Bittereinder: "Die musiek beteken werklik nog iets"

  • 1

Die hip-hop-groep Bittereinder het onlangs ’n nuwe lied bekendgestel. Hulle maak ook ’n skaarse Kaapse draai vir 2018 se Woordfees. Jaco van der Merwe, voorman van die groep, beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Jaco. Wat is aan die gang?

Yes Henry! Soos gewoonlik: moer baie dinge. Dink dis Oscar Wilde wat gesê het mens moet aan jouself as ’n werkwoord dink liewer as ’n naamwoord, dan bly jy konstant aan die gang met veelsydige projekte, maar jeesh, ek dink ek’s lus om vir ’n ruk dalk net bietjie ’n noun te wees. Iets eenvoudig en meestal inert, soos “klip” of “kussing”, net vir ’n week of twee.

Louis Minnaar, Jaco van der Merwe en Peach van Pletzen. Foto: Wikus de Wet

Bittereinder het einde 2017 die enkelsnit “Donderwolk” vrygestel. Dis ’n heerlike en baie interessante tune – en gepaardgaande video – en voel op ’n manier anders as vorige Bittereinder-singles. Daar’s ’n teerheid in die melodie, ’n melankoliese broosheid in die lirieke wat afwyk van bons-induserende singles soos “Skerm” en “Dinkdansmasjien”. Is dit ’n opsetlike nuwe rigting wat Bittereinder inslaan? Of is daar ’n tasbare evolusie in Bittereinder se musiek wat bloot op hierdie punt klink soos dit klink? Hoe sou jy hierdie groei – of is dit verkenningslus – beskryf?

Ons noem dit maar ’n “nuwe” liedjie, want dis tans die nuutste ding wat die drie Bittereinder boiz klaargemaak het vandat ons Dans tot die dood in 2015 vrygestel het, maar die ware verhaal is dat ek daai lirieke geskryf het in Desember 2016 op ’n beat wat Louis in 2015 begin maak het. So die “death of the author experience” het klaar so bietjie ingeskop vir my as ek eerlik daaroor dink hier in 2018 – die teks is al ietwat verwyderd van my huidige gedagtestrome. Maar ja, ons het vir seker ’n nuwe klankpalet en ’n paar treë in ’n meer melankoliese rigting aangedurf met daai song, en Louis het iets regtig magic reggekry met die video ook.

Daar is vir my ’n bloedlyn van minder-bons-induserende-Bittereinder-snitte met tracks soos “Die slang” en “Die arend”, “Wakkerword”, “Kulkuns”, “Klankanatomie”, “The flood” en so aan, maar jy’s reg dat hulle nie gewoonlik singles word nie. Daar is op die oomblik ook so 10–20 ander songs wat in die lug ronddryf in verskeie fases van vervaardiging. Ons dreig nou al maande lank om bietjie saam te sit en ’n paar besluite te neem oor wat ons volgende wil doen. Nou dat ons “besig” is met die vyfde album is dit partykeer lekker om terug te dink deur die vorige albums, en om iets soos ’n evolusionêre patroon te soek. Maar ek dink “melankoliese broosheid” is ’n goeie beskrywing van wat met my gebeur hier rondom die 35-jaar-op-aarde-merk ...

Jy, Peach en Louis is almal ouens met regte loopbane en shit. Hoe moeilik is dit om ’n groep wat so gewild is, en waarvan daar sulke hoë verwagtinge gekoester word in terme van vernuwing en oorspronklikheid, lewendig en skerp te hou te midde van die “grootmenslewe”? Ek wonder ook: jy is byvoorbeeld bedags ’n dosent by die Open Window Institute, wat basies ’n kreatiwiteitskool is. Hoe word jou eie kreatiewe dade en behoeftes beïnvloed (of dalk selfs beperk?) deur die feit dat ’n mens dit vir andere moet leer? Of is daar wel ’n goue balans te vinde tussen doing en teaching?

Laat ek begin deur te sê die “gewildheid” word gereeld oorskat, and no, this not a humble brag! Maar ons sien nou hier in ons tiende jaar en op ons laaste paar toere dat daar regtig proper Bittereinder-bons-soldate daar buite is. Elke keer as ons in Potch of Bloem of Stellenbosch of Kaapstad (Pretoria goes without saying!) ’n show speel, is daar ’n paar diehard kids wat met my wil gesels oor die eerste album se lirieke, of stories wil vertel oor hoe die musiek vir hulle iets beteken het in moeilike tye. Daai shit maak dit als die moeite werd. Het nou die dag weer gehoor van ’n kid wat aan kanker oorlede is wat op sy laaste dag op aarde Bittereinder on repeat gehad het. Dit roer mens, dis immense, dit laat my wil aanhou, die duisternis in, om “Doodsberig” te quote ...

Oor die leer-environment se verhouding met my eie kreatiwiteit: ek hou nog altyd daarvan om dinge vir mense te verduidelik, ek dink ek’s nie te kak met dit nie, en ek sien myself ook altyd as ’n fellow-learner in an environment of learning, daar’s nie ’n hierarchy nie. En hier by Open Window het ons ’n wonderlike kultuur, gestig deur the great man Pluto Panoussis, waar die meeste van die dosente baie besig bly met kreatiewe projekte – daar’s pretty much altyd ’n massive collaborative energy op die kampus. So ja, ek vind definitief in die goeie tye ’n lekker balance tussen doing en teaching, alhoewel daar way te min ure in ’n dag is vir dit alles!

Bittereinder kom selde in die Kaap – julle is immers Pretoriaans – maar julle het onlangs ’n blitstoer van twee vertonings geklap, in Kaapstad en Stellenbosch. Hoe het dié vertonings afgeloop, en hoe’t dit vergelyk met julle verwagtinge? Julle is ook vroeg in Maart weer op Stellenbosch vir ’n Woordfees-vertoning. Hoe ervaar Bittereinder die Kaapse gehore, en veral die Stellenbosse gehore? Het Bittereinder spesifieke vooruitsigte of planne rakende die Woordfees-vertoning en gepaardgaande Kaapse pret?

Ja, ons kom gewoonlik so een of twee keer ’n jaar Kaap toe, alhoewel ons in 2017 glad nie so ver suidwaarts beweeg het nie. Darem skop ons af met drie Kaapse shows sommer in die eerste kwart van 2018, though! Die Mercury- en Aandklas-shows in Februarie was regtig befok. Omdat ons ’n set kan bou uit vier albums se materiaal is ons live show op die oomblik propvol bangers, ons het ’n baie lekker flow wat deur die liedjies pols, en Louis se live visuals maak ook ’n massive verskil. Omdat ons nie so gereeld afkom nie, waardeer die mense dit wanneer ons daar is, en die shows voel amper meer spesiaal omdat dit soos ’n geleentheid word, ’n get-together van ou vriende en so aan.

Niks spesifiek beplan vir die Woordfees show nie – ons gaan hard bons, is al wat ek weet. Maar ek gaan self ook Saterdag 10 Maart ’n paar van my gedigte lees wat in Nuwe Stemme 6 opgeneem is, en op 9 Maart gaan ek en my fotojoernalis-vriend Wikus de Wet ook ’n Woordfeespraatjie doen oor ons crowdfunded boek, Wat binne is. Ek sien vraag nommer 6 gaan my geleentheid gee om meer daaroor te sê...

Ons het nou die dag in persoon hieroor gepraat: Bittereinder is volgende jaar 10 jaar oud. Baie geluk! Benewens die praktiese uitdagings (soos in vraag drie hier bo), hoe besweer ’n mens uitputting, of blote aanbeweeg-lus, met ’n projek wat al so lank voortduur? Zinkplaat het byvoorbeeld presies op 10 jaar besluit “dis nou tyd”. Aan die ander kant, die Rolling Stones is nou al op hul duisendste “laaste toer”. As dit van die aanhangers (ek inkluis) afhang, sal Bittereinder natuurlik nooit ophou musiek maak nie, maar hoe staan julle koppe? Wat maak dit nog die moeite werd? Julle’t ook natuurlik vir julle ’n lat gepluk: met ’n naam soos “Bittereinder” kan mens kwalik ... wel, uit eie keuse eindig.

Ja-nee kyk, die naam het vir ons ’n bietjie van ’n lokval opgestel. Dit laat my dink aan vriende van my wat op hoërskool een van die groot redes was hoekom ek self ’n band begin het (ek het my eerste distortion pedal by Henk Lustig gekoop in 1998), en hulle band se naam was All This For Nothing. Hulle’t ’n hele paar jaar aanhou jam, en natuurlik toe hulle die end-of-the-road-announcement moes maak was dit pretty much onmoontlik om die band-naam te sidestep. Bittereinder is vir seker in dieselfde kategorie, as dit nou ooit sou moes gebeur. Gelukkig is daar nog nie sprake van dit nie. Ons was regtig net moer besig oor die laaste drie jaar. Peach het Johannesburg toe getrek en ’n studio daar oopgemaak en voltyds gerun. Louis het ’n baby gehad, werk voltyds by Albino Creations, en hy’t baie hard gewerk aan sy sci-fi kortfilm Siklus (coming soon, die stuff wat ek sover gesien het lyk AMAAAAZING!). Ek self het my honours klaargemaak en ’n paar flieks gemaak en voltyds klasgegee by Open Window. So ons het regtig mekaar min of meer net by shows gesien. Ons is nie ’n traditional band wat drie keer ’n week saam in die garage oefen nie.

Maar ja, ons begin dit nou voel, wanneer ons nog ’n keer ’n jool show speel en die gehoor is nog steeds op average 19 jaar oud, maar dis nou 10 jaar later en jy mik nou vir 40. Of jy sit backstage in die klub, net na middernag, wag om op stage te gaan, jouself weggesleep van ’n Netflix episode saam met jou vrou, om vir klomp dronk tieners te probeer convince dat jy nog cool is, soos Shane van Desmond & the Tutus dit nou die dag gephrase het. That shit gets tiring, hahahaha.

Maar dan gebeur daar elke nou en dan net sulke transcendental oomblikke in die middel van ’n show wat mens remind hoekom jy dit doen, dat die musiek werklik nog iets beteken, en dat ons eintlik baie bevoorreg is om nog sulke lekker shows so gereeld te speel, met baie mense wat nog werklik omgee oor die musiek. Ek moet sê die eerste vyf shows van 2018 sover was almal hoogs bonsagtig – ongelooflike energie van die crowds in Pretoria, Potch, Stellenbosch en Kaapstad ervaar. As jy daar was en jy lees nou hierdie onderhoud, dankie!

Hier is vraag nommer ses nou. Op ’n meer persoonlike noot: soos jy genoem het, jy en die fotograaf Wikus de Wet werk aan ’n fotogedigteboek genaamd Wat binne is (en die crowdfunding campaign is nog aan die gang). Wat presies behels die projek, en waar het die idee en wil daarvoor ontstaan? Van jou gedigte is ook onlangs opgeneem in Nuwe Stemme 6 (dis bedonnerd, geluk!). Wat is vir jou die verskil tussen lirieke (en/of “rympies”, soos jy jou hip-hop-verse beskryf) en gedigte? Watter vryhede en beperkings boet ’n mens in, en wen, met die een of die ander? Hoe sal jy jou eie digkuns verder wil bevorder?

Yes, laat ek sommer begin deur te sê dat een van Wikus se foto’s laasweek op die voorblad van die New York Times gedruk is! Dis amazing, moerse trots op die dude. Die grap run dat wanneer die kak spat, hardloop Wikus in daardie rigting met sy kamera. Hy is nou die dag weer met ’n klip raakgegooi in Krugersdorp. Die res van die grap is dat wanneer die kak spat, hardloop ek baie vinnig in die ander rigting.

In elk geval, ons het hierdie projek meer as ’n jaar gelede begin, en dis baie cool dat vyf van die gedigte, saam met die foto’s waarop die gedigte reaksies is, in die Nuwe Stemme 6-bundel gedruk is – dis die eerste keer wat foto’s in Nuwe Stemme gedruk word, sover ek weet. Anyway, daar’s ’n lekker kort video op die Thundafund page wat die projek baie beter verduidelik as wat ek nou hier kan doen. Click asb op daai link en check die projek uit – die subversive content en die kostes van volkleurfoto’s druk beteken dat crowdfunding ons beste bet is om hierdie boek te laat bestaan. Op hierdie stadium is ons al 40% op pad na ons target toe – moerse baie dankie aan al die backers sover! Ons is ook moer opgewonde dat Hanno van Zyl vir ons die ontwerp van die boek gaan doen. Toe ek sy designs en layout idees sien toe is dit asof ek vir die eerste keer self die hele projek verstaan het.

Oor die distinctions tussen lirieke en gedigte het ek nie regtig veel gedagtes nie. Van Gert Vlok Nel se “lirieke” lees soos gedigte, en van sy gedigte lees soos lirieke. Ek skat met lirieke, veral met rap-lirieke, is die ritme en rym op ’n tighter grid, alhoewel baie digkuns se formate ook so werk. Ek hou tans baie van prosagedigte, ek het die form vir die eerste keer ontdek in Charles Simic se gedigte, en my brein het dadelik vir my sterk seine gevoer dat hy/sy ook so wou skryf. Ek het in 2014 ’n boekie Engelse prosagedigte vrygestel met die titel To form trees when they are young (illustrated by Gerhard van Wyk) – jy behoort dit te onthou, want ons het mos destyds saam ’n book launch gehou by Railways toe jy besig was met die launch-toer van jou eie novel. Ek het geen idee hoe om my eie digkuns verder te bevorder nie, ek tackle maar een projek op ’n slag. Soos Tim Minchin verduidelik het, mens bly micro-ambitious, werk hard aan die projek waarmee jy tans besig is, en die volgende een verskyn gewoonlik in die periphery.

'n Uittreksel uit Wat Binne Is. Ontwerp: Hanno van Zyl

Natuurlik onthou ek! Maar hierdie onderhoud gaan oor jou. Anyway, op ’n selfs meer persoonlike noot: jy en jou vrou, Christa, is een van die dae ouers. Ek’t nou al baie “geluk” gesê in hierdie onderhoud, maar hierdie is ’n grote. So, geluk! Hoe beïnvloed sulke nuus ’n mens se denke oor jou kreatiewe loopbaan? Hoe duik die noodwendige angstigheid en vooruitsigte wat daaraan verbonde is, op in dit wat ’n mens skep? So vroeg as met Bittereinder se eerste treffer – “Ware verhaal” – is kwessies van nalatenskap en oorgeërfde kultuurelemente al aangeroer. Begin ’n mens anders dink oor hierdie dinge – die filosofiese versus die praktiese, as’t ware – wanneer ’n eie kind op die horison wag? Of is dit moontlik om die drukkende vrae (dikwels sonder oplossings) agter te laat en bloot die tog van ouerskap sonder meer te geniet?

Baie dankie, ek ervaar die swangerskap inderdaad sover as geluk! Ek dink ek gaan baie van die meer filosofiese vrae eers later kan beantwoord, if at all, maar van wat ek sien by my peers in die kunste wat babies het, lyk dit my mens hou maar aan met die kreatiewe dinge selfs al slaap jy net baie minder. Maar ja, definitiewe angstige gevoelens elke nou en dan, veral oor wat dit gaan beteken om ’n jongmens te wees wat in 2030 ’n tiener gaan wees. Die wêreld verander so vinnig dat ons regtig nie eers weet watse tipe onderrig om vir ons kinders te gee wat oor 15–20 jaar useful gaan wees nie. Kan nie onthou of ek daai feit in ’n Harari-boek gelees het of in ’n podcast gehoor het nie, probably both ... maar ja, ek vind baie vrede in Ursula K Le Guin (RIP) se idee dat mens die unanswerable questions moet uitsoek, en dan effort maak juis om daai vrae nie te beantwoord nie. Ek het myself redelik moeg gemaak in my 20’s met daai groot vrae – vir nou wil ek net bietjie chill, en babies grootmaak, hahaha.

Soos vroeër genoem, is Bittereinder amper 10 jaar oud. Wat staan tot dusver vir jou uit as hoogtepunte? Enige oomblikke op of agter die verhoog wat jy nie sommer sal vergeet nie? Eniges wat jy eerder wel sal wil vergeet?

Tegnies is 2018 ons tiende jaar, so ons vier dit sommer as die jaar van 10-word. Ons het sover vyf shows hierdie jaar gespeel, almal amazing, soos ek klaar gesê het, en ons beplan nog ’n paar baie lekker dinge (hopelik by Oppi, onder meer) en events om die dekade te vier. Louis is byvoorbeeld baie keen om ’n poster exhibition aanmekaar te stel van al die gig posters wat hy vanaf 2011 al vir ons ontwerp – dis nou al ’n moer impressive catalogue. So dit gaan seker nog hierdie jaar gebeur. Plus ’n nuwe album, natuurlik, asook maybe ’n acoustic album en so aan. Baie idees, min tyd!

Hoogtepunte uit die dekade sluit ons eerste show by Hotbox in, die 2013 en 2016 shows by Oppikoppi, die show by Lowlands Festival in Holland en Melkweg in Amsterdam, ons road trip Berlyn toe vir ’n show in Tim Beumers se kar (die road trip was in Tim se kar, nie die show nie), al die ure op die pad en in die lug saam met Peach en Louis, my two best men.

Nee wat, ek wil niks vergeet nie. Gabriel Garcia Marquez sê mos aan die begin van sy memoirs: “Life isn’t what one lived, but what one remembers and how one remembers it in order to recount it.” So op hierdie stadium is ek net bly om enigiets te onthou, en dan vertel ek dit weer oor met bietjie meer “flavour” ...

Ons’t nou al gepraat oor jou verskeie kreatiewe uitlaatkleppe (en daar is baie!). Wat gebeur volgende? Is daar ’n tipe “bucket list” wat jy nog wil bereik, of medekunstenaars vir wie jy nog ’n collab skuld? Enige opkomende gebeurtenisse waarvoor jy nie kan wag nie?

Ek dink een projek wat ek tans baie opgewonde oor is, en waaroor ons nog nie nou gepraat het nie, is my nuwe band, Half-sister. Ons het laasjaar ons eerste show ooit by Oppikoppi gespeel, en na ’n paar line-up changes is ons nou weer in 2018 gereed om te gooi. Dis tans ’n five-piece band, met drie girls en twee boys. Ek skryf die lirieke, als in Engels, en dis so ’n sad-synth-driven klank met male and female lead vocals – dink Stranger Things soundtrack meets Twin Peaks soundtrack meets Arcade Fire. Ons is tans besig om ’n EP op te neem, ’n paar music videos is in pre-production phase, en ons speel by Mieliepop in Maart ons eerste show vir 2018. Dis baie pret – dis die tipe band wat goed inpas by die WERELD-bende [van Wêreld Rekords]. Ek tik juis hierdie onderhoud vinnig klaar sodat ons verder kan gaan werk aan die EP recordings vanaand. Volg ons gerus op instagram by @halfsisterband as jy tot hier gelees het.

Wat is die sin van die dood?

Om nog ’n keer vir Ursula Le Guin te quote: “What is most mortal is most alive.” My paraphrase: ons lewens en dade sou seker nie soveel beteken het as hulle nooit kon/sou/moes eindig nie.

  • Bittereinder tree op 9 Maart op by Bloekomhoek. Klik hier vir die volledige Woordfees-program.
  • 1

Kommentaar

  • Dis 'n nice onderhoud. Ek dink soms aan Bittereinder as een van die min Afrikaanse musiekgroepe wat steeds waarde plaas op kuns en literatuur, liewer as 'n oorheersende dryf om musiek te maak vir 'n kommersiële mark. Dis moontlik hoekom daar 'n paar diehard fans is wat Bittereinder volg, maar dat dit nie 'n spesifieke groot groep mense is nie.

    Ek wonder wel hoe iemand soos Jaco dink Bittereinder pas in die geskiedenis van Afrikaanse musiek in. Hoewel Afrikaanse kulturele produkte ontplof het na 1994, kom dit nie vir my voor of Afrikaanse kunstenaars diep geheg is aan grotere sosiale, politiese en ekonomiese veranderinge nie, en dat musiek gemaak word in 'n tipe vakuum. Dis in teenstelling met die musiek van die Voëlvry beweging. Kan kuns bestaan as 'n abstrakte produk sonder erkenning vir die geskiedenis waarbinne dit geproduseer word? Meer so, wat is Bittereinder se selfverstaan in terme hiervan?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top