#blackface en die fascisme van misplaaste politieke korrektheid

  • 1

As kunstenaar en as menseregteaktivis moet ek vrae vra oor Tukkies se skorsing van twee meisies wat hulleself as swart mense opgemaak het.

 

Hier volg ’n kort kortverhaal, daarna ’n meer filosofiese bespreking.

Die land van die vet boude

Eendag lank, lank in die toekoms is daar ’n land waar die heel slimste en rykste mense saam met hulle regeerders in ’n ivoortoring kon bly, terwyl die res van die mense in gewone huise en dorpe bly.

Eendag gaan twee meisies na ’n partytjie toe. Hulle smeer hulle gesigte swart, sit kussings op hulle boude en bind doeke om hulle koppe.

Talle mense is ontsteld toe foto’s van die twee verskyn, want daardie land se vroeë geskiedenis het heelwat seerkry tussen rasse ingesluit.

Daar word toe ’n wet deur die slim mense in die ivoortoring gemaak dat niemand hulle gesigte mag smeer, of vet boude mag hê nie. Op nommer nege-en-negentig is die klousule oor ’n verbod op kopdoeke verbied, aangesien ’n lastige joernalis daarop gewys het dat sodanige optrede al in die verlede ongemaklike vrae buite ander lande se ivoortorings tot gevolg gehad het.

Kort hierna het ’n pragtig-gegrimeerde professor en haar baie welaf, korpulente vriend die ivoortoring verlaat om klandestien iewers te gaan plesiertjies soek wat nie onder hulle kollegas se oë moes plaasvind nie. Albei is summier gearresteer die oomblik toe hulle die toring verlaat: die vrou op ’n klag dat haar gesig besmeer is en die man dat sy boude veel dikker is as dít wat die polisielede toelaat.

Woedend bel die twee toe die minister in die toring en hulle word dadelik vrygelaat. Dié toedrag van sake maak egter die ivoortoringbewoners bang en ’n kommissie van ondersoek word in gepantserde motors uitgestuur. Hulle bevind dat meer as die helfte van die land se bevolking geterroriseer word deur hierdie nuwe wet.

Die inwoners van die ivoortoring is nou nóg banger, want hulle is geleerd: hulle weet dat daar soms revolusies plaasvind wat ivoortorings skaad.

“Kom ons maak ’n wet dat almal hulle gesigte moet grimeer,” stel die professor met haar mooi grimering toe voor.

“Ek sal vreemd lyk as ek soos jy moet lyk,” praat die vorige minnaar van die vet sakeman skielik, want sy is nog baie jaloers op haar eks se nuwe lover.

“En wat maak ons moet die vet boude?” vra die sakeman benoud. Vir dieet sien hy nie kans nie.

Ja, maatjies. Stories moet mos lessies bevat, anders sal hulle verbied word as lighartig.

Die land het ’n baie goeie oplossing gekry: almal moes eenders lyk. Hier is ’n afskrif van die nuwe wet toe wat gemaak is:

Voor jy op straat verskyn, moet jy:

’n Rok aanhê
’n Doek om jou kop bind
Jou gesig swart smeer
Jou boude opstop.

Die land se inwoners het toe lank en gelukkig saamgewoon, want almal was nou presies eenders. Rebelle is tronk toe gestuur tot hulle gerehabiliteer is.

Gerugte doen wel die ronde dat daar binne die ivoortoring ander reëls geld, maar die polisie slaan altyd hard op joernaliste of gewone mense toe wat sulke bewerings maak.

 

http://mg.co.za/article/2014-08-09-blackface-students-suspended-from-residences

 

1 Enkele feite (of die gebrek daaraan)

Gedurende die week van 4 tot 10 Augustus 2014 het ’n herrie losgebars rakende twee vrouestudente wat tydens ’n verjaarsdagpartytjie hulle gesigte swart gesmeer het, die uniforms van skoonmakers aangetrek het en toe skynbaar kussing gebruiks het om hulle sitvlakke groter te laat lyk.

Volgens berigte in die pers het die Universiteit van Pretoria die twee tydelik geskors uit hulle koshuis, hangende ’n ondersoek.

Geen verdere feite is bekendgemaak nie.

Ek wil dit dus duidelik stel dat die Universiteit van Pretoria geen aanduiding gegee het dat die aksies van die studente gemik was daarop om swart mense af te kraak nie. By gebrek aan verder getuienis sal ek my dus berus by die foto’s wat geredelik op die internet verskyn het. Sou dit later blyk uit ondersoeke dat daar wel rassistiese bymotiewe was, dan sal ek ook dink dat straf teen hulle nodig sou wees.

Vir lesers wat meer oor die saak wil weet, sou ek hierdie artikel uit die Mail & Guardian voorstel (die koerant het swaar geleun op berigte deur Sapa):

Ek wil na graag twee aspekte kyk:

  • Die problematiese aspek van die karikatuur.
  • Die vryheid van die individu teenoor fascisme.

2 Die karikatuur as volkse protesaksie

Om ’n karikatuur te skep, is ’n baie ou gebruik.

Die woord karikatuur is afgelei van die Latyn carruca, wat “karavaan” beteken, want rondreisende toneelgroepe het in karavane gereis om mense te vermaak. Dié vermaak het dikwels bestaan uit humoristiese optredes en heel dikwels is daar die spot gedryf met die plaaslike maghebbers. Die akteurs se aksies, hulle kleredrag en grimering moes dit duidelik maak met wie die spot gedryf word.

Die humor was dikwels banaal en kru.

Hierdie tipe humor is dus ’n baie ou deel van ons Westerse samelewing, maar ons vind dit eweneens in die townships. Ek was al deel van sulke joliteite en daar is al by meer as een geleentheid die spot gedryf met my – in my teenwoordigheid.

2.1 Die magtelose teen die maghebber

Hedendaagse spotprenttekenaars gebruik die karikatuur so gereeld dat ons dit skaars agterkom. Wie kan nié dink aan Zuma sonder sy stortkop nie? Zapiro, en talle ander spotprenttekenaars wêreldwyd, gebruik hierdie tegniek om namens die volk die heersers aan te durf.

Vryheid van spraak hou die heersers op hulle tone. Hulle haat dit. Daar was selfs sprake dat Zuma ’n minister sou aanstel om sy beeld te poets – hier is ’n berig daaroor.

2.2 Die heersers se reg om die karikatuur te gebruik

Indien die gepeupel die reg het om karikature teen hulle heersers te gebruik, het die heersers die reg om dit teen hulle onderdane te gebruik?

Praat met enige onnie: die beste manier om skoolkinders te laat dink jy is cool, is om professioneel in die klaskamer te wees, maar jou naam minstens een maal op ’n skoolkamp gat maak. Soortgelyke optrede geld ook in die werkplek.

Indien ’n persoon met mag soms humor gebruik om met hom- of haarself te spot, is dit dus aanvaarbaar, maar enige persoon wat ’n mindere verkleineer, toon gewoon swak smaak.

2.3 Wit studente as vet, swart werkers

Sou ’n mens die foto hier bo beskou, is daar vier elemente wat ter sprake is:

1. Die meisies is lig van kleur en dra ’n middel om hulle donkerder te laat vertoon.
2. Hulle dra kopdoeke – waarskynlik weens die feit dat talle huiswerkers ook doeke dra.
3. Die rokke lyk dalk soos die lang rokke wat werkers dra.
4. Hulle agterstewe is heel waarskynlik opgestop.

2.3.1 Wit mense wat swart vertoon

Tot 1994 was alle mense wat nie as “wit” geklassifiseer is nie, tweederangse burgers. Dit het verander. Wit mense het steeds die ekonomiese mag in die land, maar polities beteken die wit stem net mooi niks.

Gegewe die ouderdom van die meisies (soos ’n mens uit die foto kan aflei, en ook die feit dat hulle op universiteit is), sou hulle geen kennis van institusionele apartheid hê nie. In ’n samelewing waar ek egter steeds my dogter se ras moet invul by haar aansoek om toelating tot die universiteit, sou ’n mens sonder veel sorge kon bewys dat hierdie twee, as minderheid, die kleur van die politieke meerderheid aangeneem het in hulle verspotte optrede.

Ek wil dit duidelik stel dat jy nie ’n wit meisie kan penaliseer bloot omdat sy swart politoer dra nie.

2.3.2 Die vet boude en die kopdoeke

Daar is ’n stereotipe in Suid-Afrika dat swart mans hou van vet vroue en dit is tans nog die gebruik onder tradisionele Shangaanvroue om hulleself in talle lae klere te bedek sodat hulle agterstewe groter kan vertoon.

Obesiteit is ook ’n groot probleem in Suid-Afrika. Medici wat in arm, werkersklasgebiede werk, sal bevestig dat tipe 2-diabetes ’n krisis is weens die geweldige vetsug onder armes.

Hoekom is daar soveel vetsug? Arm mense eet goedkoop koolhidrate; die wêreldwye Bunting-leefstyl word nog grootliks deur gegoede, welbelese mense gevolg wat die vermoë het om die nodige literatuurstudies te bekom. Natuurlik is daar ryk mense wat vet is, maar die groot dilemma vir Suid-Afrika lê in die armer buurte.

Waar wit mans maklik boeppense kry, sal sommige swart vroue makliker vet in hulle boude stoor.

Maar mag ons daarmee spot?

Dié van ons wat oud en belese genoeg is, sal weet van die wit “ontdekkers” in Afrika wat so verbaas was oor swart vroue se boude. Saartjie Baartman was ’n hartseer slagoffer hiervan.

Die meisies was dus onsensitief as hierdie aspek in ag geneem word.

Vreemd genoeg toon die foto net langs die een meisie se kop ’n bord wat sê “BE KIND”. Ek sou vir hierdie twee meisies wou vra: “Was dit kind om só aan te trek?”

2.3.3 Middelklasmeisies en kopdoeke

’n Mens sou aanneem (volgens ons stereotipes) dat hierdie meisies uit middelklasgesinne kom. Dit kan natuurlik vals wees – hulle sou arm kon wees en op beurse studeer, maar vir die argument sal ons hierdie stereotipe dryf.

As hulle wel middelklas is, dan sou ons kan sê dat hulle in klasorde meer mag het as die skoonmakers wat hulle skynbaar probeer naboots.

Op hierdie punt sou ’n mens dus kon vra of hulle optrede in goeie smaak was, en ek sou dink dat die antwoord “nee” kon wees.

Toe die EFF ingesweer is in die parlement, het hulle, tot my vreugde, werkersklasklere gedra. Let daarop dat hulle die maghebbers is (hulle is nou in die parlement) wat hulleself nederig verklaar deur met die werkersklas te assosieer. Malema en kie het dus in my oë volpunte gekry.

By gebrek aan verdere getuienis sou ons egter nie kon raai dat hierdie twee meisies simpatie wou toon met die werkersklas toe hulle hierdie klere aangetrek het nie.

2.4 Wat sou die regte optrede wees?

Ek sou dus dink dat die meisies se boude en hulle werkersklasuniforms toon dat twee welgevoede midddelklasmense karikature maak van werkersklasmense wat te veel koolhidrate inneem.

Daar is geen aanduiding dat hulle dit gedoen het om te kwets nie. Die blote feit dat iemand as ’n ánder optree, is hoegenaamd nie verkeerd nie.

Dat dit moontlik onsensitief is om redes wat dalk nie aan die meisies bekend is nie, sou wel waar kon wees.

Moes die heersers van Tuks dus die twee studente boelie?

Ek dink nie so nie.

Veel beter sou gewees het as intelligente mense, dalk met ’n bietjie kuns- en geskiedenisopleiding, die twee ingeroep het en aan hulle verduidelik het waarom hulle optrede sommige mense kon affronteer. Dan sou dit ook slim gewees het vir die universiteit om ’n persverklaring uit te reik waarin alle studente aangemoedig word om fyn te besin oor hoe hulle in ander se oë lyk wanneer hulle sekere goed doen.

Tuks het nie die opvoedkundige roete gevolg nie. Hulle het die fascistiese, polities korrekte roete gevolg om die heersersklas tevrede te stel, en sodoende het hulle twee studente baie skade berokken.

3. Die reg op artistieke uitdrukking

Ek pes rassisme en is onmiddellik kwaad as iemand na ’n swart vrou as ’n meid verwys; dit maak nie saak dat die woord in Nederlands steeds “meisie” beteken nie – ons het dit vir altyd in Suid-Afrika in ’n skeldwoord verander.

Rassiste wat steeds die woord gebruik, word nie juis na my huis genooi nie.

Tog moet ons baie versigtig wees om nie só polities korrek op te tree dat ons alle gebruike van die woord summier verban nie.

François Smith se briljante debuut, Kamphoer, bevat talle verwysings na ’n “meid”. Dit is steurend, maar dit is geregverdig in die konteks. Ek beveel hierdie boek wyd en syd aan, ten spyte van die blatante en gereelde gebruik van hierdie pejoratiewe woord.

Hoekom?

Indien ons polities korrek sou wees en Smith se boek verban weens pejoratiewe woorde, sou ons baie vinnig toelaat dat vryheid van spraak en vryheid van assosiasie by die deur uitvlieg.

3.1 Artistieke uitdrukking by partytjies en in die werkplek

Ek pes partytjies waar ek voorgeskryf word wat om te dra, maar talle van my vriende is mal daaroor. Oor die jare het ek al vreemde karakters gesien kom en gaan: mans wat as vroue aantrek, vroue wat as mans aantrek, wit mans wat soos Zoeloekonings van ouds in velle rondhardloop, seerowers, boemelaars, prostitute, priesters, en dies meer.

Ons kan nie mense se reg om hulleself simpel te maak, van hulle ontneem nie.

Ongelukkig lyk ’n oorgewig man wat ’n deurtrekkertjie, visnetkouse en hoë hakke dra, taamlik aaklig. Moet ons dit verbied?

Kom ons gebruik baie vinnig die resep wat ons hier bo gebruik het om te bevind dat dit vroue sou kon aanstoot gee.

1. Mans is steeds in beheer van die ekonomie en die politiek. Tot baie onlangs nog kon vroue nie eers geld trek sonder hulle mans se toestemming nie. Vroue was dus tweedeklasburgers en is steeds nie ten volle verteenwoordig in die hoogste range van ons land se samelewing nie. ’n Man wat as ’n vrou aantrek, maak dus ’n karikatuur van iemand met mindere mag, sou ’n mens kon argumenteer.

2. Visnetkouse en deurtrekkertjies ... Nou ja, my vrou sal hulle nie dra nie en as daar ’n foto van ’n enige vrou sou verskyn in ’n gesinstydskrif waar sy ’n deurtrekker, spykerhake en visnetkouse dra, sou talle mense, onder wie godsdienstiges en feministe, beswaar maak teen die objektivering van die vroulike liggaam vir die manlike oog.

Op albei hierdie punte moet ons dus mans verbied om met die vroulike liggaam te spot en ons sou dus, volgens Tuks se slim mense, mans moet verbied om vroueklere te dra na partytjies toe.

Natuurlik is dit ’n stupid argument. Dink aan die Rocky Horror Show.

Maar wat dan van vroue wat mansklere dra? Dit mag ons seker ook verbied.

Nou verbied ons darem alte lekker. Wat dan van vroue wat mansklere dra na die werksplek? Sommige godsdienstiges kla steeds daaroor.

Die meeste mense in Suid-Afrika is kwansuis godsdienstig. Vroue sou, as ons totaal logies en konsekwent moet wees, dus rokke moet dra werk toe, want vroue in broeke kan godsdienstige mense ontstel.

Kom ons praat weer oor die EFF. Waarom mag hulle nie werkersklasklere dra in Gauteng se parlement nie? Wie is reg? Die ANC of die EFF? Julle weet waar my simpatie lê.

3.2 Die valsheid van voorskriftelikheid

Saterdag 9 Augustus, op Vrouedag, berig Die Burger dat ’n manlike skoolhoof dit goed gedink het om die polisie te vra om ’n meisie van die skoolterrein te verwyder, want haar kunsmatige vlegsels was te dik.

Nee, dis nie ’n grap nie. Lees die berig hier: http://www.dieburger.com/nuus/2014-08-09-hoof-ontbied-polisie-oor-leerder-se-hare.

Gelukkig het die Wes-Kaapse regering ingegryp.

Ons Suid-Afrikaanse samelewing is nog so vasgevang in die greep van fascisme dat maghebbers steeds glo hulle kan voorskryf wat mense moet dra en hoe hulle hare moet lyk.

Talle skole skryf nog voor hoe kinders, ook seuns, se hare daar moet uitsien; ons dink nie eers dis snaaks nie, want ons het so grootgeword.

Wit, middelklasmans wat in Christenhuise grootgeword het, word baie gou kwaad vir Moslemmans wat voorskryf dat hulle vroue se koppe bedek moet word, maar hoeveel van ons sal ’n skoolhoof teengaan wat belaglike uitsprake oor ons seuns of dogters se hare wil maak?

Dink mooi voor jy met die nonsens van dissipline kom ... Hoe verskil ’n skoolhoof wat kinders se hare wil beheer van ’n man wat voorskryf dat sy vrou haar hare moet bedek?

Dink baie, baie mooi voor jy klippe gooi.

Nomelikaya Magalela, die ma van die meisie wat deur die polisie verwyder is, was heeltemal korrek om op te staan teen ’n fascistiese skoolhoof wat haar dogter uit die skool geskop het weens die dikte van haar vlegsels. Hoeveel mans wat hier lees, is mans genoeg om hulle kinders só te beskerm teen fascistiese skooltradisies?

3.3 Wat het dit met swart gesigte te doen?

My seun, wat pikswart is, hou verskriklik baie van Leon Schuster se films.

Ek wil my doodskaam vir Schuster, maar talle Suid-Afrikaners, van alle rasse, stroom teaters toe wanneer ’n nuwe film deur die koning van karikature open.

Ek en Fanie Viljoen het die ander dag goedig gespot dat ons hoop Schuster word ook nou verban, maar natuurlik sal ek dit nie toelaat nie.

Schuster het net so ’n reg om stereotiepe karakters uit te beeld as wat François Smith pejoratiewe woorde in sy roman mag gebruik.

Die Kaapse Klopse verf hulle gesigte wit. Dié tradisie van die Klopse kan baie ver teruggevoer word na die tyd van slawerny toe wit gesigte ’n gespot was met die meesters.
Akteurs wat hulle gesigte swart smeer, het egter ook ’n baie ou tradisie. Vir diegene wat meer wil lees oor die oorsprong van die Minstrels en die Blackface-beweging, besoek gerus hierdie ruimte: http://www.black-face.com.

3.4 Ongemak is deel van kuns en deel van die samelewing

Dit feit dat ek nie van iets hou nie, beteken nie dat ek dit mag verban nie.

As ons begin voorskryf wat mense in hulle artistieke uitdrukkings, beide in die openbaar en in geslote omgewings soos verjaardagpartytjies, mag en nie mag nie, dan is ons op dun ys.

Dit is wel ons plig om blatante rassisme te veroordeel en om mense wat opsetlik ander seer maak, te veroordeel.

Goeie akademici behoort egter hulle kennis te gebruik om die samelewing te help om meer verdraagsaam te wees. Ons mag daarop wys dat sommige mense aanstoot sou kon neem teen wit meisies wat soos vet, swart werkers lyk, maar dit beteken ook dat ons die samelewing moet leer om oor sulke goed te gesels. Fascistiese optrede is nie ’n opsie nie.

Tuks moes die geleentheid omarm het om nasiebou te bevorder. Hulle het nie.

Ek dink die maghebbers by Tuks moet verskoning vra dat hulle so opgetree het.

 

  • 1

Kommentaar

  • Dis "Banting", nie "bunting" nie. Bunting is daai rye vlaggies wat mens ophang vir 'n feestelikheid.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top