Boekevat met Deborah: Seuns weet deur Frederick Botha en Grensloos deur Wilna Afriaanse

  • 0

  • Deborah Steinmair skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.

TitelSeuns weet
Skrywer: Frederick Botha
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485316121

Seuns weet

Lesers van my generasie is van jongs af blootgestel aan die stories van Koos Prinsloo en Tom Lanoye. Ek wil sê “teen wil en dank”, maar nee, ons het dit verslind, omdat dit so merkwaardig helder en huidloos geskets is. Lesers is bekend met die masturbasiegewoontes van gay mans (en straight mans soos Kleinboer); ons ken die frenetiese najaag van genot, dikwels anoniem, sonder verbintenis of verpligting, sonder rose, vioolmusiek, wit tafeldoek en kristalglase. Soms is dit juis die afskuwelike wat aantrek en aanhits, soos Koos Prinsloo wat ’n boemelaar optel of Frederick Botha wat gril vir ’n pitsweer op ’n maat se boud en voorstel dat hulle mekaar liewer afsuig.

Deesdae lyk die landskap anders, met Grindr wat vlugtige, eenmalige samekomste sonder koeitjies en kalfies makliker maak. Maar immer nog is daar, soos by Koos Prinsloo, vir wie Gert Vlok Nel ’n siek roos genoem het, die eensaamheid en wêreldvreemdheid, die selfhaat van ’n seun wat nie aan sy pa se verwagtings voldoen nie, of aan verliefde vriendinne s’n nie. Die pad na individuasie is nie met rose besaai nie.

Botha slaag veral daarin om die “skewe” kind se stem te kanaliseer. Die kind wat wil inpas, maar vroeg reeds besef hy is nie deur die gewone koekiedrukker gevorm nie. Daar is heelwat humor en selfspot. Die seun woon in ’n voorstedelike huis en hunker na skoonheid en boeke; sy ma praat nie twee keer nie; hy word onbehoorlik gekielie deur sy pa se macho vriend en daarvoor deur sy pa gestraf – die hele tafereel word roerend vergestalt.

Die seun se studentejare word in ’n gepas studentikose stem verhaal. Daar is die vriendin wat hoop op meer, die studentekamer waar die huishulp die kersies op sy pa se weermagtrommel langs sy bed elke keer anders rangskik, die bemoeisieke hospita, die kampus van my alma mater wat in volle glorie voor my opdoem.

Daar is darem, soos dit dikwels die geval is, ’n ouma wat die seun raaksien. Die landskap van ’n gewone Afrikaanse jeug is bekend: basaars, wegneemetes, die Bybel, en free bear daddy seksvideo’s, sepies en aanneming in die kerk. Op die agtergrond is daar komplotteorieë oor die nag van die lang messe, heers daar opgewondenheid oor Mandela en rugby. Gerugte van geweld. Bedelaars op straat.

Later is daar ’n eie woning in ’n kompleks waar swart bure demoonuitdrywings doen en ’n swart kat hom tuismaak.

Die man out homself aan sy ouers in ’n e-pos en gaan dan huis toe vir ’n familiebraai waar die braaibroodjies tot houtskool verbrand.

Dis lyflik en eroties:

Marthinus is reg: Wian is ’n poes. Maar sy neus blaas hard en warm teen my lippe, sy stoppel kielie my wang. Die walms van Heineken en Johnny Walker ruik soos ’n duur cologne teen sy vel. Teenaan hom is ek skielik bewus van my lyf wat alles is wat syne nie is nie, en ook nooit sal wees nie, maak nie saak hoeveel ure ek in die gym spandeer nie.

Die verhale val in daardie subgenre wat toenemend gewild word: outofiksie. By die waarheid gelieg. Dis ’n lieflike debuut, weerloos, broos en bittersoet. Die boek het een van vanjaar se heel mooiste voorblaaie.

 

Grensloos
Wilna Adriaanse
Jonathan Ball
ISBN: SKU 9780624095583

Grensloos

Wat ’n briljante misdaadskrywer het Afrikaans in Wilna Adriaanse! Sy kan karakters versin en laat lewe tot lank ná die laaste bladsy. Soos Sabine Maartens, ’n vreeslose vlieënier wat oor die Okavango-delta swiep. Vlieg bied vir haar ontvlugting. Sy glo immers van kleins af sy kan vlieg. Sy is lief vir volmaanvlugte. Sy is toevallig mooi en diep beskadig: Haar ma het verongeluk toe sy vyf was en haar pa en halfbroers was nie juis herbergsaam en gemoedelik nie. Die ouers van haar hart, by wie sy self ’n hut gehad het wanneer sy oorbly, is Boitjie en Sara, inheemse mense wat vir haar pa gewerk het, wat haar leer spoorsny en veldkos uitgrawe. Ook haar vriendin Letsi se ma Ann Modise was ’n soort ouer vir haar. Letsi en Ezra is van kindsbeen af haar beste vriende.

Sabine kleur nie altyd binne die lyne in nie. Haar grootste liefde is diere, en om hulle te red van trofeejagters en -eienaars skroom sy nie om die wet te oortree nie. Letsi en Ezra staan haar teësinnig by – laasgenoemde is ’n veearts.

Die tweede fokalisator is Max Krige, wat vir ’n sekuriteitsmaatskappy werk as gyselaarsonderhandelaar. Hy behaal baie sukses omdat hy intuïtief is en na mense luister. Hy en Sabine was in ’n intense verhouding en probeer sedertdien hulle bes om van mekaar te vergeet. Dan gooi die noodlot hulle weer saam wanneer Sabine saam met ’n wildplaaseienaar en van sy werknemers ontvoer en aangehou word.

Daar was nog iemand in Sabine se verlede: ’n jeugvriend wat versteurd en rebels was. Iets het tussen hulle gebeur wat haar verwond het en waaroor sy swyg. Die waarheid ontvou geleidelik. Ook haar halfbroers het weer ’n rol te speel, en die pa van wie sy merendeels vervreemd was.

Die roman is omgewingsvriendelik en omgeef van verwondering oor die natuur en wilde diere. Dis sensueel en eroties en vol hunkering en verlies; ’n besef van die onvolmaaktheid en tydelikheid van alles hier. Die dialoog val reg op die oor.

Die skurk is ook genuanseer en die geheime vou geleidelik oop – dis nie asof die leser tot aan die einde bly wonder en die skrywer dan op een slag met die hele sak patats vorendag kom nie. Die storie is meesterlik geweef. 

Dis van meet af aan hoogs spannend, en dis veral Adriaanse se vermoë tot karakterisering wat die leser vasgenael hou. En die teenwoordigheid van die afwesige: Die verlede gooi lang skadu’s. Daar is ten minste die moontlikheid van liefde. Benewens misdaadverhaal is dit ’n sielkundige riller – die ware slagveld is die karakters se gemoed en die agtergrond die natuurskoon van Botswana.

Dis veral die kompromislose Sabine in wie die leser belê:

Sabine hou daarvan om met volmaan oor die delta en die panne te vlieg. Sy het nog nooit die gevoel verloor dat sy toegang kry tot ’n magiese dimensie nie. Sulke nagte is dit asof die natuur speletjies met jou oë en brein speel. Dis wanneer ’n bos ’n bok word, en ’n olifant ’n boom. Dalk is alles in die nag net visioene, dalk verdwyn grense dan, en soggens kan alles besluit watter vorm hulle weer aanneem. Dalk is sy sommige nagte ’n jagluiperd, ander ’n doringboom. Dalk is sy net bedags Sabine.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top