
“Boot Camp Blues” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Boot Camp Blues
Dit het alles begin met daai verdomde kiekies.
Ek lê nog so niksvermoedend voor die TV op Die Gemaklikste Bank in die Heelal, toe my foon klingel. ’n WhatsApp van Helen. Ek het haar leer ken as ’n toegewyde drinker en roker. Geen geleentheid was vir haar te onbenullig om uiteindelik dramaties op ’n ongeleë plek uit te pass nie. Sy is egter nou sober en die woord sigaret kom nie eers meer oor haar lippe nie. Argeloos tel ek die foon op net toe ’n aanvallige speurder ’n pediatriese knyptangetjie uitpluk om nog ’n moordsaak op te los waarin die enigste leidraad ’n mikroskopies klein stukkie geskenklint is. Ek pause die groot skerm en staar na die klein skerm. Dis ’n paar kiekies van mandjiesvol kankerwerende kraakvars groente in al die belangrike kleure wat sy self groei. Daarmee saam die nuus dat sy nou elke oggend voor dagbreek gym toe gaan. Slaan my dood met ’n nat vis.
Stadig kom die gewaarwording dat Helen se boodskap deel van die werklikheid is, maar ek nie meer nie.
So, hier is dit nou. Tot dusver het ek net gerugte gehoor, maar die dag het gekom dat ek my leefstyl moet verander, my gemaksone moet agterlaat. Makliker gesê as gedaan. Dit val min of meer in dieselfde kategorie as paslakens in netjiese militêre reghoeke vou. Is my koesterende sitkamerbank waarop ek fuifkyk vervolmaak het nou deel van die Ou Ek?
Maar voor jy daai wenkbrou lig; ek hekel darem ook terwyl ek my oorgee aan storiestorms. Die lysie van familielede en vriende wat nog nie ’n kombers of bonkige serp gekry het nie, is wel besig om met rasse skrede te krimp.
Soms verloor ek tred van tyd en word dan wreed na die werklikheid teruggeruk as die eerste voëltjies die nuwe dag aankondig. En op sulke dae kom Murphy mos ook besoek aflê en sal die onwillige leerders ekstra aangannerig wees, maak asof hulle nog nooit van trigonometrie gehoor het nie.
Woorde wil nie kom vir ’n gepaste antwoord nie, so ek stuur maar ’n paar emoji’s en strompel buitentoe om die swembad te gaan skoonmaak.
Die blare word versigtig en presies opgeskep en ek besef dat ek besig is om leidrade te soek. Fokus! Geen moord om op te los nie, geen lyk op die bodem van my swembad nie – net soms ’n lewende een op my rusbank ... Probeer eerder plannetjies smee om oemf in jou lewe terug te sit, smeek die stem van binne.
Wel, ek kan nie, ek mág nie ’n groentetuin skoffel nie. Ek is op die swartlys van die Organisasie gekant teen Wreedheid teenoor Plante. Onder my vingers vrek selfs ment en laventel. Die filter is nou al skoon en nie een molekule bloed is gevind nie. En toe ek die chloor ingooi, verkleur die water nie neongeel om die teenwoordigheid van, uhm, sekere liggaamsvloeistowwe aan te dui nie. Nie dat ek dink chloor kan so iets vermag nie, maar ek het al meer verregaande goed op my plasmaskerm gesien. Ek sal dus geen bewyse vernietig as ek ’n bietjie swem nie. Terwyl ek van kant tot kant spartel, gaan allerhande ongemaksone idees deur my gedagtes. Almal word afgeskiet: sky-diving, scuba-diving, argeologie (Indiana Jones was nog altyd ’n gunsteling), 4x4-roetes, boogskiet (die perfekte moordwapen). Al bogenoemde vra redelike kapitale uitleg en/of kennis en vaardighede waaroor ek nie beskik nie.
Die volgende dag meld die antwoord sonder seremonie aan: ’n advertensie op Facebook vir Adventure Boot Camp. Dit word elke oggend voor sonopkoms in die botaniese tuine aangebied. Eureka! Al wat ’n mens daarvoor benodig, is ’n oefenmat, handgewiggies, sportbra’s en tekkies. Dis ’n eenmalige uitgawe en ’n kredietkaart is geduldig. Vol vreugde registreer ek op die webblad en begin myself sielkundig voorberei om halfvyf soggens op te staan. Dit sal dalk elektriese skokterapie verg, want ek is meer van ’n halfsewe opstander.
Daar is ’n hele drie weke voor die Avontuur in Eden begin en ek dagdroom hoe ek ligvoets oor omgevalle bome spring en opstote oor ’n kabbelende stroompie doen. Ek haas myself na die naaste mall om die nodige aankope te doen. Proteïenskommel is eerste op die lys, want die inligtingstuk sê mens moet iets kleins eet voor jy aanmeld. Nou, dit is vir my onmoontlik. Net reeksmoordenaars kan so vroeg in die oggend kou. Die webblad stel roosterbrood voor, maar ek sal myself in anafilaktiese skok inskrik as die brood so donkeroggend uit die masjientjie spring. En voor jy nou sê, duh, piesang: Ek is lewensbedreigend allergies daarvoor. Vanieljeskommel met ’n opgehoopte lepel kitskoffie daarin is my breinflits. Ek moet eintlik die nuwe wenk vir die Boot Camp-mense gee. Vir wat moet mens ook altyd vir ander mense dink?
Volgende stop: die sportwinkel. Ek kies ’n paar sportbra’s uit. Ek het nog nooit een besit nie, voedingsbra’s wel baie. Die goedjies lyk te fraai, die mooiste kleure en ontwerpe. Ek sluip met drie kandidate aanpaskamer toe. Die pepermentgroen enetjie kom eerste aan die beurt. Dis fluweelsagte materiaal, maar ek vertrou tekstieltegnologie en glo dit sal ondersteun waar dit moet. My spieëlewebeeld lyk egter niks soos die meisie op die traktaatjie wat in laas week se koerant was nie. Ek doen ’n paar jumping jacks, maar gewaar geen ondersteuning nie. Dalk het dit iets te doen met die dosyne voedingsbra’s wat ek al besit het. Ek trek die swart nommertjie nader en moet eers kopkrap om uit te werk hoe die ding aangetrek moet word. Na ’n paar kurktrekkerbewegings is hy aan. Hy vaar baie beter in die springtoets. Maar toe ek die martelbra weer probeer uittrek, moes ek amper die brandweer bel. My arms het ook gekrimp vandat ek in die aanpaskamer gekom het. Geen ninja move kry ’n greep op die monster nie. Die gedoente is gespan oor my vlerkies, my wange word platgedruk deur vermoedelik my bo-arms en maak nie saak hoeveel keer ek in die rondte draai en boontoe pluk nie, monsterbra beweeg nie. Plotseling gee alles skiet en met ’n hik val ek in die hoekie, bra op die skoot, tweeling van ’n ribbok uitgeput en swaaiend. Ek smag na ’n slukkie water en besef ook ek sal nou vieruur soggens moet opstaan om genoeg tyd toe te laat vir wardrobe.
Sportbra’s, sans die swartboelie, natuurlik, en sokkies in die mandjie, durf ek die sporttoerusting aan. Handgewiggies tussen 1,5 kg en 3 kg is aanbeveel. Die 1,5 kg lyk vreeslik beteuterd, dis seker vir kinders onder twaalf jaar. Die 3 kg lyk meer na GI Jane stuff. Ek lig dit uit die rusplekkie … Die volgende oomblik sien jy net bra’s en kouse trek, want die gewiggies is duidelik foutief gemerk. Swaartekrag het my regterhand terstond vloer toe getrek en die hand met die mandjie in ’n sentrifugale boog geruk. In ’n poging om my balans te hou, het my linkervoet ook my regtervoet oorkruis en derhalwe wankel ek soos ’n pasgebore kameelperdjie. Die winkelassistent gemoeid met oefentoerusting, is so besig om onrusbarend-blou kougom te brei, dat sy nie eers die katastrofe reg langs haar opmerk nie. Stadig sleep ek my linkervoet terug in ’n meer natuurlike posisie, sit die mandjie neer, tel die 3 kg gewig met nuwe respek op en ruil dit vir die 1,5 kg.
Ek wil-wil moedeloos raak. As ek nie eers die aankope vir Boot Camp kan baasraak nie, hoe gaan ek die ware Jakob doen? Maar ek sluk my vernedering en maak alles weer bymekaar. Die een paar sokkies het ek in die verste hoek van die winkel by die visvanggoed opgespoor.
Tuisgekom, pak ek alles op my sitkamermat uit. Dit vat al my wilskrag om nie die Mal Kamp te vergeet en die TV aan te skakel nie. Ek gaan sit in die lotusposisie voor my eie Everest. Op pad huis toe het ek op RSG gehoor hoe kragtig meditasie is, dus ... Diep asem ‒ goue lig in ‒ may I be strong ‒ may I be happy ‒ may I be loved. Asem stadig uit ‒ Vader, wees my genadig.
Met nuutgevonde moed werk ek ’n oefenprogrammetjie uit om effens meer beweeglik en hopelik fikser te raak voor die Boot Camp begin. Wreed, so wreed die douvoordag-wekker. Eers gaan stap en dan pilatesoefeninge. Kardiovaskulêre oefeninge sal steeds daagliks in my misdaadvrye swembad gebeur. Ek kies ’n moeilike roete met ’n lekker stywe, lang opdraende vir vinnige resultate. Maar elke dag wat ek stap, word my rug seerder. Jy’s net bietjie plomp en amper oud; druk deur al maak dit seer, moedig ek myself aan.
Tien dae later moet ek walrusagtig uit die bed rol, kombuis toe kruip en myself teen die kas optrek om die ketel by te kom. Njannies koepella. As dit nie vir gel-yspakkies was nie, het ek seker ongemerk in my huis gesterf en dan sou my lyk eers drie dae later daar op die kombuisvloer gevind word, verdwaasde oë starend na die dak. Die duur sportbra sou boonop van my lyf af gesny moes word vir die outopsie.
Ek bel my fisio-swaer en beduie my moeilikheid. Hy praat in tale oor meganiese dit en hernia dat. Ek het mos nog laas drie sulke kussinkies in my laerug wat nie meer hulle plek ken nie – iets te doen met vier swangerskappe en van ’n perd afbliksem. Hy reken ek’s besete om Boot Camp te probeer, beloof om oornag ’n rugstut te koerier en adviseer onmiddellike staking van oefening en baie pynpille totdat ek my dokter gesien het. Ek volg sy raad en skink sommer daardie aand ’n glasie droë wit ook in om die pille ’n hupstoot te gee.
Laatslaap die volgende oggend is goddelik.
Dokter Annie hou my en my kinders nou al gesond vir bykans twee dekades. Sy is enig in haar soort: empaties, met ’n foutlose bullshit detector en sy noem ’n ding by sy naam.
Met die intrapslag word ek oor die kole gehaal omdat ek so lanklaas by haar was; sy het al gedink ek het ’n ander dokter gekry. Ek verstaan dit nie mooi nie. Ek sou dink jou dokter moet bly wees as jy haar min sien. Dit beteken mos sy doen haar werk goed. Daarna word ek uitgevra oor my non-existent liefdeslewe. Sy soek nou al vyftien jaar lank vir my ’n man, nadat ek myne in die swembad verdrink het. Ek speel, ek speel! Hierdie storie het nie ’n kinkel nie. Dan wys sy eers kiekies van haar seun se tweeling en uiteindelik vra sy waarmee sy kan help. Ek hef my klaaglied aan.
Sy beaam my swaer se besware en verbied my om Boot Camp te doen.
“Nee, wag,” val sy haarself in die rede, “is daar mans ook?”
“Nee, dis net vir vrouens.”
“Dis jammer,” sê sy, “anders kon jy net onder ’n boom gestaan en trippel het en dalk iemand se oog gevang het. Jy weet, dis nie meer lank nie, dan is die enigste mans wat in jou belangstel, dié wat vrekplek soek.” Ek oordryf nie; dis die tipe goed wat sy sê.
My moed sak in my nuwe tekkies. Ek wil haar vra of sy nie dalk ’n los Prozac of twee in haar laai het nie. My hele plan om ’n meer opwindende lewe te hê, is in sy maai.
“Maar hoe gaan ek nou my gemaksone verlaat?” vra ek pateties.
“Wel,” sê sy, “ek kan jou medies geskik verklaar vir wals.”
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie


Kommentaar
Uitstekende beskrywing van hoe ek ook voel. Almal oefen en ek kry pyne op plekke wat ander mense nie eers plekke het nie.