
Die fluisteraar
Jacolet van den Berg
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780637012713
Wetenskapfiksie, asook toekomsfiksie is geen nuwe verskynsel in die Afrikaanse letterkunde nie. CJ Langenhoven het reeds in 1923 ’n fiktiewe toekoms in sy roman Loeloeraai verken. In latere jare het skrywers soos Jan Rabie en Leon Rousseau ’n aantal wetenskapfiksieromans geskryf. Dit het veral in die vroeë 2000’s ’n gewilde genre geword, met die publikasie van romans soos PJ Haasbroek se Oemkontoe van die nasie (2001), Koos Kombuis se Hotel Atlantis (2002) en later Lien Botha se Wonderboom (2015), Deon Meyer se Koors (2016), Alettie van den Heever se Stof (2018) en Harry Kalmer se In ’n land sonder voëls (2019). In 2020 verskyn Isa Konrad se roman Toekomsmens wat in die jaar 2057 afspeel, asook Willem Krog se Alleen onder die maan (2020). Hierdie fassinerende genre bevat elemente van wetenskapfiksie met die fokus op toekomstige wêrelde wat grotendeels in ’n distopiese milieu afspeel.
Ook in die Afrikaanse jeugliteratuur blyk toekomsfiksie ’n gewilde onderwerp te wees. De Waal Venter het reeds in die tagtigerjare jeugromans soos Die vyf-millimeter-avontuur (1984), Vyffff (1988), Mieg se kort en lang middag (1992), asook Swaartekrag een komma een (1994) geskryf. Die belangstelling in toekoms- en wetenskapfiksie kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die tegnologiese vooruitgang van die twintigste en een-en-twintigste eeu. Tans ervaar die mensdom uitdagings soos aardverwarming wat klimaatsverandering tot gevolg het. Die toekoms van alle lewende wesens, insluitend plantegroei, word negatief deur klimaatsverandering beïnvloed. ’n Onlangse voorbeeld is die ekstreme somertemperature in die Noordelike halfrond wat daartoe gelei het dat riviere opdroog en selfs menslike sterftes aangemeld is. Klimaatsverandering is dus nie ’n samesweringsteorie wat as onbelangrik afgemaak kan word nie.
Jacolet van den Berg se nuutste jeugroman Die fluisteraar is onlangs as naaswenner aangewys in LAPA se Jeugromankompetisie vir 2025. In Die fluisteraar bou Van den Berg voort op ’n ryk oes van toekomsfiksie wat spesifiek vir die Afrikaanssprekende jeug geskryf is. Enkele voorbeelde sluit in Elrien Scheepers se Donkerbloed (2021) en Waar jakkalse huil (2023). Fanie Viljoen se Offers vir die vlieë (2020) en Noreen Nolte se Uitverkies (2022) word in ’n toekomstige milieu geset waarin die skrywers wetenskapfiksie met toekomsfiksie vervleg in die konteks van ’n distopiese samelewing.
Die fluisteraar speel af in die jaar 2075. In die proloog word die leser gekonfronteer met ’n onbekende wêreld waarin woude vergaan het en die mens se daaglikse bestaan veel anders daarna uitsien as dit waaraan die leser gewoond is. In hierdie nuwe wêreld voer die mens ’n sukkelbestaan na afloop van die Klimaatoorlog met natuurrampe wat weens klimaatsverandering die oorhand gekry het. Kato King is ’n tipiese sewentienjarige tienerseun wat dit geniet om die branders met sy branderplank aan te durf. Kato se daaglikse bestaan gaan gepaard met hommeltuie, kunsmatige intelligensie, hologramme, hololense, humanoïede soldaatbotte en uberbotte. Dit word gou aan die leser bekend dat vryhede ingeperk is weens rebelle wat selfs na afloop van die Klimaatoorlog in die spreekwoordelike agtergrond aktief is.
Op sy sewentiende verjaarsdag vind Kato uit dat hy oor ’n belangrike talent beskik. Hy is ’n fluisteraar. Aanvanklik verstaan Kato nie wat met hom gebeur nie. Tydens ’n geologielesing op die strand ontdek Kato dat plante groei op die plekke wat hy met sy handpalms aangeraak het. Dit is die begin van ’n verhaal wat Kato se lewe onherroeplik sal verander. Soortgelyk aan Sati se karakter in Elmarie Dercksen se roman Die gawe van groen (2023), beskik Kato weens sy spesiale talent as een van slegs 20 fluisteraars oor die vermoë om die brose natuurlandskap ’n tweede kans op herstel te gee. Sodoende sal die mens op die vernietigde planeet kan bly voortbestaan. Waar Sati se karakter nuwe lewe kan skep deur water terug te bring na die dorre binneland, stimuleer Kato deur middel van sy hande nuwe plantegroei op plekke wat weens klimaatsverandering uitgedroog en afgebrand het.
Kato bevind hom in ’n netelige posisie wanneer die Instituut vir Planetêre Navigasie (IPN) op sy spoor is. Sy lewe verander oornag wanneer hy teen sy sin na Uganda moet reis om as fluisteraar die uitwissing van die woude en plantegroei teen te werk. Hierdie belangrike taak bied allerlei uitdagings. Tydens sy verblyf in Uganda ontmoet Kato van sy mede-fluisteraars, Amon en Eso. Kato wil egter met alle geweld terugkeer huis toe en onderneem ’n reis saam met Eso, wat uiterste deursettingsvermoë verg. Wat daarna gebeur, moet die leser self uitvind.
Van den Berg se jeugroman is ’n opwindende leeservaring. Lesers wat van toekomsfiksie hou, sal veral by hierdie teks aanklank vind. Dié jeugroman is veel meer as ’n blote storie. Hierdie teks maak die leser opnuut bewus van die belangrike rol wat elke individu speel om die aarde te respekteer. Klimaatsverandering is aan die orde van die dag en die mensdom se voortbestaan word hierdeur geaffekteer. Elke persoon het ’n verantwoordelikheid om op sy of haar eie manier ’n bydrae te lewer tot die voortbestaan van ons planeet – hoe gering dit ook al mag wees. Kato se karakter dien as voorbeeld van die wyse waarop elkeen die toekoms van Moeder Aarde, oftewel Moeder Natuur, kan help bewaar teen die uitdagings wat die planeet tans in die gesig staar. Die fluisteraar is ’n belangrike teks wat ’n bydrae lewer tot reeds bestaande wetenskap- en toekomsfiksie in Afrikaans.
Lees ook:
Cliff-hanger: Die fluisteraar deur Jacolet van den Berg – ’n skrywersonderhoud

