Boekresensie: Die engel en die bont bees deur Johnita le Roux

  • 0

Die engel en die bont bees
Johnita le Roux
Umuzi
ISBN: 9781415207031

Met Die engel en die bont bees bou Johnita le Roux voort op die onbetwisbare skryfvernuf wat sy in haar bekroonde debuutroman, Die Danstêrwals, en daaropvolgende literêre tekste Kus van die winterskerpioen en haar derde roman, Een vir die wolfskof, bewys het.

Die engel en die bont bees is ’n roman wat gedurende die sewentigerjare in Suid-Afrika afspeel en die onvervulde lewe van ’n verslaggewer, Susara Vermeulen, volg. Sy rapporteer in die hofsaak van Magrieta Malgas, ’n aangeklaagde. Le Roux bring lesers na ’n kruispad in die lewens van hierdie twee karakters om ’n verhaal te skep waarvoor ’n mens as leser tyd moet maak om dit ten volle te waardeer. Anders is dit maklik om die verbeeldingrykekinkels en kabels van die verhaaltrant, en verskeie streeksvariëteite van Afrikaans, mis te loop. Vanaf die komiese hofsaak van Magrieta Malgas en haar medebeskuldigdes, Nanu Karse en Frederik Wentzel, tydens die sewentigerjare totMalgas segetikte historiese oorsig van lewe onder verskeie Khoistamme langs die Oranjerivier tydens die laat 19de eeu en weer terug na die vooruitgang in Vermeulen se lewe ten tye van die Soweto-onrus in die sewentigerjare, moet die leser goed volg.

Die skrywer gebruik Susara Vermeulen se navorsing rondom die hofsaak slegs as ’n beginpunt om ’n tapisserie oop te vlek om meer as een Suid-Afrikaanse geskiedkundige tyd en ruimte te verbeeld. Juis hierom moet lesers bereid wees om Le Roux geduldig van een vertoonkamer na die ander te volg in hierdie ingewikkelde, indrukwekkende roman. Vermeulen se eie magtelose voortbestaan as verslaggewer wat die onderdrukkende stelsels van haar samelewing subtiel bevraagteken, word met afgemete kritiek uitgebeeld deur kleinserighede uit te wys, die impak van rasskeidende wetgewing, wat opsommend en terugskouend, kinderlik en soms net bloot selfsugtig vanuit die hoofkarakter se siening voorkom. Die geskil wat tydens die hofsaak uitbreek rondom die eienaarskap van die groot diamantvonds, begin die roman se gesprek oor die impak van hebsug wat deur die eeue werklike vooruitgang in Suid-Afrika gekelder het. In teenstelling hiermee word die onskatbare kulturele waarde wat inheemse groepe soos Margriet en Nanu Karse se voorvaders aan aardse voorwerpe soos die diamante geheg het, op 'n metaforiese vlak opgeweeg tot op ’n punt waar die leser sélf gemeenskaps-en godsdienstige waardes téén die geskiedkundige agtergrond, en selfs die hede, begin heroorweeg. Johnita le Roux se taalgebruik is verbeeldingryk en verryk ons taal. Soos in haar vorige werke is hier 'n eiesoortige Afrikaans wat deur die Trans-Gariep-karakters oorgedra word, maar wat met Afrikaans vanuit die verlede en hede aanklank vind. Hierdie vrouekarakters ontwikkel oopoog as beskermengele van hul gemeenskappe, bewus van die onreg wat rondom hulle plaasvind, bereid om ’n impak te maak op die wêreld rondom hulle.

Die roman se struktuur herinner tot ’n mate aan dié van Karel Schoeman se Verliesfontein waar die leser in die hede tree tydens Susara Vermeulen se navorsing vir haar koerantberigte en mettertyd weggevoer word na die 19de eeu, waar sendelinge en inheemse stamme, oer en nuutgevormd, uitbeeld hoe verskeie gelowe, kulture en gemeenskapstrukture tot die ontwikkelende landsgeskiedenis bygedra het. Die aanvanklike hoofstukke rondom die hofsaak is vir die moderne leser meer samehangend, maar wanneer Le Roux die oerruimtes naas Susara Vermeulen se era begin stel, kan dit met tye moeilik wees om by te hou. In hierdie volgende hoofstukke word die agtergrond en lewenservaring van Magrieta Malgas se ouma, Klein-Lit, die agtergrond van ’n ontwikkelende kulturele en godsdienstige landskap in die Groot-Gariep-gebied tydens die 19de eeu, ten toon gestel. Met ’n basis in die werklikheid ontvou die geskiedenis op ’n tydsame manier met die potensiaal van die merkwaardige lewens van Susara Vermeulen, Margrieta Malgas en Klein-Lit, wat in hul afsonderlike eras en samelewings parallel ontwikkel en in die kollig val.

Die engel en die bont bees is ’n roman wat mens weer eens oortuig dat Johnita Le Roux ’n skrywer van formaat is. Die roman vereis die leser se volle aandag, lees met tye met moeite, maar lewer daadwerklik ’n insiggewende leeservaring vir lesers wat verbeeldingryke letterkunde ten hoogste waardeer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top