Bonatuurlike radio

  • 0
Bron: Free Clip Art

RSG gaan jou Donderdag laat ril. Kobus Burger, die uitvoerende vervaardiger van RSG: Drama, vertel vir Naomi Meyer waarom.

Hallo Kobus, ek hoor anderdag jy sê op die radio die luisteraars wat lankal vir ’n sekere soort storie op ’n Donderdagaand vra, gaan op 12 Junie hulle sin kry. Hoe so?

Die omroeper Renske Jacobs het vir lank spookstories op RSG voorgelees en luisteraars het daardeur ’n voorliefde vir spookstories ontwikkel. Ons kry ook gereeld versoeke in die terugvoer op Radioteater dat ons ’n spookstorie moet uitsaai.

Hulle sê mos mense geniet dit om spanningsverhale te lees, want dan kan jy banggemaak word in die veiligheid van jou huis waar niks met jou gebeur nie (hopelik!). Maar het luisteraars al aan jou verklap hoekom hulle so graag spookstories wil hoor? Indien nie, waarin dink jy lê die sjarme van die spookstorie?

Ek kan nie namens die luisteraars praat nie, maar in die Afrikaanse letterkunde was daar maar nog altyd ’n ruimte en liefde vir spookstories. Seker danksy Langenhoven en Eugène Marais. Dit prikkel die verbeelding. En met radio is die impak tog soveel groter, want die luisteraar is medeskepper. Hy of sy kan sy eie drogbeelde en spoke skep. Ek dink daar is RSG se Radioteater gelukkig, deurdat ons met die verbeelding ’n reeks skrikwekkende spoke kan oproep!

Spookstories is so oud soos Plinius die Jongste s’n uit die Romeinse tyd. Hoe oud is die een van Donderdagaand op RSG (wanneer is dit geskryf, en is dit al vantevore uitgesaai)?

Splinternuut. Dit is Cecilia du Toit se nuwe drama, wat spesiaal vir die radio geskryf is, en dit debuteer op Donderdag 12 Junie.

Bron: Marc Cortez

Waaroor gaan die storie?

Uit die persverklaring: Marius Venter moet die klipformasies in die omgewing van die plaas Klippekloof gaan ondersoek. Mandie Oosthuizen, sy assistent, beplan die besoek in die fynste besonderhede en binne ’n japtrap is hy op die plaas.

Petrus en Kotie Versteen verwelkom hom op die plaas. Hy voel dadelik tuis, totdat hy in die nag wakker word van ’n perd wat runnik. Dan volg ’n geweldige slag ...

Kan Petrus en Kotie verduidelik wat regtig op die plaas aan ’t gebeur is?

Sê nou iemand dink spoke is sommer nonsens. Gaan hulle hul tyd mors om saam te luister?

RSG het ’n groot verskeidenheid luisteraars van 8 tot 88 jaar. Party verkies ernstige, intellektuele drama, ander smag weer na ’n liefdesverhaal of spookstorie. Miskien is spoke vir sommige mense nonsens, maar dalk moet hulle eers luister en dan self oordeel.

'n Vraag vir Evert Snyman, die regisseur van die drama: Hoe maak mens ’n spookstorie vir die radio? Baie hoe-hoes (!) ... of enige ander soort hoorbeelde wat julle moes bedink om in ’n spookdrama te integreer?

'n Baie effektiewe metode is deur 'n atmosfeer deur middel van musiek te skep. Dan kan ons die akoestiek of agtergrond verander deur dit te laat eggo of dit hol te laat klink. (Anders as die normale.) Ons kan ook met stemme peuter om dit spookagtig of dalk demonies te laat klink. Daar is allerhande tegniese verstellings wat gebruik kan word.

Bron: HD Wallpapers

Moet sensitiewe luisteraars Donderdagaand saamluister, Kobus? En kinders?

Mense wat nagmerries kry en gou bang raak, moet dalk liefs nie luister nie. Die verbeelding is magtig en kragtig, dus is dit moeilik om te bepaal wie mag luister of wie nie. Ons waarsku soms en dan vra mense waarom waarsku ons, want dit was “mak” of “koue pampoen”. Dit hang regtig van die luisteraar af. Met Klippekloof is daar nie volwasse of skokkende inhoud nie, maar as iemand liggeraak is en té maklik bang raak en dan sukkel om te slaap ... Wel ... Liefs nie luister nie!

Wie is jou gunsteling-spook, Kobus?

My ma het die gawe om mense bang te maak. Haar spookstories is die beste en sy het al selfs ’n groep van Suid-Afrika se bekendste akteurs en TV-makers die hasepad laat kies met een van haar “verskynings”.

Luister hieronder na 'n uittreksel uit die radiodrama wat om 20:00 op Donderdag 12 Junie 2014 volledig op RSG uitgesaai sal word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top