Boekresensie: Skrik op die lyf saamgestel deur Deborah Steinmair en Gerda Taljaard

  • 0

skriflyfTitel: Skrik op die lyf
Samestellers: Deborah Steinmair en
Gerda Taljaard 

Uitgewer: Tafelberg Uitgewers, 2015
ISBN: 978-062407-473-1

Die splinternuwe kortverhaalbundel Skrik op die lyf, saamgestel deur Deborah Steinmair en Gerda Taljaard, bevat 46 vreesaanjaende grilverhale.

Skrywers soos Marié Heese, Jaco Jacobs, Fanie Viljoen, Karin Hougaard, Cecile Cilliers, Malene Breytenbach, Lien Botha, Herman Lategan, RR Ryger, Kerneels Breytenbach en Marion Holm, asook ’n hele paar nuwe bangmaakstemme, skryf hierin oor allerlei onverklaarbare bangmaakhede: spoke, welgeeste,  goëlery, krapgeeste, dwaalgeeste, fortuinvertellers, stigmata, wonderwerke, sieners, séances, sangomas, tokkelosse, djins, spookligte en nog meer.

Hierdie bundel is die resultaat van ’n blitskompetisie deur Taljaard en Steinmair, in samewerking met Tafelberg Uitgewers.

Deborah Steinmar het ’n BA-graad in Engels en drama behaal en is tans vryskutskrywer. Haar debuutroman, Marike se laaste dans”, is in 2011 bekroon met die Jan Rabie Rapport-prys. Haar nuutste raaiselroman, Moestas, het onlangs verskyn.

Gerda Taljaard het reeds as student verskeie pryse vir kortverhale ontvang. In 2006 wen sy die De Compagnie-prys vir beste kortverhaal en dit word opgeneem in die versamelbundel Die melkweg het ’n ster laat val. Haar debuutroman, ’n Engel in die hoenderhok, het in 2009 by Tafelberg verskyn.

Ek skrik nie vir koue pampoen nie en daarom verg dit regtig ’n boek wat sy man kan staan in die grilverhaalafdeling om my nekhare te laat rys. Hierdie boek kry dit gemaklik reg. Elke denkbare scenario is deur die skrywers gebruik om jou wildste vrese waar te laat word. Soos Marié Heese se verhaal, “Haar maaksels”, waarin die vier reeksmoordenaars in haar boeke lewe kry en haar op ’n afgeleë strand in ’n strandhuis beetkry; of Nicholas Hattingh se “Boekbevloek” waar die karakters uit stapels boeke ’n man se lewe bedreig en hom van sy kop wil maak; of Fanie Viljoen se “Dors”, waar ’n nuwe bloedjie op die plaas ’n vreemde kind is van wie blyk dat hy hiënabloed in sy are het. Marion Holm se “Blinde geloof”, van die blinde meisie op die verhoog wat hulp kry van ’n vreemde jongman wat niemand anders kan sien nie, maar die nag het die teenwoordigheid gevoel; die wêreld het asem opgehou vir die geweldige storm en diere het onrustig geraak, maar die storm het nooit gekom daardie nag van 13 November 1985 nie ...

Die verhale is kort – net lank genoeg om jou in te trek – en net soos jy voel jy kry jou sit en begin lekker lees, kom die kolskoot van vrees en slaan jou op die maag.

En moenie glo jy kan net een of twee lees nie. Maak nie saak hoe makaber die stories nie, hoe bang jy is vir die skaduwee in die hoek nie, omblaai sal jy en nog een en nog een lees.

Die verhale is ’n bewys dat jy nie baie woorde nodig het om iets treffend te vertel en jou leser se aandag gevange te hou nie. Ideaal vir diegene wat nie tyd of energie ná ’n uitputtende dag het vir lang stories lees nie.

Skrik op die lyf is ook as e-boek beskikbaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top