Boekresensie: Goud kan nie roes nie deur Paul-Constant Smit

  • 4

Titel: Goud kan nie roes nie
Skrywer: Paul-Constant Smit
Uitgewer: Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781485903253

Goud kan nie roes nie is die skrywer se debuutwerk. Die hoofkarakter, Con Slaughter, is 'n regte Chuck Norris (wat sy skoenveters met sy voete vasmaak, en dies meer): bobaas vuisvegter, rewolwervegter uit die Amerikaanse Wilde Weste, entrepeneur, goudmagnaat en 'n paar ander dinge.

Die verhaal begin met die koningin van Skeba (998 vC) en spring dan na die vroeë goudvelde aan die rand (1883).  Tussendeur bring Slaughter lang tye met 'n Boesman en 'n swart man deur. Hulle beleef saam avonture en voer diep gesprekke wat insig in hul kulture gee.

Die leser kry ook wat waarskynlik aan hom onbekende, maar niefiktiewe, insigte is in die ontdekkingsreisiger Vasco de Gama se wrede gesagvoering oor sy skeepslui.

Die ontdekking van dagboeke uit die antieke tyd en Skeba se ekspedisie na Suider Afrika lei tot Slaughter se ontdekking van die eerste goudneerslag en sy rykdom wat daarop volg. 'n Komplot tussen Engeland en Duitsland wat die geskiedenis kan verander en die rol van die kanselier Otto von Bismarck maak ook 'n deel van die avontuurverhaal uit.

Die skrywer se goeie beskrywings van pistool- en vuisgevegte – 'n kuns wat die hoofkarakter in Amerika en van 'n Chinees aangeleer het – lees oortuigend, al is dit dalk net vir iemand wat nie oor die kennis en insigte beskik nie.  

Die verteller se aaneenstrengel van gebeure en die manier waarop ou geskiedenis en nuwe storielyne telkens ingevleg word, vertraag dikwels die pas en maak dit nie 'n maklike boek om te lees nie. 'n Mens kry 'n paar keer die indruk dat Smit met sy eie teks verdwaal het en dat die geskiedenis in die pad van die verhaal se verloop staan.  Daar word aan die begin klem gelê op die koninging van Skeba se persblou oë. In die verhaal trou Slaughter met twee susters nadat hy een van hulle in 'n poskoets-rooftog gered het. Hulle het dieselfde persblou oë, maar die leser soek vergeefs na hul moontlike verband met die koningin van Skeba.

Die verhaal eindig ná grepe uit die Anglo-Boereoorlog en Slaughter se waarskuwings dat die Boere 'n slagting gaan beleef. Ten laaste voer hy 'n gesprek met Paul Kruger in Nederland.

Dit is 'n dik boek (421 bladsye) wat 'n beter produk kon gewees het met 'n dikte van 300 bladsye. Dit sal dalk help as die leser met die deurlees aantekeninge maak wat hom sal help om die storie te volg. As die spanningslyne of verloop nie volgehou word nie, kan 'n boek heeltemal misluk, maak nie saak hoe goed die onderdele nagevors is nie. En navorsing wat te duidelik wys, is soos 'n swart bra by 'n wit bloes. Dit is nogal dikwels die probleem by historiese verhale en 'n fout wat goeie teksredakteurs moet raaksien. 

Ja, Goud kan nie roes nie, maar ongelukkig word hierdie resensent gelaat met die gedagte dat alles wat blink nie goud is nie.

  • 4

Kommentaar

  • Dr Daan Grobler

    Con Slaughter trek in 1883 sy 44 Smith en Wesson uit (wat eers in 1956 die eerste keer vervaardig is, vra vir Dirty Harry) en dan skiet hy twee leeumannetjies bokveld toe. 'n Leeu is so groot soos ń jong bees en sy brein soos 'n avo. Ek dink nie ek gaan verder lees nie. Smit moet maar soos Ian Flemming konsultante kry. Hierdie is fiksie van fiksie.

  • Daan
    Jy het die verkeerde rewolwer beet. Dirty Harry s'n was die Magnum, wat 'n baie moderner wapen is.
    Die ou .44 S&W is sedert ongeveer 1869 in sy duisende geproduseer en was selfs een van die amptelike wapens van die Amerikaanse leer daar iewers in die 1870's.
    Wyatt Earp het een gebruik tydens die OK Corall-geveg in 1881. So myns insiens was Con Slaughter dan in redelik goeie geselskap met sy .44.
    Wat die slaankrag van 'n ou .44 S&W op 'n afstand van 2 of 3 meter betref - hmm, lyk my jy's nie te goed ingelig nie ...

  • @ Org, die resensent ... ek dink jy het die boek net gedeeltelik gelees. Dit was Sebastian wat tyd met Xo deurgebring het. In die 14de eeu dink ek ...

  • Thea Scheepers

    Paul-Constant Smit
    In 2016 het jou boek 'Goud kan nie Roes nie' my oog gevang. Ek het 'n paar bladsye gelees en weer ingegee.
    Ses jaar later, Augustus 2022, het hy weer in my biblioteeksak beland.
    Nadat ek die hele Bybel en die hele Wêreldgeskiedenis deurgewerk het, kan ek net die hoogste waardering uitspreek oor die inhoud, jou skryfwyse, jou skryftrant, die lekkerlees, die bevestiging van historiese feite wat jy so moeiteloos weergegee het. Baie dankie! Veels geluk!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top