Net soos in sy lewe, sal Breyten Breytenbach na sy dood ’n lewende aanwesigheid wees. Sy skilderkuns, poësie, drama, prosa en besinnende werk sal mense nog lank besig hou.
Ek het Breyten die eerste keer in Julie 1993 by die nou bekende seminaar “Afrikaans uit die doofpot” by Wits gesien. Daarna, vanaf 1993, het ek die voorreg om verskeie kere in gesprek met hom te tree – die laaste keer hier rondom 2015. Hierna het ons nog sporadies op e-pos gekommunikeer. In hierdie huldeblyk wil ek egter vanuit die persoonlike beweeg na dit wat my van vroeg af in Breyten geïnteresseer het, naamlik hoe sy kuns met ’n bepaalde lewensbeskouing of filosofie mag verband hou. Die oorgrote kere wat ek met hom in gesprek was, het oor hierdie verbindingsplekke gegaan. Tewens, wil ek by hierdie geleentheid nie net op die gesprekke tussen ons terugval nie, maar eerder op ’n jarelange lees van sy poësie, prosa en besinnende werk. Met Breyten, wat so ’n persoonlikheid gehad het en altyd op persoonlike vlak met ander persone gekommunikeer het, moet mens waak dat die persoonlike ervaring van die mens nie by jou oorneem nie.

Breyten Breytenbach (foto: Izak de Vries)
Kortom, dit gaan hier oor ’n voorlopige waardering (as tipe huldeblyk) wat die volgende motiewe in sy kuns en besinnende werk onder die loep neem: jeugherinneringe, ’n komplekse spiritualiteit, vervreemding en ballingskap, politieke verset en aktivisme, en taal as ruimte van mag en weerstand. Natuurlik is daar ook ander motiewe by Breyten, maar hierdie is ’n voorlopige interpretasie wat graag tot ’n kritiese gesprek met sy groot oeuvre wil bydra. Hierdie is geen persoonlike oordrag van die een of ander stel binnegeheime tussen my en Breyten nie, eerder ’n ernstige bemoeienis vanuit ’n filosofies-geïnspireerde leefhorison met die diepte en omvang van sy werk.
Hoofmotiewe by Breyten
1. Bolandse herinneringe. Die Boland van Breytenbach se jeug speel ’n deurlopende rol in sy werk as bron van herinnering, verbeelding en betekenismaking. Dit het nie net met die groot gelukkige familie te doen waarin hy te midde van baie ander mense grootgeword het nie, maar ook met die landskap. Op ’n fenomenologiese vlak is die Boland ’n ruimte van onmiddellike ervaring en bewussyn vir Breyten, waar die wêreld hom aan die digter ontvou in haar tasbare en visuele konkreetheid. Die teenwoordigheid van berge, wingerde, sterre en seisoenale veranderinge het tot ’n belewing van ruimte en tyd bygedra wat Breyten nooit weer verlaat het nie. Op ’n vraag van my het hy dit eenkeer gestel dat sy verhouding met die Boland van ’n mistieke aard is. Ek interpreteer dit dat die Boland hier dien as metafoor van die komplekse verhouding tussen individu, medemens, landskap en die groter geheel. Dit is die horison waaruit Breyten gekom het en wat rigtinggewend vir sy lewe was. Hy wou dikwels hiervan wegtrek, maar hy moes ook altyd daarheen terugkeer.
2. Die spirituele dimensie. Breyten se komplekse spirituele ingesteldheid, ’n blywende motief in sy werk, spruit uit sy Bolandse jeug en wat hy, soos pas uitgewys, as ’n Bolandse mistiek deurgaan. Natuurlik het dit aanvanklik met ’n Protestantse spiritualiteit en Gereformeerde mistiek saamgehang – Wellington is immers die wêreld van Andrew Murray. Breyten het egter op ’n komplekse wyse van daardie binnewêreld weggestap, na matriek, met sy verhuising vanaf Wellington na Kaapstad en kort daarna na Europa en Parys. Van toe af voorts het hy sy inspirasie uit verskeie spirituele tradisies geput – veral die Boeddhisme, maar steeds met ’n oopstaan vir die mistieke. Breytenbach sien religie nie as ’n stel vaste waarhede nie, maar as ’n dinamiese ruimte van transformasie en verbeelding. Vir hom oorskry spiritualiteit die grense van formele godsdiens en is dit eerder ’n poëtiese ontvlugting – ’n weg tot betekenismaking en vryheidskepping. Sy skryfwerk toon ’n diep bewussyn van die metafisiese, maar ook ’n kritiese houding teenoor dogmatiese, fundamentalistiese en ortodokse denke (veral in hul religieuse gedaantes) wat mense vervreem of onderdruk.
3. Vervreemding en ballingskap. Dit is onvermydelik dat Breyten se weggaan van die Boland en Wellington, via Kaapstad na Europa en Parys, die motief van vervreemding en ballingskap by hom ingeskerp het. Sy ballingskap is destyds deur sy verbintenis met sy toekomstige vrou, Yolande (wat destyds onwettig hier te lande was), verdiep en het sy stygende kritiek op apartheid in ’n radikale rigting gestuur. In sy poësie word vervreemding dikwels as ’n gevoel van ontworteling en ’n soeke na ’n tuiste verwoord – fisies, geestelik en linguisties. Sy tronkervaring (soos veral in True confessions of an albino terrorist verwoord) is ’n markante uitdrukking van hierdie motief, waar vervreemding om die beurt ’n politieke, eksistensiële en fisieke dimensie aanneem. Vervreemding en ballingskap is verder ook met die tema van liefde en verlies verstrengel. Hier is sy liefde vir sy vrou, Yolande, en sy verlange na haar tydens sy tronkervaring belangrik vir sy poësie. In sy bundel Die ongedanste dans word liefde en verlies met ’n besinning oor die menslike toestand verweef. Die motiewe van liefde en vervreemding word dikwels met afstand en ontoeganklikheid verbind.
4. Politieke verset en aktivisme. Breytenbach se politieke denke het oor die dekades heen geskuif: vanaf ’n radikale tipe klasse-analise in die 1960’s en 1970’s na ’n meer vloeibare politiek van verskil en ooreenkoms met die ander, later.
Sy vroeëre radikale denke het beteken dat sy aanvanklike verset teen apartheid met redelik rigiede en gedetermineerde begrippe, soos die klassestryd en revolusie, ingeklee was. Dit hou verband met die denkraamwerk in die 1960’s en 1970’s waarin hy hom bevind het in Parys, en waarin sy opposisie teen die onreg van die destydse Suid-Afrikaanse regering geformuleer gestaan het. Deel hiervan was sy ondersteuning vir die bevrydingstryd van die ANC wat die Suid-Afrikaanse politiek radikaal met geweld wou omverwerp. Hierdie fase van Breyten weerspieël ’n romantiese en utopiese geloof in die potensiaal van revolusie om ’n meer regverdige samelewing op redelik voorskriftelike gronde tot stand te bring. In sy poësie en prosa van daardie tyd is daar egter alreeds subtiele en openlike kritiek op mag, stelsel, rassisme en onderdrukking, terwyl hy sodoende die rol van die kunstenaar as dissident verken.
Na sy gevangenskap in die 1970’s en sy terugkeer na Parys – dié keer as ’n tipe wêreldbekende globaal-reisende intellektueel – het sy politieke denke egter weer geskuif. Die denkklimaat van post-1968- Paryse denke – waar die name van denkers soos Foucault, Deleuze, Derrida en Lyotard opduik – het op hom afgesmeer. Hierdie verskuiwing kom neer op die wegbeweeg van ’n eendimensionele revolusionêre raamwerk na ’n meer pragmatiese, vloeibare en gedesentraliseerde politiek van verskil en ooreenkoms met die ander. Daarmee saam val die fokus nou op die rol van taal, identiteit en kulturele verbeelding waar politieke weerstand meer ’n proses van skeppende subjektiwiteit en deurlopende transformering is.
Vanuit hierdie denkruimte sien Breyten homself vanaf die 1980’s as ’n Afrikaanssprekende skrywer binne ’n multikulturele en postkoloniale wêreld. Sy kritiek op apartheid word nou in minder radikaal en in meer onderhandelend-demokratiese terme geartikuleer. (Sy vriendskap met Van Zyl Slabbert het waarskynlik moontlik ’n groot rol hier gespeel.) Die surrealistiese beelde is nog daar, maar nou aangevul met intertekstuele verwysings wat die gefragmenteerde aard en vloeibaarheid van identiteit illustreer. Sy weerstand teen mag en vaste ideologieë word nou esteties-politiese en filosofiese besinnings waar ’n veelheid van stemme en interpretasies gevestigde norme bevraagteken.
5. Taal as ruimte van mag en weerstand. As ’n digter is Breytenbach besonder bewus van die krag van taal, beide as ’n instrument van mag en as ’n medium van weerstand. Vir hom is Afrikaans ’n gelaaide taal, verbind met Afrikanernasionalisme, maar ook ’n lewende taal met die potensiaal om sigself te transformeer. Dit is ’n taal van groepe wat in stryd met mekaar is, maar daarom ook geweldige versoeningspotensiaal het. Sy eksperimentele gebruik van taal, insluitend die skepping van nuwe woorde en beelde, verteenwoordig ’n poging om die beperkende grense van taal te oorkom en dit te gebruik as ’n ruimte vir nuwe vryhede en kreatiwiteit.
6. Kritiese opmerkings.
Soos by enige groot kunstenaar en denker, vra Breytenbach se oeuvre ook vir ’n kritiese besinning. Teen die agtergrond van die voorafgaande, wys ek kortliks op die volgende drie aspekte. Wat die spirituele by Breyten aanbetref, kan daar eerstens op ’n sekere subjektivisme en selfs relativisme gewys word. Die neiging om religieuse en mistieke tradisies te kombineer, kan as ’n vorm van spirituele relativisme gesien word. Sy subjektiewe aanpak kan ook as ontoeganklik vir sommige lesers of kykers ervaar word, aangesien dit van Breytenbach se persoonlike ervarings en interpretasies afhang, wat nie altyd deel van ’n groter spirituele gemeenskap of tradisie is nie.
Wat Breyten se politiek betref, kan die volgende opmerkings gemaak word. Eerstens is daar die ou kamerade wat sy latere denkskuif as iets van ’n verraad sien. Tweedens is daar diegene wat wys op die politieke ambivalensie van sy denke. Alhoewel hy ’n uitgesproke kritikus van apartheid was, het hy ’n kritiese houding teenoor postapartheid-Suid-Afrika ingeneem. Sy teleurstelling in post-1994-Suid-Afrika word as onregverdige kritiek gesien, en onverwags, gegee die vorm van sy vroeëre stryd. Sy kritiek van buite het egter die kritiek op die bestel help verder verskerp. Derdens, is daar die kritiek van postkoloniale denkers dat hy identiteit binne ’n spesifieke raamwerk plaas en daardeur universeel-historiese en kulturele aannames uitskakel. Hierdie kritiek plaas sy werk binne ’n groter debat oor die spanning tussen universele waardes en spesifieke historiese en kulturele identiteite.
Tweedens is daar sy verhouding met Afrikaners, Afrikaanssprekendes en die Afrikaanse letterkunde, wat soms deur Afrikaanse lesers as vervreemdend ervaar is. Sy afstand van tradisionele Afrikaneridentiteit en sy postkoloniale benadering het sommige Afrikaanse lesers laat voel dat hy hulle verwerp. Tog het die Amerikaanse politieke filosoof, Michael Walzer, in sy belangwekkende werk (The company of critics, 1988) Breyten (in samehang met ’n denker soos Camus) as ’n verbonde kritikus (connected critic) beskryf.
Derdens is daar die kritiek dat sy werk dikwels ontoeganklik en selfs elitisties is. Sy digkuns en prosa is meestal hoogs eksperimenteel, met komplekse beelde, woordspel en intertekstuele verwysings wat dit vir die gewone leser moeilik maak. Hierdie hermetiese aard van sy werk kan gesien word as ’n hindernis vir die betrokke rol wat hy as kunstenaar probeer vervul. Terwyl Breytenbach se speelse gebruik van taal bewonderenswaardig is, kan dit ook ’n risiko wees. Die onkonvensionele aard van sy taalgebruik kan sy boodskappe verdun of te veel op die estetika van taal laat fokus ten koste van die mededeling. Sommige kritici voel dat sy klem op taalvernuwings eerder as op helderheid en eenvoud sy werk minder toeganklik maak en die impak daarvan beperk. Breyten se eksperimentalisme is helaas ’n aangryp van die fenomenologiese, waarin inhoud en vorm nie sterk geskei staan nie, maar deel is van dieselfde betekenis.
Slotgedagtes
Ongeag kritiek, bied Breyten Breytenbach se digkuns, dramas, prosa en besinnende werk ’n ryk en uitdagende blik op temas soos herinnering, spiritualiteit, vervreemding, politieke weerstand en taal as mag. In sy werk, wat oor grense strek, kom die spanning tussen die innerlike en die uiterlike, die individuele en die universele na vore. Alhoewel sy werk groot bewondering geniet, veral vir sy kreatiwiteit en politieke moed, moet ’n kritiese besinning daaroor ook aangemoedig word – veral wat die toeganklikheid, ambivalensie en kompleksiteit daarvan betref.
Die krag van Breytenbach se werk lê waarskynlik in sy vermoë om lesers uit te daag om hulself en hul wêreld op nuwe maniere te beskou, al bied hy nie altyd eenvoudige antwoorde nie. Kritiek op sy werk dwing ons om sy unieke posisie in die Afrikaanse en internasionale letterkunde met genuanseerde waardering verder te verken. Geen intieme influistering van binnegeheime is hier tersaaklik nie, of die oorgee van ’n tipe sjiho (meesterstaf) nie, soos in die indrukke wat sommige kommentare op sy dood geskep het. Sy nalatenskap is bedoel as openbare mededelings, ondanks die private en subjektivisme daarin vervat. Ons debat oor sy nalatenskap moet sigself dus liefs tot die openbare relevansie daarvan beperk. Daar is te veel daarin vervat wat andersins die aandag per ongeluk kan vryspring.
Breyten het Jan Rabie dikwels aangehaal: “Aanhou beweeg en geraas maak.” Laat ons Breyten aanhou vertolk en opslae maak.


Kommentaar
Daardie laaste opmerking herinner my aan iets wat Breyten onderaan 'n kunswerk vir een van sy vriende geskryf het: "Maar ons sal aanhou beweeg en stilte maak."
Pieter in reaksie op die volgende:
Derdens is daar die kritiek dat sy werk dikwels ontoeganklik en selfs elitisties is. Sy digkuns en prosa is meestal hoogs eksperimenteel, met komplekse beelde, woordspel en intertekstuele verwysings wat dit vir die gewone leser moeilik maak. Hierdie hermetiese aard van sy werk kan gesien word as ’n hindernis vir die betrokke rol wat hy as kunstenaar probeer vervul. Terwyl Breytenbach se speelse gebruik van taal bewonderenswaardig is, kan dit ook ’n risiko wees. Die onkonvensionele aard van sy taalgebruik kan sy boodskappe verdun of te veel op die estetika van taal laat fokus ten koste van die mededeling. Sommige kritici voel dat sy klem op taalvernuwings eerder as op helderheid en eenvoud sy werk minder toeganklik maak en die impak daarvan beperk. Breyten se eksperimentalisme is helaas ’n aangryp van die fenomenologiese, waarin inhoud en vorm nie sterk geskei staan nie, maar deel is van dieselfde betekenis.
---
Waarom moet sy digkuns toeganklik wees? Dieselfde besware is al teen ander groot digters ingebring. Ek besef jy buikspreek namens ander, maar hierdie leser vind sulke uitsprake problematies. Vide Eliot, Wallace Stevens, Van Wyk Louw, Rilke ...
Dit is wat dit is. Ontoeganklik. Is kritiek taboe in die letterkunde?
Soos ek jou verstaan Pieter, het jy 'n bepaalde kritiek verwoord wat teen Breyten se werk ingebring sou kon word, soos wat die werk gesien sou kon word vanuit 'n bepaalde ervaring daarvan. Ek sien nêrens dat jy self daardie kritiek ondersteun nie. Natuurlik is daar niks verkeerd met "ontoeganklik" skryf nie.
Ek dink jy het die "ontoeganklikheidsaspek" van die werk (soos gesien vanuit 'n sekere mediaan-leserskap se oogpunt) verwoord ook ten opsigte van 'n bepaalde rol wat Breyten gespeel het, naamlik die rol van sosiale aktivis. 'n Mens sou kon redeneeer dat die mees suksesvolle sosiale aktivis is juis die een wat die mediaan-persoon met sy mededelings die beste bereik. Dit wil sê, die beste sosiale aktivis is nie noodwendig die grootste digter nie.
Ek sien hierdie sinne in die stuk as verwysend na 'n spesifieke sektor van maatskaplike resepsie, nie as die verwoording van oorkoepelende of finale oordele oor die werk nie.
Baie dankie vir die stuk. Dit is 'n kursoriese blik, maar heel samevattend.
Ooit in Natal in die tagtigerjare het ek gehoor: "Die een se gevreesde AK47 is die ander se vryheidsinstrument". Vir Breyten se poësie kan 'n mens dit aanpas tot:
"Die een se 'ontoeganklik' is die ander se digterlik-magiese speeltuin".
Ag nee wat, dis maar 'n flou ou poging om sogenaamd 'n "besinnende en kritiese" waardering van Breyten te lewer. As ek die soort opsommende en oppervlakkige inligting soek, sal Wikipedia en selfs slim Google beter werk.