Boere by Thabazimbi en ander verhale: In gesprek met die uitgewer

  • 0

Die afgelope week het die kortverhaalbundel Boere by Thabazimbi en ander verhale op my lessenaar beland. Die bundel is die resultaat van ’n kortverhaalwedstryd om in aanmerking te kom vir die Chris Barnard-prys wat deur Minimal Press aangebied word en bied ’n verskeidenheid verhale wat die diepte en diversiteit van Afrikaanse kortverhaalkuns ten toon stel.

Van die sowat 100 inskrywings wat ontvang is, het 40 die kortlys gehaal. Uit hierdie groep het slegs sewe die bundel gehaal, waarvan die volgende drie die wenners was:

  • Albert Maritz met “Boere by Thabazimbi”
  • Fransjohan Pretorius met “Pasop vir die rekenaardiewe” 
  • Curtley Pitt met “Die legendariese rugbybal”.

“Ons het wel gehoop om meer as sewe of agt stories op te neem, maar van die 40, is dit net hiérdie wat die finale cut gemaak het,” sê Zalman Davis, die uitgewer van Minimal Press. Hy is ook die stigter van die Chris Barnard-prys, die Diana Ferrus-prys, en die Ingrid Jonker: l'Art Poetique-digkompetisie.

Die beoordelaar was WJ Strydom, ’n dosent in Afrikaanse literatuur by Noordwes-Universiteit. Dit sou interessant wees om te weet waarna die beoordelaar gekyk het om dié spesifieke kortverhale te kies uit die oorspronklike sowat 100 inskrywings.

Wat ek van die bundel dink? Wel, aangesien ek ook my pen wil waag aan die skryf van ’n kortverhaal, is ek besig om intensief navorsing te doen deur enige kortverhaalbundels te lees waarop ek my kloutjies kan lê. Ek het intussen tot die slotsom gekom dat ek nie diep genoeg dink om die beoordelaars se aandag te trek nie. 😊

Ek moes hierdie bundel twee keer deurlees, omdat ek nie ’n keuse kon maak tussen die stories nie. Die stories wat my aandag getrek het, is, in volgorde: “Pasop vir die rekenaardiewe” deur Fransjohan Pretorius, “Gesensor” deur Emile Moelich en “Uit die boeke” deur Anton Döckel.

Wat sou ek anders wou gesien het aan die bundel? Ek sou graag ’n voorwoord deur die organiseerder wou gesien het wat meer vertel oor die prys, die prysgeld en dit waarna daar gekyk is om te besluit wie se stories die cut gaan maak. Dis moeilik om te dink dat uit ongeveer 100 stories slegs sewe die bundel gehaal het. Met die vorige kompetisie het 24 stories die bundel gehaal. Is die gehalte regtig so power, of is daar deesdae net té min blootstelling vir kortverhaalskrywers?

*

Ek het ’n aantal vrae aan Zalman Davis gestuur.

Wie is Minimal Press?

Ons keer terug ná twee jaar met die volgende titels:

  • Sound before water deur Jim Pascalle Agustin (poësie)
  • Boere by Thabazimbi en ander verhale (saamgestelde bundel)
  • Ek herhaal jou (saamgestelde bundel)
  • Harte van ’n seekat deur Pieter van Zyl.

Hoe lyk jou persoonlike publikasielys?

  • Swartwater (poësie)
  • Halfgees (poësie)
  • the mystery of the white rose serial killer (novelle)
  • Steal my heart (jeugoman).

Ek is ook die samesteller van die volgende titels:

  • As jy lag (poësie)
  • Die môre is jy (poësie)
  • Die Chris Barnard-prys: 24 stories (kortverhale)
  • Croyez stories (kortverhale)
  • Ek herhaal jou (poësie)
  • Boere by Thabazimbi en ander verhale (kortverhale).

Baie uitgewers wil nie kortverhaalbundels uitgee nie. Hoekom doen jy dit?

Kortverhaalbundels maak nie geld nie, maar die literêre waarde daarvan is soveel groter, en ek dink dis nodig om ’n platform vir opkomende skrywers te skep waar hulle blootstelling vir hul werk kan kry.

*

Boere by Thabazimbi en ander verhale sal einde Januarie 2025 by jou naaste boekwinkel beskikbaar wees, én aanlyn by Willow Trading SA (https://www.willowtradingsa.co.za).

Bestel nou by info@willowtradingsa.co.za.

  • R180 (posgeld uitgesluit).
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top