Bittereinder: "Ons het baie meer tyd aan 'speel' spandeer"

  • 0

Die hip-hop/rap-trio Bittereinder is terug met ’n nuwe EP-album van sewe snitte, Dans tot die Dood. Jaco van der Merwe, voorman van dié groep, beantwoord ’n paar vrae oor die album, Bittereinder so loopbaan en die dood.

Goeiedag, Jaco. Wat skud, ou perd?

Agge nee, die “hoe’s dinge”-intro het ’n twist! Ek werk nou al so lank aan my “hoe’s dinge”-antwoord, die “perd”-vibe gooi my nou heeltemal af. Ons sê maar die pun is intended.


Jaco van der Merwe, Peach van Pletzen en Louis Minnaar

Baie geluk met die uitreiking van jul jongste EP, Dans tot die dood. Bittereinder het voorheen altyd die roete geloop van albums met tien snitte of meer (’n Ware verhaalDie DinkdansmasjienSkerm). Waarom die besluit om hierdie maal ’n korter album, met net sewe snitte, vry te stel? Is dit ’n teken-van-die-tye-ding, of wat is die strategie? Hoe het die proses van skryf en saamstel gewerk met die bou van ’n korter album vergeleke met die bou van ’n langer album?

Dis maar net hoe die body of work uitgekom het. Ons het dit vir die eerste keer ooit reggekry om ons skedules so te bewerk dat ons al drie saam vir ’n week in die berge van Mpumalanga kon gaan sit en net musiek maak. Dit was ’n ongelooflike week, ’n hele nuwe roetine van skryf en braai en skottelgoed was en frisbee gooi en nie internet hê nie. Die hele album het basies in daardie week tot gestalte gekom, en Peach het toe nog drie volle weke in studio met post-production en mixing deurgebring. Ons het aspris onsself nie toegelaat om ’n ewigheid aan elke basdrom-EQ te sit en peuter nie, en die proses het baie meer vloeibaar geword, sonder om kwaliteit te verloor.

In ons onderhoud oor Skerm het ons gepraat oor die donkerder streep wat deur dié album loop, betreffende musiek en lirieke. Dans tot die dood, aan die ander kant, voel soos die ander kant van die lig/donker-spektrum – daar's ’n opgewekte gevoel wat strykdeur gevoel kan word, selfs speels op heelwat van die musiekelemente wat betrek word. Was daar ’n bewuste besluit onder die Bittereinder-manne om dié soort rigting in te slaan? Of hoe het julle konseptualisering van die album as ’n eenheid of enkele produk in dié opsig verloop? Is daar ’n groter-prentjie-trajek ter sprake, of word dinge maar gevat soos dit kom?

Omdat ons die hoofdele van al die musiek en lirieke in so ’n kort tyd aangepak het, met net ’n paar basiese idees as beginpunt, was dit onvermydelik dat daar baie temas is wat deur al die liedjies beweeg. Ons al drie het baie na die Sweedse band The Knife geluister in die laaste paar jaar, en dit het onverwags ’n duidelike invloed in die klank geword – die crazy synth loops, donker progressions oor harde dans-electro beats. Ons het baie meer tyd spandeer aan “speel”, ons het ons analog gear uitgepak, klomp synthesisers en dromme, en ons dink ons het nog meer as ooit reggekry om die “human quality” vas te vang in elektroniese musiek.

Dit was nog altyd vir Bittereinder interessant, veral by live shows, hoe mens electro regtig kan “live” en menslik maak. Back to the question – ek het geen idee meer hoe om die lig/donker-evaluasie van ons musiek te doen nie – amper alles gebeur in minor keys, maar dit bons darem nog kliphard. En selfs al sing ons baie oor die dood, sing ons ook oor hoe goed die lewe kan wees.

Humor was nog nooit té ver weg in Bittereinder se jol nie, maar dit voel of dit op Dans tot die dood tot ’n volgende rat oorgeskakel word, vernaam natuurlik met die snit "Hartseer gangster" en ook in baie van die tong-in-die-kies lirieke op byvoorbeeld "Great track". Was dit iets waarvan jy of julle graag meer wou inwerk? Hoe beskou jy die rol van humor in dit wat julle doen? Jou lirieke bespreek dikwels kwessies van identiteit, groepsgedrag en dies meer – hoe dink jy versterk humor kommunikasie oor hierdie dinge, spesifiek in wat jý wil sê, maar ook in terme van die groter openbare diskoers in Suid-Afrika? Of vat ek dit nou te ver?

Sover was al ons meer komediese snitte altyd geskryf in samewerking met ander kunstenaars – “The Flesh Prince”, ’n narrative oor Zander the Zombie saam met The Plastics; “127 Boets Per Minute” saam met the Kiffness (dit gaan binnekort vrygestel word); die Bittereinder-remix van Desmond & the Tutus se "PTA GRLZ"; selfs "Kwaad Naas" is ook ’n samewerking. Louis veral was keen dat ons bietjie ons “eie” humor-driven liedjie moet aanpak. Peach het al ’n hele ruk lank met die “Hartseer Gangster”-chorus rondgeneuk, hy’t dit opgeneem op so ’n harde auto-tune app op sy foon en ons gereeld laat lag daarmee. Louis skryf toe daai beat, en in daai week in Mpumalanga toe ek eendag terug in ons huisie inkom na ek bietjie gaan skryf het in die natuur, is hulle twee besig om die “Hartseer Gangster”-chorus kliphard te sing oor daai beat. Die liedjie het toe maar homself geskryf.

Ja, ek dink humor is altyd ’n goeie wapen om oor ander dinge te praat. Dalk word ons die Zapiro van rap. Of ons los daai meer politieke rol vir Walkie Talkie ...

Die mengsel van Afrikaans en Engels bly ook interessant in Bittereinder se benadering - die hook/refrein van "The flood" is byvoorbeeld Engels, die verse is ’n volslae mengsel. Laas het jy gesê hierdie gebruik lei tot ernstige debat in die Bittereinder-oorlogskamers. Is dit steeds die geval, of wou julle dit op ’n spesifieke manier hanteer hierdie keer? Hoe werk jou liriekskryfproses daarmee – word dit maar net neergesit soos dit vloei in watter taal ook al, of wanneer dink jy "hier moet ’n Engelse stukkie kom" of "nee, hierdie werk beter in Afrikaans"? Hoe werk die bespreking daarvan binne Bittereinder, ook wanneer dit kom by oorwegings soos radiovriendelikheid en live optredes?

Hierdie album het effens minder Engels as Skerm. Daai koortjie van "The Flood" is een van die handvol elemente wat eintlik geskryf was ’n hele rukkie voor ons bymekaar gekom het in Mpumalanga. Daai liedjie het my een middag in Botswana beetgekry in Januarie, en ek moes hom dadelik neerskryf en opneem op my foon. Ek het weke later eers weer van hom onthou, maar ons het geweet hy hoort op hierdie album. Omdat hy gaan oor die dood, en hy lekker is om op te dans.

Op hierdie stadium is ons redelik rustig in die oorlogskamer. Ons vind al hoe meer ’n ritme van saamwerk – na ses en ’n half jaar begin ons nou so effens mekaar verstaan ... Die taalmeng-ding is maar deel van hoe ons met mekaar praat, maar ek probeer om meer in Afrikaans as Engels te skryf. Natuurlik is Engels seker ’n beter opsie vir oorsee, en gesien dat ons al hoe meer buite die land optree, moet mens seker daaroor dink, maar dit is nog nie ’n regte issue sover nie.

Terug by die kwessie van album versus EP – baie bands, gevestig en nuut, verkies om deesdae met reëlmaat enkelsnitte digitaal vry te stel, eerder as die tradisionele album- of EP-roete. Wat is jou gevoel hieroor, en wat dink jy sal Bittereinder as band wen of verloor as daar ’n enkelsnitkoers ingeslaan sou word? Wat is jou filosofie rondom die waarde van ’n album of EP as ’n eenheid, eerder as bloot ’n versameling songs? Hoe dink jy word dít weerspieël op Dans tot die dood?

Ons gesels gereeld hieroor. Die wêreld verander vinnig. Ons het byvoorbeeld vir die eerste keer nou gekies om nie ons CD's winkels toe te stuur nie. Die grootste rede vir dit is seker dat daar nie meer enige CD-winkels bestaan nie, haha. Maar ons verkoop wel nog baie CD's by optredes, dis die een plek waar mense nog iets fisies van die ervaring wil huis toe vat. Dan’s daar ook nog die “streaming versus downloading”-debat. Maar op hierdie stadium geniet ons dit nog om ’n groep liedjies bymekaar te sit en saam vry te stel. Ons hou van die idee van ’n album, ’n groep liedjies wat alleen maar ook saam iets kan beteken. Daar’s ’n intertekstualiteit wat gebeur as liedjies saam op een album is, iets soos edits in ’n fliek wat meer moontlikhede van betekenis oopmaak as hulle saam met ander frames gesit word.

Die afgelope jaar of twee doen jy heelwat gigs waar jy solo optree en Bittereinder-liedere uitvoer met ’n akoestiese kitaar in die hand. Dis altyd lekker gigs daai, maar jy mis seker die harde bas en ander bonswekkende elemente wanneer jy net strum? Of beskou jy dit as ’n heel ander produk? Hoe gaan jy te werk om ’n Bittereinder-song te verwerk vir ’n akoestiese optrede, en watter verstellings maak jy graag? Wat geniet jy persoonlik omtrent daardie optredes, vergeleke met volledige, groot Bittereinder-shows?

Ek geniet eintlik nog altyd al twee tipe optredes. Ek is al ’n hele paar jaar op ’n post-metal acoustic-neo-folk trip, seker so tien jaar terug al begin deur ’n obsession met Sufjan Stevens. As kunstenaar ondersoek ek ook graag verskillende style, en is amper altyd betrokke by meer as een projek met baie diverse toonkleure. Die Begin, Walkie Talkie en Bittereinder is onlangse voorbeelde, en nou het selfs Bittereinder twee kante met die akoestiese shows. Liedjies soos "Ware Verhaal" en "Die Waarskuwing" kon ek van die begin op kitaar speel, ander tab ek maar soos dit vir my reg voel. Dis vreemd, omdat ek “covers” van my eie liedjies uitwerk, maar ek beweer nog altyd ’n goeie cover moet nogal min soos die oorspronklike klink om regtig te werk. So om ’n hele ander styl, en om spesifiek akoestiese rap (redelik anders vir ’n eenmanprojek, as far as I can tell) te ondersoek is vir my verskriklik bevredigend. Ek het onlangs ’n reggae-tipe weergawe van "Die Dinkdansmasjien" uitgefigure wat vir my moer lekker is om te speel. Daar is elemente van die chemistry met ’n gehoor wat jy kry in ’n sitkamer wat jy nie by ’n festival sal kry nie, en weer ’n massive energie wat die main stages van Oppikoppi gee wat mens nie by ’n sit-down gig kan kry nie. Ek is bevoorreg om redelik gereeld al twee tipes connection te kan ervaar.

Iets wat ’n mens nogal optel in jou lirieke – nie net op Dans tot die dood nie maar ook op vroeëre albums – is ’n soort self-referential element. Bedoelende, daar's heelwat verwysings na ander snitte se lirieke en ook na die aard van die Bittereinder-loopbaan. Is dit iets wat jy spesifiek probeer inwerk, of wat is die motivering daaragter, indien enige? ’n Mens kan seker aflei jy en die res van Bittereinder is besonder bewus van waar julle staan in jul loopbane en ook in die konteks van die Suid-Afrikaanse musiektoneel/-bedryf – hoe sou jy die plek waar julle nou as band is, beskryf, en hoe beskou jy jou en julle plek op die scene?

Ons is van dag 1 af beskryf as “die volgende groot ding”, en ons het nog altyd geweet dit sal nooit heeltemal waar kan wees nie. Ons is eintlik redelik tevrede om so ’n “medium-sized ding” te bly – ons laaste ses enkelsnitte wat ons na die groot radiostasies toe gestuur het is weggewys omdat hulle “nie commercial genoeg is nie”. So dis altyd ’n goeie teken dat ons wel nog besig is om kuns en nie commodities te maak nie, maar dit beteken ook dat ons nogal min support in terme van infrastruktuur kry, omdat daar baie min platforms is vir alternatiewe musiek in hierdie land, soos jy goed weet. Ons val altyd net buite die mainstream, maar dis seker waar ons wil wees. Die self-referential ding is maar deel van postmoderne skrywery seker – ek verwys ook na dosyne ander tekste en goed. Op “Taalmeng” het ek Shakespeare, Kurt Cobain en Inge Beckmann aangehaal, byvoorbeeld. Dis altyd vir my lekker om bietjie pastiche-rap te skep.

Bittereinder speel deesdae minder shows, voel dit my (dalk net omdat ek in die Kaap sit en julle in die woeste noorde). Gaan dit verander, of hoe lyk die nabye toekoms in daardie opsig? En verder af in die pad in terme van albumvrystellings en optredes? Sal Bittereinder sy naam gestand doen in dié opsig?

Ons kom weer Kaap toe in November, en gaan ook die Potch-Jhb-Bloem-Pta launch-toer doen, hou maar ’n ogie uit vir die toer-poster wat Louis besig is om te maak. Ons speel ook volgende naweek by ’n nuwe festival in Namibië – dit sal ons derde gig in Namibië wees, sien baie uit vir dit. En dan mik ons weer Europa toe in 2016. Ons al drie was heelwat besiger met persoonlike projekte hierdie jaar, Bittereinder is mos nog altyd ons “side-ding”, haha. Dis ook lekker, want dis nie ons eerste bron van inkomste nie, so daar is baie minder pressure op die projek, ons kan dit altyd as kuns benader.

Wat is die sin van die dood?

Wanneer mens eers begin dink aan die dood, regtig diep dink, word dit ook iets waaroor mens nooit kan ophou dink nie. Dis erg, maar seker maar nodig. As mens dit enigsins regkry om so bietjie deur daai diep dink te werk, kan mens seker tot verskeie gevolgtrekkings kom. Onder leiding van denkers soos Cormac McCarthy, Albert Camus en Candy Chang het ek onlangs begin dink die dood se enigste regte troos of sin is om ons te help om harder te lewe, en om die dinge van die lewe in die perspektief te sien waarin hulle eintlik hoort: hulle maak gewoonlik baie meer en minder saak as wat mens sou dink as jy nie na hulle kyk deur die lens van mortaliteit nie. Ek is van laas jaar af al verlief op Cormac McCarthy se reëltjie uit die script van The Counselor: “At our noblest we announce to the darkness that we will not be diminished by the brevity of our lives.” Ek het dit aangehaal by ’n troue van een van my vriende hierdie jaar, en ek gaan dit hierdie naweek ook aanhaal by die begrafnis van een my vriende.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top