Huis toe, Mies Julie en The Rocky Horror Show

  • 0

Toe dit een keer gebeur, is dit een van daai vreemde ervaringe – ‘n stuk wat aangebied word met so ‘n vreemde styl. Dit was my ervaring by vanjaar se Woordfees. En al is dit hoe laat, is dit belangrik om te betrag. So, nou, die eerste kans wat ek kry in maande, soek ek die geleentheid om daaroor te skryf.

Huis toe is ‘n vertaling van Pinter se The homecoming. ‘n Produksie soos hierdie  laat mens besef hoeveel kuns daar in teater is. En hoekom mense so kan verskil daaroor. En mens vat dit of los dit, na gelang van jou smaak.

Huis toe

Deur Harold Pinter
Met Neels van Jaarsveld, Deon Coetzee, Amalia Uys, Werner Coetser, Johan Engelbrecht en Armand Aucamp
Regie: Henry Mylne

Huis toe het by ‘n aantal feeste gespeel. En opinies was altyd wisselend. Die stuk skop af met vreemde lae energie, vreemde stiltes en harde abrupte stukke musiek. Jy wil eers dink dis nie ‘n sukses nie; kommunikeer nie goed nie. Maar Henry Mylne was destyds ‘n bietjie van ‘n verhooglegende in amateurkringe in die Kaap. En dit was al destyds. So hy moet weet wat hy doen. En dit blyk die geval te wees. Want dan ontwikkel die stuk tot iets wat vreemd op jou groei. Dis ‘n enige ervaring, en jy dink positief daaroor na, alhoewel die vrae steeds bly hang.

Daarteenoor is daar Mies Julie.

Mies Julie
Bongile Mantsai, Hilda Cronje, Thoko Ntshinga
Regie: Yaël Farber

Bongile Mantsai, Hilda Cronje


Mies Julie
speel aanhoudend dwarsoor die aardbol. Oral verwerf dit vyfster-resensies. In die Staatsteater is dit nie gewild nie. ‘n Beroemde en hoogs ervare Afrikaanse akteur wat dit gesien het, vloek woes oor die stuk. ‘n Jonger skrywer, regisseur, akteur stippel uit hoe vies hy is oor die stuk. Dis wit-Afrikaner-bashing, sê hulle.

Ek gaan kyk self. Die regisseur het weliswaar die klassieke stuk so verwerk dat jy dit kwalik kan herken. Maar die teks is so sterk dat dit juis die storie is wat jou uiteindelik boei. Want die res – hoe verrassend en energiek gespeel ook al – sit met te veel eendimensionele kommunikasie. Dis die ironie. Hier is hierdie visueel beeldskone produksie, met die rook, teëls, boomstomp, verf, bloed en dans – selfs seks; maar die gate is so onnodig, en so groot. Die dialoog wat tussen abstrakte dans deur gelewer word, kan fantasties werk vir die produksie. Dis ‘n eienaardige, en lieflike, “device”. Maar as dit by die teks kom, pla vals klemme. ‘n Akteur kan verstaan wat hy sê, en steeds ‘n klem verkeerd vat. Daarvoor is die regisseur daar. As die oog van buite. Mens hoor jouself nie.

En dis nie al wat pla nie. Is dit ‘n regisseursbesluit om die vrouekarakter met onverdunde woede uit te beeld, en met die afwesigheid van nuanse by die aktrise, Hilda Cronjé? Is dit, soos in Huis toe, ‘n bepaalde besluit – in dié geval om die eendimensionele woede uit te druk? Mens kry in enkele oomblikkies gedurende die stuk aanduiding dat die aktrise tot nuanse in staat is, maar dit nie ontwikkel nie.

Die ander aktrise, kompleet met gromgeluide, speel voortreflik, selfs dié dag – ‘n matinee – as plaasvervanger vir die gebruiklike lid van die geselskap.

Die sleutelvraag is: As die ongewone elemente meer tradisioneel hanteer was, selfs in ‘n stuk met ‘n eienaardige styl, sou die onmiddellike ervaring, en die herinnering, nie baie, baie sterker gewees het nie? En elke 4- of 5-ster-resensie werd nie? Dit sou vir my. En die teks pla my nie.

The Rocky Horror Show – Die Fugard
Met Paul du Toit, Jenny Stead, Brendan van Rhyn, Andrew Laubscher, Pierre van Heerden, Adrian Galley
Regisseur: Matthew Wild
Musiek: regisseur, Stefan Lombard; hoof, Charl-Johan Lingenfelder
Ontwerpe: Tina Driedjik – stel; Penny Simpson – kostuum; Daniel Galloway – beligting; Aki Khan - klank
Choreografie: Louisa Talbot

Brendan Van Rhyn

Hierdie produksie is net wat hy moet wees. Die Fugard-teater skep die kasteelagtige binnekant vir hierdie kultusproduksie. ‘n Handvol sterre in die wêreld van musiekteater, met CV’s van The Phantom of the Opera tot by die destydse Jesus Christ Superstar, verskaf die musiekbegeleiding. En ‘n titseltjie tegniese genialiteit verras. Net die tegniek waarmee Brad en Janet in die motor gesien word, asook enkele ander tonele geskep word, maak dit die moeite werd om Rocky te gaan kyk. Dit, en die klompie sterre van die verhoog en televisie - en nuwer name, en Brendan van Rhyn.

Van Rhyn beskik oor die omvang en die voorkoms om van die legendariese kultusheld Frank N Furter iets spesiaal te maak. Paul du Toit en Jenny Stead is die ideale kombinasie as die aanvanklik suiwer paartjie; nodeloos om te sê is hul spel voortreflik, en albei verras met hul suiwer sangstemme. Andrew Laubscher se Riff Raff is die misterieuse en later magtige kreatuur. Dominique Maher beïndruk, en nes in die fliek is die simpatieke oomblik daar wanneer sy oor Eddie treur. Adrian Galley se verteller – wat keer op keer sy kop op ‘n ander plek uitsteek – se glinster in die oog getuig van hoe bewus hy is van die vermaaklikheidswaarde daarvan.

‘n Meegesleurde gehoor doen net wat mens van hulle verwag: sing saam, skree die woorde, dans; mens is verras dat iemand nog nie agter Rocky of Frank N Furter aan, of agter Brad aan of agter Janet aan, of agter enige van die ander aan, behalwe miskien Pierre van Heerden se ou dame aan, op die verhoog gehardloop het nie.

The Rocky Horror Show is die soort ervaring wat jou noop om in die foyer te bly staan na die tyd, want die pret hou nie op nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top