Submerged
Louis Wiid
Staging Post, Jacana Media, 2016
ISBN: 9780994667748
Wanneer jy dié dik boek – Louis Wiid se eerste – optel en op die rugkant lees dis deur ’n geoktrooieerde rekenmeester geskryf, wil-wil jy skepties wees. “Wat weet ’n boontjieteller van boekskryf af?” sou jy kon vra.
Maar dis waar die skrywer verras: hy het sy huiswerk gedoen oor die verskillende sfere waaroor hy skryf – die finansiële instellings in Londen, die Kaapse Vlakte se bendewêreld en die duikbedryf in die Rooi See. So tussendeur het hy sy eie ondervinding met finansiële spesialiste as kollegas en die bedrog wat hulle ondersoek; sy duikondervindings om sy eie engtevrees te oorkom en sy vele reise oorsee, ingevleg.
Die storielyn is as volg: Leon Jacobs, ’n jongman wat doelloos op Stellenbosch ronddobber en vir 10 jaar een graad na die ander aanpak, maar ’n ekonomiegraad op sy kerfstok het, kry werk by ’n duiksentrum in Jameel, aan die Rooi See. Hier kruis sy pad met dié vann Sophia Popova, die dogter van ’n Russiese boef, wat ook ’n bank in Londen besit. Met die sameloop van omstandighede skei die paartjie se paadjies, maar hulle ontmoet mekaar weer in Engeland, toe Leon vir Sophia se pa, Bogdan, begin werk.
Leon onderskat die omvang van Bogdan se misdadige verlede en hoe sleg sy verhouding met sy dogter nou eintlik is. Leon word onwetend al dieper ingetrek in die misdaadspiraal, maar sy strewe om suksesvol te wees maak hom tydelik blind vir die ware toedrag van sake.
Bogdan is besig om sy opponente met vuilspel uit die weg te ruim of finansieel te ruïneer om sy koninkryk nog groter te bou en die storie gaan draai selfs in die Bosveld, waar hy ook belange bekom.
Leon soek uiteindelik skuiling aan die Suid-Afrikaanse Weskus, maar kort voor lank is Bogdan se trawante op sy spoor en onskuldige mense word by die mensejag betrek.
Hier keer karakters wat aanvanklik in die eerste hoofstuk bekendgestel is, terug, en die voormalige bendelid, Franklin Benjamin, word genoodsaak om uit sy Weskus-slaap te ontwaak en wraak te neem.
Die boek het ’n goeie balans tussen persoonlike verhoudings, aksie, bedrog en teleurstelling en hou jou aandag vasgevang. Al die nodige elemente is daar – tot die skoonheid met die lang bene en smeulende oë.
Die skryftaal is maklik en die font is effe groter gedruk, wat daardie laatnag lees in die bed nie te stremmend op jou oë maak nie.
Die einde van die boek skep genoeg afwagting sodat ’n opvolg of tweede boek moontlik sou kon wees, maar kom terselfdertyd genoeg tot ’n einde dat jy nie in afwagting gehou word oor wat volgende gaan gebeur maar lank vir ’n opvolgboek moet wag nie.
Die getal bladsye is al wat teen die boek tel – 427 is vir my 100 bladsye te lank. ’n Finale redigering van die boek deur ’n onafhanklike redakteur sou onnodig lang beskrywings van onder meer tonele van die seiljag Vormvaart kon uitgeskakel het.
Hoewel die karakterbeskrywings ook baie lank en deeglik is, is dit minder hinderlik, omdat dit diepte en konteks verskaf.
Submerged is beslis ’n goeie eerste boek en ek glo dat Wiid in die toekoms ’n gerekende naam in die misdaadroman-genre gaan word.