Boereverneuker of opreg? ’n Resensie van Die siener deur Yolanda Barnard-Lemmer

  • 2

Titel: Die siener: Deur die oë van Gerald Burger
Skrywer: Yolanda Barnard-Lemmer
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928530992

Ek onthou hoe ek en my kamermaat gedurende ons studentedae op Stellenbosch mal oor waarsêers was. Ons het ’n ou tannie met vuil omgedopte kaarte in ’n dodgy woonbuurt in die Strand gaan besoek.

Ek was doodbang vir haar en wou niks hoor wat boos is nie en het dit ook in ’n bewende stem vir haar vertel. Haar woorde aan my? “Hou jou bek. Sit. Ek kan nie help hoe die kaarte val nie.”

Sy het vir my gesê ek gaan ’n tweeling kry en ek moet eendag tussen ’n dokter en ’n boer as huweliksmaat kies. Van die tweeling, die dokter en die boer het daar dadels gekom.

Van die voorspellings was wel waar. Seker so vyftig-vyftig.

Toe ek my ma daarvan vertel (sy was baie gelowig en nie ten gunste van sulke kuiertjies nie), was haar reaksie; “My kind, jy weet dis sonde.” Maar toe in ’n gretige stemtoon: “Wat het sy gesê?”

Ek dink dis die houding van baie mense. Hulle voel dis ietwat uit die bose en beslis onbybels om ’n heldersiende te gaan spreek, maar aan die ander kant fassineer hierdie mense hulle eindeloos. Sê nou maar hulle praat die waarheid? En gestel dit gaan net oor ’n buitengewone talent en het niks met die dooies uit te waai nie?

Dit was dus met groot nuuskierigheid dat ek Yolanda Barnard-Lemmer se boek Die siener – deur die oë van Gerald Burger gelees het. Dit gaan oor Burger se lewensverhaal of outobiografie, ’n genre waarvan ek baie hou, omdat wyd uiteenlopende mense my interesseer.

Gerald se lewe was nie maklik nie. Sy kinderlewe was traumaties en hy is ook mishandel.

Hy word op die boek se agterplat as een van die land se bekendste sieners beskryf. Gedurende 2019 het hy die hoofkarakter in Die siener, sy eie reeks wat op kykNET uitgesaai is, geword. Die reeks, wat deur Rian van Heerden vervaardig is, het hom nog groter bekendheid besorg en het op dié kanaal onder die top 10-programme geboer.

Van sy voorspellings op die reeks (dit is so beplan dat hy oor geen vooraf kennis van enigeen wat daarop verskyn het, sou beskik nie) was amper spookagtig in die kol. So sou hy sommer met ’n wildvreemde padwerker in ’n dorp wat hy besoek het, begin gesels en hom in besonderhede oor die aard van sy gesondheidsprobleme inlig. Die man se mond het oopgehang.

Hoewel ek glo dat sekere mense wel oor ’n sterk intuïsie beskik en dinge kan aanvoel – daar is meer dinge in die hemel en op die aarde wat ons nie kan verklaar nie – het ek egter in 71 jaar nog nooit ’n spook gesien of aangevoel nie. Ek is ook nog nooit deur dooies se rustelose siele geteister nie. Hulle pla my nie. Dit was nog altyd my siening dat dit eerder die lewendes is wat jou nie altyd met rus laat nie.

Ek het die boek egter met ’n oop gemoed gelees en was dadelik ingetrek met Yolanda se gemaklike en toeganklike skryfstyl. (Meer joernaliste behoort niefiksie te skryf, want hulle weet hoe!) Dit lees lekker, maklik en boeiend. Dis duidelik dat sy en Gerald behoorlik gekliek het.

Die boek het pas verskyn en by die eerste bekendstelling in Rian van Heerden se restaurant in Centurion is nie minder nie as 70 eksemplare verkoop. Dis ’n rekord. Glo my!

Gerald se lewensverhaal is aangrypend; soms hartseer en ander kere laat dit jou glimlag. Dit is ook duidelik dat hy heldersiendheid as ’n vloek eerder as ’n talent beskou.

Die hoofstuk oor sy fopdossery as Geraldine sal dalk konserwatiewer lesers ontstel, maar nou ja, dis deel van sy lewensverhaal wat eerlik vertel word. Net soos wat die geval met sy seksualiteit is.

Dit moet erg wees as baie mense dink jy is ’n boereverneuker, maar aan die ander kant is daar talle mense wat in hom glo. Hy is reeds tot September vol bespreek vir lesings.

Diegene wat ’n belangstelling in die esoteriese het, sal die boek verslind. Daar word ook geskryf oor mense wat “met die helm gebore is”. Die oumense het mos so daaraan geglo.

Daar is ook ander opspraakwekkende onthullings. So vertel Gerald dat hy een oggend ’n oproep van die voormalige presidentsvrou Elize Botha ontvang het. Sy het geglo dat haar man, PW Botha, vervloek is en dat ’n bose entiteit hom teister. Sy het vir Gerald gevra om die huis “skoon te maak” en ondersoek in te stel na die “vervloeking” en die boosheid wat die Bothas se lewe so versuur.

Wie sou dit nou van die Christelik-Nasionale tannie Elize gedink het? Maar nou ja, Nancy Reagan, die vrou van oudpresident Ronald Reagan, het glo ook met heldersiendes beraadslaag.

Gerald beweer in die boek dat hy die Laingsburg-vloed in 1981 vooraf gesien en raak voorspel het. Dit het hom laat huil en hy het ’n paar mense gebel en hulle gewaarsku om die dorp te ontruim.

Die boek bevat baie interessante gegewens, soos dat hy ’n diploma in psigiatriese verpleegkunde by die destydse Witrand-hospitaal vir “swaksinniges” voltooi het. Daarna het hy sy studie in psigiatriese verpleegkunde aan Weskoppies voortgesit.

Gerald word as ’n gelowige en kerkganger beskryf wat eers bid voor hy ’n lesing gee en met die dooies kommunikeer – dus volgens die skrywer “’n wandelende paradoks”, hierdie man wat heldersiende is, visioene kry en die toekoms kan voorspel. Hy word selfs met Siener van Rensburg vergelyk wat as ’n “ware profeet van God” beskou is. Mens wonder net wat presies die verskil tussen hulle is.

Jy kan egter gerus wees dat alhoewel geskryf word dat Gerald weet wanneer mense gaan sterf, hy dit nooit vir hulle sal sê nie.

Is hy ’n boereverneuker of is hy opreg? Lees self! Party mense glo sy heldersiendheid grens aan parasielkunde. Vir ander is sy sienings byna evangelies.

My man, Romano, het onlangs die boekbekendstelling in ons tuisdorp bygewoon. Hy is maar ’n skeptiese mens en het in ’n stadium opgemerk dat hy dink dat die ou ’n “bull shitter” is.

“Man, wees oopkop. Gaan woon die praatjie by en dan gesels ons weer,” het ek hom aangemoedig.

Hy het tuisgekom en vertel Gerald het beslis “iets”. Wildvreemde mense in die gehoor kon vir hom vrae vra. ’n Vrou wat hy van geen kant af geken het nie, het opgestaan en hy het dadelik vir haar gesê sy het twee dogters en sy is al vier jaar lank bekommerd oor die een. Dit kon nie méér in die kol wees nie.

Ek het die deel van die boek oor sy voorspellings vreeslik geniet. Maar die spookvangery was vir my ’n bietjie onwerklik. Een leser het gesê dit het haar bang gemaak.

Ek hoop om met een van die toekomstige boekbekendstellings ’n onderhoud met Gerald en Yolanda te voer.

Ek wil hom ook ’n paar vrae vra. Een is wanneer my man gaan ophou rook en of my kinders in Londen darem een of ander tyd na sewe jaar saam gaan afhaak.

  • 2

Kommentaar

  • Belinda de swardt

    Gerald het vir my gesê van 'n donker kouete oor my lewe. Ek verstaan nie wat dit is nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top