Blood Brothers
Teks: Willy Russell
Verwerking en regie: David Kramer
Met (oa): Bianca Le Grange, Elton Landrew, Dean Balie en Ephraim Gordon
Die verhaal begin in Kaapstad, 1962, Distrik Ses. Hier word ’n tweeling vir die enkellopende ouer Evelyn Johnstone (Bianca le Grange) gebore. Weens sosiopolitieke omstandighede word die tweeling by geboorte geskei, maar loop mekaar ’n paar jaar later raak, en na aanleiding van hulle ontmoeting ontstaan die spanning van die verhaal. Blood Brothers is ’n storie oor hoe bloed dikker is as water, hoe soort altyd na soort sal soek en hoe die liefde dit alles kan omverwerp. Blood Brothers is oorspronklik deur Willy Russell geskryf en in Suid-Afrika verwerk deur David Kramer, wat ook die regie behartig.
’n Slim en eenvoudige stel sorg vir gemaklike toneelveranderinge. Hier moet ons egter byvoeg dat daar veels te veel toneelveranderinge is, wat die verhaal verbreek en dit moeilik maak om daardeur meegevoer te word. Die geselskap sorg vir pragtige sang om die verhaal te vertolk. Ongelukkig skiet die toneelspel soms te kort, ’n uitdaging waarmee musiekblyspele dikwels worstel. Alhoewel die verhaal baie boeiend is, voel dit tog by tye asof daar nie by die karakters genoeg op die spel is nie, en is dit eers na aan die einde dat die verhaal werklik spannend word.
Hier sorg Le Grange dan vir ’n kragtoer wat Blood Brothers tot ’n spannende einde bring.
Ten spyte van die lang duur van die produksie, sorg die geselskap tog vir ’n vermaaklike aand uit. Kramer se Suid-Afrikaanse interpretasie van die werk skep ook ’n interessante perspektief op die Engelse verhaal met die universele tema dat geld vir ’n mens die vryheid koop om te droom.

.

