Breytenbach stel op weg na kû in Kaapstad bekend

  • 0

’n Stampvol boekwinkel begroet ’n ieder en elk dié Woensdagaand net voor halfses en een ding word gou duidelik: as jy die bekendstelling van die ikoniese digter en skrywer Breyten Breytenbach se jongste bundel op weg na kû wou bywoon, moes jy vróég jou sitplekkie kom reserveer het.

Ja dit is so – The Book Lounge op die hoek van Buitenkantstraat bars uit sy nate; vir selfs ’n muis is daar nie eens plek nie. Dit keer egter nie laatkommers om steeds hoopvol te soek vir ’n gaatjie of hoekie om te staan nie, of selfs die verrigtinge van buite deur die groot vensters dop te hou nie.

Met ’n glas wyn in die hand en ’n bundel onder die blad sit of staan menige gas. Die aand is jonk en die atmosfeer gesellig, ten spyte van die hitte as gevolg van almal wat bankvas teen mekaar staan. Die hitte en seer voete van die staan sal almal maar egter trotseer, want dié is nie ’n geleentheid wat enige Breytenbach-aanhanger wil misloop nie. Dit is nie aldag dat jy dié legende in lewende lywe sy gedigte kan sien voordra nie.

Talle bekendes kon ook nie die geleentheid misloop nie, soos die uitgewer Annari van der Merwe, wat op 25-jarige ouderdom haar PhD oor Breytenbach se digkuns voltooi het. Ampie Coetzee, Kerneels Breytenbach en David Kramer en sy vrou is ook in die gehoor. Breytenbach se vrou Yolande en sy broer Cloete Breytenbach is ook teenwoordig. Riku Lätti behartig die klank.

The Book Lounge op die hoek van Buitenkantstraat bars uit sy nate (Foto: Menán van Heerden)

Volgens die uitgewer Human & Rousseau bevat op weg na kû "bepeinsings, gedagtes, digterlike hoogtepunte en kort-kortverhale" wat vergesel word van ’n verskeidenheid foto's, onder andere van landskappe of van Breytenbach se eie en ook ander kunstenaars se skilderye, "in vele opsigte ’n gesamtkunstwerk, soortgelyk aan Katalekte in 2012". Die bundel is opgedra aan wyle outeur Tom Gouws, wat verlede jaar deur rowers by sy woning doodgeskiet is:

Ter herinnering aan Tom Gouws,
in die hart geskiet deur lafhartige rowers
die 25ste Julie 2018.

Op die voorblad pryk een van Breytenbach se kleurvolle kunswerke van 2009, "Boetatjie van die Kaap".

Die gedruis van vrolike stemme in die boekwinkel word skielik stil toe Breytenbach op die verhogie klim. Die oomblik het aangebreek. ’n Hele paar dekades na sy debuutbundel van 1964, Die ysterkoei moet sweet, stel hy vanaand sy soveelste bundel aan die afwagtende gehoor bekend.

Aanhangers wag vir Breyten Breytenbach om hulle bundels te teken (Foto: Menán van Heerden)

"Eers net enkele erkennings aan te veel gode en gidse, borge en nagte en drankwinkels, en ander instansies. Vir al te veel mense met eindelose geduld om op te kan noem," bedank hy die uitgewer Human & Rousseau en almal wat ’n bydrae tot die bundel gelewer het.

Breytenbach slaan sy bundel oop by die eerste van vele gekleurde merkertjies wat die werke merk wat hy vanaand wil voorlees.

"Without further ado, die gedigte."

Hy begin van sy werke voorlees, onder andere “weer en verweer: maanpoen vir die 16de September 2016: monoloog vir twee monde”:

… nie weer-gee nie, maan hy hom toe –
beklink eerder saam-wees
en bedink dat daar sand in die ink is
en musiek in die sand
en musiek is beweging
van stilte tot stilte

al verg die soeke na die tekens van betekenisse
in die nag ook die kromme note
van ’n volgehoue konsentrasie

gaan plant liewers jou woorde soos klippe
dat die maan op mag kom
                    brom sy vrou –
kyk, die pampoen het haar lankal versoen
met die vrotword van alle vesel
verby die ontvlesing, vergeet en verdwyning
                   van gedagtes
waar net die weersaam en geewees van die hand
soos krapspore oor die land van papier
die maan se opkomen ondergaan
in lig verduister nog bestaan van stilte tot stank ...

Aandagtig sit en luister die gehoor, sommige met toe oë terwyl ander die verte in tuur, die woorde soos stroop uit sy mond.

Te gou is die voorlesing verby. Die gehoor word die geleentheid gegun om vrae aan Breytenbach te stel en na die tyd word verversings in die kelder geniet. Gretige Breytenbach-aanhangers vorm ’n tou om die geleentheid te kry om hulle held in lewende lywe te ontmoet en tog net hul eksemplaar van op weg na kû te laat teken. Só eindig die aand op ’n hoogtepunt.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top