
“Gaan wees soos Rut, My kind. Gaan stap die pad saam die Naomi’s van die lewe. Dra hul tasse tot by hul bestemming, bied vir hulle ’n stoel aan as hul moeg is, gaan pluk vir hul koringare in die lande as hul honger is, want soos jy aan ander vrouens se lewens werk, so sal Ek agter die skerm aan jou lewe werk.” Dit was God se woorde aan my toe ek moeg, moedeloos en angstig was oor my lewe.
Ek het in diensbaarheid opgestaan en ander vrouens gaan help. Ek het hul bedien met blydskap, soms vir hul gebid, ander kere geleer uit die woord, ander dae iets gegee as hul honger was. Want ek het geweet: Dit was toe Rut besig was om koringare op te tel dat Boas op sy perd in haar vasgehardloop het.
Jare later, op ’n dag in Mei 2014, het ek gevra: “Here, maar wanneer kom my man dan?” Op 36-jarige ouderdom was ek moeg van alleen wees.
Vir jare was ek eers ’n getroude enkellopende en my tyd vir ’n nuwe seisoen het ook aangebreek.
Getrou het die Here vir my laat lees in Ester hoofstuk 2 van Ester wat vir ses maande in olies gebad het en vir nog ses maande op ’n spesiale dieet gegaan het en toe vir koning Ahasveros ontmoet het.
Ek het onmiddellik geweet: Ses maande plus ses maande is ’n jaar, en God probeer vir my sê dat my man oor ’n jaar sal kom. In Mei 2015.
In geloof het ek ’n boekie nader getrek en elke week ’n brief geskryf vir my koning wat sou kom. Die Boas wat ek nog nie ken nie, maar my begeerte was reeds na hom.
Ek het 100 servetringetjies gemaak vir die bruilofsfees wat sou aanbreek, tesame met die ’n troukussing vir ons ringe.
Ek het reg geëet en in my olies gebad deur my naels mooi te laat doen en strepies in my hare te sit.
Dus het ek 52 weke later geweet die tyd is reg vir Boas om op te daag, oftewel vir koning Ahasveros om sy bruid Ester se voete onder haar te kom uitslaan.
Sosiale media was God se posduif, want kort voor lank het ek guns in koning Ahasveros se oë gekry en hy het my raakgesien op Facebook.
Ek het ’n vriendskapsversoek gekry en daarna ’n boodskap op my foon.
Na vyf dae se gesels het ek, volgens my man, sy voete onder hom uitgeslaan met my spitsvondigheid.
Ek kan nie eers sê dit was die sout en peper in sy hare, of die mooi melodieë wat hy op so baie instrumente speel wat my hart verower het nie, want ek weet ek het hom lief gehad voor ek hom ontmoet het. Na vyf dae se boodskappe stuur, en baie gesels, het beide van ons besef ons moet mekaar van aangesig tot aangesig sien. Hier is iets groter aan die gang.
Ek het besef wonderwerke gebeur vandag nog.
Drie maande later het hy, tussen miljoene blomme van Namakwaland, my die kys gevra en op 1 Mei 2017 is ons getroud.
Ons getuig steeds daaroor, en wanneer mense tyd het om te luister, kleur ons die storie in met meer besonderhede.
Dit is agt jaar later en steeds lees hy sy boek vol briewe gereeld en ek verloor my hart oor en oor op hom, soos toe ek hom ontmoet het tussen die koringare.
Sowaar, Boas’e kom in Meimaand.

