Boekresensie: Huisies van papier deur Dalena Theron

  • 0

huisiesvanpapier650

Titel: Huisies van papier
Skrywer: Dalena Theron
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415207086

Wanneer ’n boek se titel my aandag trek, hou ek daarvan om ’n aantal scenario’s vir myself te skep en dan te kyk hoe naby of ver ek van die kol af sou wees.

Die titel van ’n verhaal is immers ’n sleutel. Hoe die sleutel uitspeel in die teks, dra dikwels by tot die genot van die leeshandeling, mits die skrywer  haar roman bemeester. ’n Titel kan natuurlik ook ’n valse sleutel wees wat die leser met opset mislei.

Huisies van papier het my aandag getrek.

Ten eerste is daar die verkleinwoord. Ons praat nie hier van grootse wonings nie; iets veel meer intiem is ter sprake.

Tweedens is papier ’n vreemde boustof. Papier is geduldig, jy kan daarop skryf. Jy kan selfs op papier verskeie wonings skep waarin jy as dromer en kunstenaar kan tuis kom. Papier is egter nie so stewig soos bakstene nie, daar is iets vervlietend aan. In tradisionele Japan is huise wel van papier gebou, want dit was nie nodig vir ’n huis om langer as die inwoner te bestaan nie; vandag maak die noodsaak van massabehuising dat daar in die Ooste en in die Weste met staal en beton gebou word.

Die titel ontvou

Die hoofkarakter is ’n joernalis en maak dus ’n lewe uit die skryf van berigte wat kortstondig is.

Papier was van jongs af vir haar ’n maatstaf om iets aan te meet. Sy was nog ’n kind toe sy uitvind dat haar pa “gay” is, ’n term wat sy nie toe verstaan nie, maar wel aanvaar wanneer sy ’n tydskrif, Gay Pages, ontdek. Dit is op papier, dus ís dit.

Haar pa is ’n historikus wat daarvan hou om huise te ontwerp. Sy huise word dan van die papierplan af gebou en word dus (skynbaar) meer permanent.

In hoofstuk 11 word die herkoms van die titel verduidelik – die leser moet dit maar self beleef, en let dan ook op dat die verteller in hoofstuk 20 sê dat hierdie soort huisies een-een inmekaar vou.

Die liggaam as ’n tempel

Die roman begin met die verteller se pa wat hospitaal toe gejaag word. Hierdie tema van ’n liggaam wat besig is om die stryd te verloor teen siekte en aftakeling, word dwarsdeur die boek volgehou.

Haar pa’s (ja daar is twee) rook soos skoorstene en drink hopeloos te veel. Sou ’n mens die liggaam as ’n tempel, 'n woning dus, beskou, dan onderhou hierdie twee pa’s nie hulle lyflike strukture besonder goed nie.

Die verteller en haar biologiese pa gaan by geleentheid na 'n hippiepartytjie en daar ervaar sy nog eens hoe erg alkohol die liggaam kan bykom. Die leser kan gerus ook let op die toestand van die huis waarin partytjie gehou word: dit val uit mekaar. Self bakstene en sement is nie bestand teen verwaarlosing nie.

'n Bildungsroman

Huisies van papier vertel die verhaal van 'n jong vrou wat haarself moet los maak van haar pa se rokspante. Ja, jy het reg gelees. Een van die snaaksste tonele in die boek behels haar pa se wit rok ('n kaftan) en twee pienk waterpistole.

Ons ken nie die term New Adult Literature in Suid-Afrika nie, maar in die VSA is dit 'n opkomende genre. Ons ken egter die begrip Bildungsroman uit die Duits, iets wat in Engels al as 'n coming-of-age novel beskryf is.

Saam met die rebellie, die eerste wegstap, weg van die ouerfiguur, bou die verteller vir haar 'n eie identiteit. Ons ervaar die opbou van die self, 'n brose self, wat haar as individu en as joernalis probeer vestig in 'n lewe wat op papier uitgespel word. Sy bou dus haar karakter, op papier, deur papier.

'n Gay-identiteit, al dan nie

Die teks beeld 'n stabiele gayverhouding uit, sonder om sigself vreeslik te steur aan die gaykwessie. Dit handel gewoon oor twee mans wat twee bedônerde meisiekinders moet groot kry. Selfs toe die verteller haar pa op 'n stadium uitvra oor sy oriëntasie, protesteer hy dat hy nie gay is nie, hy is gewoon lief vir 'n ander man. Die pa laat sy dogter ook verstaan dat hy regtig lief was vir haar ma.

Die dorp aanvaar die twee mans en gaan aan.

Baie onlangs was daar 'n soortgelyke omarming van twee gays in Alta Cloete se Opdrag van oorkant. Daardie protes van Koos Prinsloo, wat toentertyd so nodig was, en die versigtige seer wat in Reney Warrington se Oktober aanwesig is, kom nie hier voor nie

Biografiese gegewens?

Die agterbladteks toon ooreenkomste met die lewe van die skrywer en die verteller. Sou hierdie teks dan 'n mengsel van feit en fiksie te wees? Koos Prinsloo het opsetlik met die biografiese dokumente omgegaan om die skrywende instansie se identiteit aan die verteller s’n te koppel. Dink ook maar hoeveel biografiese gegewens Oktober van Reney Warrington bevat. Warrington het egter die verhaal opsetlik weg van haar eie lewe geskryf.

Meer onlangs het Dominique Botha se Valsrivier ook die leser met redelik ooglopende biografiese gegewens gebombardeer, tog het Botha moeite gedoen om haar teks as 'n roman, fiksie dus, aan te bied.

Die feit dat ons 'n ek-verteller het, maak dit makliker om ekstratekstuele verbande te wil lê, maar die leser moet aanvaar dat die verteller self geen poging aanwend om biografiese merkers in te span nie. Anders as met Botha, kies Dalene Theron vir die verteller in Huisies van papier 'n naam wat van haar eie verskil.

Ja, die agterbladteks kan ter sprake kom, en die Afrikaanse letterkunde is net te klein om te wil wegkruip: kort voor en ná ek die boek gelees het, moes ek noodgedwonge sekere biografiese korrelate aanhoor. Is dit egter relevant?

Lees gerus wat Theron aan Beyers de Vos vertel: “Inspirasie vir skryf kom van oral – mense se stories en my eie liefde vir KwaZulu-Natal, waar die boek se storie geleë is.” (Volledige onderhoud hier: https://www.litnet.co.za/open-book-2015-dalena-theron-oor-huisies-van-papier.)

Debbie Loots, wat pas gedebuteer het met Split, sê ook openlik dat sy oor ruimtes skryf wat sy as jongmens ervaar het, maar daar is verder geen twyfel dat sy fiksie skryf nie.

So? Die identiteit van die verteller in Huisies van papier is bewustelik van papier gemaak. Moontlike ekstraktekstuele verwysing mag dus interessant wees, maar dra nie by tot die verstaan van die roman nie.

Om nie tuis te wees nie

Reeds in hoofstuk 11 hoor ons hoe die verteller as kind vir haar drie huisies van papier moes maak, want sy swerf rond tussen haar twee pa's, haar ma en haar ouma. By al drie huise is sy tuis, en ook nie.

Hierdie toestand van ontheemding vind steeds in haar hede plaas, al is sy nou ’n werkende jong joernalis. Dit bepaal uiteindelik ook die struktuur van die teks, want die leser beleef 'n redelik kort tyd in die hede, met verskeie terugflitse.

In die hede gebeur 'n aantal goed wat die verteller tot stilstand ruk; sommige is komies, ander is hartseer. Die hede word dus episodies aangebied; elke episode lei weer terug na wortels in die verlede. Nóg die verteller, nóg die leser kom dus tuis in die hede. Die wortels van die verlede is egter sterk; dit hou die verteller vas en die leser het baie simpatie met hierdie interessante gesin.

Die alledaagse nuut gemaak

Boeke handel dikwels oor gewone mense wat uitsonderlike situasies beleef, of uitsonderlike mense wat gewone situasies beleef. Dié teks is iets van albei. Die leser kan identifiseer met soveel van die gebeure waarin die verteller haar bevind; op ander plekke kreun jy weer van die lag, of argwaan, wanneer die alledaagse handuit ruk. Die karakters is kleindorps en bekend, en tog ook nie. Dink maar aan die twee pa's wat hulle dogters probeer grootmaak. Dit is dalk nie alledaags nie, maar hulle word geskets as doodgewone ouers, vol foute en vol liefde. Ook die ma, 'n skrywer, word uiteindelik gewoon mens.

Dis dit.

Dalena Theron se debuut neem ons mee op ’n reis deur die lewe van ’n buitengewone gesin wat uiteindelik doodgewoon soos ons is. Ons is, uiteindelik, almal so.

Huisies van papier is soos 'n reeks papierwonings waarin 'n jong verteller die alledaagse en die uitsonderlike in haar lewe uitstal sodat ons, die lesers, kan inloer en ervaar om sodoende weer ons eie lewens te herleef, hoe vreemd of alledaags dit ook mag wees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top