begin werk om ons land op te bou. Die herstel van die dorpie Coligny is een inspirerende plaaslike voorbeeld. Ons kan dit groter doen in die res van die land.

Hoekom nie byvoorbeeld nasionale diensplig herinstel nie? Hierdie keer nie om burgers te leer hoe om ander burgers af te maai en te onderdruk nie, maar om te leer opbou. Daar is soveel jongmense wat werkloos is na matriek, of wat skool selfs vroeër verlaat. In stede daarvan dat hulle doelloos op straat ronddwaal, maak hulle deel van ʼn georganiseerde program om vir minstens ʼn jaar aan die staat af te staan. Gaan ooreenkomste aan met organisasies soos Habitat for Humanity, of openbarewerkprogramme, of ander nieregeringsorganisasies wat mediese dienste ens verrig. Lei hulle op, leer hulle huise bou, tuine aanlê, paaie herstel, basiese nooddienste verrig, loodgieterdienste verrig. Stel hul dienste beskikbaar aan organisasies soos Gift of the Givers.

Die program kan selfs met die dissipline van militêre diensplig hanteer word. Die enigste voorwaarde: hou dit weg van tenderpreneurs en politici. Daar sal groter sekerheid wees, want matrieks weet dan hulle het iewers om heen te gaan na skool, plus hulle word toegerus met vaardighede wat hulle na daardie jaar (of twee) kan gebruik. Verder word ons land opgebou.

Bestaan die politieke wil om hierdie, of ander soortgelyke inisiatiewe te begin? Nog nie. Maar in elke geval waar daar binne ʼn samelewing verandering gekom het, het dit vanuit die burgery begin. Nie van die politici nie.

Dit het tyd geword dat ons burgery begin stem dik maak vir positiewe verandering.

  • 7

Kommentaar

  • 'n Edel gedagte, Bettina. En een wat wyd byval sal vind by alle groepe en vlakke van ons samelewing. Maar ek vrees dat ons staat doodeenvoudig nie die burokratiese en begrotingskapasiteit het om 'n program van hierdie omvang uit te rol nie. En dit is nie die pessimis in my wat praat nie; dit is die realis.

  • Daar is sekerlik meriete in die gedagte, maar die logistiek asook die astronomiese koste daaraan verbonde is beslis bokant die vuurmaakplek van die bestaande regering. Daar word gepraat van dissipline. Dis 'n konsep wat maar weinig aanklank gaan vind by die jeug van vandag - mense wat gou is om eiendom brand te steek as daar nie aan hulle eise gehoor gegee word nie. Soos ek sê, die gedagte het beslis meriete en miskien is dit juis wat nodig gaan wees om 'n klompie werklose matrikulante koers in hulle lewens te gee. Maak net seker dat al die bevolkingsgroepe en rasse betrek word om die skep van 'n rasse-tydbom te voorkom. Miskien leer almal dalk net om saam te werk in die proses.

  • Baie goeie gedagte. Eerder fondse hierin ploeg as iets soos die National Youth Development Agency van wie mens nooit iets hoor nie en nugter weet wat doen. Indien SARS sy kant met belastinginvordering bring, begrotings word effektief bestuur om verkwisting, ongemagtigde uitgawes, wanbesteding, diefstal en korrupsie hok te slaan sal daar moontlik genoeg fondse vir inisiatiewe van hierdie aard wees. Lê net die tenderpreneurs en aasvoëls aan bande anders is dit uit die staanspoor tot mislukking gedoem.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Bettina sê: "Die ander kant van die muntstuk is ʼn meer bevoorregte deel van die samelewing wat treur oor die Notre Dame-brand, maar wat te oorweldig voel om enigiets te doen wanneer die plakkerskamp hier by hulle deur vuur verswelg word."

    Komaan, dis 'n onvanpaste sin met byt en nyd. Om Notre Dame met 'n plakkerskampvuur te vergelyk is 'n oorvereenvoudiging en geensins toepaslik nie. Dis ook nie "ʼn meer bevoorregte deel van die samelewing" wat treur oor Notre Dame nie. Dis mense van alle sosiale vlakke, gelowe en kleur wat geskok staan en ja, "treur" oor 'n kultuurhistoriese ramp wat beskawings definieer en vir eeue 'n ikoniese staanplek in een van die mooiste stede in die wêreld (gehad) het.

    Brandende plakkerskampe is uiteraard tragies en verg menslike hantering en optrede, maar mense voel hoe hulle voel en word nie voorgeskryf hoe hulle moet voel oor gebeure nie. Rampe lok verskillende reaksies by verskillende mense om verskillende redes uit. Dis bloot 'n feit. (Kyk byvoorbeeld na foto's waar mense van ander geloofsgroepe hulle in die Notre Dame-ramp verlustig het.)

    Om dus die een ramp teen die ander af te speel is onnodig en lyk te veel na 'n verskuilde agenda wat so springlewendig in SA is – een van vingerwysing of dan die "blame game ..." Los dit liewer.

  • Ai me Wyngaard, jy het darem net die vermoë om my elke keer sprakeloos te laat met jou skrywes. Die probleem in die land is, die mense wil nie werk nie. Hoekom sal ek wil werk as ek op my stert by die huis kan sit en elke maand 'n toelaag kry? Die huidige regime het 'n monster geskep wat in dag des lewens nooit nekom gedraai gaan word nie. Toelaes is daar om te bly. Luigatte is daar om ook te bly.

  • Vir diensplig is 'n opleidingsentrum van goeie gehalte en personeel nodig. Volgens
    https://www.defenceweb.co.za/sa-defence/sa-defence-sa-defence/sas-military-facilities-by-and-large-acceptable-and-fair/ is die SANDF se fasiliteite ontoereikend.
    Met so 'n agterstand is diensplig nie 'n opsie nie. Sonder om swartgallig te raak is dit duidelik dat alles onder beheer van die staat, die afgelope 25 jaar met die ANC aan bewind in duie gestort het of op die punt staan om in duie te stort.
    Om nou met groot fanfare aan te kondig dat “alles nou reggeruk sal word” is mi die toppunt van politieke opportunisme en uitbuiting van kiesers se goedgelowigheid.

  • Lankal nodig om in die rigting te dink - dit sal verseker help om insig te lewer aan die wat dink afbrand is die oplossing.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top