Boekedag 2012: Carina Stander kies ’n karakter

  • 0


As jy enige karakter in ’n boek kon wees, wie sou jy wees en waarom?

Ek sal daardie klein avonturier in Selma Lagerlöf se Nils Holgerssons underbara resa genom Sverige (1906), oftewel Nils Holgersson se wonderbaarlike reis (1950), wil wees – die getoorde stouterd wat op die rug van ’n wit huisgans klim en saam met ’n swerm eksentrieke wildeganse na Lapland in Swede migreer. Saam sal ons ’n versonke stad en ’n towertuin ontdek, die weerheks op haar krom neus laat kyk, bosbrande en sneeustorms oorleef, hartseer raak oor die drooglegging van ’n meer, varkworsies uit ’n spens gaan gaps, arende en wildsbokke bevry, bere bevriend en die snawels wyd rek teen wreedheid. Sodra Smirre die vraatsugtige vos ons kom hinder, sal ek die fluitjie aan die punt van my mus sommer so tjierrr in sy oor blaas – oor en uit!

Wat my meteens laat wonder oor daardie fluitjie in my kar en die fluitjies in my handsak, my bergklimsak, langs my bed ... Glo ek warempel sedert my kennismaking met Nils ’n kwarteeu gelede dat die skril gegil van ’n fluitjie elke rondloperbrak en rower sal afskrik? Ja, hand op die hart moet ek dit bieg. En dis nie al nie ... Raai waarom maak hamsters in hokkies my woedend of dompel dieretuine my in die diepste put van depressie? Nils se skuld, alles Nils Holgersson se skuld! Ook die ding dat ek altoos ’n venstersitplek in die vliegtuig bespreek en dan afkyk en kyk oor landskappe van droom.

Selma Lagerlöf was die eerste vroulike wenner van die Nobelprys vir letterkunde. Jare later, tydens die Nobelpryslesing van 1980, het Czeslaw Milosz gesê Nils Holgersson se wonderbaarlike reis plaas die held in ’n dubbele rol: hy is die een wat oor die aarde vlieg en van bo af daarna kyk, maar dit ook in besonderhede sien. Hierdie dubbele visie kan ’n metafoor wees vir die digter se roeping.

Carina Stander is ’n visuele kunstenaar, joernalis en digter van twee bundels. Haar roman Wildvreemd het onlangs by Tafelberg verskyn. Lees Carina se raad aan jong digters hier.

Keer terug na die boekedag-indeksblad.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top