Brendon Daniels en Die Boland Moorde

  • 1

Die akteur Brendon Daniels is binnekort te sien in die nuwe kykNET-reeks, Die Boland Moorde. Hy beantwoord enkele vrae oor sy rol hierin en sy loopbaan as akteur.

Hallo Brendon. Hoe’s dinge?

Besig ... maar ’n goeie besig. Dit gaan goed.

Eerste dinge eerste: jy verskyn binnekort in die nuwe kykNET-reeks, Die Boland Moorde. Jy vertolk die rol van die speurder Shane. Hoe het jou betrokkenheid by die reeks tot stand gekom?

Die skrywers van die reeks het my genader om ’n loodsprogram te skiet met die hoop om ’n reeks vir kykNET te doen ... en hier is ons nou. Ek ken vir Albert Snyman en Louis Pretorius al ’n geruime tyd, en daar was altyd sprake van hierdie speurreeks.

Tussen teater, TV en flieks het akteurs in Suid-Afrika wat in al drie die mediums werk, gewoonlik ’n baie druk skedule. Het jy kans gehad om navorsing te doen vir die rol van Shane? Hoe het dit verloop?

Die enigste navorsing wat ek gedoen het, was om ander speurreekse te kyk. Ek het nie die karakter op enigiemand gebaseer nie. Die teks is so sterk dat dit heel maklik was om Shane te speel.

Van jou mede-akteurs in die reeks is Stian Bam, Vicky Davis, Martelize Kolver, Antoinette Kellerman … die lys gaan aan. Daar is dus etlike gesoute akteurs, jonk en oud, wat by die reeks betrokke is. Hoe was die werkservaring in die groep?

Gelukkig het ek al die hoofakteurs in die reeks vooraf geken. Ek het groot bewondering vir hulle werk, veral dit wat hulle op die verhoog vermag. Die ervaring was fantasties en die gemoed op stel was great.

Hoe het jy aanvanklik by toneelspel betrokke geraak en wat het daartoe gelei dat jy besluit het om dit voltyds te doen?

Ek het in 2005 ’n geleentheid gekry om met ’n teaterstuk te toer, en toe maar die besluit geneem om die formele werksmark te verlaat op soek na ’n beroep as akteur. Ek het deeltyds toneel gespeel voor dit. Ek het nog altyd ’n liefde gehad vir die verhoog – al van skooldae af. Dit was net ’n kwessie van tyd.

Jy het in 2012 twee toekennings ingepalm: die Kanna-toekenning vir beste akteur in Babbel en Rooiland, asook die Fiësta-toekenning vir beste akteur in Rooiland. Geluk daarmee! Hoe voel jy oor die toekennings en hoe dink jy sal dit jou loopbaan vorentoe beïnvloed?

Onbeskryflik... maar kom ons probeer. Dit is ’n bedryf waar elke dag vir my ’n sekere satisfaksie gun – en dit op sy eie is raar. Dit is ook ’n bedryf waar my bydrae opreg waardeer word en ek daadwerklik die resultate sien. Dít is alreeds erkenning genoeg. Om dan nog bekroon te word vir my spel, is fantasties. Ek moet byvoeg dat ek slegs so goed kan speel as gevolg van my medespelers. Die erkenning motiveer my om dit nog verder te voer.

Bogenoemde toekennings was natuurlik vir teaterwerk. Jy het egter ook al in ongeveer 13 films verskyn, asook in sowat tien televisiereekse. In watter medium voel jy die gemaklikste en hoekom?

Ek verkies teater. Die repetisie en die ontdekkingsproses is vervullend op verskeie vlakke. Die verhoog is ook groter as die lens van ’n kamera en gun my dus meer ... vryheid?

Wat was vir jou die hoogtepunte tot dusver in die onderskeie mediums? In dieselfde asem: Wat was die laagtepunte?

Daar is te veel hoogtepunte om op te noem. Die hoofrolle in beide Boland Moorde en ’n fliek wat later vrygestel word, tel seker as my persoonlike hoogtepunte. Akteurs droom oor hoofrolle.

In al drie mediums het jy ook al in beide Afrikaans en Engels rolle vertolk. In watter taal voel jy gemakliker met optredes? Vind jy dit in die algemeen makliker om met Afrikaanse of Engelse karakters te identifiseer?

Ek is gemaklik in beide Afrikaans en Engels.

Jy het ook al stemwerk gedoen vir verskeie kliënte – onder meer MWeb, Caltex en Cape Town Fishmarket. Hoe het jy hierdie ervarings beleef in terme van hoe uitdagend dit is? Gegewe die feit dat vergoeding vir teaterrolle en so meer in Suid-Afrika nie noodwendig so lonend is soos elders nie, dink jy akteurs moet bereid wees om in hierdie opsig elke werk te vat wat oor hul pad kom?

Nie net om finansiële redes nie, maar ook vir die blootstelling aan die verskillende mediums en uitdagings.

Wat dink en hoop jy hou die nabye en verre toekoms vir jou in?

Solank daar teater gedoen word, is my toekoms opwindend.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top