Boy meets boy: A musical comedy
deur Bill Solly en Donald Ward
Met Lloyd Kandlin, Marcél Engelbrecht, Brian Winter, Michelle Galloway, Darryl Spijkers, Karlé Briedenhann, Camaron D Camargo, Tamsyn Hanslo, Grant Tattersall, Nadia Marth, Ian van Vreden, Braam Zeilinga, Daneel van Wyk en Zain Cassiem.
Verhoogregie: Teddy Davies; musiekregie: Kurt Haupt; choreografie: Roxy Levy
’n Aanbieding van Festival Productions in die Arena, Kunstekaap, Kaapstad.
Dié musikale komedie laat jou goed voel! Mense wat ’n ent moet ry om by die Kunstekaap uit te kom, hoef nie te vrees dat dit laatnag gaan word vir julle nie. Hier teen halfelf stap jy met die trap af nadat jy ’n sjokoladekoekie gekry het by Zain Cassiem (’n priester) en ’n helper om onder jou slaapkussing te sit. Jy was mos by ’n troue en ook nie sommer só een nie!
Ons word geneem na Desember 1936 en na hotelle en restaurante, na kroeë en teaters in Londen en Parys. Plekke met soveel assosiasies: Savoy, Ramano’s, The Dorchester, The Trocadero, Les Follies de Paris … (gerieflik op die minimalistiese stel met wisselende naamborde aangedui).
So pas het Edward VIII afstand gedoen van die koningskap in ruil vir sy Amerikaanse geliefde. Weens ’n woeste partytjie kon ’n beroemde joernalis, ook ’n Amerikaner, Casey O’Brien (Lloyd Kandlin) nie dié groot nuus dek nie. Sy saaklike, koelkop vriend Andrew (Darryl Spijkers) sit hom egter op die spoor van nog ’n groot sosiale gebeurtenis: die troue van twee ryk mans, Clarence Cutler (Brian Winter) met die jonger, adellike Guy Rose (Marcél Engelbrecht).
Maar dit gebeur nie. Ou Clarence in sy volslae kampheid daag alleen op vir die seremonie. Ook lady Rose ( Michelle Galloway) word in die proses verneder. Haar seun het net van die aardbol verdwyn. Gedurende die soektog na Guy ontstaan ’n sterk liefdesintrige weens identiteitsverwarring wat deur die geslepe én so eg menslike Clarens gemanipuleer en uitgebuit word.
Ja, die musiekblyspel word in 1936 geplaas en is vir die eerste keer in 1975 aangebied. Die verhouding tussen die mans loop, ná vele gebeurlikhede, uit op ’n huwelik. In heelwat lande het dié huwelike mos nóú eers moontlik geword. Ek het eers probeer uitsorteer hoe ek in 2013 op die tydsaanduiding in die program en die inhoud met my moderne bewussyn reageer, noudat dit ’n realiteit is. Toe lees ek resensies van die Markteater se aanbieding in 1996. Destyds het kritici die ongewone huwelik aanvaarbaar gevind bloot as ’n plesierige fantasie in ’n musiekblyspel. Miskien is dit steeds die beste; ’n mens moet dit nie ingewikkelder maak as wat regtig nodig is nie. Ons kan nog steeds voor of teen sulke huwelike in ons gemoedere wees. Jy kry ook dalk stof tot nadenke. Lees Roy Sargeant se programaantekening oor “Gay and Lesbian Marriage”.
Die tyd word oa oorgesein deur ’n art deco-versiering in die stel. Maar daar’s ook twee anachronismes. My gas, ’n museumkundige, het juis kennis van telefone, en volgens hom is daardie hoteltelefoon wat so driftig gebruik word, iets uit die jare veertig. Die perskamera het ook alte modern gelyk.
Nou kom ek by die heerlikhede van hierdie aanbieding. Die Arena is reeds ’n intieme teater en die hoogs ervare regisseur, Teddy Davies, verhoog die gehoor se betrokkenheid deur al die handeling baie voor op die verhoog te plaas. Hoe ’n belewenis is dit nou om al die vertolkers se goed-gegrimeerde gesigte (dankie, Guilma Stander!) so duidelik te sien! Elke gesigsuitdrukking wat verander, kan jy sién, kommunikeer met jou. Die geringste liggaamsbewegings ook. Jy wil uitreik na húlle toe. (Goed, ons het in ry C gesit.)
Die ensemblewerk van die agt dansers-sangers-figurante-akteurs (Daneel van Wyk en kie) het sterk bygedra tot die musikale en skouspelgedeelte van die blyspel. O, daardie glimlag van Hanslo, die erns van Briedenhann en Marth soms, en die sterk artikulasie van Van Wyk! Hulle sterk sang saam met die manne. Die choreograaf, Roxy Levy, het ’n paar verrassende bewegings ingewerk, soos die skielike baie hoogskop van Cameron D Carmargo! (Hy oortuig ook as escort …) Grant Tattersall was wonderlik snaaks as die hoteljoggie met sy “gechoreografeerde” bestyging van die trappies en sy verskyning in die Follies as Alphonse … Ja, die blinkers op sy onderrug het die ooggenot verhoog. Grant het partykeer die danssekwense nie so heeltemal met entoesiasme gedoen nie; of hy as karakter ’n effens hooghartige houding het – in-te-res-sant! Ongelukkig maskeer “antie”’ Clarence hom heeltemal in die slotbuiging. Ian van Vreden het veral sy assistenthotelbestuurder netjies en met presiesheid geskep.
Soms gebeur dit dat stilspel my verbeelding aan die gang sit. Hier is dit Braam Zeilinga as die somber kroegman. Hoe is hierdie man se lewe buite die kroeg? Wat dink hy as hy so hooghartig uittroon, iets verskuif, so lyk asof hy hom wil-wil vererg? In die groeptonele is sy lyftaal baie sterk.
Lloyd Kandlin as die joernalis met ’n paar dilemmas is ’n duidelike teenwoordigheid op die verhoog. Hy gee die pas aan; hy is die een wat spreekwoordelik die intrige dra. Sy Boy Scout-toneel met Guy is ’n fees. Darryl Spijkers is in hierdie “alternatiewe” lewe van rykes, gays en verhoogkunstenaars die stem van die nugterheid en hy kontrasteer tog salig met hulle.
Michelle Galloway is baie oortuigend as die emosionele lady Rose en later as Josephine de la Rose van Les Folies de Paris, Guy se swartskaaptante. Vir laasgenoemde deurwinterde verhoogarties, iemand met ’n gewete oor haar vak, het Galloway net eenvoudig die diepte, gesag en spelervaring.
Marcél Engelbrecht is die een wat ’n algehele metamorfose ondergaan. Eers die ingetoë, lomp outjie wat beslis nie baie gays se aandag sou trek op die “vleisrak” nie. Nie met sy houding, kleredrag en haardos nie. Maar dan ’n verrassing: hy word voor ons gegrimeer, kry klere by, en wanneer hy hom omdraai na die lig, begroet applous hom. Nou kan jy in hom glo as die “English Rose” en dat Casey aangetrokke sal voel tot hom. Engelbrecht se sang bereik ook nou nuwe hoogtes met sy groter selfversekerdheid. Hy sorg reeds vroeër vir ’n ontroerende vertolking van “Does Anybody Love You”. Tja, ons alleenstaandes wéét waarvan hy sing.
O, en wie loer daar vir ons deur een van sy vele amusante brille oor ’n muurtjie? En kyk net die grimering. Nie ’n ooghaar ’n aks uit sy plek nie. En al die bling … ekskuus, juweliersware, edelgesteentes … En die jasse en die hoedens. Goed, ek sal maar sê: dis Brian Winter as Clarence Cutler. Winter boei jou deurgaans. Hy sorg kort-kort vir lagbuie met sy voorkoms en spitsvondighede. Hoeveel uitdrukkings is daar nie in daardie gesig nie – dis of jy prenteboekbladsye telkens omblaai. Ook die groot wisseling van stemtoon, van bewegings, sommiges klein en subtiel, soos daardie een wat die afkeuring van die hoogaangeslane liefde oorsein. Sy biegtoneel oor sy boosheid én oor sy omgee vir mense is iets om te onthou en self toe te pas.
’n Tegniese beswaar: die klankman laat Brian Winter se opgeneemde spraak as verteller soms net ’n raps te vroeg begin. Die eerste woorde word deur ouditoriumgeluide soos applous of gelag oordonder.
Komplimente verder aan almal wat die stel, kostuums (daardie silwer kokers vir die manne!), die grimering, die haardosse, die beligting en klank versorg het. En aan Kurt Haupt as musiekregisseur. Met hom voor die klavier en Johan Botha agter die basviool was die begeleiding simpatiek en opwindend.
Ja-nee, Teddy Davies en sy geselskap mág maar musiekblyspele aanpak.

