In Maart 2020 is die Suid-Afrikaanse boekebedryf tot stilstand gedwing toe die Covid-19-rampregulasies ingestel is. Groot verliese het op die streng inperkingstyd van ses weke gevolg toe rolspelers in die bedryf se deure skielik gesluit is en die produksie, verspreiding en verkoop van boeke halt geroep is. Hoe staan sake nou, ’n jaar later? Melt Myburgh het uitgewers gepols oor die stand van die boekebedryf in die nasleep van die pandemie.
.................
“Sal ons as sakeonderneming oorleef?”

Steve Connolly (Foto: Penguin Random House SA)
Met die eerste grendelstaat wat in 2020 vir ses weke lank ingestel is, is Suid-Afrikaanse uitgewers met eksistensiële vrae gekonfronteer. Steve Connolly, uitvoerende direkteur van Penguin Random House SA, vertel dat die maatskappy skielik met kwessies soos die volgende rekening moes hou: “Sal ons as sakeonderneming oorleef? Hoe gaan ons kliënte ons betaal as hulle self skielik nie meer kliënte het nie? Gaan ons kontantvloei voldoende wees om salarisse, huur en tantième te betaal?”
Steve sê dat Penguin Random House ’n lening moes aangaan om kontantvloei te verseker. Terselfdertyd moes hulle toesien dat personeel se veiligheid, gesondheid en welsyn nie bedreig word nie. “Dit was ’n geweldige spanningsvolle tyd.”
Vir die meeste uitgewers was dié situasie die grootste uitdaging wat hulle in hul leeftyd in die gesig moes staar. In Suid-Afrika was die impak nog groter as in die res van die wêreld omdat plaaslike aanlynwinkels verbied is om produkte te verkoop. In die meeste ander lande kon verkope aanlyn voortgaan.

Eloise Wessels van NB-Uitgewers (Foto: Naomi Bruwer)
Eloise Wessels, hoof van NB-Uitgewers, sê dat die uitdagings van die grendelstaat in haar loopbaan wel deur ’n vorige ramp oorskadu is. “Die sluiting van Leserskring het ’n baie groter en meer direkte impak op die plaaslike en veral die Afrikaanse boekebedryf gehad as die Covid-19-pandemie.”
Maar ten spyte van ’n jaar van hoogdrama vir die bedryf, is uitgewers optimisties en vol vertroue dat die mark in die afsienbare toekoms volledig sal herstel. Eugene Ashton, hoof van Jonathan Ball-uitgewers, beskou die pandemie as ’n “geweldige groot geleentheid” binne die globale konteks. “Talle uitgewers van regoor die wêreld het rekordverkope gehad en daar was groei in al die groot markte.” Omdat boekverkope in Suid-Afrika vir ses weke lank verbied was, was die situasie hier anders. “Ja, dit was uitdagend en dit is op talle fronte steeds, maar ons is vol vertroue dat die bedryf mettertyd selfs tot op pre-Covid-verkoopsyfersvlakke sal verbeter,” sê hy.
Veerkragtigheid baie belangrik

Eugene Ashton van Jonathan Ball-Uitgewers (Foto: verskaf)
Johan Coetzee van Naledi sê dat dié uitdaging opnuut bewys het hoe belangrik veerkragtigheid is. “Aanpassings in ’n vinnig veranderde wêreld waar tegnologie en, veral vir ons in die boekebedryf, uitdagings van bemarking aan ’n krimpende lesersmark aan die orde is, maak dat ons nooit op ons louere kan rus nie.”
Nicol Stassen van Protea Boekhuis sê: “Dit is vir ons as uitgewer seker die grootste uitdaging wat ons nog die hoof moes bied.” Omdat Protea Boekhuis ’n rolspeler in die mark vir akademiese boeke is, het die pandemie hulle ook op dié gebied uitgedaag. “Dit volg net mooi ’n jaar ná die afskaffing van die formule waarvolgens baie studente direk van die boekwinkels af boeke kon aankoop. Dit was selfs ’n groter omwenteling, maar die effek daarvan was slegs tot akademiese boekwinkels beperk.”
Soos alle uitgewershuise is Protea gedwing om op nuwe maniere besigheid te doen. “Ons is dankbaar dat ons verplig was om by veranderende omstandighede aan te pas,” sê Nicol. “Ons is die heel blyste dat ons hierdie jaar kon oorleef. Dit was egter nie moontlik om groot boekebeurse soos dié van Frankfurt en Bologna by te woon nie. Ongelukkig is die internasionale kontak met ander uitgewers deel van die bedryf, en ek het dit persoonlik as ’n groot gemis ervaar.”
Die manier waarop tradisionele kantoorgebondenheid van personeel deur die pandemie omvergegooi is, het uitgewers gedwing tot innoverende denke. Penguin Random House kon dié uitdaging met relatiewe gemak die hoof bied, vertel Steve Connolly, omdat daar geruime tyd reeds ’n fleksietyd-kultuur in die maatskappy heers, wat beteken het dat personeel dikwels van die huis af werk. “Ons het dié beleid eenvoudig net uitgebrei deur ekstra hardeware aan te skaf sodat 85% van ons personeel produktief van die huis af kon werk.”
Intussen moes die publikasieprogram so ver moontlik voortgaan soos beplan, en niemand het dit nodig gevind om personeel te verminder nie. “Ons het nie nodig gehad om poste te verminder of aanstellings te beperk as gevolg van die pandemie nie. Ons het wel baie versigtig gekyk na en gewerk met kostes,” sê Eloise Wessels van NB-Uitgewers.
“Wat ons aan optimisme ontbreek, maak ons voor op in determinasie”
Jonathan Ball se personeel wat siek geword het, het herstel, berig Eugene Ashton, en almal stry moedig voort: “Wat ons aan optimisme ontbreek, maak ons voor op in determinasie. Ons het nie personeel verminder nie, maar wel tydelik sekere nuwe aanstellings gevries weens die uitdagings daaraan verbonde om nuwe werknemers in ’n pandemie aan te stel.”
“By Protea het ons probeer om so normaal as moontlik voor te gaan,” sê Nicol Stassen. “Personeel het meestal van die huis af gewerk, maar die jaarprogram is nie aangepas nie, hoewel enkele boeke effens later moes verskyn omdat die drukkers ook vir ’n tyd lank moes sluit. Geen afleggings is gedoen nie en geen salarisse is verminder nie.”

Johan Coetzee van Naledi (Foto: verskaf)
Ook by Naledi is almal veilig en vol moed. “Ons moes eenvoudig ons planne afskaal, maar gelukkig is daar geen personeelverminderings nie,” sê Johan Coetzee. “Ons kyk nog meer versigtig na nuwe projekte. Ons beplan om vanjaar uitgawes meer effektief te bestuur en nuwe lewensvatbare projekte aan te pak.” Geen nuwe aanstellings gaan binne die afsienbare toekoms by Naledi gemaak word nie, en daar gaan op groter skaal van professionele vryskut-medewerkers gebruik gemaak word.
Penguin Random House se hoofkantoor was tydens die onlangse vlak 3-grendelstaat daagliks 50% vol. “Die nege-tot-vyf-dae is verby,” sê Steve Connolly. “Maar dit is belangrik om ’n balans te handhaaf tussen afstandwerk en die kweek van ’n maatskappykultuur waar ’n kreatiewe werksomgewing aangemoedig word deur persoonlike interaksie.”
By Jonathan Ball is die dae van mense wat elke dag ’n kosblik moet pak vir middagete op kantoor, ook grotendeels verby. “Waar dit sinvol is, sal ons heel waarskynlik volhou om vir personeel die opsie te bied om van die huis af te bly werk,” sê Eugene Ashton.
Wat logistieke sake betref, is die publikasie van sekere boeke aangeskuif of uitgestel tot ’n latere datum. Maar dinge is nou, ’n jaar later, grotendeels terug na normaal. “Natuurlik verwag ons dat dinge sal verbeter, maar die werklikheid is dat die gesondheid van die Suid-Afrikaanse boekemark baie afhang van ons ekonomie se gesondheid,” sê Eugene. “As jy daaroor optimisties is, sal jy positief wees oor boekverkope.”
En dié siening word deur almal gedeel. In Februarie 2021 lyk die prentjie baie meer rooskleurig as wat ’n jaar gelede gevrees is. Verskeie kommentators het in 2020 geskat dat die plaaslike mark met sowat 30% sou krimp.
“Dit gaan uitstekend by NB-Uitgewers,” sê Eloise. “Ons het ’n verbasend goeie jaar gehad en ons verwag inderdaad dat boekverkope sal toeneem soos wat die pandemie onder beheer kom. Die boekemark het wel gekrimp as gevolg van die vergrendeling. Volgens die Nielsen-jaarverslag vir 2020 het die Suid-Afrikaanse mark vir gedrukte boeke met ongeveer 16% gekrimp teenoor 2019.”
Toename in e-boekverkope bring effense verligting
Die toename in e-boekverkope het egter verligting gebring. “As ’n mens in ag neem hoeveel e-boekverkope toegeneem het, is die voorspelling van ’n 30%-inkrimping nog meer van ’n oorskatting,” sê sy.
Steve vertel dat Penguin Random House se boekverkope teen November/Desember verlede jaar gestabiliseer het, maar dat dit nie opmaak vir die verliese wat in die vorige agt maande gely is nie. Toe die grendelstaat in Maart 2020 afgekondig is, het verkope onmiddellik met 12% geval. “In die internasionale mark het die verkoop van gedrukte boeke in winkels aanvanklik met tot meer as 20% gedaal. Maar dié tekort is verhaal deur groot aanlynwinkels soos Amazon.”
“As mens na die Nielsen-handelsyfers kyk, selfs terwyl nog nie alle lughawe-boekwinkels heropen is nie, lyk dit of verkope weer normaal is,” sê hy. “In Suid-Afrika het aanlyn boekwinkels ’n styging in boekverkope beleef en hulle markaandeel beduidend vergroot, maar nie naastenby genoeg om op te maak vir verliese wat deur fisieke boekwinkels ervaar is nie. Nietemin weet ek van boekwinkels waar dit in November en Desember 2020 goed genoeg gegaan het dat hulle hul teikens kon behaal.”
Boekwinkels op lughawens is bepaald ’n belangrike faktor in die plaaslike bedryf. Eugene verduidelik: “As ’n mens in ag neem dat die meeste boekwinkels op lughawens steeds gesluit is, dan is verkope vergelykenderwys op dieselfde vlak as voor die inperking. Sodra mense meer gereeld begin reis, sou ’n mens kon verwag dat die mark volledig sal herstel.”
Volgens Johan Coetzee raak aanlyn verkope al belangriker. “Kopers moet net meer vertroue in die aanlyn aankope van boeke kry. Dalk kan uitgewers gesamentlik dink aan veldtogte om die publiek bewus te maak van die aantreklikheid van aanlyn verkope?”
Nadat Protea-titels in April 2020 ’n klein insinking getoon het toe alle boekwinkels gesluit is, het dinge intussen stewig herstel, sê Nicol. “Ons hou duim vas dat ons omset hierdie jaar gaan groei omdat ’n aantal belangrike boeke deur die loop van die jaar gepubliseer gaan word.”

Nicol Stassen van Protea Boekhuis (Foto: verskaf)
Protea Boekhuis is egter uitstekend in die mark geposisioneer om die impak van uitdagings te absorbeer, aangesien hulle by ’n wye verskeidenheid vertakkings in die bedryf betrokke is. Benewens hul teenwoordigheid in die akademiese mark, versprei en bemark Protea byvoorbeeld ook sowat 80 ander uitgewers se boeke. “Daar het ons omset met ’n skouspelagtige 40% toegeneem,” vertel Nicol. “Dit het dit vir ons moontlik gemaak om hierdie jaar met gemak te oorleef.”
Onder Protea se distribusietitels is daar boeke van skrywers soos Dudu Busani-Dube, Jackie Phamotse en Ayanda Borotho wat binne ’n maand deur die 5 000-kerf gebars het, vertel Nicol. “Ouer werke van Busani-Dube en Phamotse het hulle skouspelagtige vertoning voortgesit.”
Oor watter nuwe boeke kan lesers solank kwyl?
As mens na die uitgewers luister, is dit duidelik dat die plaaslike boekemark goed herstel van die pandemie se ingryping ’n jaar gelede. En almal gaan volstoom voort om te doen wat hulle die beste doen: om boeke te maak wat lesers gaan vermaak en meevoer. En Suid-Afrikaanse lesers kan maar net kwyl van opwinding oor die titels wat in 2021 die lig gaan sien.

Tembeka Ngcukaitobi by die bekendstelling van sy debuut, The land is ours, in Protea Boekwinkel, Stellenbosch. (Foto: Naomi Bruwer)
Penguin Random House publiseer in April Tembeka Ngcukaitobi se nuwe boek, Land matters. Dit volg op Ngcukaitobi se 2018-trefferdebuut wat Suid-Afrika aan die praat gehad het – The land is ours. Damon Galgut se nuwe roman, The promise, is ook op pad en almal sien uit na Malcolm Gladwell se Bomber mafia in Mei. Nou gons dit reeds oor Marianne Cronin se debuut, The one hundred years of Lenni and Margot.

’n Baie lang brief aan my dogter, die eerste deel van Marita van der Vyver se memoire, word vanjaar by NB-Uitgewers vrygestel. (Foto: Francois Pistorius)
NB-Uitgewers beleef tans opwindende tye met PP Fourie se debuutwerk The heart is the size of a fist, in Afrikaans beskikbaar as ’n Hart is so groot soos ’n vuis. Dan is Marita van der Vyver se ’n Baie lang brief aan my dogter, wat ons ook in Engels uitkom as A long letter to my daughter, binnekort op die rakke. Om nie te praat van Ingrid Winterbach se nuwe roman, Voorouer. Pelgrim. Berg, wat in Mei verskyn nie.
Later vanjaar kom daar ’n nuwe Hans-titel uit die pen van Rudie van Rensburg, sowel as sy volgende misdaadroman, Hartedief. Lesers kan hul vere ook solank regskud vir verskeie ander lekker spanningsverhale deur skrywers soos Irma Venter, Chris Karsten en Sidney Gilroy.
Jonathan Ball gaan die mark met ’n rits uitstekende memoirs tref, en selfs poësie én ’n drama. “Maar uit vrees dat ek dalk ’n Twitter-storm sal ontketen, sal ek liewer nie erken dat ek daaroor kwyl nie!” sê Eugene. Albert Grundlingh se biografie van Van Zyl Slabbert is pas uit, asook Tony Leon se Future tense, en in Mei kom Ebbe Dommisse se Fortuine: Die wel en wee van Afrikaner-magnate. “Ek vermoed egter die boek wat die meeste aandag sal trek, sal Pieter du Toit se jongste wees. Met sy vorige boek het ons Stellenbosch se toorn opgewek en hierdie keer sal lesers weer aan sy lippe hang, of dalk kwyl …” waarsku die grootbaas van Jonathan Ball.
Protea Boekhuis publiseer vanjaar ’n aantal groot naslaanwerke soos Plekname van Suider-Afrika (808 bladsye), Versamelde dramas van NP van Wyk Louw (775 bladsye), asook die vertalende en verklarende Kunswoordeboek van 389 bladsye. “Onder ons vertaalde boeke is daar vier nuwe Dr Seuss-boeke, vier nuwe David Walliams-boeke, vyf nuwe Kuifie-boeke, vier nuwe Asterix-boeke en twee nuwe Enid Blyton-boeke,” vertel Nicol. Verder kan lesers uitsien na historiese werke, waaronder ’n nuwe Karel Schoeman-boek, Babilon, en Van Humpata tot Upingtonia deur Nicol self, die vervolg op sy seminale Dorslandtrek-boek.

Jonathan Ball se rits biografieë is onlangs ingelui met die publikasie van Albert Grundlingh se Slabbert: Man on a mission. (Boekomslag: Jonathan Ball)
By Naledi is daar ’n klompie kinderboeke op die spyskaart: Sakkie Spangenberg se Bybelstories in perspektief, waar nuut gekyk word na die paradigmaverskuiwing in die benadering tot argaïese Bybelstories, en Lizette Rabe se boek vir kleintjies, Die blou feetjie. Verder is Hendie Grobbelaar se kortverhaalbundel Maskermense in die pyplyn, asook Abel Pienaar se Tao van wakker word – ’n spirituele gids tot innerlike ontwaking. Digbundels deur De Waal Venter, Carina van der Walt, Cas Vos, Rosa Smit en Bester Meyer is ook op die kaarte.
Lees ook Melt Myburgh se 2020-artikel toe die eerste inperkingsmaatreëls ingestel is:

