Brexit: Toekoms onduidelik

  • 0

Gaan Brexit plaasvind of nie – of gaan die Verenigde Koninkryk (VK) die Europese Unie (EU) met of sonder ʼn ooreenkoms op 31 Oktober verlaat?

Dit is ʼn geldige vraag (of vrae?) nadat die Konserwatiewe Party (Tories) van Boris Johnson, die nuwe premier van Brittanje, deur die Liberale Demokratiese Party (Lib-Dems) in ʼn tussenverkiesing verslaan is.

Dit beteken dat Johnson ʼn massiewe terugslag beleef het slegs ʼn week nadat hy by Theresa May oorgeneem het as premier omdat sy Tories met ʼn meerderheid van net een setel in die Britse parlement regeer.

Die Tories het as regerende party nie ʼn meerderheid nie en regeer gevolglik met die hulp van sy regeringsvennote van Noord-Ierland, die Demokratiese Unionisteparty (DUP).

Die party het hul meerderheid verloor nadat May haar misgis het in 2017 deur ʼn blitsverkiesing uit te roep om ʼn groter meerderheid te kry sodat sy in ʼn beter posisie kon wees om met die EU te onderhandel.

Hul vennootskap met die DUP kan ook problematies vir Johnson word omdat dié party tot op hede ʼn onbetroubare vennoot is. Hulle het May se ooreenkoms met die EU reeds drie keer verwerp.

Die uitslag van dié tussenverkiesing versterk die posisie van die Lib-Dems se duidelike posisie en boodskap dat hulle teen Brexit gekant is. Dié party stel dit duidelik dat die VK beter af is binne die gemeenskap van die EU, bestaande uit 28 lidlande, dat globalisering ʼn gegewe is en dat die VK sterker is binne die EU as buite.

Die kiesafdeling Brecon en Radnorshire in Wallis het tydens die 2016-EU-referendum oorweldigend gestem dat die VK die EU moet verlaat. Hul skielike ommeswaai ten gunste van die Lib-Dems se boodskap teen Brexit moet gesien word as dat dié party se anti-Brexit-boodskap by meniges begin resoneer.

Dit terwyl die twee hoofpartye in die parlement – die Tories en Arbeidersparty van Jeremy Corbyn – gemengde boodskappe na buite uitstuur. Dit verwar die kiesers omdat hulle nie meer seker is watter party se boodskap hulle moet glo nie.

Die dinamiek van die Britse politiek het beide die Tories en die Arbeiders as ‘t ware in die middel – in regs en links – geskeur.

Die Arbeiders se regtervleuel en die Tory-linkervleuel tesame met die Lib-Dems sou, as hulle saamstaan, Brexit kon stopsit, maar die Tory-regtervleuel onder leiding van Johnson en die Arbeider-linkervleuel met Corbyn as hoof sou liewer Brexit wou laat geskied. In Johnson se geval sonder ʼn ooreenkoms en in Corbyn se geval is dit ʼn geval van verwarring.

Histories gesproke is Corbyn teen die hele ding van ʼn Europese gemeenskap gekant, maar hy het glo onlangs bollemakiesie geslaan deur aan te kondig dat die Arbeiders in die parlement teen Brexit sonder ʼn ooreenkoms gaan stem.

Die Arbeiders is glo gekant teen ʼn geen-ooreenkoms-Brexit wat – soos die Bank van Engeland verlede week gewaarsku het – Brittanje ernstige ekonomiese skade kan berokken deur handelstariewe die hoogte in te laat skiet. Duisende werke en werksgeleenthede kan in dié proses gekelder word.

Sekere opposisieparlementslede en die media is glo skepties oor Corbyn se skielike ommeswaai dat hy en die Arbeiders Brexit met ʼn ooreenkoms gaan ondersteun omdat die linkse Arbeider-leierskap gedurig verwarrende boodskappe oor Brexit uitstuur.

Dié verwarring het ʼn gaping gelaat vir die verregse Nigel Farage, voormalige leier van Ukip, wat onlangs nog ʼn verregse party, die Brexit Party (BP) gestig het.

In die afgelope verkiesings vir die Europese parlement (EP) het die BP die Tories en Arbeiders geloop deur meer setels in die EP te wen omdat dit ten gunste is van ‘n geen-ooreenkoms-Brexit is.

Die afsienbare toekoms blyk onduidelik te wees omdat Johnson daarop aandring dat Brittanje die EU sonder ʼn ooreenkoms op 31 Oktober sal verlaat. Sy dreigemente volg omdat die EU by monde van Donald Task, president van die Europese Raad (regeringsleiers), en Michael Barnier, hoofonderhandelaar, gesê het hulle is nie bereid om May se ooreenkoms te heronderhandel nie.

Gevolglik het Johnson sy minister van finansies, Sajid Javid, opdrag gegee om sowat R36 000 miljard te begroot in geval van ʼn geen-ooreenkoms-Brexit.

Die slagordes is nou opgestel teen Johnson, want die Lib-Dems, die Tory-linkervleuel, die Arbeider-regtervleuel, die DUP en die meerderheid van die 650 parlementslede in die Britse Laerhuis kan moontlik saamstaan teen ʼn geen-ooreenkoms-Brexit.

Boonop is Brittanje ʼn parlementêre demokrasie en daarom moet die parlement die laaste sê hê. Omdat die parlement May se ooreenkoms met die EU al drie keer verwerp het, is dit onwaarskynlik dat dit nie ʼn geen-ooreenkoms-Brexit sal goedkeur nie.

Die Britse parlement is tans in reses vir die Europese somervakansie. Dit hervat sy werksaamhede vroeg in September. Die moontlikheid dat die opposisie onder leiding van die Arbeiders ʼn mosie van wantroue in Johnson se regering kan stel, is groot. As ʼn geen-ooreenkoms-Brexit op die tafel is, is die moontlikheid groot dat ʼn wantroue-mosie sal slaag.

In so geval sal die land in ʼn grondwetlike krisis gedompel word. Van die opsies sou wees om weer ʼn referendum soos in 2016 te hou. ʼn Ander opsie sou wees om ʼn algemene verkiesing uit te roep, maar dit sal nie Brexit oplos nie. Dit beteken net dat ʼn nuwe regering gekies sal word wat weer met ʼn kopseer soos Brexit sal moet handel.

Gaan Brexit dus plaasvind of nie – gaan die VK die EU met of sonder ʼn ooreenkoms op 31 Oktober verlaat?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top