Breytenbach Sentrum-persverklaring: Grond, ’n groepsuitstalling van Cobus van Bosch en Estelle Marais

  • 0

’n Groepuitstalling met Cobus van Bosch en Estelle Marais
Die openingspreker is Kabous Meiring
Opening: Saterdag, 26 Februarie 2022 om 11h00

(Die uitstalling duur tot die 7de April 2022)

Die kwessie van grond was nog altyd ’n tameletjie in Suid-Afrika. Volgens Ampie Coetzee se boek, ’n Hele os vir 'n ou broodmes, het die kwessie rondom grond reeds in die dae van Jan van Riebeeck begin, soos opgeteken in sy dagboeke. Vandaar dus die inspirasie vir die tema.

Volgens Cobus van Bosch is sy skilderye meestal nabyskote van mense se gesigte en nie noodwendig portrette van individue nie. Hy sien hulle eerder as uitdrukkings van die menslike kondisie. Cobus sê dat daar emosionele lading is wat gelees kan word teen die vervreemde invloede en nagevolge van die werklikhede van ons eietydse bestaan.

Estelle Marais het gaan kyk na die betekenis van die woord GROND. Komende van ’n plaasagtergrond, het sy tot die slotsom gekom dat daar ’n verskil is tussen die woorde PLAAS en GROND. Grond is vir haar ’n abstraksie, ’n ruimte waarop mens, dier en plant nie sy merk gelaat het nie. Teenoor die woord PLAAS, dit wat lei tot oorloë en onmin; die iets wat die mens begeer om te besit.

Deur haar skilderye het sy gepoog om die ware gevoel van grond weer te gee, die onaangeraaktheid, die siel van die konkrete oer-eenheid.

Sluit by ons aan vir hierdie uiters nodige gesprek rondom grond. Ons gaan praat oor onder andere ons erfenis, wetgewing, die rehabilitasie van grond en meer.

Die gespreksleier is Kabous Meiring en die deelnemers aan die gesprek is Chris Burgess, Lennox Plaatjies, Petrus Bosman en Martli Slabber.

Kaartjies kos R50 en sluit ook ’n glas wyn in.

RSVP: galery@breytenbachsentrum.co.za / 083 415 0002

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top