Bosman se werk is tydloos en leef voort met jaarlikse fees

  • 2

David Muller as oom Schalk Lourens

Die jaarlikse Bosman-naweek is onlangs in die Groot Marico gehou – die 32ste keer sedert die Herman Charles Bosman (HCB) Literêre Vereniging in 1993 gestig is. Die fees is net een jaar – tydens Covid – nie gehou nie. Die hele naweek wentel om die werke van Bosman – wat vir ses maande in 1926 hier skoolgehou het – en die stories van sy gewilde karakter, oom Schalk Lourens.

Elkeen het ’n genommerde blikbeker vir die naweek gekry, waaruit alles wat lekker is, gedrink kon word.

Die fees is oor verskeie terreine versprei: die Groot Marico NG Kerk, die kerksaal, HCB Lewende Museumterrein en River Still Gasteplaas. Daar is musiek, voorlesings en mampoer-proe; poppespel, toesprake en huldeblyke; brood uit die kleioond, gemmerbier en moerkoffie.

Die uitstalling

Die uitstallings van kunstenaars, waaronder Daniela Starosteca, Swannie Swanevelder, Bill McGill en Johann Moolman, en tema-installasies van Phenye Bohtle Primêr, CVO Skool en die Marico Akademie, is in die kerksaal te sien. Skrywers soos Lucas Ntsimako en Danie Steyn vertel tussendeur van hul werke.

Lucas Ntsimako

Maar bowenal is daar Bosman. En samehorigheid en Marico-stilte.

Elke oggend se koffieseremonie met Egbert van Bart was iets besonders. Marico-moerkoffie is die beste!

Slegs 100 gaste kan jaarliks akkommodeer word, omdat die dorp se akkommodasie beperk is. Ons bly so ’n paar kilometer buite die dorp, op Tala Manzi Wildsplaas. Die boeke Sunflower to the sun – the life of Herman Charles Bosman deur Valerie Rosenberg en Herman Charles Bosman – the complete voorkamer stories het saamgekom; soggens oor koffie en saans oor ’n glas wyn as ons van die fees terugkom, lees my geliefde vir my daaruit voor.

Brood word geknie deur oom Hansie

Dit verryk die ervaring net verder as die seekoeie in die groot dam onder die maanlig blaas en raas; of die visarend smôrens na sy maat roep, voor hy laag oor die water gly op soek na ’n vis vir ontbyt. ’n Mens voel die stilte van die Marico aan daar by Tala Manzi. Sou jy uitstap in die veld, sal koedoes, gemsbokke en buffels jou pad kruis, amper soos dit destyds was.

Arno Faul, een van die stigterslede, vertel ons later ’n bietjie oor wat voor hierdie wonderlike naweek gekom het. Die fees het nie ontstaan oor die werke van Bosman nie. Die storie het sy begin gehad by die Dendrologiese Vereniging se plaaslike tak – Tak Olienhout.

“Tydens ons ekskursies om die bome van die Marico te identifiseer (daar is meer as 200 inheemse bosveld-boomsoorte in ons distrik) het ons onder die indruk gekom van die gees van die plek, wat in die Marico nog grootliks nie platgeslaan is nie. Dit het deurslaggewend geblyk te wees – deur alles skyn die lig van hierdie gees: die landskap, planteryk, dier en mens en hul stories. Tydens een van ons uitstappies in die Dwarsberge, het ons afgekom op die plaasskooltjie by Heimweeberg, waar Bosman hom in 1926 as onderwyser bevind het. 

“Sy sensitiewe aanvoeling vir die gees van die Marico het hom dwarsdeur sy kort lewensloop bygebly en hy kon met genialiteit daaraan uitdrukking gee. Derhalwe was dit byna vanselfsprekend dat die Maricojane hier ter sprake, Bosman sou koöpteer as lewende ikoon; en ’n daaropvolgende stap sou wees om hierdie gees van die Marico te deel met mense wat ’n aanvoeling vir so ’n ervaring het. In Bosman het ons bloot ’n geesgenoot gevind, wat so ’n ervaring artistiek kon verwoord.”

Soos Bosman in Marico revisited skryf: “There is no other place I know that is so heavy with atmosphere, so strangely and darkly impregnated with that stuff of life that bears the authentic stamp of South Africa.”

Arno vertel voorts dat die Bosman-naweek van 1993 tot 1996 by dié skooltjie gehou is. “Die akteur Patrick Mynhardt is genooi om erepresident te word. Sy vertolking van oom Schalk in verskeie toneelstukke het ’n integrale deel van die fees geword. Patrick Mynhardt, David Butler, Antoinette Pienaar en David Muller is van die towenaars wat HCB se stories hier by die fees kom vertel het.”

David Muller is weer vanjaar se sterakteur, wat in twee produksies te sien is: “Bushveld boo!!!” en “Blood and silver”. Eersgenoemde is stories van oom Schalk, laasgenoemde is gebaseer op die boek Blood and silver deur Jan Glazewski en handel oor hoe sy Poolse familie uit Oos-Europa gevlug het om onder die Nazi’s en hul konsentrasiekampe uit te kom. Lees ’n resensie oor die boek hier.

David Muller voer die toneelstuk Blood and silver in die groen oase van River Still Gasteplaas op.

Hy vertel my oor die aand se kerrie en rys: “Herman Charles Bosman se stories is verweef in die waarheid. Hy het ná skool op die stoepe van die boere gesit en geluister na hul stories. Hy het net op die ware stories borduur.”

Santa en Egbert van Bart is twee van die stigterslede van die Herman Charles Bosman Literêre Vereniging.

Egbert van Bart, een van die stigterslede van die HCB Literêre Vereniging, voeg by: “Helena, Bosman se vrou, wys daarop dat dit vir Bosman ’n ernstige vergryp sou wees om hom ’n ander man se storie toe te eien. Bosman het hom deurentyd laat lei deur die Marico se gees van plek (spiritus loci ) en sy eie unieke verbeeldingsvlug, wat onnavolgbaar is.”

David voeg by dat die stories soms baie eenvoudig en kort is, maar dat die geheim daarin lê om dit reg te vertel. “Dit gaan nie oor die storie nie, maar oor wanneer jy jou pyp teen jou velskoen uitkap; wanneer jy in die verte staar; wanneer jy jou hoed op jou kop verskuif.” Hy vertolk al sedert 2012 elke jaar die rol van oom Schalk.

Die Bosman-naweek is ’n geleentheid vir Bosman-entoesiaste om bymekaar te kom, maar was ook aanvanklik belangrik as fondsinsameling vir die restourasie van die skoolgeboutjie.

“In 1995 het die ou Transvaal Museumdiens die oorspronklike planne van die Bosman Skool opgespoor en ’n terreinopname gedoen – ’n belangrike aspek toe die skool in 2002 herbou moes word, nadat swaar reën dit vernietig het. ’n Nuwe terrein vir die Bosman-naweke is benodig en ook ’n nuwe gebou waarin die byeenkomste kon plaasvind.

“Let van den Berg, destydse voorsitter van die Literêre Vereniging, was deurslaggewend in die verkryging van die grond waarop die Lewende Museum vandag staan. ’n Groot finansiële skenking van R150 000 het ’n replika van Bosman se skoolgeboutjie op die Lewende Museum-terrein moontlik gemaak.

“Danksy die Transvaal Museum se planne, het Koos Olivier die skooltjie laat verrys deur net tradisionele en inheemse boumetodes te gebruik. Die struktuur was só getrou aan die oorspronklike moddergebou, dat die wit miere onmiddellik ingetrek en ’n kolonie daar gevestig het,” vertel Arno.

Die amptelike inhuldiging is in 2005, ter viering van Herman Charles Bosman se 100ste verjaardag, gehou.

Die skoolgebou is (met behulp van die planne wat deur die Transvaal Museumdiens verskaf is) deur Koos Olivier gebou – wat slegs tradisionele en inheemse boutegnieke en materiale gebruik het. Die struktuur was só getrou aan die oorspronklike dat die rysmiere die eerstes was om dit in te wy deur ’n kolonie in die struktuur te vestig. Die gebou is in 2005 (deur mense) ingewy, tydens Herman Charles Bosman se 100ste verjaardag.

Koos Olivier, Hansie Coetzee en Colin Cooper was van die projekbestuurders om die hartbeeshuise, kombuis, buite-verhoog en ablusiegeriewe met behulp van lede en plaaslike werkers op te rig.

Plaaslike Batswana-mense het die sefalana (graanskuur) liefdevol gebou. Die kgotla of lapa (vergaderplek) was die laaste wat deur die kunstenaar Johan Moolman bygevoeg is. Hy is sedertdien oorlede, maar ’n bronsbeeld wat hy van Herman Charles Bosman gemaak het, pryk op die terrein én sy gees is steeds sterk aanvoelbaar.

Hoe nostalgies toe iemand tydens die fees noem dat Patrick Mynhardt op 25 Oktober 2007 – die Donderdag voor die feesnaweek – in Londen oorlede is, waar hy op 75-jarige ouderdom weer oom Schalk se stories in Jermyn Street Theatre in die West End opgevoer het. Dis in hierdie einste teater wat sy loopbaan destyds begin het.

Die “Man in Brown Suit”

Die “Man in Brown Suit” (die akteur Francois Venter) – een van die karakters in Bosman se essays, Talk of the Town – het die hele naweek in sy bruin pak, kruisbande en hoedjie alle aankondigings hanteer en ook meer oor sy persoonlike reis met Bosman en van die ander akteurs wat al daar opgetree het, vertel.

Christiaan Bester

Dit laat ’n mens natuurlik wonder hoe Bosman steeds vandag relevant is. Daar is kritiek jeens sy Afrikaanse Engels soos hy dit genoem het; sy stories word dikwels as rassisties of chauvinisties afgemaak. Die advokaat, Christiaan Bester, werp in sy toespraak, “Die relevansie van Bosman vandag”, lig hierop.

“Dis ’n voorreg om terug te wees in die Marico, op die vooraand van die somer, net soos Bosman dit amper ’n eeu gelede ervaar het toe die eerste donderbuie die doringveld laat herleef het. In 1926, op slegs 21, is die nuut gekwalifiseerde onderwyser deur die Transvaalse Onderwysdepartement gestuur om by ’n landelike plaasskool te onderrig. Die amptenare het hom dalk voorgestel as ’n beskaafde mag, wat geletterdheid kon bring aan ’n volk wat in mondelinge tradisie gewortel was.

“In plaas daarvan, het die Marico hom verander.

“Die Boere wat Bosman teëgekom het, was ’n geharde volk – afstammelinge van diegene wat Conan Doyle eens beskryf het as ‘verweerd en viriel’, gevorm deur oorlog en geloof. In hulle het Bosman ’n diepte van karakter en storievertelling ontdek, wat die lewensaar van sy skryfwerk sou word. Jare later het hy erken dat, hoewel hy gekom het om te onderrig, dit hy was wat bekeer is. Hy het geleer om ‘die rykdom en wysheid van die mondelinge kultuur van die Marico-distrik’ te waardeer. Uit hierdie grond het byna 150 stories gegroei, wat sy literêre nalatenskap gedefinieer het.”

Adv. Bester vertel dat sy eie Bosman-reis toevallig begin het, eers in universiteitslesings onder professor Craig McKenzie, later een middernag toe Patrick Mynhardt weer vir oom Schalk Lourens tot lewe gebring het in ’n maanverligte tuin.

“Jare later as student in Texas het ek Bosman weer gevind, deur sy manuskripte by die Universiteit van Texas se Harry Ransom-sentrum, verkoop deur sy derde vrou, Helena Lake. Miskien het die Texans in die Marico-boere iets van hul eie pioniersgees herken – mense van die grond, eenvoudig maar diep, gebonde aan land en storie.

“Om te vra of Bosman steeds relevant is, is om die man self te herbesoek. Hy is gebore in ’n Afrikaanssprekende Kaapse familie, maar tweetalig grootgemaak. Hy het in Engels geskryf – nie uit verwerping van Afrikaans nie, maar uit instink. André P. Brink het opgemerk dat Afrikaanse sintaksis steeds sy Engelse sinne gevorm het; sy skryfwerk was tweetalig in gees, indien nie in taal nie.

“Bosman het gedurende ’n tyd geskryf toe die nasionale kultuur verskeur was tussen Engelse en Afrikaanse faksies, terwyl die onderdrukking van swart Suid-Afrikaners grootliks geïgnoreer is. Hy het beide Engelse kulturele oorheersing en Afrikaanse purisme weerstaan ​​en eerder om ’n literatuur gevra wat ‘’n kenmerkende Suid-Afrikaanse identiteit’ sou weerspieël. Afrikaans, het hy geglo, is nie uit Europa ingevoer nie, maar was ’n taal ‘gebore uit Afrika ... een met die gras, die klippe en die geheimenisse van hierdie kontinent’.

“Hy het kunsmatige bande met die Nederlandse kultuur verwerp en aangevoer dat Afrikaans ‘in gees meer van Nederlands as van Chinees verskil het’. Vir Bosman was identiteit nie gewortel in bloedlyne nie, maar in tuishoort – in die land self. Sy romantiese gevoeligheid het uitdrukking gevind in sy beskrywings van die Marico se skemerskoonheid: ‘Soms, snags, wanneer die wêreld baie stil is, waai ’n sagte wind oor die veld. Dan, as jy aandagtig luister, kan jy die storie hoor wat dit te vertel het.’”

Adv. Bester sê hierdie diep verbintenis met die landskap het Bosman se sosiale insig gevorm. Soos Márquez of Borges, het Bosman fiksie gebruik om onstuimige realiteite te verken. Deur satire en ironie het hy skynheiligheid, rassisme en morele rigiditeit blootgelê.

“In Funeral earth ontbloot oom Schalk die ironie van Afrikaners wat Afrika-stamme ‘beskaaf’ terwyl hulle die wreedhede herhaal wat eens aan hulle toegedien is. Bosman het erken dat beide swart en wit boere ’n band met die land gedeel het – ’n morele ekwivalensie wat uitgewis is deur wette soos die 1913 Naturellengrondwet (Natives Land Act).”

Hy sê voorts Bosman se empatie vir beide Afrikanerlyding en Afrika-ontneming het sy hibriede identiteit weerspieël: ’n verengelste Afrikaner wat sonder haat kon kritiseer. In Willemsdorp, wat postuum gepubliseer is, het hy Apartheid se obsessie met rassesuiwerheid bespot en taal en karakter gebruik om kulturele vermenging te beliggaam. “Ironies genoeg het dieselfde staat wat Afrikaans as ’n simbool van rasse-ideologie verhef het, vergeet dat die taal self uit hibridisering gebore is – tussen Nederlands, Maleis en Afrikatale.

“Leon de Kock het Bosman ’n ‘hibriede man’ genoem, een wat maklik tussen die Engelse en Afrikaanse wêrelde beweeg het en inklusiwiteit en wedersydse begrip bevorder het. Sy stories – pittig, deernisvol en skerp oplettend – nooi lesers uit om morele teenstrydigheid sonder vervreemding te konfronteer.

“In ’n Suid-Afrika wat steeds worstel met ongelykheid, ras en korrupsie, bly Bosman se relevansie voortbestaan. Hy wys ons dat humor en menslikheid paaie na versoening kan oopmaak, dat literatuur die spieël kan vashou sonder om dit te verpletter. Sy hibriditeit – die vermoë om twee waarhede gelyktydig vas te hou – is presies wat ons gepolariseerde era nodig het.

“Bosman leer ons om die middelpunt te behou: om te luister, te reflekteer en gemeenskaplike grond te vind. In sy Marico-stories – soos in die lewe – herinner hy ons daaraan dat selfs die sagste wind oor die veld ’n storie dra – as ons net stop om daarna te luister.”

Moerkoffie soos net in die Bosveld

Natuurlik is die Marico nie net bekend vir sout-van-die-aarde-mense nie, maar ook vir gasvryheid. Elke koffiebreek, elke ete, is ’n Bosveldfees. Koos Olivier het selfs ’n spreekbeurt gehad oor die bekende “Pap & plentie” – ’n laatontbyt waar mieliepap die ster van die vertoning is, maar die plaasbotter, hoenderlewertjies, uiesmoor, brandrissie-blatjang en ander bykomstighede net so belangrik is om die “plentie” te vergestalt.

In die skoolgeboutjie se agterste kamer is daar plakkate en foto’s van vorige optredes daar. Ná ’n kort dokumentêr, Nicky Rebello se “Touch of madness” oor terugstap op die spore van Bosman in Johannesburg, stap die “man in die bruin pak” saam met feesgangers terug in die tyd en wy ’n oomblik se stilte aan dié wat oorlede is en oom Schalk se stories vir jare lewe gegee het: Patrick Mynhardt en David Butler.

Die Namastap

Vir elke bene-rek of sonsak, is daar optredes deur plaaslike kunstenaars en ook die Vryburg ReKhois wat die “Stofpad Namastap” doen.

Morne en Lea Brits

Feesgangers word op verskeie maniere betrek: daar word saam met oom Hansie brood geknie en in panne gesit vir die varsgebakte brood-fees om skemer; daar word saam vrugteslaai gemaak vir ontbyt; en daar word saam mampoer geskink vir die mampoer-proe en voorlesing met Morne en Lea Brits, wat al vir jare elke Bosman-fees bywoon.

Daar is twee sprekers van die Noordwes-Universiteit wat betrokke is by die “Marico-projek” – ’n geregistreerde interdissiplinêre navorsingsprojek wat poog om akademiese ondersoek onder Noordwes-Universiteit-navorsers na die Marico, Herman Charles Bosman, die Herman Charles Bosman Literêre Vereniging, Lewende Museum en Bosmanfees te inspireer.

Farzanah Loonate

Dit is geïnisieer en geregistreer deur die NWU-historikus Robert Benjamin Uys. Farzanah Loonate, ’n Engelse Literatuurdosent en navorsingslid van die navorsingsentiteit, Sosiale Transformasie van die NWU, het ook aangesluit en saam verteenwoordig hulle die kerngroep navorsers. Die Marico-projek is geregistreer onder die navorsingsentiteit Fokusarea Sosiale Transformasie (FAST) en is oop vir enige akademikus met ’n belangstelling in die Marico, HCB, en die HCB Literêre Vereniging, Lewende Museum en Bosmanfees.

Robert sê: “Om navorsing in die Marico te doen, moes ek toestemming kry van beide die NWU en die belanghebbendes wat met hierdie projek in die Marico geassosieer word. Ek het die HCBLS aan die einde van 2024 genader met die idee om ’n projek te registreer en het in 2025 toestemming van die vereniging ontvang om navorsing te doen.”

Farzanah sê onder meer in haar toespraak in die kerk, onder die titel, “Herman Charles Bosman: ’n Gees van versoening”: “Vir Suid-Afrikaners roep die woord ‘versoening’ diep emosie en herinneringe op aan die Waarheids- en Versoeningskommissie wat in 1995 gestig is om nasionale eenheid ná Apartheid te bevorder. Lank voor dit, het die Suid-Afrikaanse skrywer Herman Charles Bosman met soortgelyke kwessies van verdeeldheid en ongeregtigheid geworstel. Tydens die Britse koloniale en Apartheidsbewind, weerspieël sy stories ’n hunkering na eenheid, respek en gedeelde menslikheid binne ’n multikulturele Suid-Afrika.

“Versoening is in sy kern die proses om konflik te oorkom en destruktiewe houdings in verhoudings van vertroue en samewerking te omskep. Dit is nie ’n enkele bestemming nie, maar eerder ’n voortdurende maatskaplike proses, wat vrede en wedersydse respek herstel. Bosman se werke beliggaam hierdie gees deur ironie, satire en humor – instrumente wat vooroordeel blootlê en verbintenis oor rasse- en kulturele grense heen vier.”

Sy gaan voort: “Alhoewel dit dikwels as ‘polities onkorrek’ bestempel word, openbaar Bosman se stories ’n diepgaande anti-rassistiese humanisme. Soos David Saks opmerk, het hy alle mense as fundamenteel gelyk gesien, selfs al kon sy karakters se taal lesers skok. Deur vertellers soos oom Schalk Lourens te gebruik, het Bosman ironie in kritiek omskep en die absurditeit van rassisme onthul. Soos Phaswane Mpe opgemerk het, dwing Bosman se kontroversiële woordkeuses lesers om tussen belediging en ironie te onderskei.

“In ‘Unto dust’, een van Bosman se bekendste Marico-verhale, sterf ’n wit soldaat en ’n swart man albei tydens die oorlog. Met verloop van tyd vee die natuur alle onderskeid tussen hul bene uit, wat gelykheid in die dood simboliseer en bevraagteken waarom die lewe enigsins anders moet wees. In ‘The prophet’ ondermyn Bosman die rassehiërargie deur die swart profeet Mosiko as meer vereerd en insiggewend as sy wit mededinger uit te beeld, wat wedersydse respek en die vloeibaarheid van kulturele gesag suggereer.

“‘The kaffir drum’ beklemtoon kulturele uitruiling: wit Marico-boere omarm Afrika-tromme as hul voorkeurmiddel van kommunikasie, bo dié van telegramme en geskrewe kennisgewings. Onder die humor lê ’n erkenning van Afrika-kennisstelsels en ’n viering van kulturele hibriditeit.”

Sy sê ook: “In sy essay ‘Notes on the good earth’ gee Bosman se ontmoeting met ’n Hindoe-man wat blomme verkoop, kleur en lewe aan sy somber beskrywing van Johannesburg. Hierdie oomblik van kruiskulturele skoonheid weerspieël sy verlange na ’n lewendige, diverse samelewing. Sy roman Willemsdorp (1951) satiriseer Apartheid se morele absurditeite en ontbloot wette teen interrassige verhoudings en spanning tussen Engelse en Afrikaners. Deur kodewisseling en die insluiting van Afrikaanse en Afrika-woorde, desentreer Bosman Engelse oorheersing en bevorder veeltaligheid – wat hy sy natuurlike ‘Afrikaanse-Engels’ genoem het.”

Sy sluit haar toespraak af met wyse woorde: “In ‘The Witwatersrand show’ vier Bosman ’n jaarlikse byeenkoms waar Suid-Afrikaners van alle rasse in gedeelde vreugde verenig: ‘Vir ’n rukkie is die mense een en in vrede – hulle word naby aan die grond gebring, naby aan die werklikheid.’ Hierdie vlietende harmonie beliggaam sy geloof in gemeenskaplike menslikheid en simboliseer die potensiaal vir eenheid.

“Bosman se stories herinner ons daaraan dat lag, empatie en nederigheid dade van versoening is. Sy karakters ontbloot verdeeldheid, maar modelleer ook begrip. Vandag staan ​​ons in die Marico, naby die grond wat hy liefgehad het, en eer ons sy blywende boodskap: dat Suid-Afrikaners, in al hul diversiteit, steeds saam kan leef in die gees van Ubuntu.”

Haar woorde sluit ’n interessante middag af en lewer baie stof tot nadenke.

Die laaste oggend skuif die fees van die feesterrein na River Still Gasteplaas sodat die feesgangers in die natuur kan gaan stap, met voëlgeluide en kabbelende water as agtergrond.

In sy toespraak wat die konsep van ’n lewende museum ondersoek, sê Robert die oggend daar by Riverstill dat hy die Herman Charles Bosman Lewende Museum – en die mense wat dit gebou het en versorg – huldig, want dit verpersoonlik die gees van Bosman en die Marico.

Elke ruimte binne die Bosman-terrein bestaan ​​vir een doel: om stories te vertel, en hy werk tans saam met die Herman Charles Bosman Literêre Vereniging om die verhaal van hierdie merkwaardige gemeenskap en die Lewende Museum wat hulle gebou het, te vertel.

“Daar is die skoolgebou, gevul met narratiewe – die verhaal van Bosman se tyd in die Marico – waar kinders die heilige wonder van lees geleer word. Die hartbeeshuisie, met sy stoep, is nog ’n storievertellingsruimte, die tuiste van mampoer-proeë en voorlesings. Die stoep self is die agtergrond van baie van Bosman se geliefde verhale. Dan is daar die verhoog, waar tallose stories deur akteurs en musikante vertel is. Die sefalana, of graanskuur, waarvan die naam “mandjie rykdom” beteken, bêre stories as sy rykdom. Selfs die Batswana-plaashuis, hutte en lapa met sy erf, herinner aan die eeue-oue tradisie van kinders wat om die vuurherd bymekaarkom om na stories te luister.

“Maar wat is ’n museum? Die emeritus professor Tony Bennett voer aan dat museums – soos polisiestasies, hospitale en skole – nie net die samelewing dien nie, maar ook mag kommunikeer – om te wys wie dit besit en hoe ‘goeie burgerskap’ lyk. In die verlede het museums verklaar wie se geskiedenis saak maak. Afrikane is as antropologiese onderwerpe uitgestal, beskryf as ‘tydloos’ en ‘onveranderlik’, terwyl setlaargeskiedenisse verheerlik is deur Voortrekkerkappies, wawiele en grammofone. Dit was nie gebalanseerde of waarheidsgetroue uitbeeldings nie.

“Ná 1994 het die wanbalans voortgeduur. Voorbeelde hiervan is onder meer dat  Freedom Park steeds Afrikane in hul vermeende tydloosheid uitbeeld, terwyl die Voortrekkermonument steeds setlaarnarratiewe vier.

“Die verhaal van die Bosman Lewende Museum begin anders – nie met dioramas of kappies nie, maar met bome. In die 1980’s het ’n groep vriende maandeliks bymekaargekom om bome by Groot Lotteringskop, Enzelsberg en Heimweeberg te bestudeer. Hulle het bome geïdentifiseer en ’n gedeelde gees in Bosman se woorde gevind.”

Hy sê voorts: “Vandag is die Lewende Museum veel meer as net ’n feeslokaal. Plaaslike skole besoek dit weekliks: kinders knie en bak brood in die kleioond, bespeel marimbas en hoor stories van die Marico se mense en landskap. Op hierdie manier word mondelinge geskiedenisse en kulturele praktyke lewend gehou.”

Robert sê anders as tradisionele museums gevul met geplunderde artefakte of bevrore geskiedenisse, vier die Lewende Museum gedeelde menslikheid. “Dit beliggaam die Batswana-idioom ‘Motho ke motho ka batho ba bangwe’ – ’n mens is ’n mens deur ander mense.

“Hierdie museum se fondament is nie mag of ideologie nie, maar liefde – liefde vir vriendskap; vir Bosman se stories; vir die Marico se landskap; en vir bome.”

  • Die jaarlikse Bosman-naweek word die laaste naweek in Oktober gehou. Die akkommodasie en kaartjies verkoop gou uit. Gesels met Santa van Bart by die Toerismekantoor hieroor: Bel of WhatsApp by 083 272 2958, stuur ’n e-pos aan info@marico.co.za of loer by www.marico.co.za
  • Bespreek jou verblyf by Tala Manzi Wildsplaas op Plaas Driefontein, Groot Marico, by 082 820 4117 of stuur ’n e-pos aan navrae@talamanziwildsplaas.co.za
  • Die roerende Blood and silver-toneelstuk wat geskoei is op die bekroonde memoir van omgewingsprokureur Jan Glazewski, waarin David Muller speel, word in twee intieme opelugvertonings op 23 en 30 November om 17:30 by die Waterfall Cottage teen Kalkbaaiberg opgevoer. Kaartjies is deur Quicket beskikbaar. Albei vertonings dien as fondsinsameling om indringers van die berghange te verwyder.

Foto’s: Clifford Roberts

  • Ons het NoordWes-provinsie met die nuwe Ford Everest XLT 2025-model 2.0L Bi-Turbo Diesel gaan verken. Dit was die perfekte plek om teen die hitte te skuil en die grondpaaie te navigeer. Loer by www.ford.co.za.
  • 2

Kommentaar

  • Cornelle Young

    Uitstekende beskrywing van die Bosmanfees en die gasvryheid van die Marico-mense. Waardevolke opsomming van Robert Uys se siening van die plek en gebeure en aktiwiteite as Lewende Museum. Trots op wat julle daar doen met Herman Charles Bosman se nagedagtenis.

  • This article brings gooseflesh to my skin and stirs my heart with fresh blood as I breathe in the bushveld air.
    Thank you for being there to report on a truly Living Museum.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top