
Anni Dewani; a father’s story
Vinod Hindocha met Shekar Bhatia
Zebra Press (Penguin Random House South Africa)
ISBN: 9781770228726
Vrouemoord is tans weer in die nuus met die Jade Panyiatiou-geval. Soos met opspraakwekkende sake soos die moord van Inge Lotz, ook die bewese doodskiet van Reeva Steenkamp, is daar ouers wat met verlies, ewig kastydende onbeantwoorde vrae en onsegbare verdriet moet voortleef. Soos Vinod Hindocha, Anni Dewani se pa.
Anni Hindocha Dewani is op 13 November 2010 in Gugulethu in ’n taxi vermoor. Sy het ontwerperskoene aangehad, ’n swart eenskouerrok en duur juwele. Vroeër die aand het sy en haar man van twee weke, Shrien Dewani, in die allesbehalwe deftige Surfside-eetplek in die Strand geëet. Enkele ure later sou haar man aan die polisie vertel dat Zola Tonga se taxi in Gugulethu gekaap is. Tonga is uit die motor beveel en hy, Shrien, is deur die venster uitgegooi. Anni het agtergebly. Daarna is haar lyk in die geparkeerde motor gevind. Sy was deur die nek geskiet.
Later sou die twee moordenaars aan die polisie vertel hulle het ná die moord saam met vriende gaan kuier “omdat dit Saterdagaand was”.
In die dorp Mariestad in Swede het Vinod Hindocha in die vroeë ure van November 14 die foon gelig en verneem dat sy dogter in Suid-Afrika vermoor is. Binne ure het hy op ’n vliegtuig na Kaapstad geklim. Hy sou nog meer ure later saam met sy skoonseun in ’n duur hotelkamer in die Cape Grace sit en angstig wag op nog vrae van die polisie. Maande later, wanneer sy skoonseun, toe reeds terug in Bristol, Engeland, reeds van huurmoord verkla word, sou Vinod ’n CCTV-opname sien van hom daardie dag in die hotelkamer met Shrien agter hom besig met ’n oproep. Die polisie het Vinod meegedeel dat daardie oproep die een was met die huurmoordknoper, Zola Tonga, oor die onderhandeling van betaling vir die huurmoord: R15 000. R15 000 vir sy dogter se lewe? sou Vinod herhaaldelik deur die jare vra.
Vinod Hindocha se verhaal is met die hulp van ’n bekroonde Britse joernalis, Shekhar Bhatia, geskryf. Bhatia het ook in 2014 die Oscar Pistorius-saak bygewoon en TV-programme oor Anni se moord gemaak.
In Vinod se verhaal word die leser boeiend bekendgestel aan die verskriklike angs, vrae en hartverskeurende herinnering van ’n pa, sy verwyt dat hy nie daar was vir sy dogter nie. Haar borrelende geaardheid, haar liefde vir mooi dinge en besorgheid oor die familie sou hom en sy vrou Nilam nagte wakker hou, voortdurend kerse langs haar foto laat aansteek.
Maar bo alles wou hy net weet hóé die moord gebeur het.
Shrien Dewani sou die antwoorde kon gee. Hulle sou dit egter nooit van Shrien hoor nie.
Vinod se verhaal strek ook oor die hegtheid van die uitgebreide Hindoe-gesinne en hul vieringe, veral die glansrykheid van die drie dae lange huwelikseremonies van Anni en Shrien in Moembai; die kleur, die danse, die rituele. Vinod het toe reeds geweet dat sy lewendige en pragtige Anni oor die huwelik getwyfel het. Hy sou later verneem dat sy getroos is deur haar niggie dat sy na die seremonie sou kon skei as dinge tussen haar en die soms baie kille Shrien nie uitwerk nie.
In die jare na die moord, toe Shrien keer op keer weens sy depressiewe siekte nie na Suid-Afrika uitgelewer kon word nie, het die Hindochas verneem van sy vieslike bedrywighede in die gay-onderwêreld. Ook hoe die Dewani’s die gladdebek spindokter, Max Hastings, gehuur het om die media namens Shrien te hanteer. Hastings sou in hierdie tyd ook tronk toe gaan vir seksuele misdrywe.
In April 2014 sou Shrien Dewani uiteindelik na Suid-Afrika uitgelewer word, met byna uitspattige reëlings teen sy vermeende selfmoordneigings. In November het hy sfinksagtig gelyk in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Kaapstad. Die Hindochas is sterk ondersteun deur familielede. Die Dewani’s ook. Hulle het mekaar nie gegroet nie.
Die veroordeelde moordenaars en sameweerders se geloofwaardigheid het uiteindelik gelei tot regter Jeanette Traverso se bevinding dat die staat se saak misluk het.
Op 8 Desember sou Shrien Dewani as ’n vry man uit die beskuldigdebank in Suid-Afrika stap om na Engeland terug te keer. Die uitgebreide Hindocha-familie, en ook tot groot hoogte Suid-Afrika self, sou verslae agterbly.
Vinod Hindocha se ouers is in die sestigerjare deur Idi Amin uit Uganda geskop. As vlugtelinge het die Hindochas hulle uiteindelik in Swede kon vestig.
Afrika sou ná Anni se moord die Hindochas ’n tweede keer verwerp.

