Boeke en die ongewastes

  • 2

Ek wou nog altyd skryf en het van jongs af besef ek sal eers moet sin maak van mense en agterkom hoe hul koppe werk. Want waaroor anders sou ek skryf?

Foto van Deborah Steinmair: verskaf; foto: Canva.com

In Potchefstroom het ek in die vroeë tagtigs my eerste werk beklee, as biblioteekassistent, en my eerste woonstel betrek. Al wat ek gehad het, was ’n fiets, ’n skildery, ’n mat en ’n matras. En boeke.

Die woonstel het baksteentorinkies soos ’n kasteel en die belaglike naam Jatrukja gehad. Voordat ek daar ingetrek het, het ek ’n kamer gehuur in ’n ou klooster wat in daardie stadium ’n losieshuis was. Dit is bestuur deur ’n sekte wat straatmense ingeneem en probeer bekeer het. Dikwels het hulle ingestem om gekersten te word, vir onderdak en waterige sop, maar meestal het hulle die streep getrek by grootdoop in die piepklein, vrieskoue visdam.

Van die dakloses het ek goed leer ken. Daar was ’n verflenterde gesin wat graag met my gesels het: Ma, Boet en Hannes. Ma was bejaard (as ek nou terugdink, dalk in haar sestigs, maar met baie myle op) en met ’n tikkie demensie. Die seuns was waarskynlik in hul veertigs, ook moeilik om te oordeel – die wapad is ons woning nie.

Al drie was verknog aan die bottel, maar Ma het die teenwoordigheid van gees gehad om net skelm te drink. Al wat jy kon bespeur, was ’n vleugie hardehout op haar asem, maar haar oorheersende eau de parfum was ’n hardnekkige urinereukie. En soms het ’n bodemlose aggressie van haar besit geneem en deur haar geratel soos die wind deur ’n leë gebou. Die seuns was heel onderdanig aan en respekvol teenoor hul kortgebakerde ma.

Ek het haar ook altyd Ma genoem – geen ander naam is aangebied nie. Sy het dikwels, soos ’n plaat wat vashaak, losgetrek met lang en ingewikkelde tirades oor haar dogter Engela wat mos met die Portugees weggeloop en hulle afgeskryf het. Sy het heel formeel gepraat, in suiwer Afrikaans met Bybelse metafore, maar algaande het die monoloog losgetorring en het sy ongebreideld begin vloek en skel, ver onder die klere in. Die seuns het nooit gevloek nie.

Soos ’n bag lady op bloutrein kon Ma in verskillende stemme twee kante van ’n argument aanbied en gans op haar eie ’n smerige bekgeveg handhaaf.

Toe ek woonstel toe trek, het ek nie my nuwe adres vir die gesinnetjie gegee nie, maar hulle het geweet waar ek werk. Soms was ek bo in ’n kantoor wanneer daar vanaf ontvangs die onheilspellende woorde opklink, met ’n tikkie Schadenfreude en die vooruitsig van ’n spektakel: “Deborah se mense is hier!”

Dan staan die drie ongewastes daar: Ma met stukkende sandale en groot outoriteit, ’n vorstin met haar twee gesante, die seuns, poepdronk met stowwerige kaalvoete, met ’n hoë blos en brannasreuk wat die oorhand kry oor liggaamsreuk.

O, hulle het die biblioteek geken. Ma, het ek op die stelsel gesien (ek het intussen haar naam en van uitgevind), het twee boeke uitgeneem, jare gelede, en nooit teruggebring nie: Fanus se grapboek deur Fanus Rautenbach en Femina se droomboek deur Mara Lindeman. Ons het maar nie aan haar getorring nie – sy kon regdeur jou kyk en wanneer sy in ’n hoek gekeer was, het sy opeens vaag en dwalend geraak. En briesend begin uitvaar teen die lewe.

Soms het Boet, die boodskapper, alleen biblioteek toe gekom. Dan staan hy wiegend in die middel van die vertrek terwyl ek klante by die toonbank bedien, en verklaar luid: “Jy’s skaars. Ma wil weet wanneer kom jy weer gesig wys.”

Later het die personeel gesê hulle mag nie meer in die biblioteek kom nie, want hulle was onwelriekend en het die rus versteur. Dan gaan groet ek hulle in die parkeerterrein en Boet gee my ’n briefie, in netjiese kursief: “Beste De Bora, hoe gaan dit met u? Is dit miskien moontlik om vir ons ’n vyf randjie voor te skiet? Dank u. Ma.”

Hulle was wit mense wat dit nie kon maak in die bedeling van bevoorregting nie, wat êrens ’n reeks verkeerde besluite geneem en van die bus afgeval het. Eens moes hulle ’n huis besit het, van waar Engela weggeloop het.

Hulle is onvermydelik uit die sendinglosieshuis geskop – drank was teen die reëls. Hulle het daarna in ’n leë dorpshuis geplak. Daar het ek hulle ook gaan besoek en ’n kossie gevat, maar nie drank nie, want ek was jonk en religieus. Daar was nie water of ligte nie, maar Hannes het vir my verduidelik daar is nog ’n stroom. Om te demonstreer het hy op die (agtergelate) kombuistafel geklim en die kragdraad waaraan vroeër ’n gloeilamp gehang het, in die hand geneem. Daar was ’n effense sisgeluid. “Ek voel dit net in my oogballe,” het hy sy superpower verduidelik.

Hy en Ma het ook gesigte gesien en drome gedroom, vandaar seker Femina se droomboek.

Hulle het soos my familie begin voel, of soos eendmossels wat op my aangepak het. Ek was jonk en Calvinisties met ’n skuldkompleks so groot soos Tafelberg. Hulle het al meer in my oë begin kyk en later moes ek die dorp verlaat om hulle af te skud.

Ma, Boet en Hannes is waarskynlik reeds Huis toe, die laaste een. Intussen is ek heelwat ouer (amper so oud soos Ma was), met meer gedefinieerde grense en die wete dat geen goeie daad ongestraf bly nie.

Maar nou sien ek meer en meer mense, ook gesinsgroepies soos Ma en haar seuns, langs die pad staan en vra vir kos.

En Fanus se grapboek en Femina se droomboek is lankal uit druk.

  • 2

Kommentaar

  • ’n Pragtige beskrywing Deboortjie, soos net jy kan so vol digterlike invlegsels en interessanthede. xxx

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top