Bostaal – taal binne ’n taal deur Kriek van der Merwe: ’n resensie

  • 0

Bostaal – taal binne ’n taal: 1966 tot 1989
Kriek van der Merwe
Pro Patria Museum, Pretoria
ISBN: 9781049297644

Boeke is vir akademici wat gereedskap is vir ’n werktuigkundige; en net soos ’n werktuigkundige soms in verwondering is oor ’n nuwe gereedskapstuk, is akademici soms opgewonde, selfs in verwondering, oor ’n nuwe boek. Bostaal – taal binne ’n taal: 1966 tot 1989 van Kriek van der Merwe is in ’n kategorie wat stille bewondering afdwing oor die aard, diepte en omvang daarvan. In ’n sekere opsig is die boek in uitleg, diepte en struktuur tiperend van ’n akademiese studie. Daarom gaan dit aan die een kant spreek tot ’n gehoor wat ingestel is op diepte, omvang en konteks; aan die ander kant gaan dit waarskynlik moeilik aanklank vind by ’n populêre gehoor wat na ’n lekkerleesstorie op soek is. Tog is die onderwerp wat aan die orde is, iets waarmee elke persoon wat ’n militêre uniform gedra het iewers tussen 1966 en 1989, kan identifiseer. In daardie opsig is Bostaal waarskynlik ’n boek wat wye belangstelling gaan ontlok.

Een van die waardevolste besittings in my boekeversameling is ’n tweetalige Afrikaans-Engels/Engels-Afrikaans-woordeboek van bykans 1 000 bladsye wat in 1988 deur die Direktoraat Taaldiens van die destydse Suid-Afrikaanse Weermag uitgegee is. Die publikasie van die woordeboek het in baie opsigte saamgeval met die kulminasiepunt van die ontwikkeling en gebruik van Afrikaans as militêre taal in Suid-Afrika. Die pad vir Afrikaans in ’n militêre konteks in Suid-Afrika was van daar af een van afdraande en afwatering; en uiteindelik waarskynlik ’n pad van verdwyning in die periode van Afrikanisering na 1994. Die publikasie van ’n Afrikaans-Engels-woordeboek was, eerstens, ’n weerspieëling van die mate waartoe Afrikaans ingeburger was as militêre voertaal in die weermag, veral in die leër. Die woordeboek is tweedens waarskynlik ’n weerspieëling van die samehang wat tussen Afrikaans en Engels binne die weermagverband ontstaan het in hierdie tydvak. Beide die uniekheid van Afrikaans as weermagtaal en die wisselwerking tussen Afrikaans en Engels in militêre verband is die kernrealiteit wat aan die orde is in Bostaal – taal binne ’n taal: 1966 tot 1989. Dit is egter belangrik om te beklemtoon dat die boek in Afrikaans geskryf is en net in Afrikaans geskryf kon word, want die weermag van die tyd, en die leefwêreld van die gemiddelde dienspligte in hierdie periode, was meestal in Afrikaans in taal en kultuur.

Van der Merwe omskryf die oogmerk van die boek as synde die verskynsel van woorde en uitdrukkings van die bostaal te ondersoek, dit te ontleed en dit te boekstaaf sodat dit bewaar sal bly en nie mettertyd verlore sal gaan nie. Die boek fokus gevolglik op die taalgebruik soos dit aan die orde was binne militêre verband in Suid-Afrika tussen 1966 en 1989 en “soos wat dit in konteks gepraat was”.1 Die konteks wat die skrywer hier aan die orde stel, is die sogenaamde bosoorlog wat geografies ontvou het in die noordelike gebiede van Suidwes-Afrika/Namibië en sekere dele van Angola. Uit ’n operasionele oogpunt was dit enersyds ’n teeninsurgensie-oorlog teen Swapo (South West Africa People’s Organisation); andersyds was dit ’n mobiele konvensionele oorlog as gevolg van Suid-Afrika se betrokkenheid by die Angolese burgeroorlog. Die skrywer stel dit uitdruklik dat bostaal direk verbind word met “die gewapende konflik in Suider-Afrika van 16 Augustus 1966 tot 22 November 1989 in die noorde van die voormalige Suidwes-Afrika, Suid-Angola en in ’n mindere mate die voormalige Rhodesië”.2 Dit bring uiteraard die vraag na vore, miskien vanuit ’n kritiese perspektief, wat die impak was van die binnelandse ontplooiing van die weermag, in dieselfde tydperk, op die ontwikkeling van die militêre “bostaal” en tot watter mate dit wel in die bespreking ingesluit is.

Die skrywer wys daarop dat die oorspronklike onwelvoeglike taal verbatim en sonder enige wysigings in die boek opgeteken is. Suid-Afrika en bostaal is uiteraard nie ’n unieke historiese of taalkundige verskynsel nie, maar is tiperend van die uniekheid van informele en dikwels ook formele militêre taal in alle weermagte deur die eeue. Enige weglating of wysiging, voer die skrywer aan, sou die geloofwaardigheid van die skrywer asook die geldigheid en betroubaarheid van die boek in gedrang bring.3 Uit ’n strukturele oogpunt is die boek egter problematies. Nie dat dit nie goed gestruktureer is nie – inteendeel, die oordrewe strukturele aard van die boek as akademiese studie doen tot ’n mate afbreuk aan die leesbaarheid van die boek as “goeie leesstof”. Op ’n manier is dit egter ’n positiewe probleem tot die mate dat dit spreek tot die omvang, diepte en gesaghebbendheid van die onderwerp onder bespreking. Tog is daar ’n verskil tussen akademiese studies en boeke; en akademiese studies moet dikwels herskryf word as dit vir boekpublikasie voorberei word om die leesbaarheid daarvan te verseker. Akademiese studies is soms droë en droewige leesstof. Daarteenoor staan die korrektheid en diepte van die navorsing vir die voltooiing van die boek. En hier dwing die boek bewondering af vir die rykheid, diepte en omvang van die navorsing. In daardie opsig is die boek ’n baanbrekerswerk wat beide ’n bewarende en verdiepende bydrae lewer tot die ontwikkeling van die breër taalgemeenskap in Suid-Afrika.

Om die belangrikheid van Bostaal as publikasie te verstaan, is dit noodsaaklik om dit te plaas binne die ontwikkelingsgang van die weermag in Suid-Afrika as beide verdedigings- en sosiale instelling. Uit daardie oogpunt is daar drie baie duidelik herkenbare periodes van historiese ontwikkeling in die Suid-Afrikaanse krygsverlede.

Tussen 1912 en 1948 is die Unieverdedigingsmag tot ’n groot mate gedefinieer deur Suid-Afrika se noue strategiese bande met Brittanje en die Britse gewapende magte. Die periode is gekenmerk deur Suid-Afrika se deelname aan die Eerste en Tweede Wêreldoorloë, die bestuur van die spanning tussen Afrikaans- en Engelssprekende Suid-Afrikaners, en die hantering van verskeie binnelandse opstande, waarvan die belangrikste die  blankemynwerkerstaking van 1922 was. Trouens, die skrywer wys daarop dat daar ’n gevaar bestaan dat die taal van die bosoorlog, soos die taal van die Unieverdedigingsmag in die Tweede Wêreldoorlog, verlore sal gaan. Die unieke taal wat tydens daardie oorlog gebruik is, is nooit formeel gedokumenteer nie, en het uiteindelik in die niet verdwyn.4

Bostaal het egter betrekking op die twee tydperke van krygshistoriese ontwikkeling in Suid-Afrika vanaf 1948 tot 1994. Hierdie periode is gedefinieer deur die Koue Oorlog, oorloë van dekolonisering in Afrika, en die groeiende internasionale isolasie van Suid-Afrika as staat. Dit is die era wat volgens die historikus Paul Moorcraft gedefinieer is deur die “suksesse van die apartheidstaat”; en die opbou van ’n kragdadige weermag, voer Moorcraft aan, is waarskynlik die belangrikste sukses in dié verband.5 Die kragdadigheid van die weermag in dié era kan na verskeie faktore herlei word. Een daarvan was die dienspligheid van alle blanke mans. Dit sou die weermag omskep in een van die belangrikste vormende sosiale instellings in die samelewing van die era. As sosiale instelling is dit uiteraard ook sosiaal gedefinieer en gekonstitueer deur die eiesoortigheid van die taal wat ontwikkel het; en in daardie opsig was dit veral gekenmerk deur die gebruik van Afrikaans as spreektaal. Na 1994 sou ’n derde periode van Afrikanisering binne krygshistoriese konteks in Suid-Afrika ontvou.

Die skrywer is daarom korrek in sy argument dat die boek erkenning verleen aan die Afrikaanse taal en die verryking van Afrikaans; en dat daar ’n risiko bestaan dat ’n belangrike kultuur- en historiese skat verlore sal gaan indien dit nie opgeteken word nie.6 Die skrywer is ook korrek in sy argument dat bostaal hoofsaaklik uit die wisselwerking tussen Afrikaans en Engels ontwikkel het en deur die interaksie van Afrikaans- en Engelssprekende soldate. Dit is hierdie realiteit wat tot ’n kenmerkende stel woorde en uitdrukkings aanleiding gegee het.7 Die skrywer voer ook aan dat die militêre omgewing ’n vrugbare teelaarde gebied het waarbinne beide beskaafde en gekruide taalgebruik kon gedy. Die sosialiseringsdimensie – watter vorm van taalgebruik uiteindelik na vore getree het – het egter grootliks van die individu se eie waardes en norme afgehang. Sonder twyfel het dit egter in algemene omgang die ruimte gebied vir die vrye gebruik van vloek- en skeltaal.8

Gesien vanuit ’n samelewingsperspektief is dit belangrik om die vraag te stel met betrekking tot die impak van bostaal op die breër samelewing. In hierdie verband wys die skrywer, heeltemal tereg, daarop dat die militêre kultuur nooit tot die militêre omgewing beperk bly nie en dat verskeie elemente daarvan deur soldate na hul burgerlike gemeenskappe oorgedra word, waar dit in alledaagse sosiale interaksie voortleef, wat ook hier geld. Bostaal, voer die skrywer aan, het op hierdie wyse ’n nuwe bestaansruimte binne die burgerlike gemeenskap gevind deur kontak met familie en vriende van persone wat militêre diens verrig het. Gevolglik het sekere militêre uitdrukkings ook in die burgerlike spreektaal posgevat en tot vandag toe behoue gebly.9

Taal speel ’n sentrale rol in die aard en wese van weermagte. Die institusionele en burokratiese aard van weermagte is ’n belangrike realiteit in die wyse waarop daar binne militêre konteks gekommunikeer word. Eerstens maak die hiërargiese aard en kompartementalisering van militêre instellings, wat ’n noodsaaklike uitkoms van militêre geheimhouding en bevelvoering is, dit dikwels moeilik om aan ’n vrye uitruil van idees deel te neem. Die wolk van geheimhouding wat dikwels met militêre aktiwiteite geassosieer word, belemmer vrye debat oor omstrede strategiese en militêre sake binne en buite die weermag. Tweedens is militêre organisasies per definisie ontwerp om in ’n dampkring van baie groot onsekerheid – gewapende konflik – te funksioneer. Die behoefte om suksesvol te wees in so ’n onsekere hoërisiko-omgewing het nog altyd veroorsaak dat weermagte ’n premie op ondergeskiktheid, dissipline, hiërargie en rigiede sosiale strukture plaas. Hierdie veranderlikes maak van weermagte redelik rigiede instellings. ’n Rigiede organisatoriese kultuur en klimaat is nie altyd bevorderlik vir die vrye vloei van idees en kommunikasie nie. Derdens – en hier kom die belangrikheid van Bostaal ter sprake – het die behoefte om in hoogs onsekere, verwarrende en stresvolle omgewings te werk en funksioneer, veroorsaak dat gewapende magte deur die eeue heen hul eie vorm van kommunikasie ontwikkel het. Dit was enersyds daarom ’n gegewe dat die Suid-Afrikaanse Weermag as Afrikaanssprekende instelling ’n eiesoortige taal sou ontwikkel. Die aard van taal wat binne weermagte ontwikkel, is so ver moontlik van dubbelsinnigheid en oortolligheid gestroop. Die weermag is byvoorbeeld bekend vir hul gebruik van akronieme. Militêre magte probeer oor die algemeen om ’n vorm van taal te skep wat die teenoorgestelde is van wat die akademiese wêreld as onontbeerlik vir vrye, ongerigte denke beskou. Gevolglik sou die taal wat binne die Suid-Afrikaanse Weermag ontwikkel het, ’n eiesoortigheid hê weens die operasionele realiteite wat aan die orde was. Dit is hierdie unieke taal van die Suid-Afrikaanse Weermag wat die skrywer van Bostaal op ’n uitstekende wyse belig.

Die skrywer slaag uitstekend daarin om die taalgebruikersperspektief van weermagtaal te verduidelik met verwysing na die militêre waardestelsel en beide die doktrinêre en niedoktrinêre konteks waarbinne taal in militêre verband beslag kry. Ook slaag die skrywer uitstekend daarin om bostaal as ’n taal binne ’n bestaande taalgemeenskap op te stel en te verduidelik en om die sielkundige, militêre en opleidingskontekste waarin bostaal beslag gekry het, te belig. Die skrywer verskaf ook  ’n goeie uiteensetting van die stratifikasie van weermagte waarbinne taal beslag kry, sowel as die begronding van bostaal in geestelike waarde, sielkundige ingesteldheid, emosionele stabiliteit, opvoedkundige en geletterdheidsvlakke, en normatiewe gedrag. Tog sou die skrywer en die teks baie baat kon gevind het by die uiteensetting van die sosiale struktuur van weermagte en informele verhoudings waarin soldate hul bevind, soos dit uiteengesit is deur Charles Kirke in sy boek oor militêre antropologie getitel Red coat, green machine. Continuity in change in the British army, 1700–2000.10

Ook in die populêre publikasies en besinnings oor die diensplig-era word die ingeburgerde en unieke gebruik van taal dikwels aan die orde gestel. Bun Booyens wys byvoorbeeld in Troep – die dinge wat hulle saamdra daarop dat die militêre Afrikaans van die diensplig-era talle woorde bevat wat tydens die eerste krygshistoriese periode oorgeneem, dikwels verbuig en in Afrikaans opgeneem is. Woorde soos staff is oorgeneem in Afrikaans as staf eerder as om personeel te gebruik. So ook is ’n Engelse woord soos orders direk in Afrikaans aanvaar en opgeneem. Booyens wys daarop dat die periode van basiese opleiding oorwegend in Afrikaans geskied het.11 Nie net was dit ’n periode van nuutskeppings, eiename, frases en bevele met min ruimte vir misverstand nie, maar – soos in alle weermagte – is basiese opleiding ’n periode van militêre sosialisering, kondisionering, en indoktrinasie. ’n Groot deel van hierdie proses van militêre inburgering hou verband met die aanleer van ’n bepaalde weermagtaal. Bostaal – taal binne ’n taal: 1966 tot 1989 se historiese bydrae moet gesien word as die boekstawing van hierdie taal van inburgering tydens die diensplig-era. Voortspruitend uit hierdie aanvanklike periode van opleiding is die dienspligtige en professionele taalwoordeskat op ’n persoonlike vlak in omvang en diepte uitgebou en verbreed binne die konteks van aanwending en ontplooiing. Vanuit beide ’n sosiale en ’n historiese perspektief is die boekstawing van hierdie taal monumentaal van aard.

Geen resensie van Bostaal – taal binne ’n taal: 1966 tot 1989 sou volledig wees sonder om melding te maak van die omvangryke en deeglike alfabetiese woordelys, lys van uitdrukkings en lys van woorde en uitdrukkings in kontekstuele verband nie. Hierdie lyste uit die era van die Grensoorlog is op sigself van onskatbare waarde in die bewaring daarvan vir toekomstige navorsing en die nageslag. Die boek is voorts in keurige en korrekte, bykans formele akademiese Afrikaans, geskryf. In die geheel gesien moet die waarde en bydrae van die boek nie net in militêre terme beoordeel word nie, maar veral ook in die verrykende bydrae wat dit lewer tot die voortbestaan van Afrikaans in al sy dialekte en vorme. Baie Suid-Afrikaners gaan waarskynlik die boek met ’n traan in die oog lees oor ’n tydvak in die geskiedenis van hierdie land, ’n unieke bostaal wat bestaan het, en wat die leefwêreld van ’n hele geslag Suid-Afrikaners gevorm het. Kriek van der Merwe verdien, in militêre terme, ’n medalje vir die diepte en omvang van die navorsing wat gedoen is vir die skryf van hierdie boek. Dit is ’n boek wat ’n ryke bydrae lewer tot die historiografie van die Grensoorlog en die bewaring van die taal wat in dié tydvak aan die orde was.

Abel Esterhuyse
Departement Strategiese Studies
Universiteit Stellenbosch

Notas:

1 Van der Merwe, K. 2026. Bostaal – taal binne ’n taal: 1966 tot 1989. Pro Patria Museum, Pretoria, bl ii

2 Ibid, bl 10

3 Ibid, bl 2

4 Ibid, bl 4

5 Moorcraft, P. 1994. African nemesis: war and revolution in Southern Africa, 1945–2010. Londen: Brassey's

6 Ibid, bl iv

7 Ibid, bl 9

8 Ibid, bl 17

9 Ibid, bl 21

10 Kirke, C. 2009. Red coat, green machine. Continuity in change in the British army, 1700–2000. Londen: Bloomsbury

11 Booyens, B. 2024. Troep – die dinge wat hulle saamdra. Kaapstad: Penguin Random House South Africa

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top