Breyten Breytenbach bring hulde aan Tienie du Plessis

  • 3
tienie_breyten650

Tienie du Plessis (foto: up.ac.za) en Breyten Breytenbach (foto: Naomi Bruwer)

Tienie du Plessis is weg … Dis met ongeloof dat ek en my vrou verneem het van sy onverwagse afsterwe. En met skok ook. Hoe is dit moontlik? Hy was dan nog so jonk en so vitaal besig met al die projekte wat hom nog al die jare na aan die hart gelê het - te wete die ontwerp van boeke, die vormgewing aan werke waarin hy geglo het, die sorgvuldige en keurige publikasie van dit wat deurgaan vir “moeilik” en soms “vreemd” - en dit alles sonder om hom ooit van stryk te laat bring deur oorwegings van populariteit of van verkope of ander markgedrewe manifestasies.

En tog – Tienie was nie 'n lewensvervreemde “dromer” nie. Hy was 'n werker. 'n Vakman. Iemand met 'n werklike liefde en belangstelling vir die inhoud van gedigte en geskrifte en boeke. En wat geweet het hoe om die beste uiterlike aan daardie inhoud te verleen. Soveel so dat mens nie eens besef het tot hoe 'n mate die produk wat jy in die hand geneem het, 'n eenheid was nie – 'n stelling van etiese betrokkenheid onderskraag deur visuele vindingrykheid en vakmanskap. Jy het geweet dat dit nie sommer so vanself kon gebeur het nie, dat daar 'n betrokkenheid moes gewees het wat berus het op werklike skeppende beginsels, op smaak en insig en keuses. Hy sou op stuk van sake die “maklike” oplossings kon gekies het om saam met die stroom te swem en vir die leserspubliek te gee wat hulle skynbaar gewillig was om vir soetkoek op te eet. En tog was hy nie 'n ivoortoringbewoner nie, het hy nooit enige pretensie gehad om as “intellektueel” of selfs as moedige politieke afvallige gesien te word nie. Die keuses wat hy gemaak het en die relatiewe marginalisering wat dit onvermydelik meegebring het, was juis die bevestiging van die diep respek wat die benadering tot sy vak en die omgang met sy medemense gekenmerk het. 

Mens sou kon beweer Tienie du Plessis was eintlik die lewende voorbeeld van 'n funksionele organiese intellektueel. Sy hart was moedig en opreg, sy hand en oog was suiwer en presies. Die een het die ander versterk.

Daar is baie fasette van sy lewe wat ek nie genoeg van weet om oor te praat nie. Sy rol as onderwyser en mentor, byvoorbeeld. Of die baie spesiale vertrouensbasis waarop sy onderhandelinge met drukkers gebaseer moes gewees het, veral in die jare toe dit onwettig was om sommige werke of die geskrifte van sekere outeurs die lig te laat sien. Wat ek wel weet en baie sterk oor voel, is dat hy een van die heel weinige uitgewers was wat met integriteit en lojaliteit bly werk het as alternatief tot die hegemonie van die polities korrektes – of dit nou politieke ortodoksies of die dwingelandy van groot, monopolistiese maatskappye was. Miskien is hierdie geskiedenis iewers opgeteken, maar ek wonder tog of ons aldag onthou en besef hoe belangrik die rol van die alternatiewe of selfs ondergrondse uitgewers was in die jare toe jy werklik jou persoonlike vryheid op die spel geplaas het, deur juis die ruimte vir bevraagtekening en skeppende denke lewend te hou? En dat dit hierdie byna gesigloses was – ek verwys nou na Taurus Uitgewers, na Ravan Press, na die aktiwiteite van mense soos Ad Donker en Sipho Sepamla, om slegs enkeles te noem, maar hulle was nooit meer as 'n handjievol nie – wat dit moontlik gemaak het vir ons wat teen die totalitêre bedeling van die dag was (of agterna voorgegee het dat ons dit was) om te kan sê, "Ons is nie almal so nie." Tienie-hulle het die moontlikheid tot eerbaarheid, selfs die haalbaarheid daarvan, vir ons beliggaam. Dis mense soos Tienie (en ek weet nie eens of hy homself ooit as “aktivis” sou gesien of beskryf het nie) wat dit vir ons moontlik gemaak het, en nog steeds maak, om die kop op te lig.

Ek het vir Tienie deur Taurus leer ken. Onder die viermanskap – die ander was John Miles, Ampie Coetzee en Gerrit Olivier – was hy die stil een, die praktiese implementeerder. Later, nadat vryheid gekom het en allerlei pilare van die vorige onderdrukkers sonder skaamte getransformeer het as tentpale in die nuwe landskap van reenboë en historiese amnesie (al was dit soms van sirkustente), toe baie van ons wou glo die stryd om werklike vryheid en mensewaardigheid en verandering is verby, het ek weer vir Tienie leer ken. Hy was nog steeds daar. Sy hart was nog steeds puur. Hy het my Plakboek gepubliseer ten tye van 'n uitstalling van skilderye in die noorde. Later, in samewerking met 'n uitgewery wat kort van lewe was, Itaka, ook 'n digbundel, Nege Landskappe van ons Tye Bemaak aan 'n Beminde. En kort daarop, maar toe reeds onder die drukkersnaam van Hond (wat hy saam met Ryk Hattingh begin het), Hart-Lam, 'n klein versameling van uiters onwelkome openbare toesprake. 

Iewers, het ek geweet sonder om bewustelik daaraan te dink, het Tienie du Plessis bly voortbestaan. Af en toe het ek iets onder oë gekry wat deur Hond gepubliseer is. Altyd met dieselfde stempel van vreesloosheid en kwaliteit – anders, sonder dat dit ooit aansitterig of ontoeganklik elitisties was. Ek dink byvoorbeeld aan die lieflike keur uit die gedigte van die ikonoklastiese Franse skrywer Houllebecq, so treffend vertaal deur Catherine du Toit en haar medewerkers. Dit was dus vanselfsprekend dat ons, die Pirogue Kollektief, toe ons onder ons druknaam van Island Position begin dink het aan samewerking met 'n Suid-Afrikaanse uitgewer, aan iemand met hart en kundigheid en 'n werklike begrip van onafhanklikheid, ons sou wend na Tienie du Plessis. Wat 'n vreugde was dit nie om weer onder sy veilige hande deur te loop nie! Die resultaat was Oorblyfsel (in die loop van woorde), waarvan hy met liefderyke sorg 'n juweeltjie gemaak het. 

En daar was nog so baie wat ons saam vorentoe wou doen … 

Dis met werklike leedwese, en die skok van ongeloof ook, dat ek vandag verneem het van Tienie se afsterwe. Nou die aand in Skellumbos het ek gehoor dat hy sou moes ingaan vir 'n operasie, die vervanging van 'n heup. Ek het nogal 'n eksemplaar van 'n nuwe boek vir hom onderteken (waarin 'n paar stukke is wat oorspronklik in Hart-Lam verskyn het, toe die gedagtes daarin bevat nog van betekenis was en die denkbase ontsteld kon maak). Dit sou aan hom besorg word, want die gevoel was dat hy miskien nie genoeg sou herstel het om volgende week in Johannesburg aanwesig te kon wees by 'n bekendstelling waarnatoe hy genooi was nie. En ek het so uitgesien daarna om hom na al hierdie jare weer te sien. Yolande ook! 

En stilletjies is hy weg – die man met die welige baard en die sagte oë. Dit was darem regtig nog nie Tienie se beurt om te gaan nie! 

Ons dink aan sy vrou Hettie en hulle gesin. Niemand kan werklik troos bied nie. Wat sal bly voortbestaan – en om groter erkenning vra – is dat Tienie du Plessis 'n sleutelfiguur was in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse uitgewerswese. Maar vir my was hy in die eerste plek die voorbeeld van 'n beginselvaste mens, van 'n saggeaarde mens, van 'n mens wat lojaal gebly het aan sy vriende en sy oortuigings. En wat my ook bybly, is hoe werklik begaafd hy was as uitgewer en as vormgewer van boeke.

Mag sy voorbeeld ons bly inspireer.

Breyten Breytenbach, 10 Oktober 2015

 

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Linda de Jager

    Ons almal het soveel helderder in Tienie se eerbare lig geskyn.
    Ons 'hartseer is stom," maar my dankbaarheid dwing my om hulde te bring.

  • Avatar
    Johann de Lange

    Ek kan in my vlugtige saamwerk met Tienie aan Nagsweet, baie van wat Breyten in sy huldeblyk sê beaam, maar die meeste daarvan het ek net op die kantlyn, as leser, meegemaak.
    Tienie was saggeaard en rustig, maar vreesloos. Ek het Nagsweet van Tafelberg onttrek in 'n argument met Danie van Niekerk, destydse hoof van Tafelberg, oor die omslag van die bundel. Ek wou 'n potloodskets van Michael Leonard op die omslag gebruik en hy het gesê nee ek kan nie dáárdie een gebruik nie, maar wel die een op die teenoorgestelde bladsy. Daar was nie 'n groot verskil tussen die twee sketse nie, maar ek het besef dit was sy manier om my wys ek sal die een gebruik wat hy kies. Dit was 'n magspeletjie. En daaraan doen ek nie mee nie.
    Ek het die manuskrip onttrek en aan Taurus voorgelê. Aangesien Tafelberg die boek reeds geset het in daardie stadium, het Tienie gemeen as ons die proewe kan oorkoop by Tafelberg, kan dit ons tyd bespaar en straks 'n pennie of twee. Sy onderhandelinge met Danie van Niekerk het dieselfde kurwe gevolg: Van Niekerk was bereid om die proewe aan ons te verkoop, maar teen 'n belaglike bedrag. Wat Tienie uit die aard van die saak van die hand gewys het. Van Niekerk sou eerder die verlies ly, as om enige toegif aan ons te maak. Mág! Dis 'n bliksem en daardie geledere was destyds hóóg daarvan.
    Ek het 'n naweek by Tienie gaan sit en die manuskrip op sy rekenaar oorgetik. Dit was 'n moeisame proses want ek was nog nie baie flink met die rekenaar nie en hulle het 'n argaïese DOS program gebruik wat ek glad nie geken het nie. Maar Tienie was nooit meer as 'n paar tree weg met iets besig nie en ek kon roep as ek vasbrand.
    In 'n sin was dit goed dat dinge so afgeloop het want ek het intussen by Johan van Rooyen 'n pragtige waterverf van Battiss gesien wat ek, met die toestemming van Giles Battiss, sy seun, gebruik het. Die uiteinde was vir my 'n boek wat esteties bevredig het en waarvan omslag en inhoud saamgewerk het.
    Tienie en Taurus was van onskatbare waarde vir Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde in 'n tyd toe die landskap veel anders daar uitgesien het en hy het gesorg dat daardie stemme nie stilgemaak is nie en daardie boeke nie verdwyn het nie. En al het sy stem nou stil geraak, staan daardie boeke verspreid op my rakke en kan ek hulle enige tyd uithaal en steeds die plesier ervaar van die sorg en kundigheid wat uit elkeen spreek, maar ook versterk voel deur die moed van daardie skrywerstemme wat gedra is deur die moed en beginselvastheid van Tienie du Plessis.

  • Om te Breyten … Breyten, wat 'n voorreg om in dieselfde tydvak as jy te kan leef, om jou woordtoordery eerstehands te kan ervaar… keep writing and writing … daar's baie mense wat wag vir jou volgende digbundel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top